Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

LEWENSVERHAAL

“Laat die baie eilande hulle verbly”

“Laat die baie eilande hulle verbly”

Ek sal daardie dag in Brooklyn nooit vergeet nie. Ek was in die Bestuursliggaam se konferensiekamer saam met broers van regoor die wêreld. Ons het vir die lede van die Skryfkomitee gesit en wag. Ons moes ’n paar oplossings vir die uitdagings waarvoor vertalers te staan kom, aan hulle voorlê. Ons was baie senuweeagtig. Dit was 22 Mei 2000. Voordat ek verduidelik waarom hierdie vergadering so belangrik was, wil ek julle eers iets oor myself vertel.

Ek is in Queensland gedoop, het in Tasmanië gepionier en het as ’n sendeling gedien in Tuvalu, Samoa en Fidji

EK IS in 1955 in die staat Queensland, Australië, gebore. Kort daarna het my ma, Estelle, die Bybel saam met Jehovah se Getuies begin studeer. Sy is ’n jaar later gedoop en my pa, Ron, het 13 jaar later in die waarheid gekom. Ek is in 1968 in ’n afgeleë gebied, die Queensland-agterveld, gedoop.

Van kleins af was ek baie lief vir boeke en tale. Ek het altyd agter in die motor gesit en lees wanneer ek saam met my ouers êrens heen gereis het. Hulle sou seker veel eerder wou hê dat ek die natuurskoon moet geniet. Maar my liefde vir lees het my gehelp om goed te doen op skool. Ek het selfs ’n hele paar toekennings gekry toe ek op hoërskool was in Glenorchy, op die eiland Tasmanië.

Gedurende dié tyd moes ek ’n baie belangrike besluit neem. Sou ek ’n beurs aanvaar en universiteit toe gaan? Alhoewel ek baie lief was vir boeke en dit geniet het om te leer, is ek dankbaar dat my ma my geleer het om Jehovah meer as enigiemand of enigiets anders lief te hê (1 Korintiërs 3:18, 19). Met my ouers se toestemming het ek dus besluit dat ek sou begin pionier sodra ek my basiese skoolopleiding voltooi het. En dit is presies wat ek gedoen het in Januarie 1971, toe ek 15 jaar oud was.

Ek het die voorreg gehad om die daaropvolgende agt jaar in Tasmanië te pionier. Gedurende dié tyd het ek met ’n pragtige meisie van Tasmanië, Jenny Alcock, getrou. Ons het vier jaar lank saam as spesiale pioniers gedien in die afgeleë dorpies Smithton en Queenstown.

SENDELINGE OP DIE EILANDE VAN DIE STILLE OSEAAN

In 1978 het ek en my vrou ’n internasionale byeenkoms in Port Moresby in Papoea-Nieu-Guinee bygewoon. Ek was veral beïndruk toe ’n sendeling ’n toespraak gehou het in ’n taal wat Hiri Motu genoem word. Al het ek nie verstaan wat hy gesê het nie, het daardie toespraak die begeerte by my gewek om ook ’n sendeling te word, ’n ander taal te leer en die broers met toesprake in hulle eie taal aan te moedig. Uiteindelik het ek besef hoe ek my liefde vir tale kan gebruik om Jehovah te dien.

Stel jou voor hoe verbaas ons was toe ons, kort nadat ons teruggekeer het huis toe, genooi is om as sendelinge te dien. In Januarie 1979 het ons op die eiland Funafuti, in Tuvalu, aangekom. Daar was net drie ander gedoopte verkondigers in die hele Tuvalu.

Saam met Jenny in Tuvalu

Dit was nie maklik om Tuvaluaans te leer nie. Die enigste boek in hierdie taal was die “Nuwe Testament”. Omdat daar geen woordeboeke of taalkursusse was nie, het ons besluit om elke dag 10 tot 20 nuwe woorde te probeer leer. Maar ons het gou besef dat ons die meeste van die woorde wat ons geleer het, nie reg verstaan het nie. In plaas daarvan om vir mense te sê dat demonisme verkeerd is, het ons vir hulle gesê dat hulle nie weegskale en kieries moet gebruik nie! Maar ons moes volhou met ons pogings om die taal te leer, want ons het ’n hele paar Bybelstudies begin. Baie jare later het een van daardie eerste Bybelstudente vir ons gesê: “Ons is so bly dat julle nou ons taal kan praat. Aan die begin het ons nie die vaagste benul gehad wat julle probeer sê nie!”

Maar daar was iets wat ons regtig gehelp het om die taal vinniger te leer. Aangesien daar nie blyplek te huur was nie, moes ons by ’n Getuiegesin in die hoofdorp bly. Ons moes oral, selfs by die huis, Tuvaluaans praat. Omdat ons ’n paar jaar lank nie Engels gepraat het nie, het Tuvaluaans ons hooftaal geword.

Kort nadat ons daar aangekom het, het baie mense in die waarheid begin belangstel. Maar wat kon ons gebruik om met hulle te studeer? Ons het geen publikasies in hulle taal gehad nie. Hoe sou hulle persoonlike studie doen? Van hulle sou die vergaderinge begin bywoon. Maar watter liedere sou hulle sing, hoe sou hulle toesprake hou en hoe sou hulle vir die vergaderinge voorberei? Hoe sou hulle ooit gedoop kon word? Hierdie nederige mense het publikasies in hulle eie taal nodig gehad sodat hulle van Jehovah kon leer! (1 Korintiërs 14:9). Ons het gewonder: ‘Sal ons ooit publikasies hê in Tuvaluaans, wat deur minder as 15 000 mense gepraat word?’ Jehovah het hierdie vrae beantwoord, en dit het vir ons twee dinge bewys: (1) Hy wil hê dat mense “op die eilande ver weg” omtrent hom moet leer, en (2) hy wil hê dat mense wat deur die wêreld as ‘nederig en gering’ beskou word, by sy naam toevlug moet soek.—Jeremia 31:10; Sefanja 3:12.

GEESTELIKE VOEDSEL WORD VERTAAL

In 1980 het die takkantoor ons gevra om publikasies in Tuvaluaans te vertaal. Ons het gemeen dat ons die taal nie goed genoeg ken nie, maar ons het nietemin met die werk begin (1 Korintiërs 1:28, 29). Aanvanklik het ons ’n ou masjien by die regering gekoop waarmee ons lektuur vir die vergaderinge met die hand gedruk het. Later het ons selfs die boek Die waarheid wat lei tot die ewige lewe in Tuvaluaans vertaal en hierdie klein masjien gebruik om dit te druk. Ek onthou nog die sterk reuk van die ink en die intense tropiese hitte wat dit baie moeilik gemaak het om al hierdie publikasies met die hand te druk. Ons het destyds nie eens elektrisiteit gehad nie!

Dit was nie maklik om in Tuvaluaans te vertaal nie, aangesien ons nie woordeboeke of naslaanwerke in Tuvaluaans gehad het nie. Maar soms het ons die nodige hulp op ander maniere ontvang. Een oggend het ek per ongeluk iemand besoek wat teen die waarheid gekant was. Die bejaarde man, wat voorheen ’n onderwyser was, het my daaraan herinner dat ons hom nie moet besoek nie. Toe het hy gesê: “Ek wil net een ding sê. Julle gebruik die lydende vorm veels te veel in julle vertaling. In Tuvaluaans is dit nie so algemeen nie.” Ek het ander daaroor gevra, en hy was reg. Ons het toe die nodige veranderinge aangebring om ons vertaling te verbeter. Ek was verbaas dat Jehovah ons gehelp het deur middel van ’n man wat teen die waarheid gekant was, maar wat nietemin ons publikasies gelees het!

Koninkryksnuus Nr. 30 in Tuvaluaans

Die eerste publikasie in Tuvaluaans was ’n Gedenkmaaluitnodiging. Die volgende publikasie was die traktaat Koninkryksnuus Nr. 30, wat gelyktydig met die Engelse publikasie vrygestel is. Ons was so bly dat ons vir die mense iets in hulle eie taal kon gee! Mettertyd is ’n paar brosjures en selfs ’n paar boeke in Tuvaluaans uitgegee. In 1983 het die takkantoor in Australië Die Wagtoring in Tuvaluaans begin druk. Die tydskrif het 24 bladsye gehad en het elke drie maande verskyn. Het die mense in Tuvalu van hierdie boeke en tydskrifte gehou? Ja, want hulle is baie lief vir lees. Elke keer as ons ’n nuwe publikasie vrygestel het, is dit oor die staatsradio in die nuus aangekondig, en soms was dit die hoofnuus van die dag! *—Sien voetnoot.

Hoe is die vertaalwerk gedoen? Eers het ons alles met die hand uitgeskryf. Daarna het ons die vertaling op ’n tikmasjien getik en verbeteringe aangebring en hierdie proses etlike kere herhaal totdat dit gereed was om na die takkantoor in Australië gestuur te word. Twee susters by die takkantoor het dan elkeen ’n afsonderlike afskrif van die Tuvaluaanse vertaling op ’n rekenaar ingetik, al het hulle die taal nie verstaan nie. Deur die manuskrip twee keer in te tik en die dokumente op die rekenaar met mekaar te vergelyk, het hulle foute uitgeskakel. Daarna het die takkantoor die uitleg van die publikasies gedoen, wat behels het dat hulle die teks met die prente kombineer. Hulle het hierdie bladsye dan per lugpos aan ons gestuur. Ons het dit nagegaan en na die takkantoor teruggestuur om gedruk te word.

Vertaalwerk is nou soveel makliker! Vertaalspanne gebruik nou ’n rekenaar om hulle vertaling in te tik en verbeteringe aan te bring. Gewoonlik word die uitleg deur iemand gedoen wat op dieselfde plek is as die vertaalspan. Dan stuur die vertaalspan die rekenaarlêers oor die Internet na die takkantoor wat die drukwerk doen. Nou hoef niemand meer op die laaste nippertjie na die poskantoor te jaag om vertaalde werk te pos nie.

ANDER TOEWYSINGS

Oor die jare het ek en Jenny verskeie toewysings in verskillende dele van die Stille Oseaan ontvang. In 1985 is ons van Tuvalu na die takkantoor in Samoa gestuur. Daar het ons gehelp met vertaling in Samoaans, Tongaans en Tokelauaans en nog steeds gehelp met vertaling in Tuvaluaans. * (Sien voetnoot.) In 1996 is ons na die takkantoor in Fidji gestuur, en daar het ons met die vertaalwerk in Fidjiaans, Kiribati, Nauruaans, Rotumaans en Tuvaluaans gehelp.

Ons het publikasies in Tuvaluaans gebruik om ander te help

Dit verstom my altyd om te sien hoe lief vertalers vir hulle werk is, hoewel dit moeilik is en baie uitputtend kan wees. Net soos Jehovah, wil hierdie getroue broers en susters graag hê dat mense die goeie nuus in hulle eie taal moet hoor (Openbaring 14:6). Toe ons byvoorbeeld Die Wagtoring in Tongaans wou begin vertaal, het ek ’n vergadering met al die ouer manne in Tonga gehou en gevra wie as ’n vertaler opgelei kan word. Een van die ouer manne, wat ’n goeie werk as ’n werktuigkundige gehad het, het aangebied om die volgende dag uit sy werk te bedank en onmiddellik as ’n vertaler te begin werk. Sy sterk geloof het my aangemoedig, want hy het ’n gesin gehad en het nie geweet hoe hy genoeg sou kon verdien om na hulle om te sien nie. Maar Jehovah het vir hom en sy gesin gesorg, en hy het baie jare lank vertaalwerk gedoen.

Net soos hierdie vertalers, wil die broers van die Bestuursliggaam baie graag publikasies in alle tale voorsien, selfs in tale wat deur min mense gepraat word. Daar is byvoorbeeld gevra of dit die moeite werd is om publikasies in Tuvaluaans te vertaal. Dit was vir my so aanmoedigend om die antwoord van die Bestuursliggaam te lees: “Ons sien geen rede waarom die vertaalwerk in Tuvaluaans gestaak moet word nie. Al is die Tuvaluaanse veld klein in vergelyking met ander taalgroepe, moet die mense nog steeds die goeie nuus in hulle eie taal hoor.”

’n Suster word in ’n strandmeer gedoop

In 2003 is ek en Jenny van die Vertaalafdeling in Fidji na die Vertaaldiensteafdeling in Patterson, New York, oorgeplaas. Dit was soos ’n droom wat waar geword het! Ons was deel van ’n span wat reël dat ons publikasies in meer tale vertaal word. Gedurende die sowat twee jaar dat ons in die Vertaaldiensteafdeling was, het ons gehelp om vertaalspanne in verskeie lande op te lei.

BAIE BELANGRIKE BESLUITE

Kom ek gaan terug na die belangrike vergadering wat ek aan die begin genoem het. In die jaar 2000 het die Bestuursliggaam besef dat vertaalspanne regoor die wêreld hulp nodig het om hulle werk te doen. Die meeste vertalers het nooit kursusse vir vertaling bygewoon nie. Ná daardie vergadering met die Skryfkomitee het die Bestuursliggaam besluit dat alle vertalers regoor die wêreld opgelei moet word. Vertalers sou opgelei word om die Engelse teks te verstaan, om vertaalprobleme op te los en om as ’n span saam te werk.

Wat was die resultate van al hierdie opleiding? Die gehalte van vertaling het verbeter. En ons publikasies word in meer tale as ooit tevore vertaal. In 1979, toe ons as sendelinge aangestel is, het Die Wagtoring in net 82 tale verskyn. En in die meeste tale het Die Wagtoring eers ’n paar maande ná die Engelse uitgawe verskyn. Maar nou word Die Wagtoring in meer as 240 tale vertaal, waarvan die meeste gelyktydig met die Engels uitgegee word. Publikasies wat Bybelwaarheid bevat, is nou in meer as 700 tale beskikbaar. ’n Paar jaar gelede het dit alles onmoontlik gelyk.

In 2004 het die Bestuursliggaam nog ’n baie belangrike besluit geneem—om die Nuwe Wêreld-vertaling so gou as moontlik in baie meer tale beskikbaar te stel. Danksy daardie besluit kan baie meer mense nou die Nuwe Wêreld-vertaling in hulle eie taal lees. Trouens, in 2014 was hierdie Bybel in sy geheel of gedeeltelik in 128 tale beskikbaar, insluitende ’n hele paar tale wat op die eilande van die Stille Suidsee gepraat word.

Die Nuwe Wêreld-vertaling van die Christelike Griekse Geskrifte word in Tuvaluaans vrygestel

Een van die hoogtepunte in my lewe was ’n byeenkoms in Tuvalu in 2011. ’n Knellende droogte het die hele land maande lank geteister. Die broers het gedink dat hulle die byeenkoms sal moet kanselleer. Maar gelukkig het dit die aand toe ons daar aankom, swaar begin reën. Toe kon ons die byeenkoms hou! Ek het die besondere voorreg gehad om die Nuwe Wêreld-vertaling van die Christelike Griekse Geskrifte in Tuvaluaans vry te stel! Hoewel daar net ’n handjie vol broers is wat hierdie taal praat, het hulle ook hierdie pragtige gawe van Jehovah ontvang. Aan die einde van die byeenkoms was daar nog ’n swaar reënbui. Toe het almal oorgenoeg water van waarheid en oorgenoeg reënwater gehad!

Ek voer ’n onderhoud met my ouers, Ron en Estelle, by ’n byeenkoms in Townsville, Australië, in 2014

Ongelukkig was my dierbare vrou, Jenny, nie daar saam met my nie. Sy is in 2009 oorlede ná ’n tien jaar lange stryd teen kanker. Ons was 35 jaar lank getroud. Wanneer sy ’n opstanding kry, sal sy baie bly wees om te hoor dat die Bybel in Tuvaluaans vrygestel is.

Jehovah het my met ’n ander pragtige vrou, Loraini Sikivou, geseën. Loraini en Jenny het saam by die Bethel in Fidji gewerk, en Loraini was ook ’n vertaler. Ek het dus weer eens ’n vrou wat Jehovah getrou saam met my dien en wat ook ’n taalliefhebber is soos ek!

Ek en Loraini doen velddiens in Fidji

Oor die jare het ek gesien hoe ons liefdevolle Vader, Jehovah, na die behoeftes van mense van alle tale omsien, al word hulle taal net deur ’n paar mense gepraat (Psalm 49:1-3). Ek het gesien hoe gelukkig mense is wanneer hulle ons publikasies vir die eerste keer in hulle eie taal ontvang of wanneer hulle vir Jehovah in die taal van hulle hart sing. Sulke geleenthede herinner my aan Jehovah se groot liefde vir ons (Handelinge 2:8, 11). Ek onthou nog goed wat Saulo Teasi, ’n bejaarde Tuvaluaanse broer, gesê het nadat hy ’n Koninkrykslied vir die eerste keer in sy eie taal gesing het. Hy het gesê: “Ek dink jy moet vir die Bestuursliggaam sê dat hierdie liedere mooier in Tuvaluaans klink as in Engels.”

In September 2005 het ek die onverwagte voorreg ontvang om as ’n lid van die Bestuursliggaam van Jehovah se Getuies te dien. Al kan ek nie meer ’n vertaler wees nie, dank ek Jehovah dat hy my nog steeds toelaat om die wêreldwye vertaalwerk te ondersteun. Dit is hartverblydend om te weet dat Jehovah in die behoeftes van sy volk voorsien, selfs in die behoeftes van dié op afgeleë eilande in die middel van die Stille Oseaan! Ja, dit is net soos die psalmis gesê het: “Jehovah het koning geword! Laat die aarde bly wees. Laat die baie eilande hulle verbly.”—Psalm 97:1.

^ par. 18 As jy meer wil lees oor hoe mense op ons publikasies gereageer het, sien Die Wagtoring van 15 Desember 2000, bladsy 32; 1 Augustus 1988, bladsy 22 en die Ontwaak! van 22 Desember 2000, bladsy 9.

^ par. 22 Vir meer inligting oor die vertaalwerk in Samoa, sien die Jaarboek vir 2009 bladsy 120-121, 123-124.