Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Berei nou voor vir die lewe in die nuwe wêreld

Berei nou voor vir die lewe in die nuwe wêreld

“[Sê vir hulle] om goed te doen, . . . sodat hulle ’n stewige houvas op die werklike lewe kan kry.”—1 TIMOTEUS 6:18, 19.

LIEDERE: 125, 40

1, 2. (a) Na watter seëninge in die Paradys sien jy die meeste uit? (Sien prent aan begin van artikel.) (b) Wat sal ons in die nuwe wêreld die grootste vreugde verskaf?

ONS sien werklik uit na “die ewige lewe”. Die apostel Paulus het dit beskryf as “die werklike lewe”. (Lees 1 Timoteus 6:12, 19.) Vir die meeste mense sal dit die ewige lewe in die Paradys op aarde beteken. Dit is moeilik om ons voor te stel hoe dit sal wees om elke oggend gesond, gelukkig en tevrede te voel wanneer ons wakker word (Jesaja 35:5, 6). Dink net hoe lekker dit sal wees om tyd deur te bring saam met jou familie en vriende, insluitende dié wat opgewek sal word (Johannes 5:28, 29; Handelinge 24:15). Jy sal tyd hê om nuwe vaardighede te leer en om die dinge wat jy geniet, nog beter te kan doen. Byvoorbeeld, jy kan meer omtrent die wetenskap leer. Of jy kan leer om musiekinstrumente te speel of om jou eie huis te ontwerp.

2 Hoewel ons na al hierdie goeie dinge uitsien, sal ons aanbidding van Jehovah ons die grootste vreugde verskaf. Stel jou voor hoe die lewe sal wees wanneer alle mense Jehovah se naam as heilig beskou en Jehovah as hulle Heerser aanvaar (Matteus 6:9, 10). Dit sal wonderlik wees wanneer die aarde gevul is met volmaakte mense, net soos God wou hê dit moet wees. En dink net hoeveel makliker dit sal wees om ons vriendskap met Jehovah te versterk terwyl ons geleidelik tot volmaaktheid groei!—Psalm 73:28; Jakobus 4:8.

3. Waarvoor moet ons nou voorberei?

3 Ons het die vertroue dat Jehovah al hierdie wonderlike dinge sal doen, want “by God is alles moontlik” (Matteus 19:25, 26). As ons vir ewig in die nuwe wêreld wil lewe, is dit nou die tyd om “’n stewige houvas” op die ewige lewe te kry. Ons weet dat die einde binnekort kom, en daarom moet ons lewe op ’n manier wat toon dat ons verwag dat die einde enige oomblik kan kom. Ons moet nou alles in ons vermoë doen om vir die lewe in die nuwe wêreld voor te berei. Kom ons kyk hoe.

HOE OM VOOR TE BEREI

4. Hoe kan ons nou al vir die lewe in die nuwe wêreld voorberei? Lig toe.

4 Hoe kan ons nou vir die lewe in die nuwe wêreld voorberei? As ons beplan om in ’n ander land te gaan woon, sal ons dalk sekere dinge doen om ons vir die lewe in daardie land voor te berei. Ons sal moontlik die taal begin leer en die gebruike van die mense wat daar woon, leer ken. Ons sal dalk party van hulle kossoorte proe. Net so kan ons nou vir die lewe in die nuwe wêreld voorberei deur ons bes te doen om nou al te lewe asof ons reeds daar is. Kom ons kyk na ’n paar maniere waarop ons dit kan doen.

5, 6. Hoe sal dit ons help om vir die lewe in die nuwe wêreld voor te berei as ons leer om gehoorsaam te wees aan die riglyne van Jehovah se organisasie?

5 In hierdie wêreld wil Satan hê dat mense moet dink dat hulle kan doen net wat hulle wil. Baie mense meen dat dit belangrik is om onafhanklik te wees en dat ons nie aan God gehoorsaam hoef te wees nie. Wat het dit tot gevolg gehad? Baie lyding en ongelukkigheid (Jeremia 10:23). Maar Jehovah is ’n liefdevolle Heerser. Hoeveel beter sal die lewe tog wees in die nuwe wêreld wanneer almal aan hom gehoorsaam is!

6 In die nuwe wêreld sal dit ons vreugde verskaf om die riglyne van Jehovah se organisasie te volg terwyl ons help om die aarde in ’n pragtige paradys te omskep en om diegene te leer wat opgewek sal word. Daar sal baie werk wees om te doen. Maar sê nou diegene wat die leiding neem, vra ons om iets te doen waarvan ons nie werklik hou nie? Sal ons gehoorsaam wees? Sal ons ons bes doen om ons toewysing uit te voer en te geniet? Om vir die ewige lewe in die nuwe wêreld voor te berei, moet ons nou gehoorsaam wees aan die leiding van Jehovah se organisasie.

7, 8. (a) Waarom moet ons ons samewerking gee aan diegene wat die leiding neem? (b) Voor watter veranderinge het party Christene te staan gekom? (c) Waarvan kan ons seker wees aangaande die lewe in die nuwe wêreld?

7 As ons gereed wil wees vir die lewe in die nuwe wêreld, moet ons leer om tevrede te wees en om met Jehovah se organisasie en met mekaar saam te werk. Wanneer ons byvoorbeeld ’n nuwe toewysing ontvang, sal ons gewillig saamwerk en ons bes doen om gelukkig en tevrede te wees. As ons nou leer om ons samewerking te gee aan diegene wat die leiding neem, sal ons dit waarskynlik ook in die nuwe wêreld doen. (Lees Hebreërs 13:17.) Toe die Israeliete die Beloofde Land binnegegaan het, is hulle erfdele aan hulle toegewys en is daar vir hulle gesê waar hulle moet bly (Numeri 26:52-56; Josua 14:1, 2). Ons weet nie waar ons in die nuwe wêreld aangewys sal word om te bly nie. Maar as ons reeds geleer het om ons samewerking te gee, sal dit ons help om Jehovah se wil vreugdevol te doen, waar ons ook al bly.

8 Stel jou voor wat ’n groot voorreg dit sal wees om in God se nuwe wêreld te dien onder die heerskappy van die Koninkryk! Daarom is ons nou gewillig om met Jehovah se organisasie saam te werk en om te doen wat ons ook al gevra word om te doen. Ons kan byvoorbeeld ’n ander toewysing ontvang. Party Betheliete in die Verenigde State het toewysings in die veld ontvang. En party reisende opsieners is weens hulle ouderdom of weens ander omstandighede gevra om as spesiale pioniers te dien. Hulle is gelukkig in hulle nuwe toewysings, en Jehovah seën hulle. As ons bid vir Jehovah se hulp, hom heelhartig dien en leer om tevrede te wees met watter toewysing ons ook al ontvang, sal ons gelukkig wees en sal Jehovah ons seën. (Lees Spreuke 10:22.) Maar sê nou ons is in die nuwe wêreld en wil baie graag op ’n sekere plek bly, maar Jehovah se organisasie vra ons om op ’n ander plek te gaan bly? In die nuwe wêreld sal dit nie saak maak waar ons bly of wat ons doen nie. Ons sal maar net te dankbaar wees dat ons daar is.—Nehemia 8:10.

9, 10. (a) Watter situasies sal daar dalk in die nuwe wêreld wees wat ons geduld sal beproef? (b) Hoe kan ons toon dat ons nou geduldig is?

9 In die nuwe wêreld sal daar dalk situasies wees wat ons geduld beproef. Byvoorbeeld, ons sal dalk hoor dat party mense baie opgewonde is omdat hulle familielede en vriende opgewek is. Maar ons sal miskien moet wag vir die opstanding van ons geliefdes. Sal ons dan saam met ander bly wees en geduldig wees? (Romeine 12:15). As ons nou leer om geduldig te wag dat Jehovah sy beloftes nakom, sal dit ons help om dan geduldig te wees.—Prediker 7:8.

10 Ons kan ook vir die nuwe wêreld voorberei deur geduldig te wees wanneer aanpassings gemaak word in ons begrip van Bybelwaarhede. Studeer ons hierdie nuwe inligting, en is ons geduldig as ons dit nie ten volle verstaan nie? Indien wel, sal dit in die nuwe wêreld makliker wees om geduldig te wees elke keer as Jehovah ons nuwe instruksies gee.—Spreuke 4:18; Johannes 16:12.

11. Waarom moet ons nou leer om ander te vergewe, en hoe sal dit ons in die nuwe wêreld help?

11 Nog ’n manier waarop ons vir die lewe in die nuwe wêreld kan voorberei, is om te leer om vergewensgesind te wees. Gedurende Christus se Duisendjarige Heerskappy sal dit ’n hele ruk neem vir almal om volmaaktheid te bereik (Handelinge 24:15). Sal ons liefdevol en vergewensgesind teenoor mekaar wees? As ons nou leer om ander te vergewe en om ’n goeie verhouding met hulle te hê, sal dit vir ons makliker wees om dit in die nuwe wêreld te doen.—Lees Kolossense 3:12-14.

Ons sal dieselfde eienskappe wat Jehovah ons nou leer om te openbaar, ook in die nuwe wêreld nodig hê

12. Waarom moet ons nou voorberei vir die lewe in die nuwe wêreld?

12 In die nuwe wêreld sal ons moontlik nie altyd kry wat ons wil hê nie, of miskien sal ons daarvoor moet wag. Ons sal dankbaar en tevrede moet wees, ongeag in watter situasie ons is. Trouens, ons sal dieselfde eienskappe wat Jehovah ons nou leer om te openbaar, dan ook nodig hê. As ons leer om hierdie eienskappe nou te openbaar, toon ons dat die nuwe wêreld vir ons ’n werklikheid is en dat ons vir die ewige lewe voorberei (Hebreërs 2:5; 11:1). Ons toon ook dat ons werklik in ’n wêreld wil lewe waar almal gehoorsaam is aan Jehovah.

SPITS JOU TOE OP JOU DIENS AAN JEHOVAH

Verkondig die goeie nuus ywerig

13. Wat sal ons in die nuwe wêreld eerste in ons lewe stel?

13 In die nuwe wêreld sal ons alles hê wat ons nodig het om die lewe te geniet. Maar ons grootste vreugde sal voortspruit uit ons hegte verhouding met Jehovah (Matteus 5:3). Ons sal besig wees in Jehovah se diens, en ons sal dit geniet om hom te dien (Psalm 37:4). As ons nou ons diens aan Jehovah eerste in ons lewe stel, berei ons voor vir die lewe in die nuwe wêreld.—Lees Matteus 6:19-21.

14. Watter doelwitte kan jongmense stel in Jehovah se diens?

14 Hoe kan ons ons diens aan Jehovah nog meer geniet? Een manier is om doelwitte te stel. As jy jonk is, moet jy dit ernstig oorweeg om jou lewe te gebruik om Jehovah te dien. Doen gerus navorsing in ons publikasies oor verskillende vorme van die voltydse diens. Jy kan een van hierdie vorme van die voltydse diens as ’n doelwit stel. * (Sien voetnoot.) Praat gerus met party wat al jare lank in die voltydse diens is. As jy jou lewe gebruik om Jehovah te dien, sal jy waardevolle opleiding ontvang. Hierdie ondervinding sal jou help om Jehovah in die nuwe wêreld te dien.

Stel doelwitte in Jehovah se diens

15. Watter ander geestelike doelwitte kan ons vir onsself stel?

15 Daar is talle geestelike doelwitte wat ons vir onsself kan stel. Byvoorbeeld, ons kan dit ons doelwit maak om ’n nuwe vaardigheid in die bediening aan te leer. Of ons kan probeer om Bybelbeginsels beter te verstaan en leer hoe ons dit in ons lewe kan toepas. Ons kan probeer om ons openbare voorlesing of ons toesprake en kommentare by die vergaderinge te verbeter. Die punt is: As jy vir jouself geestelike doelwitte stel, sal dit jou help om yweriger te wees en om voor te berei vir die lewe in die nuwe wêreld.

DIE BESTE LEWENSWEG NOU

Wees dankbaar vir alles wat Jehovah jou gee

16. Waarom is diens aan Jehovah die beste lewensweg?

16 Is daar ’n beter lewensweg as om ons tyd te gebruik om voor te berei vir God se nuwe wêreld? Nee! Om Jehovah te dien, is die beste lewensweg. Ons dien hom nie omdat iemand ons dwing om dit te doen nie of net omdat ons die groot verdrukking wil oorleef nie. As ons ’n goeie verhouding met Jehovah het, verbeter dit ons lewe en is ons gelukkiger. Dit is hoe hy ons gemaak het. God se liefde en leiding is baie beter as enigiets anders. (Lees Psalm 63:1-3.) Ons kan almal die vreugde ervaar wat heelhartige diens aan Jehovah meebring. Party wat hom al jare lank dien, kan uit ondervinding sê dat dit die beste lewensweg is.—Psalm 1:1-3; Jesaja 58:13, 14.

Laat die Bybel jou lei

17. Hoe belangrik sal ontspanning in die Paradys wees?

17 In die Paradys sal daar ook tyd wees om te ontspan en die dinge te doen wat ons geniet. Jehovah is immers die een wat ons geskep het met die begeerte om die lewe te geniet, en hy belowe dat hy ‘die begeerte van alles wat lewe, sal bevredig’ (Psalm 145:16; Prediker 2:24). Ons het ontspanning en rus nodig, maar ons geniet hierdie dinge nog meer as ons ons verhouding met Jehovah eerste stel. Dit sal ook in die nuwe wêreld die geval wees. Dit is dus verstandig om ‘aan te hou om eers die koninkryk te soek’ en om te dink aan die seëninge wat ons van Jehovah ontvang.—Matteus 6:33.

As ons ’n goeie verhouding met Jehovah het, verbeter dit ons lewe en is ons gelukkiger

18. Hoe kan ons toon dat ons voorberei om vir ewig in die Paradys te lewe?

18 In die nuwe wêreld sal die lewe beter wees as wat ons ons ooit kan voorstel. Mag ons toon hoe graag ons daar wil wees deur nou vir “die werklike lewe” voor te berei. Laat ons die eienskappe aankweek wat Jehovah ons leer om te openbaar en laat ons die goeie nuus ywerig verkondig. Mag ons die vreugde ervaar wat dit meebring om Jehovah se diens eerste in ons lewe te stel. Ons het die volle vertroue dat Jehovah al sy beloftes in die nuwe wêreld sal nakom. Laat ons dus lewe asof ons reeds daar is!

^ par. 14 Sien Jongmense vra—Antwoorde wat werk, Deel 2, bladsy 311-318.