Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Peins oor Jehovah se ewige liefde

Peins oor Jehovah se ewige liefde

“Ek sal beslis oor al u dade peins.”—PSALM 77:12.

LIEDERE: 18, 61

1, 2. (a) Waarom is jy daarvan oortuig dat Jehovah sy knegte liefhet? (b) Met watter behoefte is mense geskep?

WAAROM is jy daarvan oortuig dat Jehovah sy knegte liefhet? Kyk na die volgende voorbeelde voordat jy hierdie vraag beantwoord. ’n Suster met die naam Taylene het jare lank liefdevolle aanmoediging van die broers en susters ontvang. Hulle het vir haar gesê dat sy nie te veel van haarself moet verwag nie. Sy sê: “As Jehovah my nie liefgehad het nie, sou hy nie aangehou het om vir my raad te gee nie.” Brigitte, wat ná haar man se dood twee kinders alleen grootgemaak het, sê: “Om kinders in Satan se stelsel groot te maak, is een van die grootste uitdagings, veral vir ’n enkelouer. Maar ek is oortuig dat Jehovah my liefhet omdat hy my deur die trane en hartseer heen gelei het en nooit toegelaat het dat ek meer deurmaak as wat ek kon verduur nie” (1 Korintiërs 10:13). Sandra het ’n ernstige, ongeneeslike siekte. By ’n byeenkoms het ’n suster persoonlike belangstelling in Sandra getoon. “Al het ons haar nie persoonlik geken nie”, sê Sandra se man, “het haar diepe besorgdheid ons hart geraak. Selfs klein blyke van liefde van ons broers en susters wys vir my hoe lief Jehovah vir ons is.”

2 Jehovah het mense geskep met die behoefte om liefde te gee en te ontvang. Maar dit is maklik om mismoedig te voel weens siekte of finansiële probleme of omdat ons geen resultate in ons bediening sien nie. As ons begin voel dat Jehovah ons nie meer liefhet nie, moet ons onthou dat ons vir hom kosbaar is en dat hy ons regterhand vashou en ons help. Hy sal ons nooit vergeet as ons aan hom getrou bly nie.—Jesaja 41:13; 49:15.

3. Wat kan ons oortuiging versterk dat Jehovah se liefde vir ons ewigdurend is?

3 Die Getuies wat vroeër genoem is, was daarvan oortuig dat God gedurende moeilike tye met hulle was. Ons kan ook die vertroue hê dat hy aan ons kant is (Psalm 118:6, 7). In hierdie artikel sal ons vier gawes bespreek wat bewys dat Jehovah ons liefhet. Dit is (1) sy skepping, (2) die Bybel, (3) gebed en (4) die losprys. As ons peins oor die goeie dinge wat Jehovah gedoen het, kan dit ons help om meer waardering te hê vir sy ewige liefde.—Lees Psalm 77:11, 12.

PEINS OOR JEHOVAH SE SKEPPING

4. Wat leer ons uit Jehovah se skepping?

4 Wanneer ons na Jehovah se skepping kyk, kan ons sien hoe lief hy vir ons is (Romeine 1:20). Byvoorbeeld, die manier waarop Jehovah die aarde geskep het, toon dat hy nie net wil hê dat ons aan die lewe moet bly nie. Hy het ons alles gegee wat ons nodig het om die lewe te geniet. Ons moet eet om aan die lewe te bly, maar omdat Jehovah ons so ’n groot verskeidenheid voedselsoorte gegee het, is dit lekker om te eet! (Prediker 9:7). Catherine, ’n suster in Kanada, geniet wat sy in die skepping sien, veral gedurende die lente. Sy sê: “Dit is verstommend hoe alles weer begin lewe—die blomme wat geprogrammeer is om op te kom en trekvoëls wat terugkeer, insluitende die klein kolibrie wat uit die voerbakkie buite my kombuisvenster kom eet. Alles wat Jehovah ons gee om te geniet, toon dat hy beslis vir ons lief is.” Ons Vader is lief vir sy skepping, en hy wil hê dat ons dit ook moet geniet.—Handelinge 14:16, 17.

Wanneer ons na Jehovah se skepping kyk, kan ons sien hoe lief hy vir ons is

5. Hoe kan Jehovah se liefde gesien word in die manier waarop mense geskep is?

5 Jehovah het ons geskep met die vermoë om betekenisvolle werk te doen en om dit te geniet (Prediker 2:24). Hy het die mens die toewysing gegee om die aarde te vul, dit te bewerk en om na die visse, die voëls en ander lewende dinge daarop om te sien (Genesis 1:26-28). En hy het ons ook met pragtige eienskappe geskep sodat ons hom kan navolg!—Efesiërs 5:1.

GOD SE WOORD IS KOSBAAR

6. Waarom moet ons diepe waardering hê vir God se Woord?

6 Jehovah het die Bybel vir ons gegee omdat hy baie lief is vir ons. Dit sê vir ons wat ons omtrent hom moet weet en hoe hy oor mense voel. Die Bybel sê byvoorbeeld vir ons hoe Jehovah gevoel het oor die Israeliete, wat dikwels aan hom ongehoorsaam was. Psalm 78:38 sê: “Hy was barmhartig; hy het die oortreding bedek en nie vernietiging gebring nie. En hy het sy toorn dikwels afgewend, en hy het nie al sy woede opgewek nie.” As jy peins oor hierdie vers, kan dit jou help om Jehovah se diepe besorgdheid en groot liefde vir jou te waardeer. Ons kan seker wees dat Jehovah baie vir ons omgee.—Lees 1 Petrus 5:6, 7.

Die Bybel sê vir ons wat ons omtrent God moet weet en hoe hy oor mense voel

7. Waarom moet die Bybel vir ons kosbaar wees?

7 Die Bybel moet vir ons baie kosbaar wees. Waarom? Omdat Jehovah deur middel van sy Woord met ons kommunikeer. Wanneer ’n ouer en ’n kind openlik met mekaar kommunikeer, versterk hulle hulle liefde vir mekaar sowel as hulle vertroue in mekaar. Jehovah is ons liefdevolle Vader. En al het ons hom nog nooit gesien of nog nooit sy stem gehoor nie, is dit asof hy deur middel van die Bybel direk met ons kommunikeer. Ons moet aanhou om na hom te luister! (Jesaja 30:20, 21). Hy wil ons lei en beskerm. Wanneer ons God se Woord lees, leer ons Jehovah ken en versterk ons ons vertroue in hom.—Lees Psalm 19:7-11; Spreuke 1:33.

Jehu moes Josafat teregwys, maar Jehovah het nietemin “goeie dinge” in koning Josafat gevind (Sien paragraaf 8, 9)

8, 9. Wat wil Jehovah hê moet ons weet? Gee ’n voorbeeld uit die Bybel.

8 Jehovah wil hê dat ons moet weet dat hy ons liefhet en dat hy nie net ons onvolmaakthede sien nie. Hy soek na die goeie in ons (2 Kronieke 16:9). Kom ons bespreek hoe Jehovah dit in die geval van koning Josafat van Juda gedoen het. Josafat het dwaaslik besluit om saam met koning Agab van Israel teen die Siriërs te veg by Ramot-Gilead. Vierhonderd valse profete het vir die goddelose Agab gesê dat hy die geveg sal wen, maar Jehovah se ware profeet Migaja het vir Josafat en Agab gesê dat hulle sou verloor as hulle gaan veg. En dit is presies wat gebeur het. Agab het in die geveg gesterf, en Josafat het die geveg net-net oorleef. Ná die geveg het Jehovah Jehu gebruik om Josafat tereg te wys. Maar Jehu het ook vir hom gesê: “Daar is nietemin goeie dinge by u gevind.”—2 Kronieke 18:4, 5, 18-22, 33, 34; 19:1-3.

9 Jare tevore het Josafat vir die vorste, Leviete en priesters gesê om al die stede van Juda te besoek om die volk Jehovah se Wet te leer. Hulle was so suksesvol dat selfs mense van ander nasies Jehovah leer ken het (2 Kronieke 17:3-10). Al het Josafat later ’n slegte besluit geneem, het Jehovah nie die goeie dinge vergeet wat hy vroeër in sy lewe gedoen het nie. Hierdie voorbeeld is vir ons baie vertroostend omdat ons soms ook foute maak. Maar as ons ons bes doen om Jehovah te dien, sal hy nooit ophou om vir ons lief te wees nie en sal hy nie die goeie dinge wat ons gedoen het, vergeet nie.

WAARDEER DIE VOORREG VAN GEBED

10, 11. (a) Waarom is gebed ’n spesiale gawe van Jehovah af? (b) Hoe kan God ons gebede beantwoord? (Sien prent aan begin van artikel.)

10 ’n Liefdevolle vader neem tyd om na sy kinders te luister wanneer hulle met hom wil praat. Hy wil weet hoe hulle voel omdat hy baie vir hulle omgee. Ons liefdevolle Vader, Jehovah, doen dieselfde. Hy luister na ons wanneer ons tot hom bid. Dit is ’n kosbare voorreg om met ons Vader te praat!

Jehovah hoor ons opregte versoeke en hy verstaan ons, selfs wanneer niemand anders ons verstaan nie

11 Ons kan enige tyd tot Jehovah bid. Hy is ons Vriend, en hy is altyd bereid om na ons gebede te luister. Taylene, wat vroeër genoem is, sê: “Jy kan jou hart voor hom uitstort.” Wanneer ons Jehovah van ons diepste gedagtes vertel, kan hy ons antwoord deur middel van ’n teks, ’n artikel in ons lektuur of die aanmoediging van ’n broer of suster. Jehovah hoor ons opregte versoeke en hy verstaan ons, selfs wanneer niemand anders ons verstaan nie. Sy antwoorde op ons gebede is ’n duidelike bewys van sy ewige liefde vir ons.

12. Waarom moet ons gebede bestudeer wat in die Bybel opgeteken is? Gee ’n voorbeeld.

12 Ons kan belangrike lesse leer uit gebede wat in die Bybel opgeteken is. Soms is dit nuttig om party van hierdie gebede gedurende ons gesinsaanbidding te bestudeer. Die gehalte van ons gebede sal verbeter as ons peins oor die opregte gebede van God se knegte in die verlede. Ondersoek byvoorbeeld Jona se nederige gebed toe hy in die maag van ’n groot vis was (Jona 1:17–2:10). Of bestudeer Salomo se opregte gebed tot Jehovah toe die tempel toegewy is (1 Konings 8:22-53). En peins oor Jesus se modelgebed (Matteus 6:9-13). Maar bowenal moet julle julle ‘versoeke [gereeld] by God bekend laat word’. Dan sal “die vrede van God wat alle denke te bowe gaan, . . . julle harte en julle verstandelike vermoëns . . . bewaak”. Ons waardering vir Jehovah se ewige liefde sal bly toeneem.—Filippense 4:6, 7.

TOON DAT JY DIE LOSPRYS WAARDEER

13. Watter geleentheid gee die losprys ons?

13 Jehovah het ons die gawe van die losprys gegee sodat ons “die lewe kan verkry” (1 Johannes 4:9). Die apostel Paulus het na hierdie wonderlike blyk van God se liefde verwys en geskryf: “Christus het . . . op die vasgestelde tyd vir goddeloses gesterf. Want iemand sal beswaarlik vir ’n regverdige mens sterf; ja, vir die goeie mens het iemand miskien nog die moed om te sterf. Maar hierin beveel God sy eie liefde by ons aan, dat Christus vir ons gesterf het terwyl ons nog sondaars was” (Romeine 5:6-8). Die losprys is die grootste blyk van God se liefde en dit gee mense die geleentheid om ’n hegte verhouding met hom te hê.

14, 15. Wat beteken die losprys vir (a) gesalfde Christene? (b) diegene wat hoop om op die aarde te lewe?

14 ’n Klein groepie Christene ervaar Jehovah se ewige liefde op ’n spesiale manier (Johannes 1:12, 13; 3:5-7). God het hulle met heilige gees gesalf, en daarom is hulle nou sy kinders (Romeine 8:15, 16). Waarom het Paulus gesê dat hulle “saam . . . sit in die hemelse plekke in eenheid met Christus Jesus” as party van hulle nog op die aarde is? (Efesiërs 2:6). Omdat Jehovah hulle die hoop op die ewige lewe in die hemel gegee het.—Efesiërs 1:13, 14; Kolossense 1:5.

Die losprys is ’n bewys van Jehovah se liefde vir alle mense

15 Diegene wat nie gesalf is nie, kan God se vriende word as hulle geloof in die losprys beoefen. Hulle het ook die vooruitsig om aangeneem te word as God se kinders en om vir ewig op ’n paradysaarde te lewe. Die losprys is ’n bewys van Jehovah se liefde vir alle mense (Johannes 3:16). Hoe opwindend is dit tog om te weet dat God ons die heel beste lewe in die nuwe wêreld sal gee as ons hom getrou dien! Laat ons dus toon dat ons waardering het vir die losprys—die grootste bewys van God se ewige liefde vir ons.

TOON JOU LIEFDE VIR JEHOVAH

16. Wat sal ons beweeg word om te doen as ons oor God se liefde peins?

16 Dit is onmoontlik om die talle maniere op te noem waarop Jehovah sy liefde vir ons toon. Koning Dawid het gesing: “Hoe kosbaar is u gedagtes . . . vir my! O God, hoeveel beloop die grootse som daarvan tog nie! As ek hulle probeer tel, is hulle meer as selfs die sandkorrels” (Psalm 139:17, 18). As ons peins oor die talle maniere waarop Jehovah sy liefde vir ons toon, sal dit ons beweeg om hom ook lief te hê en hom ons heel beste te gee.

17, 18. Hoe kan ons ons liefde vir God toon?

17 Daar is baie maniere waarop ons ons liefde vir Jehovah kan toon. Byvoorbeeld, ons kan ons liefde vir Jehovah toon deur ander ywerig van die goeie nuus van die Koninkryk te vertel (Matteus 24:14; 28:19, 20). Ons kan ook ons liefde vir God toon deur lojaal aan hom te bly wanneer ons geloof getoets word. (Lees Psalm 84:11; Jakobus 1:2-5.) Selfs wanneer ons hewige beproewinge verduur, kan ons seker wees dat Jehovah ons lyding sien en ons sal help omdat ons vir hom kosbaar is.—Psalm 56:8.

18 Ons liefde vir Jehovah beweeg ons om te peins oor al die wonderlike dinge wat hy geskep het. Ons toon ons liefde vir Jehovah en sy Woord deur goeie studente van die Bybel te wees. Ons bid gereeld tot Jehovah omdat ons hom liefhet en ons verhouding met hom wil versterk. En as ons peins oor sy kosbare gawe van die losprys, vergroot dit ons liefde vir hom selfs meer (1 Johannes 2:1, 2). Dit is net ’n paar van die talle maniere waarop ons ons waardering toon vir Jehovah se ewige liefde vir ons.