Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

“Staan vas in die geloof”

“Staan vas in die geloof”

“Staan vas in die geloof, . . . word sterk.” —1 KORINTIËRS 16:13.

LIEDERE: 60, 64

1. (a) Wat het gedurende ’n storm op die See van Galilea met Petrus gebeur? (Sien prent aan begin van artikel.) (b) Waarom het Petrus begin sink?

DIE apostel Petrus en ’n paar van die dissipels het een aand gesukkel om gedurende ’n storm oor die See van Galilea te roei. Skielik het hulle Jesus op die see sien loop. Petrus het na Jesus uitgeroep en gevra of hy oor die water na hom toe kan loop. Toe Jesus vir hom sê om te kom, het Petrus uit die boot geklim en na Jesus toe begin loop. Maar kort daarna het Petrus begin sink. Waarom? Omdat hy na die storm en die golwe gekyk het en bang geword het. Petrus het om hulp geroep, en Jesus het hom vinnig gegryp en gesê: “Kleingelowige, waarom het jy begin twyfel?” Jesus se woorde het getoon dat Petrus te min geloof gehad het.—Matteus 14:24-32.

2. Wat sal ons nou bespreek?

2 Kom ons bespreek drie aspekte van Petrus se ondervinding wat met geloof verband hou: (1) hoe Petrus aanvanklik vertrou het dat Jehovah hom kan help, (2) waarom Petrus geloof begin verloor het en (3) wat Petrus gehelp het om sy geloof te herwin. ’n Bespreking van hierdie punte kan ons help om te sien hoe ons kan “[vasstaan] in die geloof”.—1 Korintiërs 16:13.

GELOOF DAT GOD ONS SAL HELP

3. Waarom het Petrus uit die boot geklim, en hoe het ons iets soortgelyks gedoen?

3 Petrus het sterk geloof gehad. Waarom sê ons so? Toe Jesus hom roep, het Petrus uit die boot geklim en op die water geloop. Hy het vertrou dat God se krag hom sou help om dit te doen, net soos dit Jesus gehelp het. Jesus het ons ook genooi om hom te volg, en ons het ons aan Jehovah toegewy en is gedoop. Waarom? Weens ons geloof in Jehovah sowel as in Jesus, en omdat ons vertrou het dat hulle ons sal help.—Johannes 14:1; lees 1 Petrus 2:21.

Petrus se geloof het hom in staat gestel om te doen wat onmoontlik gelyk het

4, 5. Waarom is geloof ’n kosbare besitting?

4 Geloof is iets kosbaars. Petrus se geloof het hom in staat gestel om op water te loop, iets wat onmoontlik gelyk het. Geloof kan ons ook help om dinge te doen wat dalk onmoontlik lyk (Matteus 21:21, 22). Party van ons het ons gesindheid en gedrag so drasties verander dat mense wat ons voorheen geken het, ons byna nie meer herken nie. Ons het hierdie veranderinge aangebring omdat ons lief is vir Jehovah en omdat hy ons gehelp het om dit te doen. (Lees Kolossense 3:5-10.) Geloof het ons beweeg om ons aan Jehovah toe te wy, en ons het sy vriende geword, iets wat ons nooit sonder sy hulp sou kon doen nie.—Efesiërs 2:8.

5 Ons geloof maak ons sterk. Dit help ons byvoorbeeld om teen die aanvalle van die Duiwel, ons kragtige vyand, te veg (Efesiërs 6:16). En omdat ons op Jehovah vertrou, hoef ons nie oormatig bekommerd te wees wanneer ons probleme ondervind nie. Jehovah het belowe dat hy ons sal gee wat ons nodig het as ons geloof in hom het en sy Koninkryk eerste stel (Matteus 6:30-34). En bowenal sal Jehovah ons weens ons geloof ’n wonderlike gawe gee—die ewige lewe.—Johannes 3:16.

ONS KAN ONS GELOOF VERLOOR AS ONS OP DIE VERKEERDE DINGE KONSENTREER

6, 7. (a) Waarmee kan ons die wind en die golwe vergelyk wat Petrus bang gemaak het? (b) Hoe weet ons dat dit moontlik is om ons geloof te verloor?

6 Petrus het bang geword terwyl hy op die See van Galilea geloop het. Waarom? Weens die wind en die golwe. Dit kan vergelyk word met al die beproewinge en versoekings waarvoor Christene vandag te staan kom. Selfs wanneer ons met uiters moeilike beproewinge en versoekings te kampe het, kan Jehovah ons help om vas te staan. Maar hou in gedagte wat met Petrus gebeur het. Hy het nie gesink omdat die wind teen hom gewaai en die golwe teen hom geslaan het nie. Die Bybel sê eerder: “Toe hy na die windstorm kyk, het hy bang geword” (Matteus 14:30). Petrus het opgehou om na Jesus te kyk en het na die kragtige storm gekyk. Daarom het sy geloof begin verswak. As ons op ons probleme begin konsentreer, kan ons ook begin twyfel of Jehovah ons sal help.

As ons op die verkeerde dinge konsentreer, kan ons geloof vinnig verswak

7 Ons weet dat dit moontlik is om ons geloof te verloor, want die Bybel sê dat ’n gebrek aan geloof “die sonde [is] wat ons maklik verstrik” (Hebreërs 12:1). As ons op die verkeerde dinge konsentreer, kan ons geloof vinnig verswak, net soos Petrus s’n. Hoe kan ons dus vasstel of ons geloof in gevaar is? Die volgende vrae sal ons help om onsself te ondersoek.

8. Wat kan veroorsaak dat God se beloftes nie meer vir ons so werklik is soos voorheen nie?

8 Is God se beloftes vir my nog net so werklik soos dit voorheen was? God het belowe dat hy Satan se wêreld gaan vernietig. Maar word ons aandag afgelei deur al die verskillende vorme van vermaak wat sy wêreld bied? Indien wel, kan ons begin twyfel of die einde naby is (Habakuk 2:3). Dink aan nog ’n voorbeeld. Jehovah het die losprys voorsien, en hy belowe om ons sondes te vergewe. Maar as ons bly konsentreer op die foute wat ons in die verlede gemaak het, kan ons begin twyfel of Jehovah ons werklik vergewe het (Handelinge 3:19). Dan kan ons ons vreugde in God se diens verloor en ophou om vir ander te preek.

9. Wat kan gebeur as ons persoonlike belange eerste in ons lewe stel?

9 Gee ek Jehovah nog steeds my beste? As ons hard werk in Jehovah se diens, help dit ons om ons hoop vir die toekoms helder voor oë te hou. Maar gestel ons begin meer op ons eie belange konsentreer? Ons aanvaar dalk ’n werk wat goed betaal, maar wat inbreuk maak op ons diens aan Jehovah. Dit kan ons geloof laat verswak, en ons kan ‘traag word’ en minder vir Jehovah doen as wat ons werklik kan.—Hebreërs 6:10-12.

Jesus se dissipels het besef dat ’n mens geloof moet hê om ander te kan vergewe

10. Hoe toon ons geloof in Jehovah wanneer ons ander vergewe?

10 Vind ek dit moeilik om ander te vergewe? Sê nou ander gee ons aanstoot of maak ons seer. Is ons geneig om kwaad te word of hou ons dalk op om met hulle te praat? Indien wel, konsentreer ons dalk te veel op ons eie gevoelens. Ons toon ons geloof in Jehovah wanneer ons ander vergewe. Hoe so? As iemand teen ons sondig, is hulle by ons in die skuld. Wanneer ons teen Jehovah sondig, is ons by hom in die skuld (Lukas 11:4). Wanneer ons ander vergewe, toon ons dat ons op Jehovah vertrou. Ons vertrou op hom om ons gesindheid te seën, en sy seën is baie waardevoller as om iemand te laat betaal vir wat hy aan ons gedoen het. Jesus se dissipels het besef dat ’n mens geloof moet hê om ander te kan vergewe. Toe Jesus vir hulle gesê het om selfs diegene te vergewe wat baie keer teen hulle gesondig het, het sy dissipels hom gesmeek: “Gee ons meer geloof.”—Lukas 17:1-5.

11. Wat kan veroorsaak dat ons nie by raad baat vind nie?

11 Neem ek aanstoot wanneer ek raad ontvang? Probeer eerder om uit die raad te leer as om fout te vind daarmee of met die persoon wat die raad gegee het (Spreuke 19:20). Moenie ’n geleentheid laat verbygaan om jou denke in ooreenstemming met Jehovah s’n te bring nie!

12. Waarvan kan dit ’n aanduiding wees as iemand altyd kla oor diegene wat die leiding neem?

12 Kla ek oor diegene wat die leiding in die gemeente neem? Toe die Israeliete gekonsentreer het op die slegte berig van die tien verkenners, het hulle oor Moses en Aäron begin kla. Jehovah het toe vir Moses gevra: “Hoe lank sal hulle geen geloof in my stel nie?” (Numeri 14:2-4, 11). Ja, toe die Israeliete gemurmureer het teen Moses en Aäron, manne wat Jehovah aangestel het, het Jehovah geweet dat hulle nie op hom vertrou nie. As ons altyd kla oor diegene wat Jehovah vandag gebruik om sy volk te lei, kan dit toon dat ons geloof in God verswak het.

13. Waarom moet ons nie teleurgesteld wees as ons swakhede in ons geloof sien nie?

13 Nadat jy hierdie vrae ondersoek het, moet jy nie teleurgesteld wees as jy besef dat jou geloof verswak het nie. Hou in gedagte dat selfs die apostel Petrus bang geword het en begin twyfel het. En soms het Jesus al die apostels tereggewys omdat hulle te min geloof gehad het, oftewel “kleingelowiges” was (Matteus 16:8). Maar ons kan ’n belangrike les uit Petrus se ondervinding leer. Let op wat hy gedoen het nadat hy begin twyfel het en in die see begin sink het.

VERSTERK JOU GELOOF—HOU JOU OË GEVESTIG OP JESUS

14, 15. (a) Wat het Petrus gedoen toe hy begin sink het? (b) Hoe kan ons ons “blik stip gerig hou” op Jesus?

14 Wat het Petrus gedoen toe hy begin sink het? Petrus was ’n goeie swemmer en kon dus besluit het om na die boot toe terug te swem (Johannes 21:7). Maar waarom het hy dit nie gedoen nie? Omdat hy nie op homself vertrou het nie. Hy het sy oë weer op Jesus gevestig en sy hulp aanvaar. As ons besef dat ons geloof verswak het, moet ons Petrus navolg. Hoe kan ons dit doen?

15 Net soos Petrus sy oë weer op Jesus gevestig het, moet ons ook ons “blik stip gerig hou” op Jesus. (Lees Hebreërs 12:2, 3.) Maar ons kan hom nie met ons letterlike oë sien soos Petrus nie. Hoe kan ons dus ons “blik stip gerig hou” op Jesus? Ons kan die dinge wat hy geleer en gedoen het, bestudeer en hom dan noukeurig navolg. As ons dit doen, sal ons die hulp kry wat ons nodig het om ons geloof te versterk. Kom ons bespreek ’n paar maniere waarop ons Jesus kan navolg.

As ons Jesus se voorbeeld voor oë hou en hom noukeurig navolg, kan ons sterk geloof hê (Sien paragraaf 15)

16. Hoe kan die Bybel ons help om ons geloof te versterk?

16 Versterk jou vertroue in die Bybel. Jesus was oortuig daarvan dat die Bybel God se Woord is en dat dit die beste raad vir ons bevat (Johannes 17:17). As ons Jesus wil navolg, moet ons die Bybel elke dag lees, dit bestudeer en peins oor die lesse wat ons leer. Ons moet ook soek na antwoorde op vrae wat ons dalk het. Wil jy jou vertroue versterk dat ons in die laaste dae lewe? Bestudeer dan Bybelprofesieë wat jou geloof sal versterk dat die einde naby is en wat bewys dat ons in die laaste dae lewe. Wil jy jou geloof in God se beloftes vir die toekoms versterk? Bestudeer dan Bybelprofesieë wat reeds vervul is. Glo jy werklik dat die Bybel prakties is vir ons dag? Jy kan lees van broers en susters wat hulle lewe met behulp van die Bybel ten goede verander het. * (Sien voetnoot.)—1 Tessalonisense 2:13.

17. Wat het Jesus in staat gestel om hewige toetse te verduur, en hoe kan jy hom navolg?

17 Hou die seëninge wat Jehovah belowe het, voor oë. Jesus het toekomstige seëninge voor oë gehou, en dit het hom gehelp om hewige toetse te verduur (Hebreërs 12:2). Sy aandag is nooit afgelei deur wat die wêreld kon bied nie (Matteus 4:8-10). Hoe kan ons Jesus se voorbeeld volg? Peins oor Jehovah se wonderlike beloftes. Sien jouself in die nuwe wêreld. Jy kan die dinge wat jy in die Paradys wil doen, neerskryf of teken. Of jy kan ’n lys maak van mense met wie jy ná hulle opstanding wil praat en neerskryf wat jy vir hulle wil sê. Beskou hierdie beloftes as beloftes wat God nie net aan mense oor die algemeen gemaak het nie, maar aan jou persoonlik.

18. Hoe kan gebed jou help om jou geloof te versterk?

18 Bid vir meer geloof. Jesus het sy dissipels geleer om Jehovah vir sy heilige gees te vra (Lukas 11:9, 13). Wanneer jy vir heilige gees vra, moet jy ook vir meer geloof bid. Dit is ’n aspek van die vrug van die heilige gees. Wees spesifiek in jou gebede. As jy byvoorbeeld besef dat jy dit moeilik vind om ander te vergewe, moet jy Jehovah vra om jou te help om jou geloof te versterk en om vergewensgesind te wees.

19. Hoe kan ons goeie vriende kies?

19 Kies vriende wat sterk geloof het. Jesus het sy hegte vriende versigtig gekies. Sy intiemste vriende, die apostels, was getrou, lojaal en gehoorsaam aan hom. (Lees Johannes 15:14, 15.) Volg Jesus na en kies jou vriende versigtig. Hulle moet sterk geloof hê en gehoorsaam wees aan Jesus. Ware vriende kan eerlik met mekaar wees, selfs wanneer hulle raad moet gee of aanvaar.—Spreuke 27:9.

20. Wat sal gebeur as ons ander help om hulle geloof te versterk?

20 Help ander om hulle geloof te versterk. Jesus het sy dissipels deur sy woorde en dade gehelp om hulle geloof te versterk (Markus 11:20-24). Ons moet Jesus se voorbeeld volg. As ons dit doen, sal ons ons eie geloof en die geloof van ander versterk (Spreuke 11:25). Hoe kan jy mense in jou gebied help? Wanneer jy ander van die Bybel leer, moet jy klem lê op bewyse dat God bestaan, dat hy vir ons omgee en dat die Bybel God se Woord is. Hoe kan jy jou broers en susters help om hulle geloof sterk te hou? Moenie gou wees om iemand te vermy wat kla oor die broers wat die leiding neem nie. Probeer hom taktvol help om sy geloof te herwin (Judas 22, 23). As jy nog op skool is en jou onderwyser oor evolusie praat, moet jy moedig wees en jou geloof in die skepping verdedig. Die reaksie van jou onderwyser en jou klasmaats sal jou dalk aangenaam verras.

21. Wat het Jehovah elkeen van ons belowe?

21 Jehovah en Jesus het Petrus gehelp om twyfelgedagtes en vrees te oorkom. Petrus het later in sy lewe ’n baie goeie voorbeeld van geloof geword. Net so help Jehovah elkeen van ons om vas te staan in die geloof. (Lees 1 Petrus 5:9, 10.) Dit verg inspanning om sterk geloof op te bou, maar Jehovah sal ons beloon as ons dit doen.

^ par. 16 Sien byvoorbeeld die reeks “Die Bybel verander lewens” in die publieke uitgawe van Die Wagtoring.