Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Hoe kan ons toon dat ons Jehovah liefhet?

Hoe kan ons toon dat ons Jehovah liefhet?

“Ons het lief omdat hy ons eerste liefgehad het.”—1 JOHANNES 4:19.

LIEDERE: 56138

1, 2. Hoe het Jehovah ons geleer om hom lief te hê?

DIE beste manier waarop ’n vader sy kinders kan leer, is deur sy voorbeeld. Wanneer hy liefde aan sy kinders betoon, leer hy hulle hoe om lief te hê. Niemand het ons so lief soos ons Vader, Jehovah, nie. Ons leer om lief te hê “omdat hy ons eerste liefgehad het”.—1 Johannes 4:19.

2 Hoe het Jehovah getoon dat hy “ons eerste liefgehad het”? Die Bybel sê dat “Christus vir ons gesterf het terwyl ons nog sondaars was” (Romeine 5:8). Ons liefdevolle Vader, Jehovah, het sy Seun as ’n losprys gegee om ons van sonde en die dood te red. Hierdie kosbare gawe maak dit vir ons moontlik om na aan Jehovah te wees en ons liefde vir hom te toon. Deur hierdie groot opoffering te maak, het Jehovah die voorbeeld gestel. Hy het ons geleer dat ons moet liefhê deur onselfsugtig en vrygewig te wees.—1 Johannes 4:10.

3, 4. Hoe wys ons dat ons God liefhet?

3 Liefde is Jehovah se vernaamste eienskap. Ons kan dus verstaan waarom Jesus gesê het dat die belangrikste gebod die volgende is: “Jy moet Jehovah jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel en met jou hele verstand en met al jou krag” (Markus 12:30). Jehovah wil hê dat ons hom met ons “hele hart” moet liefhê. Dit sal Jehovah seermaak as ons vir iemand of iets anders liewer is as vir hom. Maar ons liefde vir hom moenie net ’n emosionele gevoel wees nie. Jehovah verwag ook dat ons hom met ons “hele verstand” en met ‘al ons krag’ moet liefhê. Dit beteken dat ons ons liefde vir Jehovah moet toon deur die manier waarop ons dink en optree.—Lees Miga 6:8.

4 Ons moet Jehovah dus liefhê met ons hele wese en met alles wat ons het. As ons hom eerste in ons lewe stel, toon ons vir hom dat ons hom werklik liefhet. In die vorige artikel het ons vier maniere bespreek waarop Jehovah sy groot liefde vir sy kinders toon. Kom ons bespreek nou hoe ons ons liefde vir Jehovah kan versterk en kan wys dat ons hom liefhet.

TOON DAT JY DANKBAAR IS

5. Wat wil ons doen wanneer ons aan alles dink wat Jehovah vir ons gedoen het?

5 Wanneer iemand vir jou ’n geskenk gee, sal jy heel waarskynlik toon dat jy dankbaar is. En omdat jy die geskenk waardeer, gebruik jy dit. Jakobus het geskryf: “Elke goeie gawe en elke volmaakte geskenk kom van bo, want dit daal neer van die Vader van die hemelse ligte, en by hom is daar geen verandering van die draaiing van die skaduwee nie” (Jakobus 1:17). Ons is so dankbaar dat Jehovah ons alles gee wat ons nodig het om te lewe en gelukkig te wees. Ons besef hoe lief hy vir ons is, en ons wil vir hom wys dat ons hom ook liefhet. Is dit hoe jy voel?

6. Wat moes die Israeliete doen as hulle wou hê dat Jehovah moes aanhou om hulle te seën?

6 Die Israeliete het talle goeie dinge van Jehovah ontvang. Hy het hulle eeue lank met sy wette gelei en in hulle materiële behoeftes voorsien (Deuteronomium 4:7, 8). En die Israeliete kon hulle dankbaarheid teenoor Jehovah toon deur hierdie wette te gehoorsaam. Wanneer hulle byvoorbeeld offerandes aan Jehovah gebring het, moes hulle hom “die beste van die eerste ryp vrugte” van die land gee (Eksodus 23:19). Die Israeliete het geweet dat Jehovah sou aanhou om hulle te seën as hulle hom gehoorsaam en hom hulle beste gee.—Lees Deuteronomium 8:7-11.

7. Hoe kan ons ons “waardevolle dinge” gebruik om vir Jehovah te wys dat ons hom liefhet?

7 Ons kan ook vir Jehovah wys dat ons hom liefhet deur hom te eer met ons “waardevolle dinge” (Spreuke 3:9). Hoe kan ons dit doen? Ons kan byvoorbeeld bydraes maak om die Koninkrykswerk in ons eie gemeente en regoor die wêreld te ondersteun. Hetsy ons baie of min het, ons almal kan ons materiële dinge gebruik om ons liefde vir Jehovah te toon (2 Korintiërs 8:12). Maar daar is ook ander maniere waarop ons vir Jehovah kan wys dat ons hom liefhet.

Hoe meer ons op Jehovah vertrou, hoe meer wys ons vir hom dat ons hom liefhet

8, 9. Wat is nog ’n manier waarop ons vir Jehovah kan wys dat ons hom liefhet? Wat het Mike en sy gesin gedoen?

8 Jesus het ons geleer om aan te hou om eers die Koninkryk te soek en om ons nie te bekommer oor kos en klere nie. Ons Vader belowe om ons te gee wat ons nodig het (Matteus 6:31-33). Ons vertrou op Jehovah en weet dat hy hierdie belofte sal nakom. Wanneer jy iemand waarlik liefhet, vertrou jy hom. Trouens, hoe meer ons op Jehovah vertrou, hoe meer wys ons vir hom dat ons hom liefhet (Psalm 143:8). Ons kan ons dus afvra: ‘Toon my planne en die manier waarop ek my tyd en energie gebruik dat ek Jehovah waarlik liefhet? Vertrou ek elke dag op Jehovah om in my behoeftes te voorsien?’

9 Mike en sy gesin het op Jehovah vertrou. Van jongs af was dit Mike se begeerte om die predikingswerk in ’n ander land te gaan doen. Selfs nadat hy getrou het en twee kinders gehad het, was dit nog steeds sy begeerte. Toe Mike en sy gesin gelees het van broers en susters wat gaan dien het waar meer verkondigers nodig is, het hulle besluit om hulle lewe te vereenvoudig. Hulle het hulle huis verkoop en na ’n kleiner plek getrek. Mike het die aantal kliënte van sy skoonmaakbesigheid verminder en uitgevind hoe om dit vanuit ’n ander land oor die Internet te bestuur. Toe kon Mike en sy gesin na ’n ander land trek, en hulle het die bediening daar baie geniet. Mike het gesê: “Ons het ondervind hoe waar Jesus se woorde in Matteus 6:33 is.”

PEINS OOR WAT JEHOVAH JOU LEER

10. Waarom sal dit goed wees as ons, soos koning Dawid, peins oor die dinge wat ons oor Jehovah leer?

10 Koning Dawid het eenkeer geskryf: “Die hemele maak die heerlikheid van God bekend; en die uitspansel verkondig die werk van sy hande.” Hy het bygevoeg: “Die wet van Jehovah is volmaak; dit bring die siel terug. Die herinnering van Jehovah is betroubaar; dit maak die onervarene wys.” Toe Dawid gepeins het oor Jehovah se wyse wette en pragtige skepping, het hy nader aan Jehovah gekom en wou hy sy liefde vir hom toon. Dawid het gesê: “Laat die woorde van my mond en die bepeinsing van my hart aangenaam word voor u, o Jehovah, my Rots en my Verlosser.”—Psalm 19:1, 7, 14.

11. Hoe kan ons die kennis wat Jehovah ons gee, gebruik om ons liefde vir hom te toon? (Sien prent aan begin van artikel.)

11 Vandag leer Jehovah ons baie oor homself, sy voorneme, sy skepping en sy Woord. Die wêreld spoor mense aan om te leer, maar hoër onderwys veroorsaak dikwels dat hulle hulle liefde vir God verloor. In teenstelling hiermee wil Jehovah nie net hê dat ons kennis moet opdoen nie, maar hy help ons ook om wys te wees. Hy wil hê dat ons die dinge wat ons leer, moet gebruik om onsself te bevoordeel sowel as om ander te help (Spreuke 4:5-7). Hy wil byvoorbeeld hê dat ons ander van die “juiste kennis van die waarheid” moet vertel en hulle moet help om gered te word (1 Timoteus 2:4). Ons toon ons liefde vir Jehovah en vir mense deur soveel mense as moontlik te leer omtrent God se Koninkryk en wat dit vir die mensdom sal doen.—Lees Psalm 66:16, 17.

12. Wat het ’n jong suster gesê omtrent ’n geskenk wat sy van Jehovah ontvang het?

12 Jongmense kan ook peins oor alles wat Jehovah hulle gegee en geleer het. Shannon onthou nog hoe sy gevoel het by ’n streekbyeenkoms wat sy bygewoon het toe sy 11 en haar suster 10 was. Gedurende ’n sessie van die “Godvrugtige toegewydheid”-streekbyeenkoms is al die jongmense, insluitende Shannon en haar suster, gevra om in ’n spesifieke gedeelte te sit. Eers was sy senuweeagtig. Maar sy was verbaas toe elke jongmens die boek Vrae wat jongmense vra—Antwoorde wat werk ontvang het. Hoe het hierdie pragtige geskenk haar oor Jehovah laat voel? Sy sê: “Ek het toe besef dat Jehovah ’n werklike Persoon is en dat hy my baie, baie liefhet. Hoe bly is ons tog dat ons groot God, Jehovah, so vrygewig is en ons sulke pragtige, volmaakte geskenke gee!”

AANVAAR JEHOVAH SE DISSIPLINE

13, 14. Hoe moet ons reageer wanneer Jehovah ons dissiplineer, en waarom?

13 Die Bybel herinner ons: “Jehovah wys die een tereg wat hy liefhet, net soos ’n vader doen met ’n seun in wie hy behae het” (Spreuke 3:12). As ons Jehovah se dissipline aanvaar en hom toelaat om ons op te lei, leer ons om te doen wat reg is en het ons gemoedsrus. “Geen dissipline lyk weliswaar op die oomblik vreugdevol nie, maar bedroewend” (Hebreërs 12:11). Hoe moet ons egter reageer wanneer Jehovah ons dissiplineer? Ons moet Jehovah se raad nooit ignoreer of ontsteld bly as ons nie hou van wat ons hoor nie. Ons is lief vir Jehovah, en daarom luister ons na hom en bring ons die nodige veranderinge aan.

As ons gewillig is om veranderinge te maak om Jehovah te behaag, toon ons dat ons hom waarlik liefhet

14 In Maleagi se dag het baie Jode nie na Jehovah geluister nie. Dit het nie vir hulle saak gemaak dat hulle offerandes nie vir hom aanneemlik was nie. Daarom het Jehovah hulle baie streng raad gegee. (Lees Maleagi 1:12, 13.) Trouens, Jehovah het hulle herhaaldelik raad gegee, maar hulle het geweier om te luister. Hy het dus vir hulle gesê: “Ek [sal] beslis die vloek oor julle stuur, en ek sal julle seëninge vervloek” (Maleagi 2:1, 2). Dit is duidelik dat ons Jehovah se vriendskap sal verloor as ons bly weier om na sy raad te luister of meen dat dit nie belangrik is nie.

Dink aan wat Jehovah se wil is eerder as aan wat gewild is in die wêreld (Sien paragraaf 15)

15. Watter gesindheid moet ons vermy?

15 Satan se wêreld spoor mense aan om trots en selfsugtig te wees. Baie hou nie daarvan as iemand hulle teregwys of vir hulle sê wat om te doen nie. Party luister na raad net omdat hulle moet. Ons moenie so wees nie. Die Bybel sê dat ons nie “langer na hierdie stelsel van dinge gevorm [moet] word nie”. Ons moet eerder verstaan wat Jehovah van ons verwag en doen wat vir hom aanneemlik is (Romeine 12:2). Hy gebruik sy organisasie om ons op die regte tyd raad te gee. Ons ontvang byvoorbeeld tydige raad oor ons gedrag teenoor die teenoorgestelde geslag, ons keuse van vriende en ons ontspanning. As ons Jehovah se dissipline gewillig aanvaar en veranderinge maak om hom te behaag, toon ons dat ons sy leiding waardeer en dat ons hom waarlik liefhet.—Johannes 14:31; Romeine 6:17.

VERTROU OP JEHOVAH OM JOU TE HELP EN TE BESKERM

16, 17. (a) Waarom moet ons uitvind wat Jehovah se wil is voordat ons besluite neem? (b) Wat het die Israeliete gedoen pleks daarvan om op Jehovah te vertrou?

16 Klein kindertjies vertrou op hulle ouers om hulle te help en te beskerm. Selfs volwassenes vra hulle ouers soms vir hulp. Hulle weet dat hulle hulle eie besluite kan neem, maar hulle besef dat hulle ouers hulle goeie raad kan gee. Ons Vader, Jehovah, laat ons toe om ons eie besluite te neem. Maar omdat ons werklik op hom vertrou en hom liefhet, vra ons altyd vir sy hulp en doen ons alles in ons vermoë om uit te vind wat sy wil is voordat ons ’n besluit neem. As ons op Jehovah vertrou, sal hy ons sy heilige gees gee om ons te help om te doen wat reg is.—Filippense 2:13.

17 In Samuel se dag het die Israeliete ’n geveg teen die Filistyne verloor. Pleks daarvan om Jehovah te vra wat hulle moet doen, het hulle gesê: “Laat ons die ark van Jehovah se verbond uit Silo na ons toe bring, sodat dit onder ons kan inkom en ons uit die palm van ons vyande kan red.” Wat was die gevolg? “Die slagting was baie groot, sodat daar van Israel dertigduisend voetsoldate geval het. En selfs die ark van God is buitgemaak” (1 Samuel 4:2-4, 10, 11). Die Israeliete het gedink dat Jehovah hulle sou help en beskerm as hulle die Ark saam met hulle neem. Maar hulle het Jehovah nie gevra vir sy hulp en leiding nie. Hulle het eerder gedoen wat hulle gedink het reg was, en dit het groot lyding tot gevolg gehad.—Lees Spreuke 14:12.

18. Wat leer die Bybel jou oor vertroue in Jehovah?

18 ’n Psalmis wat baie lief was vir Jehovah en op hom vertrou het, het geskryf: “Wag op God, want ek sal hom nog prys as my grootse redding. O my God, my siel is wanhopig in my. Daarom dink ek aan u” (Psalm 42:5, 6). Voel jy so oor Jehovah? Voel jy na aan hom en vertrou jy op hom? Jy kan leer om nog meer op hom te vertrou. Die Bybel sê vir ons: “Vertrou op Jehovah met jou hele hart en moenie op jou eie begrip steun nie. Slaan ag op hom in al jou weë, en hy sal jou paaie reguit maak.”—Spreuke 3:5, 6.   

19. Hoe sal jy vir Jehovah wys dat jy hom liefhet?

19 Omdat Jehovah ons eerste liefgehad het, het hy ons geleer hoe om hom lief te hê. Laat ons altyd dink aan hoeveel hy vir ons gedoen het en hoe lief hy vir ons is. En laat ons vir hom wys dat ons hom met ons hele hart, siel, verstand en al ons krag liefhet.—Markus 12:30.