Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Streef jy die volwassenheid na wat tot die Christus behoort?

Streef jy die volwassenheid na wat tot die Christus behoort?

“Kom . . . tot die mate van die groei wat tot die volheid van die Christus behoort.”—EFESIËRS 4:13.

LIEDERE: 69, 70

1, 2. Watter doelwit kan elke Christen vir homself stel? Lig toe.

WAARNA sal ’n huisvrou kyk wanneer sy vars vrugte by die mark uitsoek? Sy sal waarskynlik nie die grootste of goedkoopste vrugte kies nie. Sy sal eerder vrugte soek wat lekker ruik, vars is en wat dadelik geëet kan word. Sy wil hê dat die vrugte ryp moet wees.

’n Volwasse Christen hou aan om te soek na Bybelbeginsels wat hom kan help om tussen reg en verkeerd te onderskei

2 Nadat iemand sy lewe aan Jehovah toegewy het en gedoop is, hou hy nie op om geestelike vooruitgang te maak nie. Sy doelwit is om ’n ryp, oftewel volwasse, Christen te word. Hierdie volwassenheid het niks met ouderdom te doen nie. Dit verwys na geestelike groei, wat behels dat ’n mens ’n hegte verhouding met Jehovah opbou. Die apostel Paulus wou hê dat Christene in Efese volwasse moet word. Hy het hulle aangespoor om te “kom tot die eenheid in die geloof en in die juiste kennis van die Seun van God, tot ’n volgroeide man, tot die mate van die groei wat tot die volheid van die Christus behoort”.—Efesiërs 4:13.

3. Watter ooreenkoms is daar tussen die gemeente in Efese en Jehovah se volk van vandag?

3 Die gemeente in Efese het reeds ’n paar jaar bestaan toe Paulus sy brief aan hulle geskryf het. Baie in die gemeente was reeds ervare, volwasse Christene. Maar ander moes hulle verhouding met Jehovah nog verder versterk. Net so is daar vandag baie broers en susters wat Jehovah al lank dien en wat volwasse Christene geword het. Maar ander in die gemeente het nog nie geestelike volwassenheid bereik nie. Daar is byvoorbeeld duisende wat elke jaar gedoop word, en hulle moet nog tot geestelike volwassenheid groei. Wat van jou?—Kolossense 2:6, 7.

HOE KAN ’N CHRISTEN GROEI?

4, 5. Hoe verskil volwasse Christene van mekaar, maar wat het hulle almal in gemeen? (Sien prent aan begin van artikel.)

4 Wanneer jy na ryp vrugte by die mark kyk, merk jy op dat die vrugte nie presies dieselfde lyk nie. Maar hulle het tog sekere eienskappe in gemeen wat toon dat hulle ryp is. Dieselfde geld vir volwasse Christene. Hulle is nie presies dieselfde nie. Hulle kom van verskillende lande en het verskillende agtergronde. Hulle verskil in ouderdom en hou van verskillende dinge. Nogtans het alle volwasse Christene sekere eienskappe in gemeen wat toon dat hulle volwasse is. Wat is van hierdie eienskappe?

‘Watter veranderinge kan ek maak sodat ek Jesus in groter mate kan navolg?’

5 ’n Volwasse Christen volg Jesus na en volg “sy voetstappe noukeurig” (1 Petrus 2:21). Jesus het gesê dat dit baie belangrik is om Jehovah lief te hê met jou hele hart, siel en verstand en om jou naaste lief te hê soos jouself (Matteus 22:37-39). ’n Volwasse Christen probeer hard om hierdie raad te gehoorsaam. Sy lewenswyse toon dat sy verhouding met Jehovah en sy diep liefde vir ander vir hom van die allergrootste belang is.

Ouer Christene kan Jesus se nederigheid navolg deur jonger broers te ondersteun wat nou die leiding neem (Sien paragraaf 6)

6, 7. (a) Watter ander eienskappe lê ’n volwasse Christen aan die dag? (b) Wat moet ons ons afvra?

6 Liefde is net een van die talle eienskappe wat ’n volwasse Christen openbaar (Galasiërs 5:22, 23). Hy openbaar ook sagmoedigheid, selfbeheersing en geduld. Hierdie eienskappe kan hom help om moeilike situasies te verduur sonder om geïrriteerd te raak en om teleurstellings te verduur sonder om hoop te verloor. Tydens sy persoonlike studie sal ’n volwasse Christen aanhou om na Bybelbeginsels te soek wat hom sal help om tussen reg en verkeerd te onderskei. Dan sal sy Bybelopgeleide gewete hom help om wyse besluite te neem. ’n Volwasse Christen is nederig en glo dus dat Jehovah se riglyne en standaarde altyd beter is as sy eie. * (Sien voetnoot.) Hy verkondig die goeie nuus ywerig en doen alles wat hy kan om die gemeente te help om verenig te bly.

7 Ongeag hoe lank ons Jehovah al dien, elkeen van ons kan ons afvra: ‘Watter veranderinge kan ek maak sodat ek Jesus in groter mate kan navolg? Is daar maniere waarop ek kan verbeter?’

“VASTE VOEDSEL IS VIR VOLWASSE MENSE”

8. Hoe goed het Jesus die Bybel geken en verstaan?

8 Jesus Christus het die Skrif goed geken en verstaan. Toe hy net 12 jaar oud was, het hy die Skrif gebruik toe hy met die leermeesters by die tempel gepraat het. “Almal wat na hom geluister het, was die hele tyd verbaas oor sy begrip en sy antwoorde” (Lukas 2:46, 47). Later, gedurende sy aardse bediening, het hy God se Woord op ’n vaardige wyse gebruik om sy teenstanders stil te maak.—Matteus 22:41-46.

9. (a) Watter studiegewoontes het ’n volwasse Christen? (b) Waarom bestudeer ons die Bybel?

9 Iemand wat ’n volwasse Christen wil word, volg Jesus se voorbeeld na en wil die Bybel so goed verstaan as wat hy kan. Omdat hy weet dat ‘vaste voedsel vir volwasse mense is’, soek hy gereeld na diep geestelike waarhede in die Skrif (Hebreërs 5:14). ’n Volwasse Christen wil “juiste kennis” van die Bybel hê (Efesiërs 4:13). Vra jou dus af: ‘Lees ek die Bybel elke dag? Het ek ’n rooster vir persoonlike studie? Hou ek elke week gesinsaanbidding?’ Wanneer jy die Bybel bestudeer, moet jy soek na beginsels wat jou kan help om te verstaan hoe Jehovah voel en dink. Gebruik dan hierdie beginsels wanneer jy besluite neem. Dit sal jou help om nog nader aan Jehovah te kom.

10. Hoe voel ’n volwasse Christen oor God se raad en beginsels?

10 ’n Volwasse Christen moenie net weet wat die Bybel sê nie. Hy moet lief wees vir God se raad en beginsels. Dan toon hy hierdie liefde deur Jehovah se wil te doen eerder as sy eie. Hy verander selfs hoe hy lewe, dink en optree. Hy volg Jesus na en beklee hom met die nuwe persoonlikheid, wat “na God se wil in ware regverdigheid en lojaliteit geskep is”. (Lees Efesiërs 4:22-24.) Dit is belangrik om te onthou dat God sy heilige gees gebruik het om die Bybelskrywers te rig. Wanneer ’n Christen die Bybel bestudeer, help God se heilige gees hom dus om meer kennis op te doen, om sy liefde vir Bybelstandaarde te vergroot en om sy verhouding met Jehovah te versterk.

BEVORDER EENHEID

11. Wat het Jesus ondervind terwyl hy op die aarde was?

11 Toe Jesus op die aarde was, was hy ’n volmaakte mens. Maar hy was omring deur onvolmaakte mense. Sy ouers en sy broers en susters was almal onvolmaak. Selfs Jesus se intiemste volgelinge was soms trots en selfsugtig. Die aand voor sy dood het sy dissipels byvoorbeeld gestry “oor wie van hulle blykbaar die grootste was” (Lukas 22:24). Jesus het geweet dat sy volgelinge, ondanks hulle onvolmaakte denke, kort voor lank volwasse Christene sou word en ’n verenigde gemeente sou vorm. Daardie selfde aand het Jesus gebid dat sy dissipels verenig moet wees. Hy het vir sy hemelse Vader gevra: “Net soos u, Vader, in eenheid met my en ek in eenheid met u is, [laat] hulle ook in eenheid met ons [wees], sodat hulle een kan wees net soos ons een is.”—Johannes 17:21, 22.

12, 13. (a) Wat is ons doelwit as Christene? (b) Hoe het ’n broer geleer om eenheid te bevorder?

12 ’n Volwasse Christen bevorder eenheid in die gemeente. (Lees Efesiërs 4:1-6, 15, 16.) As Christene is dit ons doelwit om “harmonies saamgeheg” te wees, dit wil sê om in eenheid saam te werk. As Christene hierdie eenheid wil hê, moet hulle nederig wees. Selfs wanneer ’n volwasse Christen deur die onvolmaakthede van ander geraak word, werk hy hard om die eenheid van die gemeente te bewaar. Vra jou dus af: ‘Hoe reageer ek wanneer ’n broer of suster ’n fout maak? Hoe voel ek wanneer iemand my seermaak? Hou ek gewoonlik op om met daardie persoon te praat? Of probeer ek die verhouding herstel?’ ’n Volwasse Christen wil eerder ’n probleem oplos as om ’n probleem vir ander te wees.

13 Kyk na die voorbeeld van Uwe. In die verlede het hy toegelaat dat die onvolmaakthede van broers en susters hom ontstel. Toe het hy besluit om die Bybel en die boek Insight on the Scriptures te gebruik om die lewe van Dawid te bestudeer. Waarom het hy Dawid gekies? Omdat Dawid ook geraak is deur die onvolmaakthede van party van God se knegte. Byvoorbeeld, koning Saul het Dawid probeer doodmaak, van Dawid se manskappe wou hom stenig en selfs sy eie vrou het hom bespot (1 Samuel 19:9-11; 30:1-6; 2 Samuel 6:14-22). Maar ten spyte van wat ander aan hom gedoen het, was Dawid lief vir Jehovah en het hy op hom vertrou. Dawid het ook barmhartigheid getoon. Uwe erken dat hy dieselfde moes doen. Hy het uit sy studie van die Bybel geleer dat hy sy beskouing van sy broers se onvolmaakthede moet verander. Hy moes eerder hulle foute probeer vergeet en die eenheid in die gemeente bevorder. Wil jy ook eenheid in die gemeente bevorder?

KIES VRIENDE WAT GOD SE WIL DOEN

14. Hoe het Jesus sy vriende gekies?

14 Jesus Christus het mense vriendelik behandel. Mans en vroue, jonk en oud, en selfs kinders, was op hulle gemak by Jesus. Maar hy het sy intieme vriende versigtig gekies. Hy het vir sy apostels gesê: “Julle is my vriende as julle doen wat ek julle beveel” (Johannes 15:14). Jesus het sy intieme vriende gekies uit diegene wat hom lojaal gevolg het en wat Jehovah liefgehad en gedien het. Kies jy vriende wat Jehovah met hulle hele hart liefhet? Waarom is dit belangrik?

Kies jy vriende wat Jehovah met hulle hele hart liefhet?

15. Hoe kan jongmense baat vind by vriendskappe met volwasse Christene?

15 Die meeste vrugte word gouer ryp in warm sonlig. Net so kan die hartlike liefde van die broers en susters jou help om ’n volwasse Christen te word. Is jy ’n jongmens wat probeer besluit wat om met jou lewe te doen? Indien wel, is dit verstandig om vriende te kies wat Jehovah al lank dien en wat eenheid in die gemeente bevorder. Hulle het moontlik al probleme in die lewe ondervind en dalk al uitdagings die hoof gebied in hulle diens aan Jehovah. Hulle kan jou help om die beste lewensweg te kies. Wanneer jy tyd saam met hulle deurbring, kan hulle jou help om wyse besluite te neem en om as ’n Christen te groei.—Lees Hebreërs 5:14.

16. Hoe het ouer persone in die gemeente ’n suster gehelp toe sy jonk was?

16 Helga onthou dat die meeste van haar klasmaats gedurende haar laaste jaar op skool oor hulle doelwitte vir die toekoms gepraat het. Baie van hulle wou universiteit toe gaan sodat hulle ’n suksesvolle loopbaan kon hê. Maar Helga het met geestelik volwasse vriende in haar gemeente gepraat. Sy sê: “Baie van hulle was ouer as ek, en hulle het my baie gehelp. Hulle het my aangespoor om die voltydse diens te betree. Ek het toe vyf jaar lank gepionier. Nou, jare later, is ek bly dat ek ’n deel van my jeug in Jehovah se diens gebruik het. Ek is glad nie spyt dat ek dit gedoen het nie.”

17, 18. Wat moet ons doen as ons Jehovah ons beste wil gee?

17 As ons Jesus navolg, sal ons volwasse Christene word. Ons sal nader aan Jehovah kom, en ons begeerte om hom te dien, sal ook sterker word. As ons geestelik volwasse is, kan ons Jehovah ons beste gee. Jesus het sy volgelinge aangespoor: “Laat julle lig . . . voor die mense skyn, sodat hulle julle goeie werke kan sien en heerlikheid kan gee aan julle Vader wat in die hemele is.”—Matteus 5:16.

18 Ons het geleer dat ’n volwasse Christen ’n kragtige invloed op die gemeente kan hê. En ’n Christen se volwassenheid kan gesien word in die manier waarop hy sy gewete gebruik. Hoe kan ons gewete ons help om wyse besluite te neem? En hoe kan ons die gewete van ander respekteer? Ons sal hierdie vrae in die volgende artikel bespreek.

^ par. 6 Byvoorbeeld, ouer en meer ervare broers sal moontlik gevra word om ’n toewysing op te gee en om jonger broers te ondersteun wat die toewysing ontvang.