Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

“Gee ons meer geloof”

“Gee ons meer geloof”

“Help my waar ek geloof kortkom!”—MARKUS 9:24.

LIEDERE: 81, 135

1. Hoe belangrik is geloof? (Sien prent aan begin van artikel.)

HET jy jou al ooit afgevra: ‘Sal Jehovah my gedurende die groot verdrukking wil red?’ Die apostel Paulus het gesê dat geloof uiters belangrik is as ons die groot verdrukking wil oorleef. Hy het gesê: “Sonder geloof is dit onmoontlik om vir [God] welbehaaglik te wees” (Hebreërs 11:6). Dit klink miskien eenvoudig, maar die feit is: “Geloof is nie iets wat alle mense besit nie” (2 Tessalonisense 3:2). Hierdie twee tekste help ons om te verstaan hoe belangrik dit is om ons geloof te versterk.

2, 3. (a) Hoe belangrik is ons geloof? (b) Wat sal ons nou bespreek?

2 Die apostel Petrus het van “beproefde” geloof gepraat. (Lees 1 Petrus 1:7.) Die groot verdrukking is baie naby, en ons wil die soort mense wees “wat geloof het tot die behoud van die siel”, dit wil sê geloof wat ons lewe sal red (Hebreërs 10:39). Ons moet dus hard werk om ons geloof te versterk. Ons wil onder diegene wees wat beloon word by die openbaring van Jesus Christus, ons Koning. Soos die man wat Jesus gesmeek het om hom meer geloof te gee, sê ons dalk ook: “Help my waar ek geloof kortkom!” (Markus 9:24). Of soos die apostels, sê ons miskien: “Gee ons meer geloof.”—Lukas 17:5.

3 In hierdie artikel sal ons die volgende punte bespreek: hoe ons ons geloof kan opbou, hoe ons kan toon dat ons sterk geloof het en waarom ons seker kan wees dat God ons sal verhoor wanneer ons vir meer geloof vra.

DIT BEHAAG GOD AS ONS ONS GELOOF OPBOU

4. Watter voorbeelde kan ons beweeg om ons geloof te versterk?

4 Omdat geloof so belangrik is, het Jehovah ons baie voorbeelde van geloof in die Bybel gegee. Dit “is tot ons onderrigting” opgeteken (Romeine 15:4). Die voorbeeld van Abraham, Sara, Isak, Jakob, Moses, Ragab, Gideon, Barak en baie ander kan ons beweeg om ons geloof te versterk (Hebreërs 11:32-35). Ons het nie net voorbeelde uit die verlede nie, maar ons het vandag ook wonderlike voorbeelde van geloof onder ons broers en susters. * (Sien voetnoot.)

Ons het vandag wonderlike voorbeelde van geloof onder ons broers en susters

5. Hoe het Elia getoon dat hy sterk geloof in Jehovah het, en wat kan ons ons afvra?

5 Ons het die voorbeeld van die profeet Elia in die Bybel. Terwyl jy oor sy voorbeeld nadink, kan jy let op vyf situasies waarin hy sterk vertroue in Jehovah geopenbaar het. (1) Toe Elia vir koning Agab vertel het dat Jehovah ’n droogte gaan bring, het hy vol vertroue gesê: “So waar as Jehovah, die God van Israel, lewe, voor wie ek staan, daar sal gedurende hierdie jare geen dou of reën val nie” (1 Konings 17:1). (2) Elia het geglo dat Jehovah aan hom en ander sou voorsien wat hulle gedurende die droogte nodig sou hê (1 Konings 17:4, 5, 13, 14). (3) Elia was seker dat Jehovah ’n weduwee se seun kon opwek (1 Konings 17:21). (4) Hy was daarvan oortuig dat vuur van Jehovah sy offerande op die berg Karmel sou verteer (1 Konings 18:24, 37). (5) Nog voordat ’n druppel reën geval het, het Elia vol vertroue vir Agab gesê: “Gaan op, eet en drink; want daar is die geluid van die gedruis van ’n stortreën” (1 Konings 18:41). Wanneer ons dink aan Elia se voorbeeld, kan ons ons afvra: ‘Is my geloof so sterk soos Elia s’n?’

WAT KAN ONS DOEN OM ONS GELOOF OP TE BOU?

6. Wat moet Jehovah ons gee sodat ons ons geloof kan opbou?

6 Aangesien ons nie ons geloof op ons eie kan opbou nie, moet ons God vir heilige gees vra. Waarom? Omdat geloof deel is van die vrug van die heilige gees (Galasiërs 5:22). Dit sal verstandig van ons wees om Jesus se raad te volg om vir meer heilige gees te bid. Jesus het belowe dat Jehovah “heilige gees [sal] gee aan dié wat hom vra”.—Lukas 11:13.

Dit sal verstandig van ons wees om Jesus se raad te volg om vir meer heilige gees te bid

7. Lig toe hoe ons ons geloof sterk kan hou.

7 Wanneer ons sterk geloof in God het, moet ons dit behou. Ons kan geloof met ’n vuur vergelyk. Wanneer ons ’n vuur aansteek, brand die vlamme dalk baie sterk. Maar as ons nie nog hout op die vuur sit nie, sal dit uiteindelik uitbrand en sal daar net as oorbly. As ons egter gereeld hout op die vuur sit, sal dit bly brand. Dieselfde geld vir ons geloof. As ons aanhou om God se Woord elke dag te lees en te bestudeer, sal ons liefde vir die Bybel en vir Jehovah toeneem. Dan sal ons ons geloof behou en versterk.

8. Wat sal jou help om jou geloof op te bou en sterk te hou?

8 Moenie dink dat die kennis wat jy voor jou doop opgedoen het, genoeg is nie (Hebreërs 6:1, 2). As jy byvoorbeeld Bybelprofesieë bestudeer wat reeds vervul is, sal dit jou help om jou geloof op te bou en sterk te hou. Jy kan ook God se Woord gebruik om te sien of jou geloof werklik sterk is.—Lees Jakobus 1:25; 2:24, 26.

9, 10. Hoe word ons geloof versterk deur (a) goeie vriende? (b) gemeentelike vergaderinge? (c) die predikingswerk?

9 Die apostel Paulus het gesê dat daar “wedersydse aanmoediging onder [Christene] kan wees, deurdat elkeen aangemoedig word deur middel van die ander een se geloof” (Romeine 1:12). Wat beteken dit? Wanneer ons tyd saam met ons broers en susters deurbring, kan ons mekaar se geloof versterk. Dit is veral die geval wanneer ons tyd deurbring saam met diegene wat ’n “beproefde” geloof het (Jakobus 1:3). Slegte vriende vernietig ons geloof, maar goeie vriende bou dit op (1 Korintiërs 15:33). Daarom word ons vermaan om die vergaderinge gereeld by te woon. Daar kan ons “mekaar aanmoedig”. (Lees Hebreërs 10:24, 25.) En die onderrigting wat ons by die vergaderinge ontvang, versterk ons geloof. Die Bybel sê dat “geloof volg . . . op wat gehoor word” (Romeine 10:17). Vra jou dus af: ‘Woon ek Christelike vergaderinge gereeld by?’

10 Ons versterk ook ons geloof wanneer ons die predikingswerk doen en Bybelwaarheid aan ander leer. Soos die vroeë Christene, leer ons om op Jehovah te vertrou en om in enige situasie met vrymoedigheid te praat.—Handelinge 4:17-20; 13:46.

11. Waarom het Kaleb en Josua sterk geloof gehad, en hoe kan ons soos hulle wees?

11 Ons geloof in Jehovah neem toe wanneer ons sien hoe hy ons help en hoe hy ons gebede verhoor. Kaleb en Josua het dit ondervind. Hulle het geloof in Jehovah getoon toe hulle die Beloofde Land verken het. Met verloop van tyd het hulle geloof sterker geword omdat hulle keer op keer gesien het hoe Jehovah hulle help. Josua kon vol vertroue vir die Israeliete sê: “Nie een woord van al die goeie woorde wat Jehovah julle God met julle gespreek het, [het] onvervuld gebly . . . nie.” Hy het later gesê: “En nou, vrees Jehovah en dien hom in onberispelikheid en in waarheid.” Toe het hy bygevoeg: “Wat my en my huis betref, ons sal Jehovah dien” (Josua 23:14; 24:14, 15). As ons op Jehovah vertrou en sien hoe hy ons persoonlik help, sal ons geloof sterker word.—Psalm 34:8.

HOE ONS KAN TOON DAT ONS GELOOF HET

12. Hoe toon ons dat ons sterk geloof het?

12 Hoe toon ons dat ons sterk geloof het? Die dissipel Jakobus het gesê: “Ek sal jou my geloof deur my werke toon” (Jakobus 2:18). Ons dade bewys dat ons sterk geloof het. Kom ons kyk hoe.

Diegene wat soveel as moontlik in die bediening doen, toon dat hulle sterk geloof het (Sien paragraaf 13)

13. Waarom toon deelname aan die predikingswerk dat ons geloof het?

13 ’n Uitstekende manier om te toon dat ons geloof het, is om die predikingswerk te doen. Waarom? Want wanneer ons preek, wys ons dat ons glo dat die einde naby is en dat dit “nie laat [sal] wees nie” (Habakuk 2:3). Om uit te vind of ons geloof sterk is, kan ons ons afvra: ‘Hoe belangrik is die predikingswerk vir my? Doen ek alles in my vermoë om ander van God te vertel? Soek ek na maniere om meer in my diens aan Jehovah te doen?’ (2 Korintiërs 13:5). Ons moet toon dat ons geloof sterk is deur “openbare bekendmaking tot redding” te doen, dit wil sê deur die goeie nuus te verkondig.—Lees Romeine 10:10.

14, 15. (a) Hoe kan ons in ons daaglikse lewe geloof openbaar? (b) Vertel ’n ondervinding wat toon hoe party sterk geloof geopenbaar het.

14 Ons kan ook geloof in Jehovah openbaar wanneer ons voor uitdagings in die lewe te staan kom. As ons siek, mismoedig, terneergedruk of arm is of ander probleme het, moet ons glo dat Jehovah en Jesus ons “hulp op die regte tyd” sal gee (Hebreërs 4:16). Ons toon dat ons geloof in Jehovah het as ons hom vir hulp vra. Jesus het gesê dat ons Jehovah kan vra om ons “ons brood . . . volgens die dag se vereiste” te gee (Lukas 11:3). Daar is Bybelverslae wat bewys dat Jehovah ons enigiets kan gee wat ons nodig het. Gedurende ’n hewige droogte in Israel het Jehovah byvoorbeeld aan Elia kos en water voorsien. Die Bybel sê: “Die rawe het soggens vir hom brood en vleis gebring en saans brood en vleis, en hy het uit die stroomvallei bly drink” (1 Konings 17:3-6). Ons glo dat Jehovah ons ook kan gee wat ons nodig het.

Ons kan geloof openbaar wanneer ons voor uitdagings in die lewe te staan kom (Sien paragraaf 14)

15 Ons het die vertroue dat Bybelbeginsels ons kan help om in die behoeftes van ons gesin te voorsien. Rebecca, ’n getroude suster in Asië, verduidelik hoe sy en haar gesin die beginsels in Matteus 6:33 en Spreuke 10:4 toegepas het. Sy sê dat haar man sy werk gelos het omdat hy gemeen het dat dit hulle verhouding met Jehovah in gevaar stel. Maar hulle moes vir hulle vier kinders sorg, en daarom het hulle besluit om kos te maak wat hulle kon verkoop. Hulle het hard gewerk en het altyd genoeg geld gemaak om in die behoeftes van hulle gesin te voorsien. Sy sê: “Ons het nooit gevoel dat Jehovah ons verlaat het nie. Ons het altyd genoeg gehad om te eet.” Het jy al ’n soortgelyke geloofversterkende ondervinding gehad?

Ons het die vertroue dat Bybelbeginsels ons kan help om in die behoeftes van ons gesin te voorsien

16. Wat sal dit tot gevolg hê as ons op God vertrou?

16 Ons moet nooit twyfel dat Jehovah ons sal help as ons sy leiding volg nie. Paulus het Habakuk se woorde aangehaal toe hy gesê het: “Die regverdige sal weens geloof lewe” (Galasiërs 3:11; Habakuk 2:4). Daarom moet ons sterk geloof hê in die Een wat ons werklik kan help. Paulus herinner ons daaraan dat God, “ooreenkomstig sy krag wat in ons aan die werk is, oneindig meer kan doen as alles wat ons vra of wat ons ons voorstel” (Efesiërs 3:20). Jehovah se knegte doen alles in hulle vermoë om God se wil te doen, maar hulle weet ook dat hulle beperkings het. Ons is so dankbaar dat God met ons is en dat hy al ons pogings seën.

VERSOEKE OM GELOOF WORD TOEGESTAAN

17. (a) Hoe het Jesus die apostels se versoek toegestaan? (b) Waarom kan ons verwag dat Jehovah ons versoeke om meer geloof sal toestaan?

17 Ná ons bespreking voel ons miskien soos die apostels toe hulle Jesus gevra het: “Gee ons meer geloof” (Lukas 17:5). Jesus het sy apostels op Pinkster in die jaar 33 op ’n spesiale manier geantwoord toe hulle heilige gees ontvang het en God se voorneme dus beter kon verstaan. Dit het hulle geloof versterk. Met watter resultaat? Hulle het die grootste predikingsveldtog begin wat daar tot op daardie stadium was (Kolossense 1:23). Kan ons verwag dat ons versoeke om meer geloof toegestaan sal word? Jehovah belowe dat ons dit kan verwag as “ons volgens sy wil vra”.—1 Johannes 5:14.

18. Hoe seën Jehovah diegene wat hulle geloof opbou?

18 As ons ons volle vertroue in Jehovah stel, sal ons sy hart bly maak. Hy sal ons versoek om meer geloof toestaan, ons geloof sal sterker word en ons sal “die koninkryk van God waardig geag word”.—2 Tessalonisense 1:3, 5.

^ par. 4 Sien byvoorbeeld die lewensverhale van Lillian Gobitas Klose (Ontwaak!, 22 Julie 1993), Feliks Borys (Ontwaak!, 22 Februarie 1994) en Josephine Elias (Ontwaak!, September 2009).