Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Dit was vir my goed om nader aan God te kom

Dit was vir my goed om nader aan God te kom

TOE ek nege jaar oud was, het ek ophou groei. Ek is nou 43, en ek is net een meter lank. Toe my ouers besef het dat ek nie verder gaan groei nie, het hulle my aangespoor om hard te werk sodat ek nie heeltyd aan my lengte sou dink nie. Om besig te bly, het ek ’n vrugtestalletjie voor ons huis opgerig, en dit altyd netjies gehou. Dit het baie mense gelok.

Harde werk het natuurlik nie alles verander nie. Ek was nog steeds baie kort, en selfs eenvoudige dinge, soos om oor ’n winkeltoonbank te sien, was vir my ’n uitdaging. Dit het gevoel asof alles ontwerp is vir mense wat byna twee keer so lank soos ek is. Ek het myself bejammer, maar dit het verander toe ek 14 jaar oud was.

Eendag het twee vroue wat Jehovah se Getuies was, by my vrugte gekoop, en toe het hulle vir my ’n Bybelstudie aangebied. Ek het gou besef dat kennis van Jehovah en sy voorneme belangriker is as my lengte. Dit het my baie gehelp. Psalm 73:28 het my gunstelingteks geword. Die eerste deel van hierdie vers sê: “Dit is vir my goed om nader aan God te kom.”

Ons gesin het skielik van Côte d’Ivoire na Burkina Faso getrek, en my lewe het baie verander. Waar ons voorheen gebly het, was mense daaraan gewoond om my langs die vrugtestalletjie te sien. Maar by ons nuwe tuiste was ek ’n vreemdeling, en ek het vir baie mense ook vreemd gelyk. Mense het my aangestaar, en daarom het ek weke lank binnenshuis gebly. Toe het ek onthou hoe goed dit vir my was om nader aan Jehovah te kom. Ek het aan die takkantoor van Jehovah se Getuies geskryf, en hulle het die regte persoon na my toe gestuur. Nani, ’n sendeling, het my op ’n bromponie kom besoek.

’n Mens kon maklik gly op die sandpaaie in ons omgewing, en in die reënseisoen was die paaie modderig. Nani het dikwels van haar bromponie afgeval wanneer sy met my kom studeer het, maar sy het nie tou opgegooi nie. Eendag het sy aangebied om my na die vergaderinge te neem. Ek het besef dat ek die huis sou moes verlaat en dat mense my sou aangaap. En met my agterop die bromponie sou dit nog moeiliker wees om dit op die pad te hou. Nogtans het ek ingestem, want ek het die tweede deel van my gunstelingteks onthou, wat sê: “In die Soewereine Heer Jehovah het ek my toevlug gestel.”

Ek en Nani het soms in die modder geval, maar omdat ons lief was vir die vergaderinge, het ons nie omgegee nie. Wat ’n groot verskil was daar tog tussen hoe liefdevol die broers by die Koninkryksaal vir my geglimlag het en hoe ander mense my aangestaar het! Ek is nege maande later gedoop.

“Om al u werke bekend te maak” is die derde deel van my gunstelingteks. Ek het geweet dat velddiens my grootste uitdaging sou wees. Ek onthou nog die eerste keer dat ek van huis tot huis gaan preek het. Kinders sowel as grootmense het my aangestaar, my gevolg en my gespot oor die manier waarop ek geloop het. Dit het my werklik seergemaak, maar wanneer ek daaraan gedink het dat hulle die Paradys net so nodig het soos ek, het dit my gehelp om te volhard.

Om dinge makliker te maak, het ek ’n driewielfiets gekry wat met die hand aangedryf word. My velddiensmaat het my teen die bulte opgestoot, agterop die fiets gespring en dan het ons met ’n spoed teen die bult afgery. Hoewel die bediening aan die begin moeilik was, het ek dit kort voor lank so geniet dat ek in 1998 ’n gewone pionier geword het.

Ek het baie Bybelstudies gehou, en vier van daardie studente is gedoop. En een van my vleeslike susters het ook die waarheid aangeneem! Wanneer ek gehoor het hoe ander vordering maak, het dit my dikwels op net die regte tyd aangemoedig. Toe ek eenkeer malaria gehad het, het ek ’n brief uit Côte d’Ivoire gekry. Ek het ’n Bybelstudie begin met ’n universiteitstudent in Burkina Faso en dit aan ’n broer oorhandig. Die student het later na Côte d’Ivoire getrek. Ek was bly om te hoor dat hy ’n ongedoopte verkondiger geword het!

Hoe onderhou ek myself? ’n Organisasie wat gestremde mense help, het aangebied om my te leer om naaldwerk te doen. Een van die instrukteurs het opgelet dat ek goeie werksgewoontes het en gesê: “Ons moet jou leer om seep te maak.” En dit is wat hulle toe gedoen het. Nou maak ek wasgoed- en huishoudelike seep by die huis. Mense hou van my seep en beveel dit by ander aan. Ek gebruik my driewielbromponie om dit af te lewer.

Ongelukkig moes ek in 2004 ophou pionier as gevolg van hewige rugpyn. Maar ek gaan nog steeds gereeld in die bediening uit.

Mense sê dat ek bekend is vir my glimlag. Ek het alle rede om gelukkig te wees omdat dit vir my goed was om nader aan God te kom.—Soos vertel deur Sarah Maiga.