Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Hou aan om oor geestelike dinge te peins

Hou aan om oor geestelike dinge te peins

“Peins oor hierdie dinge; wees verdiep daarin, sodat jou vooruitgang vir almal duidelik kan wees.” —1 TIMOTEUS 4:15.

LIEDERE: 57, 52

1, 2. Wat maak mense anders as diere?

DIE mensebrein is uniek. Mense het byvoorbeeld die vermoë om ’n taal aan te leer. En taal maak dit vir ons moontlik om te lees, te skryf, te praat en te verstaan wat ons hoor. Dit gee ons ook die vermoë om te bid en lofliedere tot Jehovah te sing. Dit alles maak ons anders as diere. Wetenskaplikes kan nie ten volle verstaan hoe ons brein al hierdie wonderlike dinge kan doen nie.

2 Ons vermoë om taal te gebruik, is ’n gawe van Jehovah (Psalm 139:14; Openbaring 4:11). Hy het ons ook ’n ander gawe gegee wat ons anders as diere maak. Die mens is “na God se beeld” geskep. Ons het wilsvryheid, dit wil sê die vryheid om ons eie keuses te maak. En ons kan kies om taal te gebruik om Jehovah te dien en te loof.—Genesis 1:27.

3. Wat het Jehovah ons gegee om ons wys te maak?

3 Jehovah het ons gewys hoe om hom te dien en te loof deur ons die Bybel te gee. Die hele Bybel of dele daarvan is beskikbaar in meer as 2 800 tale. Wanneer ons peins oor wat die Bybel sê, kan ons soos God begin dink (Psalm 40:5; 92:5; 139:17). En Jehovah se gedagtes maak ons wys en lei ons na die ewige lewe.—Lees 2 Timoteus 3:14-17.

4. Wat beteken dit om te peins, en watter vrae sal ons bespreek?

4 Om te peins, beteken om op iets te konsentreer en om diep en sorgvuldig daaroor na te dink (Psalm 77:12; Spreuke 24:1, 2). Ons vind die meeste by bepeinsing baat as ons peins oor wat ons omtrent Jehovah en Jesus leer (Johannes 17:3). In hierdie artikel sal ons die volgende vrae beantwoord: Hoe kan ons lees op ’n manier wat dit makliker maak om te peins? Waaroor kan ons peins? En wat kan ons help om gereeld te peins en dit te geniet?

MAAK SEKER DAT JY BY STUDIE BAAT VIND

5, 6. Wat kan jou help om beter te verstaan wat jy lees en dit te onthou?

5 Daar is dinge wat ’n mens kan doen sonder om te dink, soos om asem te haal, te stap of fiets te ry. Ongelukkig kan ’n mens selfs lees sonder om te dink. Dalk begin jy aan ander dinge dink terwyl jy lees. Wat kan jy doen om dit te voorkom? Dit is belangrik om te konsentreer op wat jy lees en te dink aan wat dit beteken. En aan die einde van ’n paragraaf of onderhofie in ’n publikasie moet jy stop en peins oor wat jy so pas gelees het. Dink na oor wat jy leer en maak seker dat jy dit werklik verstaan.

As jy die Bybel hardop lees, sal dit jou help om beter te konsentreer en meer te onthou

6 Wetenskaplikes het ontdek dat dit makliker is om iets te onthou as ons dit hardop lees. Ons Skepper weet dit, en daarom het hy vir Josua gesê om die boek van die Wet “op gedempte toon” te lees, dit wil sê om dit saggies vir homself te lees. (Lees Josua 1:8.) As jy die Bybel hardop lees, sal dit jou ook help om beter te konsentreer en meer te onthou.

7. Wanneer is die beste tyd om oor die Bybel te peins? (Sien prent aan begin van artikel.)

7 Dit verg inspanning om te konsentreer op wat ons studeer en om daaroor te peins. Daarom is dit die beste om te peins wanneer jy nie moeg is nie en om op ’n stil plek te peins, waar min dinge jou aandag sal aftrek. Die psalmis Dawid het gepeins wanneer hy saans wakker gelê het (Psalm 63:6). Jesus, wat volmaak was, het stil plekke gekies waar hy kon peins en kon bid.—Lukas 6:12.

GOEIE DINGE OM OOR TE PEINS

8. (a) Waaroor kan ons peins? (b) Hoe voel Jehovah wanneer ons met ander oor hom praat?

8 Dit is belangrik om te peins oor wat jy in die Bybel lees, maar daar is ook ander dinge waaroor jy kan peins. Wanneer jy byvoorbeeld een van Jehovah se wonderlike skeppingswerke sien, kan jy jou afvra: ‘Wat leer dit my omtrent Jehovah?’ Sulke gedagtes sal jou sekerlik beweeg om Jehovah in gebed te dank. En as jy saam met ander is, sal jy vir hulle wil sê hoe jy voel (Psalm 104:24; Handelinge 14:17). Jehovah skenk aandag, en dit maak sy hart bly wanneer ons peins, bid en met mekaar oor hom praat. Die Bybel verseker ons: “Toe het dié wat Jehovah vrees, met mekaar gepraat, elkeen met sy metgesel, en Jehovah het aandag bly skenk en geluister. En ’n gedenkboek is voor hom geskryf vir dié wat Jehovah vrees en vir dié wat aan sy naam dink.”—Maleagi 3:16.

Peins jy oor hoe jy jou Bybelstudente kan help? (Sien paragraaf 9)

9. (a) Waaroor het Paulus vir Timoteus gesê om te peins? (b) Waaroor kan ons peins wanneer ons vir velddiens voorberei?

9 Die apostel Paulus het vir Timoteus gesê om te peins oor die uitwerking wat sy spraak, sy gedrag en sy onderrigting op ander kan hê. (Lees 1 Timoteus 4:12-16.) Jy kan ook oor hierdie dinge peins. Jy het byvoorbeeld tyd nodig om te peins wanneer jy vir ’n Bybelstudie voorberei. Dink aan jou student, en probeer dink aan ’n vraag of ’n illustrasie wat hom sal help om vordering te maak. Wanneer jy so vir jou Bybelstudies voorberei, sal dit jou geloof versterk en sal jy ’n beter en meer entoesiastiese onderrigter van die Bybel word. Jy sal ook daarby baat vind as jy peins voordat jy in die veld uitgaan. (Lees Esra 7:10.) Dalk kan jy ’n hoofstuk van die boek Handelinge lees om jou te help om yweriger in die bediening te wees. Jy kan ook peins oor die Bybelverse wat jy daardie dag wil gebruik en die publikasies wat jy gaan aanbied (2 Timoteus 1:6). Dink aan die mense in die gebied en wat jy kan sê om hulle belangstelling te wek. Wanneer jy so voorberei, sal jy die Bybel doeltreffend kan gebruik om vir ander te getuig.—1 Korintiërs 2:4.

Laat toe dat die materiaal wat jy lees, jou hart bereik en dank Jehovah vir al die goeie dinge wat jy leer

10. Oor watter ander goeie dinge kan ons peins?

10 Oor watter ander dinge kan jy peins? As jy aantekeninge maak gedurende openbare toesprake en byeenkomste, kan jy tyd neem om dit te hersien. Wanneer jy dit doen, kan jy jou afvra: ‘Wat het ek uit God se Woord en by sy organisasie geleer?’ Jy kan ook peins oor die inligting in elke maand se nommer van Die Wagtoring en Ontwaak! en in die jongste publikasies wat by die byeenkoms vrygestel is. Wanneer jy ’n ondervinding in die Jaarboek lees, moet jy daaroor nadink en toelaat dat dit jou hart raak. Wanneer jy ons publikasies lees, kan jy die hoofgedagtes onderstreep of aantekeninge in die kantlyn maak. Dit sal jou help wanneer jy vir ’n herbesoek, ’n herdersbesoek of ’n toespraak voorberei. Nog belangriker, wanneer jy peins terwyl jy lees, laat jy toe dat die materiaal jou hart bereik en gee dit jou die geleentheid om Jehovah te dank vir al die goeie dinge wat jy leer.

PEINS ELKE DAG OOR GOD SE WOORD

11. Wat is die belangrikste boek waaroor ons moet peins, en hoe sal dit ons help as ons daaroor peins? (Sien ook voetnoot.)

11 Die Bybel is natuurlik die belangrikste boek waaroor ons moet peins. Maar sê nou jy word eendag verbied om ’n Bybel te hê? * (Sien voetnoot.) Niemand kan keer dat jy peins oor die dinge wat jy gememoriseer het, soos jou gunstelingtekste of Koninkryksliedere nie (Handelinge 16:25). En God se gees sal jou help om te onthou wat jy geleer het, en dit sal jou help om getrou te bly.—Johannes 14:26.

12. Hoe kan jy jou daaglikse Bybellees beplan?

12 Hoe kan jy jou daaglikse Bybellees beplan? Miskien kan jy party dae van die week die Bybelleesgedeelte vir die Teokratiese Bedieningskool doen en daaroor peins. Ander dae kan jy die Evangelies van Matteus, Markus, Lukas en Johannes lees en peins oor wat Jesus gesê en gedoen het (Romeine 10:17; Hebreërs 12:2; 1 Petrus 2:21). Ons het ook ’n publikasie wat die gebeurtenisse in Jesus se lewe beskryf in die volgorde waarin dit plaasgevind het. Hierdie publikasie kan jou help om meer voordeel daaruit te put wanneer jy die Evangelieverslae lees.—Johannes 14:6.

WAAROM IS BEPEINSING SO BELANGRIK?

13, 14. Waarom is dit belangrik dat ons aanhou om oor geestelike dinge te peins, en wat sal dit ons beweeg om te doen?

13 As ons oor geestelike dinge peins, kan dit ons help om volwasse Christene te word (Hebreërs 5:14; 6:1). Iemand wat min tyd daaraan bestee om aan Jehovah en Jesus te dink, sal nie sterk geloof behou nie. Hy sal sy verhouding met Jehovah geleidelik verloor of selfs sy rug op hom draai (Hebreërs 2:1; 3:12). Jesus het gewaarsku dat ons nie aan God se Woord sal “vashou” as ons dit nie “met ’n edel en goeie hart” hoor, of aanvaar nie. Dan kan ons maklik “deur sorge en rykdom en genietinge van hierdie lewe meegesleep word”.—Lukas 8:14, 15.

14 Laat ons dus aanhou om oor die Bybel te peins en om Jehovah beter te leer ken. Dit sal ons beweeg om sy eienskappe en persoonlikheid in voller mate na te volg (2 Korintiërs 3:18). Ons kan tot in alle ewigheid meer omtrent ons hemelse Vader leer en hom voortdurend navolg. Daar is geen groter eer nie!—Prediker 3:11.

As jy oor geestelike dinge peins, sal dit jou help om ywerig vir die waarheid te bly

15, 16. (a) Hoe vind jy daarby baat om oor geestelike dinge te peins? (b) Waarom is dit soms moeilik om te peins, maar waarom moet ons nie tou opgooi nie?

15 As jy oor geestelike dinge peins, sal dit jou help om ywerig vir die waarheid te bly. Jou ywer sal jou broers aanmoedig, asook die mense wat jy in velddiens ontmoet. En wanneer jy peins oor wat Jehovah vir jou gedoen het deur die losprysoffer van Jesus te voorsien, sal jy nie jou waardering vir jou hegte verhouding met God verloor nie (Romeine 3:24; Jakobus 4:8). Mark, ’n broer van Suid-Afrika wat drie jaar in die tronk was weens sy geloof, het gesê: “Bepeinsing kan vergelyk word met ’n opwindende avontuur. Hoe meer ons oor geestelike dinge peins, hoe meer ontdek ons nuwe dinge omtrent ons God, Jehovah. As ek soms ’n bietjie mismoedig voel of bekommerd is oor die toekoms, lees ek ’n gedeelte in die Bybel en peins ek daaroor. Dit laat my werklik kalmer voel.”

16 Die lewe in hierdie wêreld is so vol afleidings dat dit moeilik is om tyd te vind om oor die Bybel te peins. Patrick, ’n broer in Afrika, sê: “My verstand is soos ’n posbus vol bruikbare en onbruikbare inligting wat elke dag uitgesorteer moet word. Wanneer ek my gedagtes deursoek, vind ek dikwels ‘verontrustende gedagtes’, en ek moet eers tot Jehovah daaroor bid voordat ek met ’n helder verstand kan peins. Hoewel dit dalk ’n bietjie langer neem voordat ek oor geestelike dinge kan begin peins, voel ek nader aan Jehovah. Dit help my om die waarheid beter te verstaan” (Psalm 94:19). Ja, ons vind baie daarby baat as ons die Bybel elke dag lees en daaroor peins.—Handelinge 17:11.

HOE KAN JY DAARVOOR TYD MAAK?

17. Hoe maak jy tyd om te peins?

17 Party staan vroeg in die oggend op om te lees, te peins en te bid. Ander doen dit tydens hulle middagpouse. Miskien verkies jy om die Bybel in die aand te lees of voordat jy gaan slaap. Party hou daarvan om die Bybel in die oggend te lees, en weer voordat hulle gaan slaap (Josua 1:8). Wat belangrik is, is dat jy “die geleë tyd . . . uitkoop”, dit wil sê dat jy tyd wat jy aan minder belangrike dinge sou bestee, gebruik om elke dag oor God se Woord te peins.—Efesiërs 5:15, 16.

18. Watter belofte maak die Bybel aan almal wat elke dag oor God se Woord peins en toepas wat hulle leer?

18 Die Bybel belowe dat Jehovah almal sal seën wat oor sy Woord peins en hard probeer om toe te pas wat hulle leer. (Lees Psalm 1:1-3.) Jesus het gesê: “Gelukkig is . . . dié wat die woord van God hoor en dit nakom!” (Lukas 11:28). Maar nog belangriker, as ons elke dag oor Jehovah se Woord peins, sal dit ons help om op te tree op ’n wyse wat hom tot eer strek. En Jehovah sal ons beloon—ons sal nou gelukkig wees en die ewige lewe in sy nuwe wêreld ontvang.—Jakobus 1:25; Openbaring 1:3.

^ par. 11 Sien die artikel “Ons stryd om geestelik sterk te bly” in Die Wagtoring van 1 Desember 2006.