Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Sien jy God se hand in jou lewe?

Sien jy God se hand in jou lewe?

“Die hand van Jehovah sal beslis aan sy knegte bekend gemaak word.” —JESAJA 66:14.

LIEDERE: 65, 26

1, 2. Watter beskouing het party mense van God?

BAIE mense dink dat hulle optrede nie vir God saak maak nie. Hulle dink dat God nie werklik besorg is oor wat met hulle gebeur nie. Nadat ’n hewige storm ’n groot deel van die Filippyne in November 2013 verwoes het, het die burgemeester van ’n groot stad byvoorbeeld gesê: “God was seker êrens anders.”

2 Ander mense dink dat God nie kan sien wat hulle doen nie (Jesaja 26:10, 11; 3 Johannes 11). Party mense in die apostel Paulus se tyd het ook so gedink. Hy het gesê dat hulle geen erkenning aan God gegee het nie. Hulle was onregverdig, goddeloos, gierig en sleg.—Romeine 1:28, 29.

3. (a) Watter vrae moet ons ons afvra? (b) Waarna verwys God se “hand” dikwels in die Bybel?

3 Wat van ons? Ons weet dat Jehovah alles sien wat ons doen. Maar glo ons dat Jehovah in ons belangstel? Sien ons sy helpende hand in ons lewe? In die Bybel verwys God se “hand” dikwels na die krag wat hy uitoefen. Hy gebruik sy krag om sy knegte te help en sy vyande te oorwin. (Lees Deuteronomium 26:8.) Jesus het gesê dat party mense “God [sal] sien” (Matteus 5:8). Tel ons onder hierdie mense? Hoe kan ons “God sien”? Kom ons bespreek Bybelvoorbeelde van mense wat God se hand in hulle lewe gesien het en ander wat dit nie gesien het nie. Ons sal ook leer hoe geloof ons help om God se hand in ons lewe te sien.

HULLE HET GEWEIER OM GOD SE HAND TE SIEN

4. Waarom het Israel se vyande geweier om God se hand te sien?

4 In die ou tyd het baie mense die geleentheid gehad om te sien en te hoor hoe God Israel gehelp het. Jehovah het wonderwerke gebruik om sy volk uit Egipte te bevry en om baie konings in die Beloofde Land te verslaan (Josua 9:3, 9, 10). Al het ander konings gehoor en gesien hoe Jehovah sy volk gered het, “het hulle almal bymekaar begin kom om eendragtig teen Josua en Israel oorlog te voer” (Josua 9:1, 2). Toe hulle teen Israel geveg het, het daardie konings die geleentheid gehad om God se hand te sien. As gevolg van Jehovah se groot krag “het die son bewegingloos bly staan en die maan het stilgestaan, totdat die nasie hom op sy vyande kon wreek” (Josua 10:13). Maar Jehovah het toegelaat dat die hart van Israel se vyande “wederstrewig” word, sodat hulle teen Israel geveg het (Josua 11:20). Israel se vyande is verslaan omdat hulle geweier het om te erken dat Jehovah vir sy volk veg.

Ons moet op die uitkyk wees na God se hand in ons lewe

5. Wat het die goddelose koning Agab geweier om te glo?

5 Later het die goddelose koning Agab ’n hele paar geleenthede gehad om God se hand te sien. Elia het vir hom gesê: “Daar sal . . . geen dou of reën val nie, behalwe op bevel van my woord!” (1 Konings 17:1). Net God se hand kon so iets moontlik maak, maar Agab het geweier om dit te glo. By ’n ander geleentheid het Elia tot Jehovah gebid, en God het hom verhoor deur vuur uit die hemel te stuur. Agab het dit gesien. Toe het Elia vir Agab gesê dat Jehovah die droogte sou beëindig en ’n stortreën sou stuur (1 Konings 18:22-45). Agab het al hierdie wonderwerke gesien en het nog steeds geweier om te glo dat hy Jehovah se krag gesien het. Wat leer ons uit hierdie voorbeelde? Ons moet op die uitkyk wees na God se hand in ons lewe.

HULLE HET JEHOVAH SE HAND GESIEN

6, 7. Wat het die Gibeoniete en Ragab erken?

6 Die Gibeoniete was anders as die nasies om hulle. Hulle het God se hand gesien. Die Gibeoniete wou nie teen die Israeliete veg nie; hulle wou eerder met hulle vrede maak. Waarom? Hulle het gesê dat hulle gehoor het van Jehovah en van alles wat hy gedoen het (Josua 9:3, 9, 10). Dit was wys van hulle om te erken dat Jehovah vir Israel veg.

7 Ragab het ook Jehovah se hand gesien. Sy was nie ’n Israeliet nie, maar sy het gehoor hoe Jehovah sy volk uit Egipte verlos het. Toe twee Israelitiese spioene na haar toe gekom het, het sy vir hulle gesê: “Ek weet dat Jehovah beslis die land aan julle sal gee.” Ragab het geglo dat Jehovah haar en haar familie kon red. Sy het getoon dat sy geloof in Jehovah het, al het sy geweet dat dit gevaarlik is om dit te doen.—Josua 2:9-13; 4:23, 24.

8. Hoe het party Israeliete erken dat hulle God se hand gesien het?

8 Party van die Israeliete wat gesien het hoe vuur uit die hemel neerdaal in antwoord op Elia se gebed, het anders gereageer as die goddelose koning Agab. Hulle het erken dat dit van God af gekom het. Hulle het uitgeroep: “Jehovah is die ware God!” (1 Konings 18:39). Dit was vir hulle duidelik dat hulle God se krag gesien het.

9. Hoe kan ons vandag Jehovah en sy hand sien?

9 Ons het gekyk na goeie en slegte voorbeelde wat ons help om te verstaan wat dit beteken om “God [te] sien” of God se hand te sien. Wanneer ons Jehovah en sy eienskappe leer ken, sien ons sy hand met ‘die oë van ons hart’ (Efesiërs 1:18). Dit wek by ons die begeerte om te wees soos getroue mense van die verlede sowel as die hede wat gesien het hoe Jehovah sy volk gehelp het. Maar is daar bewyse dat God mense vandag help?

HEDENDAAGSE BEWYSE VAN GOD SE HAND

10. Watter bewyse is daar vandag dat Jehovah mense help? (Sien prent aan begin van artikel.)

10 Daar is vandag oorvloedige bewyse dat Jehovah mense nog steeds help. Ons hoor dikwels ondervindinge van mense wat gebid het dat God hulle moet help en wie se gebede verhoor is (Psalm 53:2). Byvoorbeeld, terwyl Allan op ’n klein eiland in die Filippyne gepreek het, het hy ’n vrou ontmoet wat begin huil het. Hy sê: “Sy het juis daardie oggend tot Jehovah gebid en gevra dat sy Getuies haar moet vind.” Sy het as ’n tiener die Bybel saam met die Getuies gestudeer, maar nadat sy getrou het en na die eiland getrek het, het sy nie haar studie voortgesit nie. God het haar gebed so vinnig verhoor dat dit haar hart geraak het. Binne ’n jaar het sy haar lewe aan Jehovah toegewy.

Is jy op die uitkyk na bewyse van Jehovah se hand in jou lewe? (Sien paragraaf 11-13)

11, 12. (a) Hoe help Jehovah sy knegte? (b) Verduidelik hoe Jehovah ’n suster gehelp het.

11 Baie van Jehovah se knegte het sy helpende hand gesien toe hulle slegte gewoontes oorkom het soos om te rook, dwelms te gebruik of na pornografie te kyk. Party sê dat hulle dit op hulle eie probeer oorkom het, maar nie kon nie. Maar toe hulle Jehovah om hulp gevra het, het hy hulle “die krag wat bo die normale is”, gegee en kon hulle uiteindelik hulle slegte gewoontes oorkom.—2 Korintiërs 4:7; Psalm 37:23, 24.

Jehovah help sy knegte om persoonlike probleme die hoof te bied

12 Jehovah help sy knegte ook om persoonlike probleme die hoof te bied. Dit is wat met Amy gebeur het. Sy het die toewysing ontvang om te help om ’n Koninkryksaal en ’n sendinghuis op ’n klein eiland in die Stille Oseaan te bou. Die kultuur was anders, daar was dikwels geen elektrisiteit of water nie, sy moes elke dag deur oorstroomde strate stap, sy het haar familie gemis en sy het in ’n klein hotelkamer gebly. Eendag het sy geskreeu op ’n suster saam met wie sy gewerk het. Sy het baie sleg gevoel daaroor. Toe sy na haar donker hotelkamer teruggegaan het, het sy tot Jehovah gebid en om hulp gevra. Toe die elektrisiteit weer aangekom het, het sy ’n artikel in Die Wagtoring gelees oor ’n Gileadgraduering. Die artikel het juis die probleme bespreek wat sy moes verduur. Sy sê: “Dit het gevoel asof Jehovah daardie aand met my gepraat het. Dit het my aangespoor om in my toewysing te bly.”—Psalm 44:25, 26; Jesaja 41:10, 13.

13. Watter bewyse het ons dat Jehovah sy volk gehelp het om hulle reg te verdedig om te preek?

13 Jehovah het sy volk ook gehelp om die goeie nuus te verdedig en wetlik te bevestig (Filippense 1:7). Byvoorbeeld, toe party regerings die predikingswerk wou stopsit, het ons ons in die hof verdedig. Ons het al ten minste 268 sake in hooggeregshowe regoor die wêreld gewen, waarvan 24 sedert die jaar 2000 in die Europese Hof van Menseregte gewen is. Dit is duidelik dat niemand God se hand kan keer nie!—Jesaja 54:17; lees Jesaja 59:1.

14. Watter ander bewyse is daar dat God met sy volk is?

14 Die wêreldwye verkondiging van die goeie nuus is nog ’n bewys van God se helpende hand (Matteus 24:14; Handelinge 1:8). En die eenheid onder Jehovah se volk, wat uit alle nasies kom, is net met Jehovah se hulp moontlik. Hierdie eenheid is uniek! Selfs mense wat Jehovah nie aanbid nie, erken: “God is werklik onder julle” (1 Korintiërs 14:25). Daar is oorvloedige bewyse dat God met sy volk is. (Lees Jesaja 66:14.) Wat van jou? Sien jy Jehovah se hand in jou lewe?

SIEN JY JEHOVAH SE HAND IN JOU LEWE?

15. Waarom sien ons soms nie Jehovah se hand in ons lewe nie?

15 Soms sien ons dalk nie God se hand in ons lewe nie. Waarom nie? Wanneer ons baie probleme het, kan ons vergeet dat Jehovah ons al dikwels in die verlede gehelp het. Dit het met Elia gebeur. Hy was moedig, maar toe koningin Isebel hom wou doodmaak, was hy bang. Hy het vir ’n rukkie vergeet hoe Jehovah hom vroeër gehelp het. Die Bybel sê dat Elia wou sterf (1 Konings 19:1-4). Waar kon hy hulp en moed kry? Hy moes op Jehovah vertrou!—1 Konings 19:14-18.

16. Hoe kan ons God sien wanneer ons probleme het?

16 Job het so op sy probleme gekonsentreer dat hy nie Jehovah se beskouing van sy situasie gehad het nie (Job 42:3-6). Wanneer ons probleme het, kan dit soms ook vir ons moeilik wees om God te sien. Wat kan ons help om te sien wat God vir ons doen? Ons moet nadink oor wat die Bybel oor ons probleme sê. Dan sal Jehovah vir ons werkliker wees en sal ons ook kan sê: “Van hoorsê het ek van u gehoor, maar nou sien my eie oog u.”

Gebruik Jehovah jou om ander te help om hom te sien? (Sien paragraaf 17, 18)

17, 18. (a) Hoe kan jy Jehovah se hand in jou lewe sien? (b) Vertel ’n ondervinding wat toon hoe God ons vandag help.

17 Hoe kan jy Jehovah se hand in jou lewe sien? Kom ons kyk na ’n paar voorbeelde: Jy voel moontlik dat Jehovah jou gehelp het om die waarheid te vind. Of jy onthou dalk dat jy ’n Christelike vergadering bygewoon het en ná die toespraak gesê het: “Dit is net wat ek nodig gehad het!” Miskien het jy gesien hoe Jehovah een van jou gebede verhoor het. Of jy wou dalk meer vir Jehovah doen en het gesien hoe hy jou gehelp het om hierdie doelwit te bereik. Jy het moontlik jou werk gelos omdat dit tyd in beslag geneem het wat jy in Jehovah se diens wou gebruik, en toe het jy gesien hoe God sy belofte nagekom het: “Ek sal jou hoegenaamd nie verlaat . . . nie” (Hebreërs 13:5). Wanneer ons ’n sterk verhouding met Jehovah het, is dit vir ons maklik om sy hand in ons lewe te sien.

18 Sarah, ’n suster van Kenia, sê: “Ek het gebid oor ’n student omdat ek gedink het dat sy nie haar Bybelstudie waardeer nie. Ek het Jehovah gevra of ek haar studie moet beëindig. Onmiddellik nadat ek ‘Amen’ gesê het, het my telefoon gelui. Die Bybelstudent het gebel om te vra of sy saam met my vergadering toe kon kom! Ek was verstom!” As ons op die uitkyk is na wat God vir ons doen, sal ons sy helpende hand sien. Rhonna, ’n suster wat in Asië woon, sê dat dit tyd neem voordat ons sien hoe Jehovah ons in ons lewe help. Sy voeg by: “Maar sodra jy dit sien, sal jy verbaas wees oor hoeveel hy in ons belangstel!”

19. Wat moet ons nog doen om God te sien?

19 Jesus het gesê: “Gelukkig is dié wat suiwer van hart is, want hulle sal God sien” (Matteus 5:8). Hoe kan ons “suiwer van hart” wees? Ons moet ons gedagtes rein hou en verkeerde gedrag vermy. (Lees 2 Korintiërs 4:2.) In hierdie artikel het ons geleer dat ons ons verhouding met God voortdurend moet versterk as ons hom wil sien. In die volgende artikel sal ons bespreek hoe geloof ons kan help om Jehovah se hand duideliker in ons lewe te sien.