Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

“Iemand wat onervare is, glo elke woord”

“Iemand wat onervare is, glo elke woord”

“Dwaas is die man wat nooit ’n koerant lees nie; en hy wat glo wat hy lees net omdat dit in die koerant staan, is nog dwaser.” —August von Schlözer, Duitse geskiedkundige en skrywer (1735-1809).

AS MENSE meer as 200 jaar gelede nie alles in ’n koerant kon glo nie, kan ons vandag ook nie alles glo wat ons op die Internet lees of sien nie. Daar is ’n magdom inligting aanlyn beskikbaar en moderne tegnologie maak dit vir ons maklik om dit te vind. Baie van die inligting is waar, nuttig en onskadelik, maar baie is onwaar, nutteloos en gevaarlik. Daarom moet ons ons leesstof versigtig kies. Wanneer party mense die Internet begin gebruik, dink hulle dalk dat ’n nuusberig waar moet wees net omdat dit aanlyn is of omdat ’n vriend dit vir hulle in ’n e-pos gestuur het. Hulle glo dalk ’n storie, al is dit baie ongewoon. Maar die Bybel waarsku ons: “Iemand wat onervare is, glo elke woord, maar die skerpsinnige gee ag op sy voetstappe.”—Spreuke 14:15.

Die teenoorgestelde van onervarenheid, oftewel goedgelowigheid, is skerpsinnigheid. As ons skerpsinnig is, is ons op ons hoede en glo ons net wat ons weet waar is. Ons sal nie om die bos gelei word en ’n valse storie glo wat ons op die Internet lees nie, al is dit ook hoe gewild. Wat kan jou help om skerpsinnig te wees? Vra jou eerstens af: ‘Is die storie op ’n amptelike, betroubare webwerf? Of is dit op ’n webwerf waar enigiemand sy mening kan lug? Kom dit dalk van ’n onbekende bron? Het ’n betroubare webwerf reeds getoon dat die storie nie waar is nie?’ * (Sien voetnoot.) Lê dan goeie oordeel aan die dag (Spreuke 7:7). As ’n nuusberig onwaar klink, is dit waarskynlik onwaar. En wanneer jy negatiewe berigte oor ander lees, dink aan wie daarby sal baat vind as die nuus versprei en waarom iemand dit moontlik sal wil versprei.

STUUR JY ALTYD E-POSSE AAN?

Party mense stuur dalk nuus aan almal op hulle kontaklys sonder om uit te vind of die storie waar is of sonder om te dink aan wat die gevolge kan wees as hulle dit aanstuur. Hulle doen dit moontlik omdat hulle heeltyd mense se aandag wil hê en die eerstes wil wees wat nuus versprei (2 Samuel 13:28-33). Maar ’n skerpsinnige persoon dink aan die skade wat dit kan aanrig. Dit kan byvoorbeeld ’n persoon of ’n organisasie ’n slegte reputasie gee.

Die persoon wat die nuus versprei, vind dalk nie uit of dit waar is nie omdat dit tyd en inspanning verg. Hy dink dat diegene wat sy boodskap ontvang, dit maar self kan doen. Maar hulle tyd is ook kosbaar (Efesiërs 5:15, 16). In plaas daarvan om iets aan te stuur waaroor ons nie seker is nie, sal dit beter wees om te redeneer: “As ek onseker is, moet ek dit nie doen nie!”

Vra jou af: ‘Stuur ek altyd e-posse aan? Moes ek al om verskoning vra omdat ek verkeerde inligting of selfs leuens aangestuur het? Het iemand my al ooit gevra om op te hou om e-posse aan te stuur?’ Onthou dat diegene op jou kontaklys ook toegang tot die Internet het en nie jou hulp nodig het om dinge op te soek waarin hulle belangstel nie. Hulle wil nie baie e-posse met snaakse stories, video’s, foto’s of prentjies ontvang nie. Dit is ook onverstandig om opnames of gedetailleerde aantekeninge van Bybeltoesprake aan te stuur. * (Sien voetnoot.) En onthou dat iemand meer daarby sal baat vind as hy sy eie navorsing doen, Bybeltekste self opsoek of sy eie antwoorde vir die vergadering voorberei as wanneer jy hierdie inligting vir hom aangestuur het.

Moet ek hierdie e-pos aanstuur?

Wat moet jy doen as jy kwaadwillige leuens oor Jehovah se organisasie op die Internet sien? Verwerp daardie leuens onmiddellik! Moet dit nie glo nie. En dit sal onverstandig wees om vir ander te vertel wat jy gelees het en hulle mening daaroor te vra omdat dit die skadelike inligting net verder sal laat versprei. As jy iets op die Internet gesien het wat jou bekommer, moet jy Jehovah vir wysheid vra en met ervare broers daaroor praat (Jakobus 1:5, 6; Judas 22, 23). Dit behoort ons nie te verbaas dat mense leuens oor ons vertel nie. Mense het leuens oor Jesus vertel, en hy het sy dissipels gewaarsku dat hulle vyande hulle sou vervolg en “valslik allerhande goddelose dinge” teen hulle sou sê (Matteus 5:11; 11:19; Johannes 10:19-21). As jy dus jou denkvermoë gebruik, sal jy kan onderskei wanneer mense leuens vertel en ander probeer mislei.—Spreuke 2:10-16.

TOON RESPEK VIR ANDER

Ons moet ook versigtig wees wanneer ons nuus oor ons broers of ondervindinge wat ons gehoor het, oorvertel. Soms sal dit nie reg of liefdevol wees om inligting te versprei nie, al is dit waar (Matteus 7:12). Byvoorbeeld, dit is nie liefdevol of aanmoedigend om negatiewe inligting oor ander aan te stuur nie (2 Tessalonisense 3:11; 1 Timoteus 5:13). En soms is nuus vertroulik. Mense wil hierdie inligting dalk later of op ’n sekere manier openbaar. Daarom moet ons hulle reg respekteer om te besluit wanneer en hoe hulle dit wil doen. Trouens, as ons hierdie inligting voor die tyd bekend maak, kan ons baie skade aanrig.

Vandag kan nuus baie vinnig versprei, hetsy dit waar of onwaar, nuttig of nutteloos, onskadelik of gevaarlik is. Al stuur jy ’n boodskap vir een persoon, kan daardie persoon die boodskap binne ’n paar sekondes vir mense regoor die wêreld stuur. Weerstaan dus die versoeking om inligting vinnig aan te stuur, en aan almal wat jy ken. Hoewel liefde ‘alles glo’ en nie agterdogtig is nie, moet ons nie soos onervare mense wees wat elke nuwe en opwindende storie glo nie (1 Korintiërs 13:7). En ons sal nooit leuens of hatige dinge glo oor Jehovah se organisasie en ons broers, vir wie ons lief is nie. Onthou dat diegene wat hierdie leuens begin en versprei, Satan die Duiwel, “die vader van die leuen”, gelukkig maak (Johannes 8:44). Mag ons dus skerpsinnig wees en altyd mooi dink hoe ons die groot hoeveelheid inligting gebruik wat elke dag beskikbaar is. Die Bybel sê tereg: “Die onervarenes sal beslis dwaasheid in besit neem, maar die skerpsinniges sal kennis as ’n hooftooisel dra.”—Spreuke 14:18.

^ par. 4 Elke nou en dan kan ’n storie weer die rondte begin doen, al is daar in die verlede bewys dat dit onwaar is. Dit word dalk effens verander om dit waar te laat lyk.

^ par. 8 Sien die “Vraebus” in Ons Koninkryksbediening vir April 2010.