Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Jehovah is die God van liefde

Jehovah is die God van liefde

“God is liefde.”—1 JOHANNES 4:8, 16.

LIEDERE: 18, 91

1. Wat is God se hoofeienskap, en hoe laat dit jou oor hom voel?

DIE Bybel sê: “God is liefde” (1 Johannes 4:8). Maar wat beteken dit nou eintlik? Liefde is nie net een van Jehovah se talle pragtige eienskappe nie. Dit is sy hoofeienskap. Hy het nie net liefde nie. Hy is liefde. Liefde rig alles wat hy doen. Hoe dankbaar is ons tog dat liefde Jehovah beweeg het om die heelal en alle lewende dinge te skep!

2. Watter vertroue gee God se liefde ons? (Sien prent aan begin van artikel.)

2 Jehovah het liefdevolle en tere gevoelens vir sy skepsele. Sy liefde vir ons gee ons die vertroue dat sy voorneme vir die mensdom op die allerbeste manier vervul sal word. Dit sal ware geluk tot gevolg hê vir diegene wat hom gehoorsaam. Uit liefde het Jehovah byvoorbeeld “’n dag vasgestel waarop hy van voorneme is om die bewoonde aarde in regverdigheid te oordeel deur ’n man wat hy aangestel het”, Jesus Christus (Handelinge 17:31). Ons is vol vertroue dat hierdie oordeel sal plaasvind. Dit sal vir gehoorsame mense ’n wonderlike en ewige toekoms beteken.

WAT DIE GESKIEDENIS BEWYS HET

3. Hoe sou die lewe gewees het as God die mensdom nie liefgehad nie?

3 Watter toekoms sou vir die mensdom voorgelê het as liefde nie God se hoofeienskap was nie? Menseheerskappy onder die invloed van ’n liefdelose en haatlike god, Satan, sou voortgeduur het. (2 Korintiërs 4:4; 1 Johannes 5:19; lees Openbaring 12:9, 12.) Die toekoms sou verskriklik gewees het as Jehovah ons nie liefgehad het nie!

4. Waarom het Jehovah opstand teen sy heerskappy toegelaat?

4 Toe Satan teen God se heerskappy in opstand gekom het, het hy ons eerste ouers ook sover gekry om in opstand te kom. Hy het God se reg om die Universele Soewerein te wees, bevraagteken. Satan het beweer dat sy heerskappy beter as God s’n sou wees (Genesis 3:1-5). In sy wysheid het Jehovah Satan genoeg tyd gegee om sy bewering te probeer bewys. Maar die resultate toon duidelik dat nie mense of Satan goeie heersers kan wees nie.

Jehovah het mense nie geskep met die vermoë of die reg om sonder sy leiding oor hulleself te regeer nie

5. Wat het die geskiedenis duidelik bewys?

5 Vandag word die wêreld al hoe slegter. Meer as 100 miljoen mense het die afgelope 100 jaar in oorloë gesterf. Die Bybel sê oor “die laaste dae”: “Goddelose mense en bedrieërs sal voortgaan van kwaad tot erger” (2 Timoteus 3:1, 13). Die Bybel sê ook: “Ek weet goed, o Jehovah, dat aan die mens sy weg nie behoort nie. Dit behoort nie aan die mens wat loop om sy voetstappe te rig nie” (Jeremia 10:23). Die geskiedenis het duidelik bewys dat hierdie woorde waar is. Jehovah het mense nie geskep met die vermoë of die reg om sonder sy leiding oor hulleself te regeer nie.

6. Waarom het God goddeloosheid toegelaat?

6 Jehovah het ook toegelaat dat goddeloosheid ’n tyd lank voortduur om te bewys dat slegs sy heerskappy suksesvol kan wees. In die toekoms sal God al die goddeloses vernietig. As enigiemand daarna die liefdevolle manier waarop God regeer, bevraagteken, sal God onmiddellik optree. Hy kan die mensdom se geskiedenis gebruik om te bewys dat sulke opstandelinge vinnig uit die weg geruim moet word. Goddeloosheid sal nooit weer toegelaat word nie.

HOE HET GOD SY LIEFDE GETOON?

7, 8. Hoe het Jehovah sy liefde getoon?

7 Jehovah het sy groot liefde op baie maniere getoon. Dink aan die grootte en die prag van ons heelal. Dit bestaan uit miljarde sterrestelsels, en elke sterrestelsel bestaan uit miljarde sterre en planete. In ons sterrestelsel, die Melkweg, is die son een van die sterre. Sonder die son sou lewe nie op die aarde kon bestaan nie. Al hierdie skeppingswerke toon dat Jehovah ons Skepper is, en sy eienskappe, soos sy krag, wysheid en liefde, word daarin gesien. Ja, God se “onsigbare eienskappe word van die wêreld se skepping af duidelik gesien, omdat hulle waargeneem word in die dinge wat gemaak is, ja, sy ewige krag en Godheid”.—Romeine 1:20.

Alles wat Jehovah op die aarde geskep het, is tot die voordeel van diere en mense

8 Jehovah het die aarde spesiaal ontwerp om lewe te onderhou. Alles op die aarde is tot die voordeel van diere en mense geskep. God het vir die mens ’n pragtige tuintuiste gegee, sowel as ’n volmaakte verstand en ’n liggaam wat ontwerp is om vir ewig te lewe. (Lees Openbaring 4:11.) Hy gee ook “voedsel aan alle vlees . . . want sy liefderyke goedhartigheid is tot onbepaalde tyd”.—Psalm 136:25.

9. Wat haat Jehovah, al is hy ’n God van liefde?

9 Al is Jehovah die God van liefde, haat hy wat sleg is. Psalm 5:4-6 sê byvoorbeeld van Jehovah: “U is nie ’n God wat in goddeloosheid behae skep nie . . . U haat almal wat beoefen wat skadelik is.” Hy haat ook mense wat hulle skuldig maak aan “bloedvergieting en bedrog”.

DIE EINDE VAN GODDELOOSHEID IS NABY

10, 11. (a) Wat sal met goddelose mense gebeur? (b) Hoe sal Jehovah gehoorsame mense beloon?

10 Jehovah sal goddeloosheid op die regte tyd uit die ganse heelal verwyder omdat hy ’n God van liefde is en haat wat sleg is. God se Woord belowe: “Die kwaaddoeners sal uitgeroei word, maar dié wat op Jehovah hoop, hulle sal die aarde besit. En nog net ’n klein rukkie en die goddelose sal daar nie meer wees nie.” Jehovah se vyande “sal vergaan”.—Psalm 37:9, 10, 20.

11 God se Woord belowe ook: “Die regverdiges sal die aarde besit, en hulle sal vir ewig daarop woon” (Psalm 37:29). Getroue mense “sal hulle inderdaad verlustig in die oorvloed van vrede” (Psalm 37:11). Dit sal die geval wees omdat ons liefdevolle God altyd doen wat tot die beswil van sy getroue knegte is. Die Bybel sê vir ons: “Hy sal elke traan van hulle oë afvee, en die dood sal daar nie meer wees nie, en ook verdriet en angsgeroep en pyn sal daar nie meer wees nie. Die vorige dinge het verbygegaan” (Openbaring 21:4). Wat ’n wonderlike toekoms lê voor vir gehoorsame mense wat God se liefde waardeer!

12. Wie is die onberispelikes?

12 Die Bybel sê vir ons: “Gee ag op die onberispelike en kyk na die regskapene, want die toekoms van dié man sal vreedsaam wees. Maar die oortreders sal beslis saam verdelg word; die toekoms van die goddeloses sal inderdaad afgesny word” (Psalm 37:37, 38). ‘Die onberispelikes’ leer Jehovah en sy Seun ken en doen gehoorsaam God se wil. (Lees Johannes 17:3.) Hulle glo vas dat die volgende woorde vervul sal word: “Die wêreld gaan verby en so ook sy begeerte, maar hy wat die wil van God doen, bly vir ewig” (1 Johannes 2:17). Omdat die einde van die wêreld naby is, is dit dringend dat ons ‘op Jehovah hoop en sy weg hou’.—Psalm 37:34.

GOD SE GROOTSTE LIEFDEDAAD

13. Wat was God se grootste liefdedaad?

13 Hoewel ons onvolmaak is, kan ons aan God gehoorsaam wees. Ons kan ook ’n hegte verhouding met Jehovah geniet danksy God se grootste liefdedaad, die losprysoffer van Jesus. Jehovah het die losprys voorsien sodat gehoorsame mense die geleentheid kan hê om van sonde en die dood bevry te word. (Lees Romeine 5:12; 6:23.) Jesus het ontelbare eeue lank in die hemel aan God getrou gebly, en daarom het Jehovah volle vertroue gehad dat sy Seun op die aarde getrou sal bly. Dit het Jehovah, as ’n liefdevolle Vader, diep seergemaak toe hy gesien het hoe sleg mense sy Seun behandel. Maar Jesus het God se reg om te regeer, getrou ondersteun en bewys dat ’n volmaakte mens selfs onder die moeilikste omstandighede aan God lojaal kan bly.

Uit liefde het God sy Seun gestuur (Sien paragraaf 13)

14, 15. Wat het Jesus se dood vir die mensdom beteken?

14 Ten spyte van hewige beproewinge het Jesus lojaal gebly en Jehovah se reg om te regeer, ondersteun. Ons moet dankbaar wees dat Jesus die losprys deur middel van sy dood betaal het, want dit bied mense die geleentheid om vir ewig in God se nuwe wêreld te lewe! Die apostel Paulus het die liefde beskryf wat Jehovah en Jesus deur die voorsiening van die losprys getoon het. Hy het gesê: “Christus het inderdaad, terwyl ons nog swak was, op die vasgestelde tyd vir goddeloses gesterf. Want iemand sal beswaarlik vir ’n regverdige mens sterf; ja, vir die goeie mens het iemand miskien nog die moed om te sterf. Maar hierin beveel God sy eie liefde by ons aan, dat Christus vir ons gesterf het terwyl ons nog sondaars was” (Romeine 5:6-8). Die apostel Johannes het geskryf: “Hierdeur is die liefde van God in ons geval openbaar gemaak, want God het sy enigverwekte Seun in die wêreld uitgestuur sodat ons deur hom die lewe kan verkry. Hierin lê die liefde: nie dat ons God liefgehad het nie, maar dat hy ons liefgehad en sy Seun uitgestuur het as ’n soenoffer vir ons sondes.”—1 Johannes 4:9, 10.

15 Jesus het gesê: “God het die wêreld so liefgehad dat hy sy enigverwekte Seun gegee het, sodat elkeen wat geloof in hom beoefen, nie vernietig sal word nie maar die ewige lewe kan hê” (Johannes 3:16). Hoewel dit vir Jehovah baie pyn veroorsaak het, het hy sy Seun as ’n losprys gegee. Dit toon hoe lief hy vir mense is. En hierdie liefde sal vir ewig duur. Paulus het geskryf: “Ek is daarvan oortuig dat nie die dood of die lewe of engele of regerings of teenswoordige dinge of toekomstige dinge of magte of hoogte of diepte of enige ander skepping ons sal kan skei van God se liefde wat in Christus Jesus, ons Here, is nie.”—Romeine 8:38, 39.

GOD SE KONINKRYK REGEER NOU

16. Wat is die Messiaanse Koninkryk, en wie het Jehovah aangestel as die Heerser daarvan?

16 God se regering, die Messiaanse Koninkryk, is ook ’n bewys van Jehovah se liefde vir die mensdom. Hoe so? Jehovah het reeds ’n Heerser aangestel wat lief is vir die mensdom en wat bevoeg is om te regeer, Jesus Christus (Spreuke 8:31). En 144 000 mense gekies om saam met Christus in die hemel te regeer. Wanneer hulle tot hemelse lewe opgewek word, sal hulle onthou hoe dit was om as ’n mens op die aarde te lewe (Openbaring 14:1). Toe Jesus op die aarde was, was die Koninkryk die hooftema van sy onderrigting, en hy het sy dissipels geleer om te bid: “Ons Vader in die hemele, laat u naam geheilig word. Laat u koninkryk kom. Laat u wil geskied, soos in die hemel, so ook op die aarde” (Matteus 6:9, 10). Ons sien uit na die tyd wanneer sulke gebede vervul sal word en God se Koninkryk baie seëninge op die mensdom sal uitstort!

17. Hoe verskil Jesus se heerskappy van menseheerskappy?

17 Daar is ’n groot verskil tussen Jesus se liefdevolle heerskappy en menseheerskappy. Menseheerskappy het tot oorloë gelei wat die dood van miljoene mense veroorsaak het. Maar ons Heerser, Jesus, het ons werklik lief en volg God se pragtige eienskappe, veral sy liefde, na (Openbaring 7:10, 16, 17). Jesus het gesê: “Kom na my toe, almal wat swoeg en swaar belaai is, en ek sal julle verkwik. Neem my juk op julle en leer by my, want ek is saggeaard en nederig van hart, en julle sal verkwikking vir julle siele vind. Want my juk is sag en my vrag is lig” (Matteus 11:28-30). Wat ’n liefdevolle belofte is dit tog!

18. (a) Wat het sedert 1914 gebeur? (b) Wat sal ons in die volgende artikel bespreek?

18 Die Bybel toon dat God se Koninkryk in 1914 in die hemel begin regeer het. Sedertdien word die laaste lede van diegene wat saam met Jesus in die hemel sal regeer, ingesamel, sowel as “’n groot menigte” mense wat die einde van hierdie stelsel sal oorleef en die nuwe wêreld sal binnegaan (Openbaring 7:9, 13, 14). Hoe groot is die groot menigte vandag? Wat vereis God van hulle? Die volgende artikel sal hierdie vrae bespreek.