Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Honderd jaar onder Koninkryksheerskappy!

Honderd jaar onder Koninkryksheerskappy!

“Mag die God van vrede ... julle met alle goeie dinge toerus om sy wil te doen.”—HEBREËRS 13:20, 21.

LIEDERE: 136, 14

1. Hoe belangrik was die predikingswerk vir Jesus? Verduidelik.

JESUS was lief daarvoor om oor God se Koninkryk te praat. Terwyl Jesus op die aarde was, het hy meer oor die Koninkryk as oor enige ander onderwerp gepraat. Hy het in sy bediening meer as 100 keer na die Koninkryk verwys. Die Koninkryk was vir Jesus werklik belangrik.—Lees Matteus 12:34.

2. Hoeveel het moontlik die opdrag gehoor wat in Matteus 28:19, 20 opgeteken is, en waarom sê ons so?

2 Jesus het kort ná sy opstanding met meer as 500 potensiële dissipels vergader (1 Korintiërs 15:6). Dalk het Jesus by hierdie geleentheid die opdrag gegee om vir “mense van al die nasies” te preek. Hierdie werk sou nie maklik wees nie. * (Sien voetnoot.) Hy het vir hulle gesê dat die predikingswerk lank sou voortduur, “tot aan die voleinding van die stelsel van dinge”. Wanneer jy vandag die goeie nuus verkondig, help jy om hierdie profesie te vervul.—Matteus 28:19, 20.

3. Watter drie dinge het ons gehelp om die goeie nuus te verkondig?

3 Nadat Jesus die opdrag gegee het om te preek, het hy gesê: “Ek is met julle” (Matteus 28:20). Jesus het sy dissipels dus belowe dat hy die predikingswerk sou rig en hulle sou help om hierdie werk regoor die wêreld te doen. Jehovah is ook met ons. Hy het ons “alle goeie dinge” gegee om ons te help om te preek (Hebreërs 13:20, 21). In hierdie artikel sal ons drie van hierdie goeie dinge bespreek: (1) die hulpmiddels wat ons ontvang het, (2) die metodes wat ons gebruik het en (3) die opleiding wat ons ontvang het. Kom ons bespreek eers party van die hulpmiddels wat ons die afgelope 100 jaar gebruik het.

HULPMIDDELS WAT GOD SE KNEGTE HELP OM TE PREEK

4. Hoe het verskillende hulpmiddels ons in ons predikingswerk gehelp?

4 Jesus het die Koninkryksboodskap vergelyk met saad wat op verskillende soorte grond gesaai word (Matteus 13:18, 19). ’n Tuinier gebruik verskillende hulpmiddels om grond voor te berei. Net so het ons Koning vir ons hulpmiddels gegee wat ons kan gebruik om mense te help om ons boodskap aan te neem. Party hulpmiddels was vir ’n kort tydjie nuttig, terwyl ander vandag nog gebruik word. Maar al hierdie hulpmiddels het ons gehelp om ons vaardighede in die bediening te verbeter.

Die getuieniskaart het talle gehelp om te begin preek

5. Wat was ’n getuieniskaart, en hoe is dit gebruik?

5 In 1933 het verkondigers die getuieniskaart begin gebruik, ’n hulpmiddel wat talle gehelp het om te begin preek. Dit was ’n kaart met ’n kort en eenvoudige Bybelboodskap. Elke nou en dan is ’n nuwe kaart met ’n nuwe boodskap gedruk. Broer Erlenmeyer was omtrent tien jaar oud toe hy vir die eerste keer ’n getuieniskaart gebruik het. Hy het verduidelik: “Ons het gewoonlik begin deur te sê: ‘Sal u asseblief hierdie kaart lees?’ Nadat die huisbewoner die kaart gelees het, het ons die lektuur aangebied, en dan was ons weer op pad.”

6. Waarom was die getuieniskaart nuttig?

6 Die getuieniskaart het verkondigers op verskillende maniere gehelp. Byvoorbeeld, party verkondigers was skaam, en hoewel hulle graag wou preek, het hulle nie geweet wat om te sê nie. Ander verkondigers het baie moed gehad. Hulle het in net ’n paar minute vir die huisbewoner alles vertel wat hulle geweet het, maar hulle was nie altyd taktvol nie. Die getuieniskaart het alle verkondigers gehelp om ’n duidelike en eenvoudige boodskap oor te dra.

7. Voor watter uitdagings het verkondigers te staan gekom wanneer hulle die getuieniskaart gebruik het?

7 Daar was ook uitdagings. Suster Grace Estep het gesê: “Soms het mense ons gevra: ‘Wel, wat sê dit? Kan jy my nie net vertel nie?’” En party huisbewoners kon nie die kaart lees nie. Ander het gedink dat hulle die kaart kan hou, en daarom het hulle dit geneem en die deur toegemaak. En party mense wat nie van ons boodskap gehou het nie, het die kaart opgeskeur. Maar ondanks die uitdagings het die getuieniskaart verkondigers gehelp om vir mense te preek en om as verkondigers van die Koninkryk geïdentifiseer te word.

8. Hoe is die draagbare grammofoon gebruik? (Sien prent aan begin van artikel.)

8 ’n Ander hulpmiddel wat ná 1930 gebruik is, was die draagbare grammofoon. Party Getuies het dit Aäron genoem omdat die masjien die praatwerk vir hulle gedoen het. (Lees Eksodus 4:14-16.) As die huisbewoner ingestem het, het die verkondiger ’n kort Bybeltoespraak gespeel en daarna lektuur aangebied. Soms het die hele gesin na die toespraak geluister! In 1934 het die Wagtoringgenootskap draagbare grammofone begin maak wat spesiaal vir die bediening ontwerp is. Opnames van 92 toesprake was uiteindelik beskikbaar.

9. Hoe doeltreffend was die draagbare grammofoon?

9 Toe Hillary Goslin een van daardie toesprake gehoor het, het hy die grammofoon ’n week lank geleen omdat hy wou hê dat sy bure ook na die Bybelboodskap moet luister. Gevolglik het ’n hele paar mense in die waarheid begin belangstel en is hulle gedoop. Broer Goslin se twee dogters het die Gileadskool later bygewoon en sendelinge geword. Die draagbare grammofoon het, soos die getuieniskaart, baie verkondigers gehelp om te begin preek. Later het die Koning sy volgelinge met behulp van die Teokratiese Bedieningskool opgelei om bekwame onderrigters te word.

ELKE MOONTLIKE METODE WORD GEBRUIK OM MENSE TE BEREIK

10, 11. Hoe is koerante en die radio gebruik om die goeie nuus te verkondig, en waarom was hierdie metodes doeltreffend?

10 God se volk het onder die leiding van ons Koning verskillende metodes gebruik om soveel mense as moontlik in die predikingswerk te bereik. Hierdie metodes was besonder belangrik toe ons min werkers gehad het. (Lees Matteus 9:37.) Baie jare gelede is koerante byvoorbeeld gebruik om die goeie nuus te verkondig. Broer Russell het elke week ’n Bybeltoespraak na ’n nuusagentskap gestuur. Daarna het hulle sy toespraak na koerante in Europa, Kanada en die Verenigde State gestuur. Teen 1913 is broer Russell se toesprake in 2 000 koerante gepubliseer en deur omtrent 15 000 000 mense gelees!

Koerante en die radio het gehelp om baie mense te bereik in gebiede waar daar net ’n paar verkondigers was

11 Die radio is ook op doeltreffende wyse gebruik om die goeie nuus te verkondig. Op 16 April 1922 het broer Rutherford een van sy eerste toesprake oor die radio gehou, en omtrent 50 000 mense het daarna geluister. Kort daarna het ons ons eie radiostasie, WBBR, begin gebruik, en die eerste program is op 24 Februarie 1924 uitgesaai. Die Watch Tower van 1 Desember 1924 het gesê: “Ons glo dat die radio die goedkoopste en doeltreffendste manier is wat tot nog toe gebruik is om die boodskap van die waarheid te versprei.” Soos koerante, het die radio ons gehelp om baie mense te bereik in gebiede waar daar net ’n paar verkondigers was.

Baie Koninkryksverkondigers geniet dit om openbare getuieniswerk te doen en vir mense van ons webwerf te vertel (Sien paragraaf 12, 13)

12. (a) Watter aspekte van die openbare getuieniswerk geniet jy die meeste? (b) Wat kan ons help om enige vrese in verband met openbare getuieniswerk te oorkom?

12 Openbare getuieniswerk is ’n doeltreffende metode wat gebruik word om mense vandag te bereik. ’n Groter poging word aangewend om vir mense te preek by bushaltes, treinstasies en parkeerterreine sowel as op openbare pleine en by markte. Maak openbare getuieniswerk jou senuweeagtig? Indien wel, moet jy vir hulp bid en dink aan wat broer Manera, ’n reisende opsiener, gesê het: “Ons het elke nuwe aspek van die bediening beskou as nog ’n manier om Jehovah te dien, as nog ’n manier om ons lojaliteit aan hom te bewys, as nog ’n toets van ons onkreukbaarheid, en ons was gretig om te wys dat ons gewillig is om hom te dien op enige manier wat hy wil hê ons moet.” Wanneer ons ons vrese oorkom en nuwe predikingsmetodes gebruik, versterk ons ons vertroue in Jehovah en word ons beter predikers.—Lees 2 Korintiërs 12:9, 10.

13. Waarom is dit doeltreffend om ons webwerf in die bediening te gebruik, en watter ondervindinge het jy gehad toe jy dit gebruik het?

13 Baie verkondigers geniet dit om vir mense te vertel van ons webwerf, jw.org, waar hulle Bybellektuur in meer as 700 tale kan lees en aflaai. Elke dag besoek meer as 1,6 miljoen mense ons webwerf. In die verlede is die radio gebruik om mense in afgeleë gebiede met die goeie nuus te bereik. Vandag kan hulle deur middel van ons webwerf bereik word.

BEDIENAARS VAN DIE GOEIE NUUS WORD OPGELEI

14. Watter opleiding het die verkondigers nodig gehad, en watter skool het hulle gehelp om doeltreffende onderrigters te word?

14 Die hulpmiddels en metodes wat ons bespreek het, was baie doeltreffend. Maar in daardie vroeë jare moes verkondigers opgelei word om bedienaars te wees. Byvoorbeeld, party huisbewoners het nie saamgestem met wat hulle op die grammofoon gehoor het nie. Ander huisbewoners het belanggestel en wou meer leer. Verkondigers moes weet hoe om besware taktvol te oorkom en hoe om beter onderrigters te word. Broer Knorr het, ongetwyfeld onder die leiding van God se heilige gees, besef dat dit belangrik is vir verkondigers om te leer hoe om in die bediening te praat. Vanaf 1943 het gemeentes dus die Teokratiese Bedieningskool begin hou. Hierdie skool het almal gehelp om doeltreffende onderrigters te word.

15. (a) Wat het party ondervind toe hulle ’n toespraak tydens die Teokratiese Bedieningskool gehou het? (b) Hoe is Jehovah se belofte in Psalm 32:8 in jou geval bewaarheid?

15 Baie broers was nie daaraan gewoond om voor ’n gehoor te praat nie. Broer Ramu onthou sy eerste toespraak in 1944. Die toespraak was oor die Bybelkarakter Doëg. Hy het gesê: “My knieë en my hande het gebewe en my tande het op mekaar geklap.” Hy het bygevoeg: “Dit was my eerste ondervinding op die verhoog, maar ek het nie tou opgegooi nie.” Al was dit nie maklik nie, het selfs kinders toesprake tydens die skool gehou. Broer Manera onthou wat met ’n jong seun gebeur het toe hy sy eerste toespraak gehou het: “Hy was so senuweeagtig toe hy met sy toespraak begin het, dat hy begin huil het. Maar hy was vasbeslote om sy toespraak te hou, al het hy deur die hele toespraak gesnik.” Dalk antwoord jy nie by die vergaderinge nie of neem jy nie op ander maniere daaraan deel nie omdat jy skaam is of voel dat jy dit nie kan doen nie. As dit die geval is, moet jy Jehovah vra om jou te help om jou vrese te oorkom. Hy sal jou help net soos hy daardie eerste studente van die Teokratiese Bedieningskool gehelp het.—Lees Psalm 32:8.

Sedert 1943 is meer as 8 500 studente by Gilead opgelei en na 170 lande gestuur

16. Wat is die doel van die Gileadskool?

16 God se organisasie het ook opleiding deur middel van die Gileadskool voorsien. Een doel van die skool is om studente te help om hulle begeerte te versterk om die goeie nuus te verkondig. Die Gileadskool het in 1943 begin, en sedertdien is 8 500 studente opgelei en na 170 lande gestuur. Sedert 2011 word slegs spesiale pioniers, reisende opsieners, Betheliete of veldsendelinge wat nog nie by Gilead was nie, genooi om die skool by te woon.

17. Hoe doeltreffend is Gileadopleiding?

17 Was die Gileadskool doeltreffend? Ja. Kyk wat in Japan gebeur het. In Augustus 1949 was daar minder as tien verkondigers in die land. Maar teen die einde van daardie jaar was daar 13 sendelinge wat saam met die plaaslike verkondigers gepreek het. Vandag is daar omtrent 216 000 verkondigers in Japan, en byna die helfte van hulle is pioniers!

18. Watter ander skole het ons?

18 Ons het baie ander skole, soos die Koninkryksbedieningskool, die Pionierdiensskool, die Skool vir Koninkrykspredikers, die Skool vir Kringopsieners en hulle Vrouens en die Skool vir Takkomiteelede en hulle Vrouens. Hierdie skole het doeltreffende opleiding aan broers en susters voorsien en het hulle geloof versterk. Dit is duidelik dat Jesus aanhou om sy volgelinge op te lei.

19. Wat het broer Russell oor die predikingswerk gesê, en hoe is dit bewaarheid?

19 God se Koninkryk regeer al meer as 100 jaar. Gedurende hierdie tyd het ons Koning, Jesus Christus, die predikingswerk gerig. Reeds in 1916 het broer Russell besef dat die goeie nuus later regoor die wêreld verkondig sou word. Hy het gesê: “Die werk neem vinnig toe, en dit sal aanhou toeneem, want daar is ’n wêreldwye werk wat gedoen moet word om die ‘evangelie van die koninkryk’ te verkondig” (Faith on the March, deur A. H. Macmillan, bladsy 69). Hierdie werk word vandag gedoen! Ons dank Jehovah, die God van vrede, omdat hy ons alles gee wat ons nodig het om sy wil te doen!

^ par. 2 Die meeste mense in hierdie groep het waarskynlik Christene geword. Waarom sê ons so? Omdat die apostel Paulus hulle “vyfhonderd broers” noem. Hy sê ook dat “die meeste [van hulle] nou nog lewe, maar [dat] party ontslaap het”. Dit wil dus voorkom of Paulus en ander Christene baie van die mense geken het wat self gehoor het toe Jesus die opdrag gegee het om te preek.