Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Toon waardering vir Jehovah se vrygewigheid

Toon waardering vir Jehovah se vrygewigheid

JEHOVAH is ’n vrygewige God (Jakobus 1:17). Ons sien sy vrygewigheid in alles wat hy geskep het. Hy het die hemel met sterre gevul en die aarde met pragtige plante bedek.—Psalm 65:12, 13; 147:7, 8; 148:3, 4.

Die skrywer van Psalm 104 het groot waardering gehad vir alles wat Jehovah geskep het, en daarom het hy ’n lied geskryf om hom te loof. Het jy soveel waardering soos die psalmis gehad het wanneer jy hierdie psalm lees? Hy het gesê: “Ek sal my hele lewe lank tot Jehovah sing; ek sal my God met melodieë besing solank ek daar is” (Psalm 104:33). Wil jy dit ook doen?

DIE GROOTSTE VOORBEELD VAN VRYGEWIGHEID

Jehovah wil hê dat ons sy vrygewigheid moet navolg. En hy voorsien goeie redes waarom ons vrygewig moet wees. Hy het die apostel Paulus geïnspireer om te skryf: “Beveel dié wat ryk is in die teenswoordige stelsel van dinge, om nie hooghartig te wees nie en om hulle hoop nie op onsekere rykdom te vestig nie, maar op God, wat aan ons alles ryklik vir ons genot verskaf; om goed te doen, om ryk te wees in goeie werke, om vrygewig te wees, mededeelsaam, en vir hulleself ’n goeie fondament vir die toekoms veilig as ’n skat te bewaar, sodat hulle ’n stewige houvas op die werklike lewe kan kry.”—1 Timoteus 6:17-19.

In sy tweede brief aan die Korintiërs het Paulus gesê wat ons beweegrede moet wees wanneer ons aan ander gee. Hy het gesê: “Laat elkeen doen net soos hy hom in sy hart voorgeneem het, nie teësinnig of onder dwang nie, want God het ’n blymoedige gewer lief” (2 Korintiërs 9:7). Vir wie help ons wanneer ons vrygewig is? Paulus het gesê dat ons ander help wanneer ons vir hulle gee wat hulle nodig het, maar dat ons ook onsself help omdat Jehovah ons sal seën.—2 Korintiërs 9:11-14.

Daarna het Paulus verwys na die grootste bewys van God se vrygewigheid en gesê: “Ons dank God vir sy onbeskryflike vrye gawe” (2 Korintiërs 9:15). Jehovah se “vrye gawe” sluit al die goeie dinge in wat hy vir ons deur Jesus Christus gee. Woorde kan nie beskryf hoe waardevol hierdie gawe is nie.

Hoe kan ons toon dat ons alles waardeer wat Jehovah en Jesus vir ons gedoen het en nog sal doen? Een manier is om vrygewig te wees met ons tyd, energie en materiële dinge wanneer ons Jehovah aanbid en ander help om van hom te leer. Ons kan dit doen, hetsy ons baie of min het.—1 Kronieke 22:14; 29:3-5; Lukas 21:1-4.