Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Gebruik jou tong wyslik

Gebruik jou tong wyslik

“Laat die woorde van my mond . . . aangenaam word voor u, o Jehovah.”—PSALM 19:14.

LIEDERE: 82, 77

1, 2. Waarom vergelyk die Bybel ons spraak met vuur?

IN 1871 het ’n brand uitgebreek in die woude van Wisconsin in die Verenigde State. Dit het vinnig versprei en twee miljard bome vernietig. Dit het meer as 1 200 lewens geëis. Meer mense het in daardie brand gesterf as in enige ander brand in die Verenigde State. Blykbaar het vonke van verbygaande treine die brand veroorsaak. Hierdie voorval laat ons dink aan ’n Bybelvers: “Kyk! Wat ’n klein vuurtjie is nodig om so ’n groot bos aan die brand te steek!” (Jakobus 3:5). Waarom het die Bybelskrywer Jakobus dit gesê?

2 Hy verduidelik: “Die tong is ’n vuur” (Jakobus 3:6). “Die tong” verwys na ons spraak. En net soos ’n vuur, kan ons spraak baie skade aanrig. Ons woorde kan ’n kragtige uitwerking op ander hê. Die Bybel sê selfs dat ons woorde die verskil tussen lewe en dood kan beteken (Spreuke 18:21). Maar beteken dit dat ons nooit moet praat nie net omdat ons bang is dat ons iets verkeerds sal sê? Beslis nie. Ons sal mos nie ophou vuur maak net omdat ons bang is dat ons sal brand nie. Maar ons sal versigtig wees. Ons gebruik vuur om kos te maak, ons warm te hou en om lig te voorsien. Net so, as ons let op ons spraak, kan ons ander daarmee help en Jehovah verheerlik.—Psalm 19:14.

3. Wat moet ons weet as ons ander wil aanmoedig wanneer ons praat?

3 Jehovah het ons die vermoë gegee om, deur middel van spraak of gebare, vir ander te sê wat ons dink en hoe ons voel. Hoe kan ons hierdie wonderlike gawe gebruik om ander aan te moedig? (Lees Jakobus 3:9, 10.) Ons moet weet wanneer om te praat, wat om te sê en hoe om dit te sê.

WANNEER MOET ONS PRAAT?

4. Wanneer moet ons stilbly?

4 Soms is dit goed om niks te sê nie. Die Bybel sê dat daar ’n tyd is om “stil te bly” (Prediker 3:7). Byvoorbeeld, as ons stilbly terwyl ander praat, toon ons dat ons hulle respekteer (Job 6:24). Ons praat ook nie met ander oor vertroulike dinge nie (Spreuke 20:19). En as iemand ons kwaad maak, sal dit verstandig wees om kalm te bly en niks te sê nie.—Psalm 4:4.

5. Hoe kan ons vir Jehovah wys dat ons dankbaar is vir die gawe van spraak?

5 Daar is ook “’n tyd om te praat” (Prediker 3:7). Daar is ’n tyd om Jehovah te loof, om ander aan te moedig en om vir ander te sê hoe ons voel en wat ons nodig het (Psalm 51:15). Wanneer ons dit doen, wys ons vir Jehovah dat ons dankbaar is vir die gawe van spraak. Wanneer ’n vriend vir ons ’n pragtige geskenk gee, wil ons mos goed gebruik maak daarvan.

6. Waarom is dit belangrik om die regte tyd te kies om te praat?

6 Waarom is dit belangrik om die regte tyd te kies om te praat? Spreuke 25:11 sê: “Soos goue appels in silwersnywerk is ’n woord wat op sy regte tyd gespreek word.” Goue appels is baie mooi. En as ’n mens dit teen ’n silwer agtergrond sien, lyk dit nog mooier. Aanmoedigende woorde is iets aangenaams. En as ons die regte tyd kies om iemand aan te moedig, sal hy ons woorde meer waardeer en dit aanmoedigender vind. Hoe kan ons die regte tyd kies om te praat?

7, 8. Hoe het ons broers in Japan Jesus se voorbeeld gevolg?

7 As ons op die verkeerde tyd praat, sal mense miskien nie verstaan of aanvaar wat ons sê nie; maar as ons die regte tyd kies, sal ons woorde dalk presies wees wat hulle nodig het. (Lees Spreuke 15:23.) Byvoorbeeld, in Maart 2011 het ’n aardbewing en ’n tsoenami ’n aantal stede in die ooste van Japan verwoes. Dit het meer as 15 000 lewens geëis. Hoewel baie Getuies van Jehovah vriende en familielede aan die dood afgestaan het, wou hulle die Bybel gebruik om ander te help wat in dieselfde situasie was. Maar hulle het geweet dat baie van die mense Boeddhiste is wat min van die Bybel weet. Daarom het die broers nie aanvanklik met hulle oor die opstanding gepraat nie, maar hulle eerder vertroos en verduidelik waarom sulke slegte dinge met goeie mense gebeur.

8 Hierdie broers het Jesus se voorbeeld gevolg. Hy het geweet wanneer om stil te bly, maar hy het ook geweet wanneer om te praat (Johannes 18:33-37; 19:8-11). En hy het vir die regte tyd gewag om sy dissipels sekere dinge te leer (Johannes 16:12). Die broers in Japan het vir die regte tyd gewag om mense van die opstanding te vertel. Twee en ’n half jaar ná die tsoenami het hulle vir mense die traktaat aangebied met die titel Kan die dooies werklik weer lewe? Baie mense het die traktaat geneem en het vertroosting geput uit wat hulle gelees het. As ons die regte tyd wil kies om ’n sekere onderwerp met mense in ons gebied te bespreek, moet ons ook hulle kultuur en oortuigings in ag neem.

Ons moet geduldig wees en ’n tyd kies wanneer mense sal luister

9. In watter ander situasies moet ons wag vir die regte tyd om te praat?

9 In watter ander situasies moet ons wag vir die regte tyd om te praat? Dalk sê iemand iets wat ons seermaak. Eerder as om onmiddellik iets te sê waaroor ons later dalk spyt sal wees, sal dit verstandig wees om ons eers af te vra: ‘Het hy bedoel om my seer te maak? Is dit regtig nodig dat ek met hom moet gaan praat oor wat hy gesê het?’ Miskien sal dit beter wees om niks te sê nie. Maar as daar ’n goeie rede is om met die persoon te praat, moet ons eers wag totdat ons kalmeer. (Lees Spreuke 15:28.) Of miskien wil ons ons ongelowige familielede help om Jehovah te leer ken. Ons moet geduldig wees, goed nadink oor wat ons wil sê en ’n tyd kies wanneer hulle sal luister.

WAT MOET ONS SÊ?

10. (a) Waarom moet ons ons woorde versigtig kies? (b) Watter soort spraak moet ons vermy?

10 Ons woorde kan ander beter laat voel of hulle seermaak. (Lees Spreuke 12:18.) Baie mense in Satan se wêreld gebruik “bitter woorde” wat soos ’n “pyl” of “’n swaard” is omdat hulle ander wil seermaak of ontstel (Psalm 64:3). Baie mense het geleer om so te praat as gevolg van die films en televisieprogramme waarna hulle kyk. Maar Christene sal niks wil sê wat ander sal seermaak nie—nie eers as ’n grap nie. ’n Bietjie humor kan goed wees en kan ons woorde kleurvoller maak. Maar ons sal bytende sarkasme vermy. Ons wil nooit enigiets sê wat iemand in die verleentheid sal stel of hom sal beledig net om ander te laat lag nie. Die Bybel sê dat Christene “smadende taal” moet vermy. Dit sê ook: “Laat ’n slegte woord nie uit julle mond uitgaan nie, maar net ’n woord wat goed is vir opbouing waar dit nodig is, sodat dit iets gunstigs aan die hoorders kan meedeel.”—Efesiërs 4:29, 31.

11. Wat kan ons help om die regte woorde te kies?

11 Jesus het gesê: “Uit die oorvloed van die hart spreek die mond” (Matteus 12:34). Dit beteken dat ons woorde gewoonlik toon hoe ons werklik voel. As ons lief is vir mense en werklik vir hulle omgee, sal ons waarskynlik die regte woorde kies. Dan sal ons woorde positief en aanmoedigend wees.

12. Wat kan ons nog help om die regte woorde te kies?

12 Dit verg inspanning om die regte woorde te kies. Hoewel koning Salomo wys was, het hy “gepeins en ’n deeglike ondersoek ingestel” sodat hy korrekte en aangename woorde kon skryf (Prediker 12:9, 10). Wat kan ons help om te weet wat om te sê? Die Bybel sowel as ons publikasies kan ons help om ons woordeskat uit te brei. Ons kan uitvind wat die betekenis van onbekende woorde en uitdrukkings is. Ons kan ook ’n studie maak van Jesus se spraak sodat ons kan leer om woorde te gebruik wat ander sal opbou. Hy het geweet presies wat om te sê omdat Jehovah hom geleer het “hoe om die vermoeide met ’n woord te antwoord” (Jesaja 50:4). Dit is belangrik om te dink aan watter uitwerking ons woorde op ander sal hê (Jakobus 1:19). Ons kan ons afvra: ‘Sal hy verstaan wat ek probeer sê as ek hierdie woorde kies? Hoe sal dit hom laat voel?’

13. Waarom moet ons spraak maklik verstaanbaar wees?

13 In eertydse Israel is trompette gebruik om met die volk te kommunikeer. Een van die trompetseine het aangedui dat die volk bymekaar moet kom. ’n Ander sein het aangedui dat die soldate die vyand moet aanval. Stel jou voor wat met die soldate sou gebeur het as die geluid van die trompet onduidelik was! Die Bybel vergelyk trompetseine met woorde. As ons spraak nie maklik verstaanbaar is nie, sal ons woorde dalk verwarrend of misleidend wees. Ons wil dus hê dat ons boodskap duidelik moet wees, maar ons moet ook seker maak dat ons nooit onbeskof of disrespekvol is nie.—Lees 1 Korintiërs 14:8, 9.

14. Watter voorbeeld toon dat Jesus se spraak maklik was om te verstaan?

14 In Matteus hoofstuk 5 tot 7 het Jesus ’n uitstekende voorbeeld gestel deur woorde te kies wat maklik verstaanbaar is. In daardie toespraak het hy mense nie probeer beïndruk met ingewikkelde of onnodige woorde nie. En hy het niks gesê wat ander sou seermaak nie. Jesus het mense baie belangrike en betekenisvolle waarhede op ’n baie eenvoudige manier geleer. Byvoorbeeld, Jesus wou sy dissipels verseker dat hulle hulle nie hoef te bekommer oor wat hulle elke dag sou eet nie. Daarom het hy hulle aandag gevestig op die feit dat Jehovah altyd die voëls voed. En toe vra hy hulle: “Is julle nie meer werd as hulle nie?” (Matteus 6:26). Met daardie eenvoudige woorde het Jesus hulle gehelp om ’n belangrike les te leer wat hulle aangemoedig het.

HOE MOET ONS MET ANDER PRAAT?

15. Waarom moet ons op ’n liefdevolle manier praat?

15 Hoe ons met ander praat, kan net so belangrik wees soos wat ons sê. Mense het dit geniet om na Jesus te luister omdat hy op ’n liefdevolle en vriendelike manier gepraat het (Lukas 4:22). As ons op ’n liefdevolle manier praat, sal mense dit waarskynlik geniet om na ons te luister en sal ons woorde oortuigender wees (Spreuke 25:15). Ons sal slegs met ander op ’n liefdevolle manier kan praat as ons hulle respekteer en as hulle gevoelens vir ons belangrik is. Jesus het vir ons die voorbeeld gestel. Byvoorbeeld, toe ’n groep mense baie moeite gedoen het om na hom te kom luister, het hy hulle baie jammer gekry en hulle begin leer (Markus 6:34). En toe mense hom uitgeskel het, het hy hulle nie terug uitgeskel nie.—1 Petrus 2:23.

16, 17. (a) Hoe kan ons Jesus navolg wanneer ons met ons familielede en vriende praat? (Sien prent aan begin van artikel.) (b) Hoe het ’n ma se liefdevolle antwoord goeie resultate opgelewer?

16 Hoewel ons lief is vir ons familielede en vriende, kan ons soms geneig wees om gemene dinge vir hulle te sê omdat ons hulle baie goed ken. Ons dink dalk dat dit nie saak maak hoe ons met hulle praat nie. Maar Jesus het nooit dinge gesê wat sy vriende seergemaak het nie. Toe hulle gestry het oor wie onder hulle die grootste was, het hy hulle liefdevol reggehelp deur die voorbeeld van ’n klein kindjie te gebruik om hulle denkwyse te verander (Markus 9:33-37). Ouer manne kan Jesus se voorbeeld volg deur ander op ’n liefdevolle manier raad te gee.—Galasiërs 6:1.

17 Sê nou iemand sê iets wat ons seermaak? Dit kan goeie resultate oplewer as ons op ’n liefdevolle manier antwoord (Spreuke 15:1). Byvoorbeeld, ’n enkelma het ’n tienerseun gehad wat slegte dinge gedoen het, maar wat gemaak het asof hy Jehovah dien. ’n Suster in die gemeente het die ma jammer gekry en gesê: “Dis so jammer dat jy dit nie reggekry het om jou kind reg groot te maak nie.” Die ma het ’n bietjie gedink en toe gesê: “Ja, dit gaan nie op die oomblik baie goed met hom nie, maar ek doen my bes om hom te help. En ons sal eers ná Armageddon weet, nè? Dan kan ons weer praat.” Omdat die ma kalm gebly het en liefdevol was, is sy en die suster nog steeds vriende. Die seun het ook gehoor wat sy ma gesê het, en hy het toe besef dat sy nog steeds glo dat hy kan verander. Hy het toe opgehou om met slegte vriende te assosieer, is toe gedoop en het later by Bethel gedien. Hetsy ons met ons broers, ons familielede of met vreemdelinge praat, ons woorde moet altyd “aangenaam wees, smaaklik gemaak met sout”.—Kolossense 4:6.

18. Hoe kan ons Jesus se voorbeeld volg wanneer dit kom by ons spraak?

18 Die vermoë om ander te vertel wat ons dink en hoe ons voel, is ’n wonderlike gawe van Jehovah. As ons Jesus se voorbeeld volg, sal ons die regte tyd kies om te praat, seker maak dat ons die regte woorde kies en altyd probeer om liefdevol te wees. Laat ons dus ons spraak gebruik om ander aan te moedig en Jehovah se hart bly te maak.