Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Jehovah sal jou onderskraag

Jehovah sal jou onderskraag

“Jehovah sal hom op ’n siekbed onderskraag.”—PSALM 41:3.

LIEDERE: 23, 138

1, 2. Wat het God soms in Bybeltye gedoen, en waaroor wonder party siek mense vandag?

AS JY al ooit ernstig siek was, het jy dalk gewonder of jy sal herstel. Of miskien wonder jy of ’n gesinslid of ’n vriend wat siek is, gesond sal word. Dit is net natuurlik om te wil hê dat jy en jou geliefdes goeie gesondheid moet geniet. In die Bybel lees ons van party wat nie gesond was nie en wat wou weet of hulle gesond sal word. Byvoorbeeld, toe koning Ahasia, die seun van Agab en Isebel, beseer was, het hy gewonder of hy sal herstel. En later, toe koning Ben-Hadad van Sirië siek was, het hy gevra of hy gesond sal word.—2 Konings 1:2; 8:7, 8.

2 Jehovah het party mense in die verlede deur middel van ’n wonderwerk genees en selfs sy profete gebruik om party uit die dood op te wek (1 Konings 17:17-24; 2 Konings 4:17-20, 32-35). Vandag wonder party siek mense dalk of God hulle ook sal genees.

3-5. Wat kan Jehovah en Jesus doen, en watter vrae sal ons bespreek?

3 Jehovah het die mag om mense siek te maak of gesond te maak. Hy het byvoorbeeld die Farao in Abraham se dag en later Moses se suster, Mirjam, met siekte gestraf (Genesis 12:17; Numeri 12:9, 10; 2 Samuel 24:15). En hy het die Israeliete met siektes en plae gestraf wanneer hulle ontrou was aan hom (Deuteronomium 28:58-61). Maar soms het Jehovah sy volk teen siektes beskerm (Eksodus 23:25; Deuteronomium 7:15). Hy het party van hulle selfs genees. Byvoorbeeld, hy het Job genees toe hy baie siek was en wou sterf.—Job 2:7; 3:11-13; 42:10, 16.

4 Ons weet dat Jehovah siek mense kan genees. En Jesus het ook die mag om siek mense te genees. Toe hy op die aarde was, het hy siektes soos melaatsheid en epilepsie genees. En hy het blinde en verlamde mense gesond gemaak. (Lees Matteus 4:23, 24; Johannes 9:1-7.) Daardie wonderwerke laat ons uitsien na die wonderlike dinge wat Jesus in die nuwe wêreld gaan doen. Dan sal “geen inwoner . . . sê: ‘Ek is siek’ nie.”—Jesaja 33:24.

5 Maar kan ons verwag dat Jehovah en Jesus ons nou sal genees as ons ernstig siek word? En wat moet ons in gedagte hou wanneer ons behandeling kies?

VERTROU OP JEHOVAH WANNEER JY SIEK IS

6. Wat sê die Bybel oor die wonderwerke wat Christene in die eerste eeu verrig het?

6 In die eerste eeu het Jehovah Christene met sy heilige gees gesalf en party van hulle in staat gestel om wonderwerke te verrig (Handelinge 3:2-7; 9:36-42). Hulle kon byvoorbeeld mense genees en in verskillende tale praat (1 Korintiërs 12:4-11). Maar later het daardie wonderwerke opgehou, net soos die Bybel gesê het (1 Korintiërs 13:8). Ons kan dus nie verwag dat God ons en ons geliefdes nou sal genees nie.

Jehovah weet presies wat sy knegte deurmaak en hy vergeet nie hulle getrouheid nie

7. Waarom is Psalm 41:3 vir ons aanmoedigend?

7 Maar as jy siek is, sal Jehovah jou vertroos en ondersteun, net soos hy met sy knegte in die verlede gedoen het. Koning Dawid het geskryf: “Gelukkig is elkeen wat ag gee op die geringe; in die dag van rampspoed sal Jehovah aan hom ontkoming verskaf. Jehovah sal hom bewaar en hom in die lewe hou” (Psalm 41:1, 2). Dawid het natuurlik nie bedoel dat iemand wat destyds uit sy pad uit gegaan het om behoeftige, nederige mense te help, nooit sou sterf nie. Hoe sou Jehovah so ’n goeie persoon dan help? Dawid het verduidelik: “Jehovah sal hom op ’n siekbed onderskraag; sy hele bed sal u beslis gedurende sy siekte verander” (Psalm 41:3). Jehovah weet presies wat sy knegte deurmaak en hy vergeet hulle nie. Hy kan hulle moed en wysheid gee. En Jehovah het die menseliggaam op so ’n manier gemaak dat dit vanself gesond kan word.

8. Wat het Dawid Jehovah volgens Psalm 41:4 gevra toe hy ernstig siek was?

8 In Psalm 41 vertel koning Dawid ons van ’n tyd toe hy ernstig siek was en gevoel het asof hy die situasie nie kon hanteer nie. Sy seun Absalom het blykbaar op daardie tydstip probeer om die koningskap oor te neem. Dawid was te siek om Absalom te probeer keer. Hy het geweet dat die probleme in sy gesin die gevolg was van sy sonde met Batseba (2 Samuel 12:7-14). Wat het hy toe gedoen? Hy het gebid: “O Jehovah, betoon guns aan my. Genees tog my siel, want ek het teen u gesondig” (Psalm 41:4). Dawid het geweet dat Jehovah sy sonde vergewe het, en hy was seker dat God hom sou help terwyl hy siek was. Maar het Dawid verwag dat Jehovah ’n wonderwerk sou verrig om hom te genees?

9. (a) Hoe het Jehovah koning Hiskia gehelp? (b) Wat het Dawid van Jehovah verwag?

9 In sekere gevalle het God wel besluit om mense te genees. Byvoorbeeld, toe koning Hiskia op sy sterfbed was, het Jehovah hom genees. Hiskia het toe nog 15 jaar gelewe (2 Konings 20:1-6). Maar Dawid het nie ’n wonderwerk verwag nie. Hy het geweet dat God hom sou help op dieselfde manier as wat God iemand sou help wat guns betoon aan ’n behoeftige persoon. Dawid het ’n goeie verhouding met Jehovah gehad, en daarom kon hy Jehovah vra om hom te vertroos en om vir hom te sorg terwyl hy siek was. Hy het ook gevra dat sy liggaam moet herstel en dat hy gesond moet word. Ons kan Jehovah ook vra om ons op hierdie manier te help.—Psalm 103:3.

10. Wat het met Trofimus en Epafroditus gebeur, en wat leer ons daaruit?

10 Die apostel Paulus en ander kon siek mense genees. Maar nie alle Christene wat in die eerste eeu gelewe het, is deur middel van wonderwerke genees nie. (Lees Handelinge 14:8-10.) Die apostel Paulus het die vader van Publius genees toe hy ’n koors en ’n ernstige infeksie gehad het. Paulus het “gebid, hom die hande opgelê en hom gesond gemaak” (Handelinge 28:8). Maar Paulus het nie almal genees nie. Byvoorbeeld, toe Trofimus, een van sy vriende wat saam met hom op ’n sendingreis gegaan het, siek geword het, het Paulus hom nie genees nie (Handelinge 20:3-5, 22; 21:29). Trofimus moes toe in Milete agterbly om te herstel (2 Timoteus 4:20). Epafroditus, nog een van Paulus se vriende, het so siek geword dat hy amper gesterf het. Maar die Bybel sê nie dat Paulus hom genees het nie.—Filippense 2:25-27, 30.

WATTER RAAD MOET JY AANVAAR?

11, 12. Hoe het Lukas Paulus moontlik gehelp, en wat weet ons omtrent Lukas?

11 Lukas was ’n dokter, en hy het saam met Paulus gereis (Handelinge 16:10-12; 20:5, 6; Kolossense 4:14). Hy het Paulus en ander waarskynlik gehelp toe hulle op hulle sendingreise siek geword het (Galasiërs 4:13). Soos Jesus gesê het: “Dié wat siek is” het ’n dokter nodig.—Lukas 5:31.

Ons moet versigtig wees as ander ons raad gee oor ons gesondheid

12 Lukas was nie net iemand wat daarvan gehou het om mense raad oor hulle gesondheid te gee nie. Hy was ’n opgeleide dokter. Die Bybel sê nie waar of wanneer hy sy opleiding ontvang het nie. Maar dit sê wel dat Paulus groete van Lukas aan die Kolossense gestuur het. Dit is dus moontlik dat Lukas sy opleiding ontvang het by ’n mediese skool in Laodisea, ’n stad naby Kolosse. In sy Evangelieverslag en in die boek Handelinge het Lukas spesifieke mediese terme gebruik. Omdat hy ’n dokter was, het hy baie geskryf oor hoe Jesus mense genees het.

13. Wat moet ons in gedagte hou wanneer ons raad oor gesondheidsake gee of ontvang?

13 Vandag kan nie een van ons broers wonderwerke doen of ons gesond maak nie. Maar omdat ons broers vir ons omgee, sal party van hulle ons dalk raad gee, al vra ons nie daarvoor nie. Van die raad is dalk goed. Paulus het Timoteus byvoorbeeld raad gegee toe Timoteus, dalk weens besoedelde water, maagprobleme gehad het. (Lees 1 Timoteus 5:23.) * (Sien voetnoot.) Maar ons moet versigtig wees. ’n Broer sal ons dalk probeer oorreed om ’n sekere soort medikasie of kruie te gebruik of om sekere soorte kos te eet of te vermy. Dalk sê hy dat dit iemand in sy familie gehelp het wat ’n soortgelyke probleem gehad het. Maar die feit dat dit daardie persoon gehelp het, of selfs dat baie mense ’n sekere soort behandeling of medikasie gebruik, beteken nie dat dit ons gaan help nie. Dit kan selfs vir ons skadelik wees.—Lees Spreuke 27:12.

KIES VERSIGTIG

14, 15. (a) Vir watter soort mense moet ons versigtig wees? (b) Wat kan ons uit Spreuke 14:15 leer?

14 Ons almal wil gesond wees sodat ons die lewe kan geniet en hard kan werk vir Jehovah. Maar ons is onvolmaak, en daarom word ons soms siek. Wanneer ons siek word, is daar baie soorte behandeling om van te kies. En ons het die reg om te besluit watter behandeling ons wil ontvang. Ongelukkig probeer party gierige mense en maatskappye om baie geld te maak deur te beweer dat hulle ’n behandeling ontdek het wat ons siekte kan genees. Hulle sê dalk dat baie mense die behandeling gebruik het en gesond geword het. En as ons siek is, sal ons dalk bereid wees om enigiets te probeer wat ons beter sal laat voel of langer sal laat lewe. Maar ons moenie die raad in God se Woord vergeet nie: “Iemand wat onervare is, glo elke woord, maar die skerpsinnige gee ag op sy voetstappe.”—Spreuke 14:15.

Ons moet versigtig kies en nie alles glo wat ons hoor nie

15 As ons skerpsinnig, of wys, is, sal ons nie alles glo wat ons hoor nie, veral as die persoon wat ons raad gee nie behoorlike opleiding gehad het nie. Ons kan ons afvra: ‘Hoe weet ek dat hierdie vitamiene, kruie of dieet mense werklik gehelp het? En al het dit ander mense gehelp, hoe weet ek dat dit my gaan help? Moet ek miskien nog navorsing doen en met ander gaan praat wat gekwalifiseerd is om my gesondheidsprobleem te behandel?’—Deuteronomium 17:6.

16. Wat moet ons oorweeg wanneer ons besluite oor gesondheidsorg neem?

16 Ons het “gesonde verstand” nodig wanneer ons kies watter toetse ons wil laat doen of watter behandeling ons wil hê (Titus 2:12). Dit is veral belangrik wanneer die toets of behandeling baie ongewoon klink. Kan die persoon verduidelik hoe die toets of die behandeling werk? Klink die verduideliking vreemd? Stem baie dokters saam dat hierdie behandeling mense kan genees? (Spreuke 22:29). Miskien vertel iemand ons van ’n wondermiddel wat êrens ontdek is en waarvan dokters nog nie eens gehoor het nie. Maar is daar enige bewyse daarvoor? Party behandelings bevat miskien ’n geheime bestanddeel of maak dalk gebruik van ’n onbekende krag. Dit kan baie gevaarlik wees. Onthou, God waarsku ons teen die gebruik van bonatuurlike kragte en toorkragte.—Deuteronomium 18:10-12; Jesaja 1:13.

“MAG JULLE GOEIE GESONDHEID GENIET!”

17. Watter natuurlike begeerte het ons?

17 Die bestuursliggaam in die eerste eeu het ’n brief aan die broers in die gemeentes gestuur oor party dinge wat hulle moes vermy. Aan die einde van die brief het die bestuursliggaam gesê: “As julle julle sorgvuldig van hierdie dinge bewaar, sal julle voorspoedig wees. Mag julle goeie gesondheid geniet!” (Handelinge 15:29). Alhoewel die laaste paar woorde net ’n manier was om hulle brief af te sluit, herinner dit ons daaraan dat dit net natuurlik is om goeie gesondheid te wil hê.

Al wil ons gesond wees, spits ons ons toe op ons diens aan Jehovah (Sien paragraaf 17)

18, 19. Waarna kan ons uitsien in die nuwe wêreld?

18 Omdat ons onvolmaak is, word ons soms siek. En wanneer ons siek word, verwag ons nie dat Jehovah ons deur middel van ’n wonderwerk sal genees nie. Maar ons sien uit na die tyd wanneer God ons heeltemal sal genees. In Openbaring 22:1, 2 het die apostel Johannes gepraat van “water van die lewe” en “bome van die lewe” wat almal sal genees. Dit verwys nie na die een of ander geneesmiddel wat ons nou of in die nuwe wêreld kan neem nie. Dit verwys eerder na alles wat Jehovah en Jesus sal doen sodat ons vir ewig kan lewe.—Jesaja 35:5, 6.

19 Ons sien uit na daardie wonderlike tyd in die toekoms. Maar in die tussentyd is ons seker dat Jehovah elkeen van ons liefhet en dat hy weet hoe ons voel wanneer ons ly. Soos Dawid, het ons die vertroue dat Jehovah ons nie sal verlaat as ons siek word nie. Hy sal altyd sorg vir diegene wat getrou aan hom bly.—Psalm 41:12.

^ par. 13 Die boek The Origins and Ancient History of Wine sê dat wetenskaplikes ontdek het dat tifus en ander gevaarlike kieme gou doodgaan wanneer dit met wyn gemeng word.