Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

’n Lewende vertaling van God se Woord

’n Lewende vertaling van God se Woord

“Die woord van God is lewend.”—HEBREËRS 4:12.

LIEDERE: 37, 116

1. (a) Watter taak het God Adam gegee? (b) Hoe het God se volk deur die geskiedenis heen die gawe van taal gebruik?

JEHOVAH GOD het mense die gawe van taal gegee. In die tuin van Eden het God vir Adam die taak gegee om al die diere name te gee. Adam het elke dier ’n betekenisvolle naam gegee (Genesis 2:19, 20). Deur die geskiedenis heen het God se volk die gawe van taal gebruik om Jehovah te loof en ander van hom te vertel. In onlangse tye het God se volk hierdie gawe gebruik om die Bybel te vertaal sodat meer mense omtrent Jehovah kan leer.

2. (a) Watter beginsels het die lede van die Nuwe Wêreld-Bybelvertaalkomitee in hulle werk gevolg? (b) Wat sal ons in hierdie artikel leer?

2 Daar is duisende Bybelvertalings, maar party is akkurater as ander. Om die Bybel akkuraat te vertaal, het die Nuwe Wêreld-Bybelvertaalkomitee besluit om drie basiese beginsels te volg: (1) Eer God se naam en gebruik dit op elke plek waar dit oorspronklik voorgekom het. (Lees Matteus 6:9.) (2) Vertaal die oorspronklike boodskap woord vir woord waar dit moontlik is. Waar dit nie moontlik is nie, moet die regte betekenis oorgedra word. (3) Gebruik taal wat maklik is om te lees en te verstaan. * (Sien voetnoot.) (Lees Nehemia 8:8, 12.) Hierdie drie beginsels is al deur vertalers van die Nuwe Wêreld-vertaling in meer as 130 verskillende tale gevolg. In hierdie artikel sal ons leer hoe hierdie beginsels in die 2013-hersiening van die Engelse Nuwe Wêreld-vertaling toegepas is en ook op die vertaling daarvan in ander tale.

’N BYBEL WAT GOD SE NAAM EER

3, 4. (a) Waar vind ons die Tetragrammaton? (b) Wat het baie Bybelvertalings met God se naam gedoen?

3 God se naam word voorgestel deur vier Hebreeuse letters wat die Tetragrammaton genoem word. Ons vind die Tetragrammaton in talle ou Hebreeuse manuskripte, soos die Dooie See-rolle. Dit kom ook voor in party afskrifte van die Griekse Septuagint. Hierdie afskrifte is tussen die tweede eeu voor Christus en die eerste eeu ná Christus gemaak. Baie mense is beïndruk wanneer hulle sien hoe dikwels God se naam in ou manuskripte voorkom.

Baie mense is beïndruk wanneer hulle sien hoe dikwels God se naam in ou manuskripte voorkom

4 Dit is duidelik dat God se naam in die Bybel moet wees. Maar baie vertalings gebruik nie God se naam nie. Byvoorbeeld, net twee jaar nadat die New World Translation of the Christian Greek Scriptures vrygestel is, is ’n hersiening van die American Standard Version vrygestel. Die uitgawe van 1901 het God se naam gebruik, maar die hersiening van 1952 het nie. Waarom nie? Die vertalers het gemeen dat dit “heeltemal onvanpas” is om God se naam te gebruik. Baie Engelse vertalings, asook vertalings in ander tale, het dit ook gedoen.

5. Waarom is dit belangrik om God se naam in die Bybel te gebruik?

5 Maak dit regtig saak of vertalers God se naam in hulle vertalings insluit of nie? Ja! Jehovah, die Outeur van die Bybel, wil hê dat mense sy naam moet ken. ’n Goeie vertaler moet weet wat ’n outeur wil hê, en dit moet sy besluite beïnvloed wanneer hy vertaal. Baie tekste toon dat God se naam belangrik is en dat dit geëer moet word (Eksodus 3:15; Psalm 83:18; 148:13; Jesaja 42:8; 43:10; Johannes 17:6, 26; Handelinge 15:14). En Jehovah het Bybelskrywers geïnspireer om sy naam duisende kere in ou manuskripte te gebruik. (Lees Esegiël 38:23.) Wanneer vertalers dus God se naam weglaat, toon hulle geen respek vir Jehovah nie.

6. Waarom is God se naam op ses plekke bygevoeg in die hersiene Engelse Nuwe Wêreld-vertaling?

6 Vandag is daar selfs meer bewyse dat ons Jehovah se naam moet gebruik. Die 2013-hersiening van die Engelse Nuwe Wêreld-vertaling gebruik God se naam 7 216 keer. Dit beteken dat dit op ses bykomende plekke in hierdie hersiening verskyn. Vyf van die ses gevalle is bygevoeg omdat God se naam op bykomende plekke gevind is in die Dooie See-rolle, wat onlangs gepubliseer is. * (Sien voetnoot.) Hierdie vyf word gevind in 1 Samuel 2:25; 6:3; 10:26; 23:14, 16. Die sesde geval, in Rigters 19:18, is bygevoeg ná ’n verdere studie van betroubare ou Bybelmanuskripte.

7, 8. Wat beteken die naam Jehovah?

7 Ware Christene meen dat dit belangrik is om die volle betekenis van God se naam te verstaan. Sy naam beteken “Hy laat word.” * (Sien voetnoot.) In die verlede het ons publikasies Eksodus 3:14 gebruik om die betekenis van God se naam te verduidelik, waar dit sê: “Ek sal word wat ek sal word.” Die 1984-hersiening het verduidelik dat Jehovah homself laat word wat ook al nodig is om sy voornemens te vervul. * (Sien voetnoot.) Maar die 2013-hersiening verduidelik: “Hoewel die naam Jehovah blykbaar hierdie idee insluit, is dit nie beperk tot wat hy besluit om te word nie. Dit sluit ook in wat hy laat gebeur in verband met sy skepping en die vervulling van sy voorneme.”

8 Jehovah laat sy skepsele word wat hy ook al wil hê hulle moet word. Byvoorbeeld, God het Noag die bouer van die ark laat word, Besaleël ’n vaardige vakman laat word, Gideon ’n groot krygsman laat word en Paulus ’n sendeling laat word. God se naam het ware betekenis vir sy volk, en daarom het die Nuwe Wêreld-Bybelvertaalkomitee God se naam in hulle Bybelvertaling ingesluit.

9. Waarom is dit belangrik dat die Nuwe Wêreld-vertaling in al hoe meer tale vertaal word?

9 Al hoe meer Bybelvertalings gebruik nie God se persoonlike naam nie. Hulle gebruik eerder die titel “Here” of die naam van ’n plaaslike god. Dit is een van die hoofredes waarom die Bestuursliggaam meen dat dit baie belangrik is dat mense van alle tale ’n Bybel het wat God se naam eer. (Lees Maleagi 3:16.) Tot dusver is die Nuwe Wêreld-vertaling, ’n vertaling wat Jehovah se naam eer, in meer as 130 tale beskikbaar.

’N DUIDELIKE EN AKKURATE VERTALING

10, 11. Watter vertaalprobleme is ondervind toe die Nuwe Wêreld-vertaling in ander tale vertaal is?

10 Toe die Engelse Nuwe Wêreld-vertaling in ander tale vertaal is, het allerhande vertaalprobleme ontstaan. Die Engelse uitgawe het byvoorbeeld die Hebreeuse woord “Sjeool” in Prediker 9:10 en in ander verse gebruik. Ander Engelse Bybels het ook hierdie woord gebruik. Maar in baie tale kon hierdie woord nie gebruik word nie omdat die meeste lesers van hierdie tale nie die Hebreeuse woord “Sjeool” ken nie. Dit is nie in hulle woordeboeke nie, en party het selfs gedink dat dit ’n pleknaam is. Daarom is vertalers toestemming gegee om die Hebreeuse woord “Sjeool” en die Griekse woord “Hades” met “die Graf” te vertaal. Dit is ’n akkurate vertaling en maak die teks duideliker.

11 Dit was ook moeilik om die Hebreeuse en Griekse woorde vir “siel” in party tale te vertaal. In hierdie tale verwys die woord vir “siel” gewoonlik na ’n spook of na iets wat die liggaam by die dood verlaat. Om hierdie verkeerde begrip te vermy, is vertalers toestemming gegee om die woord “siel” volgens die betekenis in die konteks te vertaal. ’n Verduideliking van die verskillende betekenisse van die woord “siel”, kan gevind word in die aanhangsel van die New World Translation of the Holy Scriptures—With References. Nuttige inligting oor Hebreeuse en Griekse woorde verskyn in voetnote in die hersiene uitgawe sodat die Bybelteks maklik is om te lees en te verstaan.

Die komitee het duisende vrae van Bybelvertalers gedurende die hersiening bestudeer

12. Wat is party van die ander veranderinge wat in die 2013-hersiening aangebring is? (Sien ook die artikel “The 2013 Revision of the New World Translationin die Engelse standaarduitgawe.)

12 Vrae van vertalers het aan die lig gebring dat die Bybelteks moontlik ook op ander plekke verkeerd verstaan sal word. Daarom het die Bestuursliggaam in September 2007 ’n hersiening van die Engelse uitgawe goedgekeur. Die komitee het duisende vrae van Bybelvertalers gedurende die hersiening bestudeer. Engelse uitdrukkings wat verouderd is, is met moderne uitdrukkings vervang, wat dit makliker gemaak het om die teks te lees en te verstaan, sonder om akkuraatheid prys te gee. Die feit dat die Nuwe Wêreld-vertaling onlangs in ander tale vertaal is, het gehelp om die Engelse teks te verbeter.—Spreuke 27:17.

GROOT WAARDERING

13. Hoe voel baie oor die 2013-hersiening?

13 Hoe voel baie oor die hersiene Engelse Nuwe Wêreld-vertaling? Die hoofkwartier van Jehovah se Getuies in Brooklyn, New York, het al duisende briewe van waardering van ons broers en susters ontvang. Baie voel soos een suster wat geskryf het: “Die Bybel is ’n skatkis propvol waardevolle juwele. Wanneer ’n mens Jehovah se woorde in die 2013-hersiening lees, is dit so duidelik—dit is asof ’n mens elke juweel ondersoek en al die fasette, die helderheid, die kleur en die prag daarvan bewonder. Hierdie eenvoudige vertaling van die Skrif het my gehelp om Jehovah beter te leer ken; hy is soos ’n vader met sy arms om my terwyl hy sy strelende woorde vir my lees.”

14, 15. Hoe voel mense wanneer hulle die Nuwe Wêreld-vertaling in hulle taal ontvang?

14 Mense wat nie Engels praat nie, is ook dankbaar vir die Nuwe Wêreld-vertaling. ’n Bejaarde man van Sofia, Bulgarye, het die volgende oor die Bulgaarse vertaling gesê: “Ek lees die Bybel al jare lank, maar ek het nog nooit ’n vertaling gelees wat so verstaanbaar is en wat die hart so raak nie.” En ’n Albanese suster het geskryf: “God se Woord klink so pragtig in Albanees! Dit is ’n wonderlike voorreg dat Jehovah in ons eie taal met ons praat!”

15 In baie lande is Bybels duur, of mense sukkel om een in die hande te kry. Om ’n Bybel te ontvang, is ’n groot seën! ’n Berig uit Rwanda het gesê: “Baie van die mense met wie die broers gestudeer het, het vir ’n lang tyd nie gevorder nie omdat hulle nie Bybels gehad het nie. Hulle kon nie die Bybel wat die kerk gebruik, bekostig nie. En dikwels kon hulle nie die betekenis van sekere verse duidelik verstaan nie, en dit het hulle vordering benadeel.” ’n Gesin met vier tieners in Rwanda het die volgende gesê toe die Nuwe Wêreld-vertaling in hulle taal vrygestel is: “Ons sê baie dankie vir Jehovah en die getroue en verstandige slaaf wat hierdie Bybel vir ons gegee het. Ons is baie arm en het nie geld gehad om ’n Bybel vir elke gesinslid te koop nie. Maar nou het elkeen van ons sy eie Bybel. Om ons dankbaarheid teenoor Jehovah te toon, lees ons as ’n gesin die Bybel elke dag.”

16, 17. (a) Wat wil Jehovah vir sy knegte hê? (b) Wat moet ons vasbeslote wees om te doen?

16 Die hersiene Nuwe Wêreld-vertaling sal in die toekoms in meer tale beskikbaar gestel word. Satan probeer om hierdie werk stop te sit, maar ons weet dat Jehovah wil hê dat al sy knegte sy stem moet hoor en dat sy woorde in ’n duidelike, verstaanbare taal moet wees. (Lees Jesaja 30:21.) Binnekort sal “die aarde . . . beslis vol wees van die kennis van Jehovah soos die waters die see bedek”.—Jesaja 11:9.

17 Mag ons vasbeslote wees om elke gawe van Jehovah te gebruik, insluitende hierdie vertaling wat sy naam eer. Laat hom toe om elke dag deur middel van sy Woord met jou te praat. Hy kan aandagtig na al ons gebede luister. Hierdie kommunikasie sal ons help om Jehovah nog beter te leer ken, en ons liefde vir hom sal bly toeneem.—Johannes 17:3.

“Dit is ’n wonderlike voorreg dat Jehovah in ons eie taal met ons praat!”

^ par. 2 Sien Aanhangsel A1 van die hersiene Engelse Nuwe Wêreld-vertaling en die artikel “Hoe jy ’n goeie Bybelvertaling kan kies” in Die Wagtoring van 1 Mei 2008.

^ par. 6 Die Dooie See-rolle is meer as 1 000 jaar ouer as die Hebreeuse Masoretiese teks.

^ par. 7 Party naslaanwerke gee hierdie verduideliking, maar nie alle kenners stem hiermee saam nie.

^ par. 7 Sien die New World Translation of the Holy Scriptures—With References, Aanhangsel 1A “The Divine Name in the Hebrew Scriptures”, bladsy 1561.