Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

LEWENSVERHAAL

Ek geniet nou vrede met God en met my ma

Ek geniet nou vrede met God en met my ma

MY MA het my gevra: “Waarom wil jy dan nie jou voorouers aanbid nie? As dit nie vir hulle was nie, sou jy nie bestaan het nie. Besef jy dit nie? Is jy so ondankbaar? Hoe kan jy eeue oue tradisies sommerso weggooi? As jy nie ons voorouers eer nie, dan sê jy eintlik dat ons godsdiens belaglik is.” Toe het my ma begin huil.

’n Paar maande tevore het Jehovah se Getuies my ma ’n Bybelstudie aangebied. Sy wou nie studeer nie, maar omdat sy beleefd wou wees, het sy vir my ’n studie gereël. Ek was nog altyd ’n gehoorsame kind, en nou was dit vir my moeilik om nie na haar te luister nie. Maar hierdie keer kon ek nie aan haar gehoorsaam wees nie, want ek wou Jehovah gelukkig maak. Dit was nie maklik nie, maar Jehovah het my versterk.

EK LEER OMTRENT JEHOVAH

Soos die meeste mense in Japan, was my familie Boeddhiste. Maar nadat ek die Bybel twee maande lank met Jehovah se Getuies gestudeer het, was ek oortuig dat die Bybel die waarheid bevat. Toe ek geleer het dat ek ’n hemelse Vader het, wou ek hom beter leer ken. Aan die begin het ek en my ma lekker gesels oor wat ek geleer het. Ek het op Sondae die vergaderinge by die Koninkryksaal begin bywoon. Later, toe ek meer geleer het, het ek vir my ma gesê dat ek nie meer aan Boeddhistiese seremonies sal deelneem nie. Skielik het haar gesindheid verander. Sy het gesê: “Om iemand in die familie te hê wat nie lief is vir ons voorouers nie, is ’n skande.” Sy het my beveel om op te hou om die Bybel te studeer en om nie meer vergaderinge toe te gaan nie. Ek het nooit gedink dat my ma so iets sou doen nie! Sy was soos ’n ander mens.

My pa het met my ma saamgestem. In Efesiërs hoofstuk 6 het ek geleer dat Jehovah wil hê dat ek my ouers moet gehoorsaam. Ek wou weer vrede in my familie hê, en ek het gedink dat hulle uiteindelik na my sou luister as ek na hulle luister. En op daardie stadium moes ek vir my skooleksamen voorberei. Daarom het ek ingestem om drie maande lank te doen wat my ouers gesê het. Maar ek het Jehovah belowe dat ek daarna weer die vergaderinge sou bywoon.

Dit was ’n slegte besluit om twee redes. Eerstens het ek gedink dat ek ná drie maande nog steeds ’n sterk begeerte sou hê om Jehovah te dien. Maar my verhouding met hom het eintlik baie vinnig verswak. Tweedens het my ma en pa selfs harder probeer om my te oorreed om op te hou om Jehovah te dien.

HULP EN TEENSTAND

By die Koninkryksaal het ek baie Getuies ontmoet wat deur hulle familie teëgestaan is. Hulle het my daarvan verseker dat Jehovah my sou versterk (Matteus 10:34-37). Hulle het vir my verduidelik dat my familie ’n kans sal hê om van Jehovah te leer as ek getrou aan hom bly. Omdat ek op Jehovah wou vertrou, het ek vurig begin bid.

My familie het my op verskillende maniere teëgestaan. My ma het my gesmeek om op te hou met my studie en het probeer om met my te redeneer. Die meeste van die tyd het ek net stilgebly. Wanneer ek wel iets gesê het, het ons gewoonlik gestry omdat ons albei wou bewys dat ons reg is. Nou besef ek dat dinge makliker sou gewees het as ek my ma se gevoelens en oortuigings meer gerespekteer het. My ouers het vir my meer werk in en om die huis gegee om te keer dat ek uitgaan. Soms het hulle my uitgesluit of nie kos gegee nie.

My ma het ander mense gevra om haar te help om my te oorreed. Sy het met my onderwyser gepraat, maar dit het nie gewerk nie. My ma het my na haar bestuurder by die werk geneem sodat hy my kon oortuig dat alle godsdienste nutteloos is. Sy het ook familielede gebel en gehuil terwyl sy hulle gesmeek het om haar te help. Dit het my baie ontstel. Maar by die vergaderinge het die ouer manne my daaraan herinner dat my ma eintlik ’n getuienis gee wanneer sy met ander oor ons situasie praat.

My ouers wou hê dat ek universiteit toe moet gaan sodat ek ’n goeie werk kon kry. Ons was almal te omgekrap om op ’n kalm manier hieroor te praat, en daarom het ek vir hulle ’n aantal briewe geskryf om my doelwitte te verduidelik. My pa het baie kwaad geword en gesê: “As jy dink dat jy werk kan kry, moet jy dit teen môre kry, of anders moet jy die huis verlaat.” Ek het tot Jehovah gebid en hom gevra om my te help. Net die volgende dag, terwyl ek velddiens gedoen het, het twee susters my elkeen ’n werk aangebied om hulle kinders te onderrig. My pa was nie gelukkig hieroor nie en het opgehou om met my te praat en het my begin ignoreer. My ma het gesê dit sou beter wees as ek eerder ’n misdadiger was as een van Jehovah se Getuies.

Jehovah het my gehelp om my denkwyse reg te stel en om te weet wat om te doen

Ek was nie altyd seker of Jehovah wou hê dat ek so ’n sterk standpunt teen my ouers moet inneem nie. Ek het dus tot Jehovah gebid en nagedink oor wat die Bybel oor sy liefde sê. Dit het my gehelp om positiewer te wees en om te besef dat my ouers my teëgestaan het omdat hulle bekommerd was oor my. Jehovah het my gehelp om te weet wat om te doen en om my denkwyse reg te stel. En hoe meer ek in die bediening uitgegaan het, hoe meer het ek dit geniet. Ja, ek wou ’n pionier wees.

PIONIERDIENS

Toe party susters gehoor het dat ek wil pionier, het hulle vir my gesê dat ek moet wag totdat my ouers kalmeer. Ek het vir wysheid gebid, navorsing gedoen, gedink aan die redes waarom ek wil pionier en met ervare broers en susters gepraat. Ek het toe besluit dat ek Jehovah gelukkig wil maak. Ek het ook besef dat my ouers my miskien nog steeds sou teëstaan, al sou ek ’n tyd lank wag voordat ek begin pionier.

Ek het begin pionier gedurende my laaste jaar op hoërskool. Nadat ek ’n tyd lank gepionier het, wou ek gaan dien waar daar hulp nodig was. Maar my ma en pa wou nie hê dat ek die huis moet verlaat nie. Daarom het ek gewag totdat ek 20 jaar oud was. Ek het toe die takkantoor gevra vir ’n toewysing naby my familie in die suidelike deel van Japan sodat my ma nie so bekommerd sou wees nie.

Terwyl ek in daardie toewysing gedien het, was ek bly om te sien hoe ’n aantal van my Bybelstudente gedoop word. Ek het begin om Engels te leer omdat ek my bediening wou uitbrei. En toe ek die ywer sien van twee spesiale pioniers in my gemeente en gesien het hoe hulle ander help, het ek besluit dat ek ook ’n spesiale pionier wou word. Gedurende hierdie tyd het my ma twee keer ernstig siek geword, en albei kere het ek huis toe gegaan om haar te help. Dit het haar verbaas, en sy het my toe ’n bietjie beter begin behandel.

BAIE SEËNINGE VAN JEHOVAH

Sewe jaar later het Atsoesji, een van die spesiale pioniers wat ek vroeër genoem het, vir my ’n brief gestuur. Hy het aan trou gedink en het gewonder hoe ek oor hom voel. Ek het nooit romantiese gevoelens vir hom gehad nie en ek het nie gedink dat hy romantiese gevoelens vir my het nie. ’n Maand later het ek hom laat weet dat ek gewillig was om hom beter te leer ken. Ons het besef dat ons dieselfde doelwitte het. Ons wou in die voltydse diens bly en was bereid om enige toewysing te aanvaar. Ons het uiteindelik getrou, en ek was baie bly dat albei my ouers sowel as ander familielede ons troue bygewoon het.

Nepal

Kort daarna, terwyl ons as gewone pioniers gedien het, was Atsoesji aangestel as ’n waarnemende kringopsiener. Later is ons as spesiale pioniers aangestel en toe is ons gevra om op die kring te dien. Nadat ons al die gemeentes in ons kring vir die eerste keer besoek het, het die takkantoor ons gebel. Hulle het gevra of ons bereid is om na Nepal te trek en daar op die kring te dien.

Om in verskillende lande te dien het my baie omtrent Jehovah geleer

Ek was bekommerd oor hoe my ouers sou voel oor die feit dat ek so ver van die huis af sal wees. Toe ek hulle gebel het, het my pa gesê: “Julle gaan na ’n mooi plek toe.” Net ’n week tevore het een van sy vriende vir hom ’n boek oor Nepal gegee, en my pa het selfs gedink dat dit ’n lekker plek sou wees om te besoek.

Dit was vir ons lekker om onder die vriendelike mense van Nepal te dien. Later het ons kring Bangladesj ook ingesluit. Hoewel dit naby Nepal geleë is, was dit baie anders. Ons velddiens was vol verskeidenheid. Ná vyf jaar is ons terug na Japan gestuur, waar ons tans die kringwerk geniet.

Ek het so baie oor Jehovah geleer terwyl ek in Japan, Nepal en Bangladesj gedien het. Mense in hierdie lande het verskillende kulture, gewoontes en gebruike. En elke persoon is uniek. Ek het gesien hoe Jehovah vir elkeen individueel sorg, en hoe hy mense aanvaar, help en seën.

Daar is so baie dinge waarvoor ek Jehovah kan dank. Hy het my toegelaat om hom te leer ken en sy werk te doen, en hy het vir my ’n wonderlike Christenman gegee. God het my gehelp om goeie besluite te neem, en nou geniet ek ’n goeie verhouding met hom en met my familie. Danksy Jehovah is ek en my ma weer goeie vriende. Ek is baie dankbaar dat ek nou vrede met God en met my ma geniet.

Ons geniet die kringwerk baie