PRAKTIESE WYSHEID UIT DIE OU TYD
Moet jou nie bekommer nie
BYBELBEGINSEL: “Moet julle nie bekommer oor julle lewe . . . nie.”—Matteus 6:25, Nuwe Afrikaanse Bybelvertaling.
Wat beteken dit? Hierdie woorde kom uit Jesus se Bergpredikasie. Volgens een Bybelwoordeboek kan die Griekse werkwoord wat as “bekommer” vertaal word, verwys na “hoe mense van nature reageer op armoede, honger en ander probleme wat hulle in hulle daaglikse lewe ondervind”. Ons bekommer ons dikwels oor dinge wat dalk in die toekoms sal gebeur. Dit is normaal en gepas dat ons besorg is oor ons materiële behoeftes en die welsyn van ons geliefdes (Filippense 2:20). Maar toe Jesus gesê het: “Moet julle nie bekommer . . . nie”, het hy sy volgelinge aangespoor om hulle nie onnodig te bekommer nie—om nie ’n oordrewe vrees vir môre te hê wat hulle vandag van hulle vreugde kan beroof nie.—Matteus 6:31, 34.
Is dit prakties vir ons dag? Dit sal verstandig van ons wees om Jesus se raad te volg. Waarom? Party naslaanwerke toon dat die simpatiese senuweestelsel van mense wat hulle baie bekommer, blykbaar nooit afskakel nie en dat hierdie toestand “verband hou met mediese probleme soos maagsere, hartsiekte en asma”.
Jesus het ons ’n baie goeie rede gegee om ons nie onnodig te bekommer nie: Dit is nutteloos. “Wie van julle kan deur hom te bekommer sy lewe met een enkele uur verleng?”, het Jesus gevra (Matteus 6:27, NAB). As ons op ons bekommernisse konsentreer, sal dit ons lewe nie eers met ’n fraksie van ’n sekonde verleng nie, wat nog te sê ons lewe verbeter. Wat meer is, dinge loop dikwels nie so sleg af soos ons gevrees het nie. Een geleerde het dit soos volg gestel: “Om jou oor die toekoms te bekommer, is ’n vermorsing van energie, en die werklike toekoms is selde so erg soos die toekoms van ons vrese.”
Hoe kan ons ophou om ons onnodig te bekommer? Eerstens, vertrou op God. As God voedsel aan voëls voorsien en blomme met prag beklee, sal hy tog sekerlik diegene wat sy aanbidding eerste stel, van die nodige voorsien (Matteus 6:25, 26, 28-30). Tweedens, neem een dag op ’n slag. “Moet julle dus nie oor môre bekommer nie, want môre bring sy eie bekommernis”, het Jesus gesê. Sal jy nie saamstem dat ‘elke dag genoeg moeilikheid van sy eie bring’ nie?—Matteus 6:34, NAB.
As ons Jesus se wyse raad volg, kan ons verhoed dat ons gesondheid skade ly. Wat meer is, ons sal innerlike vrede vind—iets wat die Bybel “die vrede van God” noem.—Filippense 4:6, 7.