Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Die man met ’n sekretaris se inkhoring stel Jesus Christus voor. Hy merk diegene wat behoue sal bly

Vrae van lesers

Vrae van lesers

Wie word afgebeeld deur die man met ’n sekretaris se inkhoring en die ses manne met die wapens om mee te verbrysel, wat Esegiël in ’n visioen gesien het?

Hulle beeld die hemelse magte af wat betrokke was by die vernietiging van Jerusalem en wat ook betrokke sal wees by die vernietiging van Satan se goddelose wêreld by Armageddon. Dit is ’n aanpassing in ons begrip. Waarom was dit nodig?

Voor 607 VHJ het Jehovah vir Esegiël ’n visioen gegee om te toon wat in Jerusalem sou gebeur voordat dit vernietig sou word. In die visioen het Esegiël die goddelose dinge gesien wat daar plaasgevind het. Toe het hy ses manne gesien wat elkeen ’n “wapen om mee te verbrysel in sy hand” gehad het. Daar was ook ’n man saam met hulle wat “in linne geklee was” en wat “’n sekretaris se inkhoring” gehad het (Esegiël 8:6-12; 9:2, 3). Hierdie man is beveel om deur die stad te trek en “’n merk [te] maak op die voorkoppe van die mense wat sug en steun oor al die verfoeilike dinge wat daarin gedoen word”. Toe is die ses manne met die wapens beveel om almal in die stad dood te maak wat nie die merk het nie (Esegiël 9:4-7). Wat kan ons uit hierdie visioen leer, en wie is die man met ’n sekretaris se inkhoring?

Esegiël het hierdie visioen in 612 VHJ gesien. Dit is ’n profesie wat vyf jaar later sy eerste vervulling ondergaan het toe Jehovah die Babiloniese leër toegelaat het om Jerusalem te vernietig. Jehovah het die Babiloniërs dus gebruik om sy ongehoorsame volk te straf (Jeremia 25:9, 15-18). Maar wat van die regverdige Jode wat nie saamgestem het met al die slegte dinge wat in die stad beoefen is nie? Jehovah het seker gemaak dat hulle gered word.

In die visioen het Esegiël mense nie letterlik gemerk of deelgeneem aan die vernietiging van die stad nie. Dit was eerder die engele wat die vernietiging van Jerusalem gerig het. Hierdie profesie gee ons dus ’n kykie in wat in die hemel gebeur. Jehovah het vir sy engele die opdrag gegee om toe te sien dat die goddeloses vernietig word en om seker te maak dat die regverdiges behoue bly. *

Hierdie profesie sal ook in die toekoms vervul word. Ons het in die verlede gesê dat die man met ’n sekretaris se inkhoring die gesalfdes voorstel wat nog op die aarde lewe. Ons het ook gesê dat mense die merk vir oorlewing kry as hulle gunstig reageer op die goeie nuus wat ons verkondig. Maar dit het onlangs duidelik geword dat ons ons verduideliking van hierdie profesie moet aanpas. Volgens Matteus 25:31-33 is dit Jesus wat mense oordeel. Hy sal dit in die toekoms gedurende die groot verdrukking doen. Dan sal diegene wat as skape geoordeel word, behoue bly, en diegene wat as bokke geoordeel word, vernietig word.

Wat leer ons dus uit Esegiël se visioen? Hier is vyf lesse:

  1. Voordat Jerusalem vernietig is, het Esegiël, sowel as Jeremia en Jesaja, die volk gewaarsku oor wat met die stad sou gebeur. Hulle het as wagte opgetree. Vandag gebruik Jehovah ’n klein groepie gesalfdes om sy volk te onderrig en ander te waarsku voordat die groot verdrukking uitbreek. Trouens, God se hele volk, dit wil sê Christus se huisknegte, neem deel aan hierdie waarskuwingswerk.—Matteus 24:45-47.

  2. Esegiël het nie diegene gemerk wat behoue sou bly nie. God se volk doen dit ook nie vandag nie. Hulle doen eenvoudig die predikingswerk en waarsku ander oor wat in die toekoms sal gebeur. Hierdie wêreldwye predikingswerk word met die hulp van die engele gedoen.—Openbaring 14:6.

  3. Diegene wat in Esegiël se tyd gered is, het nie ’n letterlike merk op hulle voorkop gehad nie. In ons tyd sal diegene wat gered gaan word, ook nie ’n letterlike merk hê nie. Wat moet mense doen om die groot verdrukking te oorleef? Wanneer hulle die waarskuwing hoor, moet hulle hulle met die Christelike persoonlikheid beklee, hulle aan God toewy en Christus se broers ondersteun deur die goeie nuus te verkondig (Matteus 25:35-40). Diegene wat hierdie dinge doen, sal gedurende die groot verdrukking die merk vir oorlewing ontvang.

  4. Die man met die inkhoring stel Jesus voor. Gedurende die groot verdrukking sal Jesus die groot menigte merk wanneer hy hulle as skape oordeel. Dan sal hulle die vooruitsig hê om vir ewig hier op die aarde te lewe.—Matteus 25:34, 46. *

  5. Vandag stel die ses manne met die wapens om mee te verbrysel, die hemelse leërs voor wat deur Jesus gelei word. Hulle sal binnekort die nasies vernietig en alle goddeloosheid beëindig.—Esegiël 10:2, 6, 7; Openbaring 19:11-21.

Die lesse wat ons uit hierdie visioen leer, help ons om vol vertroue te wees dat Jehovah nie die regverdiges saam met die goddeloses sal vernietig nie (2 Petrus 2:9; 3:9). Dit herinner ons ook daaraan dat die predikingswerk vandag baie belangrik is. Almal moet die waarskuwing hoor voordat die einde kom!—Matteus 24:14.

^ par. 6 Diegene wat wel gered is, soos Barug (Jeremia se sekretaris), Ebed-Meleg die Etiopiër en die Regabiete, het nie ’n letterlike merk op hulle voorkop gehad nie (Jeremia 35:1-19; 39:15-18; 45:1-5). Die simboliese merk het bloot beteken dat hulle die vernietiging sou oorleef.

^ par. 12 Getroue gesalfdes hoef nie hierdie merk vir oorlewing te ontvang nie. Hulle sal óf voordat hulle sterf óf voor die begin van die groot verdrukking hulle finale verseëling ontvang.—Openbaring 7:1, 3.