Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Erken en waardeer Jehovah as ons Pottebakker

Erken en waardeer Jehovah as ons Pottebakker

“O Jehovah, . . . u is ons Pottebakker; en ons is almal die werk van u hand.”—JESAJA 64:8.

LIEDERE: 89, 26

1. Waarom is Jehovah ver verhewe bo enige menslike pottebakker?

IN November 2010 is daar in Engeland ’n bod van byna 70 miljoen dollar op ’n Chinese vaas gemaak. Dit is verbasend dat ’n pottebakker iets so algemeen en goedkoop soos klei kon gebruik om so ’n pragtige en duur vaas te vorm. Jehovah, ons Pottebakker, is ver verhewe bo enige menslike pottebakker. Die Bybel sê dat Jehovah ’n volmaakte mens “uit stof van die aarde”, dit wil sê uit klei, gevorm het (Genesis 2:7). Daardie mens, Adam, was ’n “seun van God” en is geskep met die vermoë om God se eienskappe na te volg.—Lukas 3:38.

2, 3. Hoe kan ons die gesindheid van die berouvolle Israeliete navolg?

2 Toe Adam teen sy Skepper in opstand gekom het, het hy die voorreg verloor om ’n seun van God te wees. Maar baie van Adam se nakomelinge het Jehovah as hulle Heerser gekies (Hebreërs 12:1). Deur hulle nederig aan hulle Skepper te onderwerp, het hulle getoon dat hulle hom, en nie Satan nie, as hulle Vader en Pottebakker verkies (Johannes 8:44). Hulle lojaliteit aan God herinner ons aan wat die berouvolle Israeliete gesê het: “O Jehovah, u is ons Vader. Ons is die klei, en u is ons Pottebakker; en ons is almal die werk van u hand.”—Jesaja 64:8.

3 Vandag doen Jehovah se ware aanbidders hulle bes om ook so ’n nederige gesindheid te hê en hulle aan hom te onderwerp. Hulle beskou dit as ’n eer om Jehovah hulle Vader te noem, en hulle wil hê dat hy hulle Pottebakker moet wees. Is ons gewillig om soos sagte klei te wees wat God in ’n kosbare houer kan omskep? Beskou ons elkeen van ons broers en susters as iemand wat nog deur God gevorm word? Om ons te help om die regte gesindheid te hê, sal ons bespreek hoe Jehovah besluit wie hy wil vorm, waarom hy hulle vorm en hoe hy dit doen.

JEHOVAH BESLUIT WIE HY WIL VORM

4. Hoe besluit Jehovah wie hy na hom toe trek? Gee voorbeelde.

4 Jehovah sien mense nie soos ons hulle sien nie. Hy ondersoek eerder die hart en sien watter soort mens ons werklik is. (Lees 1 Samuel 16:7b.) Jehovah het dit getoon toe hy die Christengemeente gevorm het. Hy het baie persone wat vanuit ’n menslike oogpunt onaanvaarbaar sou wees, na hom en sy Seun getrek (Johannes 6:44). Een so ’n persoon was die Fariseër met die naam Saulus, “’n lasteraar en ’n vervolger en ’n vermetele man” (1 Timoteus 1:13). Maar Jehovah het Saulus se hart ondersoek en het nie gedink dat hy ’n stuk nuttelose klei is nie (Spreuke 17:3). Jehovah het eerder gesien dat Saulus omskep kon word in “’n uitverkore vat” om die boodskap “na die nasies sowel as na konings en die kinders van Israel te dra” (Handelinge 9:15). Van die ander wat Jehovah gekies het sodat hy hulle “vir ’n eervolle gebruik” kon vorm, het voormalige dronkaards, onsedelike mense en diewe ingesluit (Romeine 9:21; 1 Korintiërs 6:9-11). Toe hulle kennis van die Skrif ingeneem het, het dit hulle geloof in Jehovah versterk en het hulle hom toegelaat om hulle te vorm.

Ons moenie mense in ons gebied of in ons gemeente oordeel nie

5, 6. Hoe moet vertroue in Jehovah as ons Pottebakker ons gesindheid beïnvloed teenoor (a) die mense in ons gebied? (b) ons broers en susters?

5 Ons het die vertroue dat Jehovah die regte mense kan kies en na hom toe kan trek. Daarom moet ons nie mense in ons gebied of in ons gemeente oordeel nie. Kyk byvoorbeeld hoe ’n man met die naam Michael gereageer het toe Jehovah se Getuies hom besoek het. Hy sê: “Ek het gewoonlik net omgedraai en hulle geïgnoreer asof hulle nie bestaan nie. Ek was baie onbeskof! Later het ek ’n gesin ontmoet wat ek weens hulle goeie gedrag bewonder het. Groot was my skok toe ek uitvind dat hulle Jehovah se Getuies is! Hulle gedrag het my beweeg om te ondersoek waarom ek bevooroordeeld teenoor die Getuies is. Ek het gou agtergekom dat my gesindheid gegrond was op onkunde en hoorsê, nie op feite nie.” Michael wou meer leer en het ’n Bybelstudie aanvaar. Hy is later gedoop en het toe ’n voltydse dienaar geword.

6 As ons erken dat Jehovah ons Pottebakker is, sal ons gesindheid teenoor ons broers en susters ook verander. Ons sal elkeen van hulle beskou as iemand wat nog deur Jehovah gevorm word. Dit is hoe Jehovah hulle sien. Hy sien die ware innerlike persoon en weet dat hulle onvolmaaktheid net tydelik is. Hy weet ook watter soort mens elkeen van hulle kan word (Psalm 130:3). Ons kan Jehovah navolg as ons dieselfde positiewe gesindheid teenoor ons broers het. Ons kan selfs met ons Pottebakker saamwerk om ons broers en susters te help om vordering te maak (1 Tessalonisense 5:14, 15). Die ouer manne in die gemeente moet ’n goeie voorbeeld hierin stel.—Efesiërs 4:8, 11-13.

WAAROM VORM JEHOVAH ONS?

7. Waarom waardeer jy Jehovah se dissipline?

7 Sommige sê dalk: ‘Eers toe ek my eie kinders gehad het, het ek my ouers se dissipline ten volle waardeer.’ Wanneer ons ouer word, besef ons gewoonlik dat dissipline ’n bewys van liefde is. (Lees Hebreërs 12:5, 6, 11.) Ja, Jehovah het ons as sy kinders lief, en daarom dissiplineer, of vorm, hy ons geduldig. Hy wil hê dat ons wys en gelukkig moet wees en hom as ons Vader moet liefhê (Spreuke 23:15). Hy hou nie daarvan om ons te sien ly nie, en hy wil ook nie hê dat ons moet sterf as “kinders van die gramskap”, dit wil sê as onberouvolle sondaars nie.—Efesiërs 2:2, 3.

Jehovah het ons as sy kinders lief, en daarom dissiplineer, of vorm, hy ons geduldig

8, 9. Hoe onderrig Jehovah ons vandag, en hoe sal hierdie onderrigting in die toekoms voortduur?

8 Voor ons Jehovah leer ken het, het ons dalk talle slegte eienskappe gehad. Maar Jehovah het ons gevorm en gehelp om te verander, en daarom het ons nou pragtige eienskappe (Jesaja 11:6-8; Kolossense 3:9, 10). Ons is in ’n geestelike paradys. Dit is die spesiale omgewing wat Jehovah in ons dag skep wat help om ons te vorm. Ons voel veilig en beskerm daarin, al is die wêreld om ons goddeloos. Diegene wat dalk in ’n liefdelose gesin grootgeword het, ondervind nou die opregte liefde van hulle broers en susters in die geestelike paradys (Johannes 13:35). En ons het geleer om liefde aan ander te betoon. Maar bowenal het ons Jehovah leer ken en ervaar ons nou sy vaderlike liefde.—Jakobus 4:8.

9 In die nuwe wêreld sal ons ten volle by die geestelike paradys baat vind. Ons sal ook die lewe in ’n letterlike paradys geniet wat deur God se Koninkryk regeer word. Daar sal Jehovah aanhou om ons te vorm—hy sal ons onderrig op ’n wyse wat ons ons nie nou kan voorstel nie (Jesaja 11:9). Jehovah sal ons ook verstandelik en liggaamlik tot volmaaktheid laat groei. Ons sal sy onderrigting dan beter kan verstaan en ten volle kan gehoorsaam. Ons moet Jehovah dus toelaat om ons voortdurend te vorm, en ons moet vir hom wys dat ons hierdie blyk van sy liefde waardeer.—Spreuke 3:11, 12.

HOE JEHOVAH ONS VORM

10. Hoe het Jesus die Groot Pottebakker se geduld en vaardigheid weerspieël?

10 Soos ’n vaardige pottebakker wat sy klei goed ken, ken Jehovah, ons Pottebakker, ons baie goed. Hy weet wat ons swakhede en ons beperkings is en watter vooruitgang ons al gemaak het, en hy hou dit in gedagte terwyl hy elkeen van ons vorm. (Lees Psalm 103:10-14.) Wanneer ons kyk na hoe Jesus op die onvolmaakthede van sy apostels gereageer het, help dit ons om te besef hoe Jehovah ons beskou. Soms het die apostels gestry oor wie die grootste is. Hoe sou jy oor die apostels se optrede gevoel het as jy daar was? Jy sou miskien gedink het dat hulle nie soos sagte klei is nie. Maar Jesus het geweet dat hulle gevorm kan word as hulle luister na die raad wat hy op ’n liefdevolle en geduldige wyse gegee het en as hulle sy nederigheid navolg (Markus 9:33-37; 10:37, 41-45; Lukas 22:24-27). Ná Jesus se opstanding het die apostels God se gees ontvang en was hulle nie meer bekommerd oor wie die grootste is nie. Hulle het eerder gekonsentreer op die werk wat Jesus hulle gegee het.—Handelinge 5:42.

11. Hoe was Dawid soos sagte klei, en hoe kan ons hom navolg?

11 Vandag gebruik Jehovah die Bybel, sy heilige gees en die gemeente om ons te vorm. Hoe kan die Bybel ons vorm? Ons moet dit lees, daaroor peins en Jehovah vra om ons te help om toe te pas wat ons leer. Koning Dawid het geskryf: “Wanneer ek op my rusbed aan u gedink het, peins ek gedurende die nagwake oor u” (Psalm 63:6). Hy het ook geskryf: “Ek sal Jehovah loof, wat my raad gegee het. Waarlik, in die nagte het my niere my tereggewys” (Psalm 16:7). Ja, Dawid het gepeins oor Jehovah se raad en toegelaat dat dit sy diepste gedagtes en gevoelens vorm, selfs wanneer die raad moeilik was om te aanvaar (2 Samuel 12:1-13). Dawid het ’n pragtige voorbeeld van nederigheid en gehoorsaamheid vir ons gestel. Vra jou dus af: ‘Wanneer ek die Bybel lees, peins ek daaroor en laat ek toe dat God se raad my diepste gedagtes en gevoelens raak? Kan ek dit in selfs groter mate doen?’—Psalm 1:2, 3.

12, 13. Hoe vorm Jehovah ons deur middel van heilige gees en die Christengemeente?

12 Heilige gees kan ons op verskeie maniere vorm. Dit kan ons byvoorbeeld help om Jesus se persoonlikheid na te volg en om die verskillende aspekte van die vrug van die gees te openbaar (Galasiërs 5:22, 23). Een aspek daarvan is liefde. Ons het God lief en wil hom gehoorsaam en deur hom gevorm word, want ons weet dat sy gebooie ons tot voordeel strek. Die heilige gees kan ons ook die krag gee om die invloed van hierdie goddelose wêreld te weerstaan (Efesiërs 2:2). Toe die apostel Paulus jonk was, is hy deur die trotse Joodse godsdiensleiers beïnvloed. Maar heilige gees het hom gehelp om te verander. Hy het later geskryf: “Vir alles is ek sterk genoeg deur hom wat my krag gee” (Filippense 4:13). Ons moet ook vir heilige gees vra, in die wete dat Jehovah ons opregte gebede sal verhoor.—Psalm 10:17.

Jehovah gebruik Christen- ouer manne om ons te vorm, maar ons moet hulle raad toepas (Sien paragraaf 12, 13)

13 Jehovah gebruik ook die gemeente en die ouer manne om elkeen van ons te vorm. As die ouer manne byvoorbeeld oplet dat ons ’n swakheid het, probeer hulle ons help. Maar die raad wat hulle ons gee, is nie op hulle eie idees gebaseer nie (Galasiërs 6:1). Hulle vra Jehovah eerder nederig vir begrip en wysheid. Dan doen hulle navorsing met behulp van die Bybel en ons Christelike publikasies om inligting te vind wat ons sal help. As die ouer manne na jou toe kom en jou liefdevolle raad gee, dalk oor jou kleredrag, moet jy onthou dat dit ’n bewys is van God se liefde vir jou. As jy die raad toepas, sal jy soos sagte klei wees wat deur Jehovah gevorm kan word, en jy sal daarby baat vind.

14. Hoe respekteer Jehovah ons wilsvryheid, al het hy die reg om ons te vorm?

14 As ons verstaan hoe Jehovah ons vorm, kan dit ons help om ’n goeie verhouding met ons broers en susters te hê. Ons sal ook ’n positiewe gesindheid teenoor mense in ons gebied hê, insluitende ons Bybelstudente. In Bybeltye moes ’n pottebakker klippies en ander onsuiwerhede uit die klei verwyder voordat hy dit kon vorm. Die Groot Pottebakker, Jehovah, help mense wat gevorm wil word. Hy dwing hulle nie om te verander nie, maar maak eerder sy rein standaarde aan hulle bekend. Hulle moet dan besluit of hulle die nodige veranderinge gaan maak.

15, 16. Hoe toon Bybelstudente dat hulle deur Jehovah gevorm wil word? Gee ’n voorbeeld.

15 Kyk wat gebeur het met Tessie, ’n suster in Australië. Dit was nie vir haar moeilik om Bybelwaarhede te verstaan nie. Maar sy het nie juis vordering gemaak nie, en sy het nie vergaderinge bygewoon nie. Die suster wat met haar gestudeer het, het tot Jehovah gebid en het besluit om die studie stop te sit. Toe het iets verbasends gebeur. By hulle studie het Tessie vir die suster vertel waarom sy nie vordering maak nie. Sy het gesê dat sy skynheilig voel omdat sy baie daarvan hou om te dobbel. Maar sy het besluit om op te hou dobbel.

16 Tessie het kort daarna die vergaderinge begin bywoon en Christelike eienskappe in haar lewe begin openbaar, al het party van haar voormalige vriende haar gespot. Tessie is later gedoop en het ’n gewone pionier geword, al het sy jong kinders gehad. Ja, wanneer Bybelstudente veranderinge begin maak om God te behaag, sal hy nader aan hulle kom en hulle in kosbare voorwerpe omskep.

17. (a) Waarom is jy bly dat Jehovah jou Pottebakker is? (b) Wat omtrent die vormingsproses sal ons in die volgende artikel bespreek?

17 Vandag maak party pottebakkers nog steeds pragtige kleivoorwerpe met die hand. Hulle vorm die klei met groot sorg. Net so vorm Jehovah ons geduldig deur middel van sy raad, en hy let noukeurig op hoe ons reageer. (Lees Psalm 32:8.) Kan jy sien dat Jehovah in jou belangstel? Sien jy hoe Jehovah jou met groot sorg vorm? Indien wel, watter eienskappe sal jou help om soos sagte klei te wees wat Jehovah kan vorm? Watter eienskappe moet jy vermy sodat jy nie soos harde klei word wat nie gevorm kan word nie? En hoe kan ouers met Jehovah saamwerk om hulle kinders te vorm? Die volgende artikel sal hierdie vrae beantwoord.