Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

4 | Die Bybel gee praktiese raad

4 | Die Bybel gee praktiese raad

DIE BYBEL SÊ: “Die hele Skrif is . . . nuttig.” – 2 TIMOTEUS 3:16.

Wat dit beteken

Al is die Bybel nie ’n mediese handboek nie, gee dit praktiese en goeie raad. Hierdie raad kan ’n persoon help wat met verstandelike gesondheidsprobleme sukkel. Kyk na ’n paar voorbeelde.

Hoe dit kan help

“Gesonde mense het nie ’n dokter nodig nie, maar mense wat siek is, het wel.” – MATTEUS 9:12.

Die Bybel erken dat ons dalk mediese behandeling nodig sal hê. Baie mense wat ’n verstandelike siekte het, is al gehelp toe hulle akkurate inligting oor hulle probleem en professionele hulp gekry het.

“Oefening is goed vir jou liggaam.” – 1 TIMOTEUS 4:8, Contemporary English Version.

Wanneer jy dinge doen om jou fisiese gesondheid te verbeter, kan dit jou help om jou verstandelike gesondheid te verbeter. Dit sluit ’n gereelde oefenprogram, gesonde dieet en genoeg slaap in.

“’n Vreugdevolle hart is soos goeie medisyne, maar ’n gebroke gees beroof jou van jou krag.” – SPREUKE 17:22.

Wanneer jy aanmoedigende Bybeltekste lees en redelike en bereikbare doelwitte stel, kan dit jou help om gelukkig te wees. ’n Positiewe gesindheid kan jou help om emosioneel gebalanseerd te bly terwyl jy jou verstandelike gesondheidsprobleme hanteer.

“Wysheid is by dié wat beskeie is.” – SPREUKE 11:2.

Dit is dalk nie vir jou moontlik om alles wat jy wil doen op jou eie te doen nie. So wees bereid om ander se hulp te aanvaar. Vriende en familie wil jou heel moontlik help, maar hulle weet dalk nie wat om te doen nie. Sê vir hulle wat jou veral sal help. Wees redelik in wat jy verwag, en wees altyd dankbaar vir hulle hulp.

Hoe die Bybel se praktiese raad dié help wat aan verstandelike gesondheidsprobleme ly

“Ek het gevoel dat daar iets verkeerd is met my, en daarom het ek dokter toe gegaan. Sy kon my siekte diagnoseer. Dit het my gehelp om my situasie te aanvaar en om te leer oor mediese opsies wat beskikbaar is sodat ek beter vir my gesondheid kon sorg.” – Nicole, a wat aan bipolêre versteuring ly.

“Omdat ek die Bybel gereeld met my vrou lees, help dit my om elke dag met positiewe opbouende gedagtes te begin. En baie dae wanneer ek sukkel om kop bo water te hou, sal ’n spesifieke vers my hart raak.” – Peter, wat aan depressie ly.

“Dit was moeilik om vir ander van my siekte te vertel omdat ek baie skaam gevoel het daaroor. Maar ’n goeie vriend het mooi na my geluister en liefdevol probeer verstaan hoe ek voel. Sy het my regtig gehelp om beter te voel en om te voel dat ek nie alleen is nie.” – Dji-joo, wat aan ’n eetversteuring ly.

“Die Bybel het my gehelp om gebalanseerd en redelik te wees wanneer dit by werk en rus kom. Die wysheid daarin het my gehelp om die emosionele probleme waarmee ek heeltyd sukkel te hanteer.” – Timothy, wat aan obsessief-kompulsiewe steurnis ly.

a Party name is verander.