Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Moet Christene by heiligdomme aanbid?

Moet Christene by heiligdomme aanbid?

ELKE jaar reis meer as sesmiljoen mense na ’n afgeleë sederwoud op die Sjima-skiereiland in Japan. Hulle kom na die Ise Grand-tempel, waar die Sjinto-songodin, Amaterasoe Omikami, al sowat tweeduisend jaar aanbid word. Die aanbidders reinig hulle eers deur hulle hande en mond te was. Dan, wanneer hulle voor die tempel se haiden (aanbiddingsaal) staan, volg hulle ’n ritueel waarin hulle voor die godin buig, hande klap en tot haar bid. * Aanhangers van die Sjinto-godsdiens mag ook ander godsdienste beoefen, en party Boeddhiste, verklaarde Christene en ander meen dat dit nie in stryd is met hulle godsdiens om die Sjinto-rituele by hierdie tempel te verrig nie.

Baie van die wêreld se vernaamste godsdienste het heiligdomme, * en dit word deur miljoene mense besoek. In sogenoemde Christenlande is daar talle kerke en heiligdomme wat aan Jesus, Maria en die heiliges gewy is. Soortgelyke heiligdomme is op plekke waar Bybelse gebeurtenisse of “wonderwerke” van onlangser tye glo plaasgevind het of waar godsdiensrelieke bewaar word. Baie mense gaan na heiligdomme omdat hulle glo dat die kans groter is dat hulle gebede verhoor sal word as dit op ’n heilige plek gedoen word. Vir ander is die besoek aan ’n heiligdom die hoogtepunt van ’n lang pelgrimstog wat hulle onderneem het as ’n teken van hulle godsdienstige toegewydheid.

Besoekers by die Ise Grand-tempel, Japan, en die Massabielle-grot, Lourdes, Frankryk

Is die kans groter dat jou gebede verhoor sal word as jy dit by ’n heiligdom doen? Behaag dit God wanneer mense hulle toegewydheid toon deur pelgrimstogte te onderneem om heiligdomme te besoek? Nog belangriker, moet Christene by heiligdomme aanbid? Die antwoorde op hierdie vrae sal nie net vir ons toon hoe ons aanbidding by heiligdomme moet beskou nie, maar sal ons ook help om te verstaan watter soort aanbidding God werklik behaag.

AANBID “MET GEES EN WAARHEID”

Wat het Jesus bedoel toe hy gesê het dat ons “met gees en waarheid” moet aanbid?

’n Gesprek wat Jesus met ’n Samaritaanse vrou gehad het, toon wat God se beskouing is van aanbidding by heiligdomme. Toe Jesus deur Samaria gereis het, het hy by ’n put naby die stad Sigar gestop om te rus. Hy het met ’n vrou begin gesels wat water by die put kom skep het. Terwyl hulle gesels het, het die vrou genoem dat daar ’n groot verskil is tussen die godsdiens van die Jode en dié van die Samaritane. “Ons voorvaders het op hierdie berg aanbid”, het sy gesê, “maar julle sê die plek waar mense behoort te aanbid, is in Jerusalem.”​—Johannes 4:5-9, 20.

Die berg waarna die vrou verwys het, was die berg Gerisim, sowat 50 kilometer noord van Jerusalem. Die Samaritane het vroeër ’n tempel op hierdie berg gehad waar hulle feeste soos die Pasga gevier het. Maar Jesus het nie op hierdie verskil tussen hulle gekonsentreer nie, hy het eerder vir die vrou gesê: “Vrou, glo my: Die uur kom wanneer julle die Vader nie op hierdie berg of in Jerusalem sal aanbid nie” (Johannes 4:21). Wat ’n verstommende opmerking, veral komende van ’n Jood! Waarom sou die aanbidding by God se tempel in Jerusalem tot ’n einde kom?

Jesus het verder gesê: “Die uur kom, en dit is nou, wanneer die ware aanbidders die Vader met gees en waarheid sal aanbid, want die Vader soek inderdaad sulke mense om hom te aanbid” (Johannes 4:23). Die Jode het die luisterryke tempel in Jerusalem eeue lank as die middelpunt van hulle aanbidding beskou. Hulle het drie keer ’n jaar daarheen gereis om offerandes aan hulle God, Jehovah, te bring (Eksodus 23:14-17). Maar Jesus het gesê dat dit alles sou verander en dat “ware aanbidders” “met gees en waarheid” sou aanbid.

Die Joodse tempel was ’n tasbare gebou op ’n spesifieke geografiese plek. Maar gees en waarheid is nie tasbaar nie en is ook nie tot ’n letterlike plek beperk nie. Jesus het dus verduidelik dat geen letterlike gebou of ligging die middelpunt van die ware Christelike geloof sou vorm of daarvan afhanklik sou wees nie, hetsy die berg Gerisim, die tempel in Jerusalem of enige ander heilige plek.

In sy gesprek met die Samaritaanse vrou het Jesus ook genoem dat “die uur” vir hierdie verandering in God se aanbidding “kom”. Wanneer sou dit wees? Die uur het gekom toe Jesus, deur sy offerdood, die Joodse stelsel van aanbidding wat op die Wet van Moses gegrond was, tot ’n einde gebring het (Romeine 10:4). Maar Jesus het ook gesê: “Die uur . . . is nou.” Waarom? Omdat hy as die Messias reeds dissipels begin versamel het wat die bevel sou gehoorsaam wat hy daarna gegee het: “God is ’n Gees, en dié wat hom aanbid, moet met gees en waarheid aanbid” (Johannes 4:24). Maar wat beteken dit om met gees en waarheid te aanbid?

Toe Jesus gesê het dat ons met gees moet aanbid, het hy nie van ’n uiters geesdriftige, lewendige of entoesiastiese vorm van aanbidding gepraat nie. Hy het eerder bedoel dat ons gelei moet word deur God se heilige gees, wat ons onder andere help om die Skrif te verstaan (1 Korintiërs 2:9-12). En die waarheid waarna Jesus verwys het, is juiste kennis van Bybelleringe. Ons hoef dus nie by ’n spesiale plek te aanbid nie. Ons aanbidding sal vir God aanneemlik wees as dit met Bybelleringe ooreenstem en deur die heilige gees gerig word.

DIE CHRISTELIKE BESKOUING VAN HEILIGDOMME

Hoe moet Christene dus pelgrimstogte na en aanbidding by heiligdomme beskou? As ons Jesus se bevel in ag neem dat ware aanbidders God met gees en waarheid moet aanbid, is dit duidelik dat aanbidding by enige heiligdom geen spesiale waarde vir ons hemelse Vader het nie. Die Bybel sê ook vir ons hoe God die verering van afgode in aanbidding beskou. Dit sê: “Vlug vir die afgodediens” en “bewaar julle van afgode” (1 Korintiërs 10:14; 1 Johannes 5:21). Daarom sal ’n ware Christen nie by enige plek aanbid wat op sigself as heilig beskou word of wat afgodediens bevorder nie. Op grond van wat die Bybel sê, sal ware Christene aanbidding by heiligdomme vermy.

Maar dit beteken nie dat God se Woord ons verbied om ’n spesifieke plek te hê waar ons bid, studeer of peins nie. ’n Vergaderplek wat ordelik en waardig is, maak dit makliker om te leer en geestelike dinge te bespreek. Dit is ook nie verkeerd om ’n gedenkteken, soos ’n grafsteen, op te rig vir ’n iemand wat gesterf het nie. Baie doen dit bloot as ’n blyk van liefde vir die persoon of as ’n herinnering aan hom. Maar om so ’n plek as heilig te beskou of beelde of relieke daar te vereer, sal heeltemal in stryd wees met Jesus se woorde.

Daarom hoef jy nie na ’n heiligdom te gaan in die hoop dat God daar na jou gebed sal luister nie. En ook sal ’n pelgrimstog na ’n heiligdom God nie behaag of jou van spesiale seëninge verseker nie. Die Bybel sê vir ons dat Jehovah God, die “Here van hemel en aarde . . . , nie in handgemaakte tempels [woon] nie”. Maar dit beteken nie dat God onbereikbaar is nie. Ons kan op enige plek tot hom bid en verhoor word, want hy is “nie ver van elkeen van ons af” nie.​—Handelinge 17:24-27.

^ par. 2 Rituele by verskillende Sjinto-tempels kan verskil.

^ par. 3 Sien die venster “ Wat is ’n heiligdom?