Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Beloftes wat waar sal word

Beloftes wat waar sal word

Die goeie nuus van God se Koninkryk word regoor die wêreld verkondig, net soos Jesus voorspel het (Matteus 24:14). Die Bybelboek Daniël sê vir ons dat hierdie Koninkryk ’n regering deur God is. Hoofstuk 2 van hierdie boek bevat ’n profesie wat wys hoe sekere magtige menseregerings of koninkryke mekaar opgevolg het van Babilon se tyd af tot in ons dag. Vers 44 van hierdie hoofstuk voorspel wat nog sal gebeur en sê:

“Die God van die hemel [sal] ’n koninkryk oprig wat nooit vernietig sal word nie. En die koninkryk sal aan geen ander volk oorgedra word nie. Dit sal al hierdie koninkryke verbrysel en daar ’n einde aan maak, en self sal dit tot onbepaalde tye bly staan.”

Bybelprofesieë soos hierdie en ander voorspel dat God se Koninkryk alle ander menseregerings sal vervang en vrede en orde vir alle mense op die aarde sal bring. Hoe sal ons lewe wees wanneer daardie Koninkryk regeer? Hier is ’n paar wonderlike beloftes wat binnekort waar sal word.

  • GEEN OORLOË NIE

    Psalm 46:9: “[God] laat oorloë ophou tot aan die einde van die aarde. Die boog verbreek hy en die spies kap hy stukkend; die waens verbrand hy met vuur.”

    Dink net hoe die aarde sal wees as al die geld en die kennis wat nou gebruik word om wapens te maak en wat mense doodmaak, eerder gebruik word op gebiede wat mense sal help! Hierdie belofte sal ’n werklikheid word onder God se Koninkryk.

  • GEEN SIEKTE NIE

    Jesaja 33:24: “Geen inwoner sal sê: ‘Ek is siek’ nie.”

    Dink aan ’n wêreld waar niemand meer hartsiektes, kanker, malaria en ander siektes sal kry nie. Daar sal nie meer hospitale en medikasie nodig wees nie. In die toekoms sal die aarde se inwoners volmaakte gesondheid hê.

  • GEEN VOEDSELTEKORTE NIE

    Psalm 72:16: “Daar sal volop graan op die aarde wees; op die top van die berge sal daar ’n oorvloed wees.”

    Daar sal genoeg voedsel op die aarde wees en dit sal vir almal beskikbaar wees. Mense sal nie meer honger en ondervoed wees nie.

  • GEEN PYN, HARTSEER EN DOOD NIE

    Openbaring 21:4: “[God] sal elke traan van hulle oë afvee, en die dood sal daar nie meer wees nie, en ook verdriet en angsgeroep en pyn sal daar nie meer wees nie. Die vorige dinge het verbygegaan.”

    Dit beteken dat ons volmaak sal wees en vir ewig op ’n paradysaarde sal lewe! Dit is wat ons liefdevolle Skepper, Jehovah God, belowe het.

‘DIT SAL BESLIS SUKSES BEHAAL’

Klink dit alles te goed om waar te wees? Die meeste mense sal gou saamstem dat die lewe wat in die Bybel belowe en beskryf word, iets is wat almal graag wil hê. Maar vir verskillende redes vind baie mense dit moeilik om die idee van ewige lewe te verstaan. Dit verbaas ons nie, want geen mens het al ooit vir ewig gelewe sodat hulle vir ons daarvan kan vertel nie.

Mense is al so lank slawe van sonde en die dood en hulle het pyn ervaar, swaargekry en deur moeilike tye gegaan. Daarom aanvaar hulle dat hierdie dinge deel is van die lewe en normaal is. Maar dit is glad nie wat ons Skepper, Jehovah God, vir die mens wou gehad het nie.

God het ons gehelp om te besef hoe betroubaar sy beloftes is deur te sê: “Dit sal nie sonder resultate na my toe terugkeer nie, maar dit sal beslis doen wat my behaag en sal beslis sukses behaal in alles waarvoor ek dit gestuur het.” — Jesaja 55:11.

Jehovah word in die Bybel beskryf as die God “wat nie kan lieg nie” (Titus 1:2). Omdat hy al hierdie wonderlike dinge vir die toekoms belowe het, sal dit verstandig wees as ons oor die volgende vrae nadink: Is dit regtig vir die mens moontlik om vir ewig te lewe op die Paradysaarde wat God belowe het? Wat moet ons doen om die voordele van God se belofte te geniet? In hierdie tydskrif sal jy inligting vind wat jou sal help om die antwoorde op hierdie vrae te kry.