Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Wat sal in die toekoms gebeur?

Wat sal in die toekoms gebeur?

Het jy al ooit gewonder wat die toekoms vir jou en jou gesin inhou? Sal jy ryk of arm wees? Sal jy liefde vind of alleen wees? Sal jy lank lewe of vroeg doodgaan? Mense wonder al duisende jare lank oor hierdie vrae.

Geleerdes kyk vandag na wêreldgebeure en voorspel wat dalk in die toekoms sal gebeur. Hoewel baie van hulle voorspellings waar geword het, het ander glad nie waar geword nie. Byvoorbeeld, in 1912 het Guglielmo Marconi, die uitvinder van die draadlose telegraaf, glo voorspel: “Noudat die draadlose-era aangebreek het, is oorlog onmoontlik.” En ’n agent van die Decca-platemaatskappy, wat die Beatles in 1962 weggewys het, het gedink dat musiekgroepe wat kitaar speel, uit die mode sal gaan.

Baie mense dink dat die geestewêreld hulle sal help om meer oor die toekoms uit te vind. Party vra toekomsvoorspellers vir raad. En mense lees horoskope in tydskrifte en koerante, waar die sterre gebruik word om die toekoms te voorspel. Ander gaan weer na fortuinvertellers of geestemediums. Hierdie mense sê dat hulle kan “sien” wat in die toekoms gaan gebeur deur die patrone in tarotkaarte, getalle of die lyne op ’n persoon se hand te gebruik.

Party het in die ou tyd ook probeer uitvind wat in die toekoms sal gebeur deur na orakels te gaan. Dit was manlike of vroulike priesters wat inligting oorgedra het van die god wat hulle gesê het hulle verteenwoordig. Byvoorbeeld, daar word gesê dat koning Kroisos van Lidië duur geskenke na die orakel van Delfi, Griekeland, gestuur het omdat hy wou weet wie sou wen as hy teen Kores van Persië gaan veg. Die orakel het gesê dat Kroisos “’n groot koninkryk” sou vernietig as hy teen Kores gaan baklei. Omdat Kroisos oortuig was dat hy sou wen, het hy teen Kores gaan veg, maar die groot koninkryk wat vernietig was, was toe eintlik sy eie!

Omdat die orakel se voorspelling so onduidelik was, het dit niemand gehelp nie. Dit sou gelyk het asof die voorspelling waar is, maak nie saak wie die oorlog gewen het nie. Kroisos het alles verloor as gevolg van hierdie verwarrende inligting. Maar wat van mense wat vandag se gewilde maniere gebruik om die toekoms te voorspel? Kon hulle meer oor die toekoms uitvind?