Wanneer ’n geliefde sterf
AS JY al ’n geliefde in die dood verloor het, het jy dalk ook ’n klomp verskillende emosies ondervind: van hartseer tot eensaamheid en hulpeloosheid. Miskien het jy ook kwaad, skuldig en bang gevoel. Dalk het jy selfs gewonder of die lewe nog die moeite werd is.
Wees verseker dat hartseer nie ’n teken van swakheid is nie. Dit wys eerder hoeveel jou geliefde vir jou beteken het. Maar wat kan jou help om die hartseer te verlig?
WAT PARTY GEHELP HET
Dit voel miskien of jou pyn nooit sal ophou nie, maar die volgende wenke kan jou help:
GEE JOUSELF TYD OM TE TREUR
Nie almal treur op dieselfde manier of ewe lank nie. Maar as ’n mens huil, kan dit help om die pyn te verlig. Vanessa, wat vroeër aangehaal is, sê: “Ek het dikwels net gehuil. Dit het gehelp om die pyn te verlig.” Sofía, wie se suster skielik oorlede is, sê: “Dis vir my baie pynlik om deur my gedagtes en gevoelens te werk. Dis soos om ’n wond oop te maak en te ontsmet. Dis verskriklik pynlik, maar dit help die wond om te genees.”
PRAAT OOR JOU GEDAGTES EN GEVOELENS
Dit is te verstane dat jy soms alleen wil wees. Maar moenie jou hartseer alleen probeer dra nie.
Jared, wat 17 jaar oud is en wat sy pa verloor het, vertel: “Ek het met ander oor my emosies gepraat. Ek dink nie my woorde het veel sin gemaak nie, maar dit was vir my goed om te praat oor hoe ek voel.” Janice, wat in die eerste artikel aangehaal word, sê: “Dit was baie vertroostend om met ander te praat. Ek het gevoel dat hulle verstaan, en ek het nie meer so alleen gevoel nie.”AANVAAR HULP
Een dokter sê oor mense wat ’n geliefde in die dood verloor het: “Mense wat die hulp van vriende en familielede aanvaar om die aanvanklike skok te verwerk, vind dit gewoonlik makliker om deur die verskillende fases van die rouproses te kom.” Sê vir jou vriende wat hulle kan doen om te help. Hulle wil waarskynlik help, maar weet dalk nie hoe nie. – Spreuke 17:17.
KOM NADER AAN GOD
Tina sê: “Toe my man skielik aan kanker dood is, kon ek nie meer met hom oor my gevoelens praat nie, en daarom het ek met God oor alles gepraat! Ek het elke dag begin deur hom te vra om my te help om deur die dag te kom. God het my op meer maniere gehelp as wat ek kan opnoem.” Tarsha, wat 22 jaar oud was toe haar ma gesterf het, sê: “Ek het elke dag my Bybel gelees, en dit het my vertroos. Dit het my iets aanmoedigends gegee om oor na te dink.”
DINK AAN DIE OPSTANDING
Tina sê verder: “Aan die begin het die opstandingshoop my nie vertroos nie, want ek het my man op daardie oomblik nodig gehad, en my seuns het hulle pa nodig gehad. Maar nou, vier jaar later, klou ek vas aan hierdie hoop. Dis vir my ’n lewenslyn. Ek dink aan die tyd wanneer ek hom weer sal sien, en dit gee my soveel innerlike vrede en vreugde!”
Jou hartseer sal waarskynlik nie onmiddellik weggaan nie. Maar kyk wat Vanessa ondervind het. Sy sê: “Jy dink dalk dat jy nooit daardeur sal kom nie, maar die son sal weer helder skyn.” Watter vertroostende woorde!
Onthou, die lewe is nog steeds die moeite werd, selfs al gaan die leë gevoel in jou hart nie weg nie. Met God se liefdevolle hulp, kan jy nog steeds goeie vriendskappe en ’n betekenisvolle lewe geniet. En God sal die dooies binnekort opwek. Hy wil hê dat jy jou geliefdes weer moet sien. Dan sal daardie pyn in jou hart, vir ewig genees wees!