Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Gaan hierdie wêreld tot ’n einde kom?

Gaan hierdie wêreld tot ’n einde kom?

Dalk weet jy dat die Bybel oor die einde van die wêreld praat (1 Johannes 2:17). Verwys dit na die einde van die mensdom? Sal die planeet Aarde ’n plek sonder lewe word of heeltemal vernietig word?

DIE BYBEL SE ANTWOORD OP ALBEI HIERDIE VRAE IS NEE!

Wat sal nie eindig nie?

DIE MENSDOM

Wat die Bybel sê: God het die aarde ‘nie verniet geskep nie, maar het dit gemaak om bewoon te word’. – JESAJA 45:18.

DIE PLANEET AARDE

Wat die Bybel sê: “’n Geslag gaan, en ’n geslag kom, maar die aarde bestaan vir ewig.” – PREDIKER 1:4.

WAT DIT BETEKEN: Volgens die Bybel sal die aarde nooit vernietig word nie en sal dit altyd bewoon word. So wat beteken die einde van die wêreld?

DINK HIERAAN: Die Bybel vergelyk die komende einde van hierdie wêreld met wat in die dae van Noag gebeur het. Op daardie stadium was die aarde “vol geweld” (Genesis 6:13). Maar Noag was regverdig. Daarom het God Noag en sy familie beskerm, maar Hy het die goddelose mense met ’n vloed vernietig. Die Bybel sê oor wat in daardie tyd gebeur het: “Die wêreld van daardie tyd [is] vernietig toe dit met water oorstroom is” (2 Petrus 3:6). Dit was die einde van ’n wêreld wat toe bestaan het. Maar wat was vernietig? Nie die aarde nie, maar die goddelose mense op die aarde. So wanneer die Bybel oor die einde van die wêreld praat, verwys dit nie na die vernietiging van die planeet nie. Dit verwys eerder na die einde van goddelose mense op die aarde en na die stelsel van dinge wat deur hulle gevorm is.

Wat sal eindig?

PROBLEME EN GODDELOOSHEID

Wat die Bybel sê: “Nog net ’n klein rukkie en die goddeloses sal nie meer bestaan nie. Jy sal kyk na die plek waar hulle was, en hulle sal nie daar wees nie. Maar die nederiges sal die aarde besit, en hulle sal groot vreugde vind in die oorvloed van vrede.” – PSALM 37:10, 11.

WAT DIT BETEKEN: Die Vloed in Noag se dag het nie goddeloosheid heeltemal vernietig nie. Ná die Vloed het goddelose mense die lewe weer mislik vir almal gemaak. Maar binnekort sal God ’n einde aan goddeloosheid maak. Soos die psalmis gesê het: “Die goddeloses sal nie meer bestaan nie.” God sal ’n einde maak aan goddeloosheid deur middel van sy Koninkryk – ’n wêreldregering wat uit die hemel regeer oor mense wat gehoorsaam is aan God.

DINK HIERAAN: Sal die wêreld se leiers bly wees om God se Koninkryk te ondersteun? Die Bybel sê hulle sal nie. Hulle sal dom optree en God se Koninkryk teëstaan (Psalm 2:2). Wat sal die gevolg wees? God se Koninkryk sal alle menseregerings vervang, en “dit alleen sal vir ewig bestaan” (Daniël 2:44). Maar hoekom moet menseregerings tot ’n einde kom?

WAT ONS NODIG HET EN HOEKOM – ’n Einde aan menseregerings

Wat die Bybel sê: “Dit behoort nie aan die mens wat loop om sy voetstappe te rig nie.” – JEREMIA 10:23.

WAT DIT BETEKEN: Die mens is nie geskep om oor hulleself te regeer nie. Hulle kan nie behoorlik oor ander mense regeer en hulle probleme oplos nie.

DINK HIERAAN: Britannica Academic sê dat dit lyk asof individuele regerings “nie probleme soos armoede, mense wat honger ly, siekte, natuurrampe en oorlog of ander geweld kan oplos nie”. Dit sê dan verder: “Party . . . glo dat net ’n wêreldregering ewige oplossings vir hierdie probleme het.” Maar selfs al werk alle menseregerings saam, sou die wêreld nog steeds deur onvolmaakte mense regeer word wat nie die probleme wat hierbo genoem word, kan oorkom nie. God se Koninkryk is die enigste regering wat die mag het om al die probleme in die wêreld permanent op te los.

So volgens die Bybel is die einde van die wêreld – die huidige goddelose stelsel van dinge – nie iets waarvoor goeie mense hoef bang te wees nie. Dit is eerder iets om na uit te sien omdat hierdie slegte ou wêreld deur God se wonderlike nuwe wêreld vervang sal word!

Wanneer sal dit gebeur? Die volgende artikel sal die Bybel se antwoord verduidelik.