Verstaan God jou?
WAT DIE SKEPPING ONS LEER
Dink aan een van die sterkste verhoudings wat mense kan hê — die verhouding van ’n identiese tweeling. Hulle is baie na aan mekaar. Nancy Segal, ’n direkteur van ’n sentrum wat tweelinge studeer en wat self een van ’n tweeling is, sê: Party tweelinge “weet [selfs] hoe dit voel om iets vir iemand te sê wat presies verstaan hoe hy voel sonder dat hy hoef te verduidelik”. Een vrou beskryf die verhouding tussen haar en haar identiese tweeling op hierdie manier: “Ons weet net mooi alles van mekaar.”
Hoekom verstaan tweelinge mekaar op hierdie unieke manier? Volgens ’n paar studies lyk dit asof dit saak maak in watter soort omgewing identiese tweelinge grootword en hoe hulle ouers hulle grootmaak, maar die feit dat hulle geneties dieselfde is, speel nog ’n belangriker rol.
DINK HIERAAN: Die Skepper van al hierdie ongelooflike genetiese materiaal ken elkeen van ons beslis beter as enigiemand anders. Die psalmis Dawid het gesê: “U het my afgeskerm gehou in die skoot van my moeder. My gebeente was nie vir u verborge toe ek in die geheim gemaak is [nie]. . . . U oë het selfs my embrio gesien, en in u boek was al die dele daarvan opgeskrywe” (Psalm 139:13, 15, 16). God is die enigste een wat weet en heeltemal verstaan hoe ons geneties saamgestel is en wat alles in ons lewe gebeur het om ons persoonlikheid te vorm. Die feit dat God hierdie unieke kennis oor ons het, verseker ons dat hy regtig alles omtrent ons verstaan.
WAT DIE BYBEL ONS LEER OOR DIE FEIT DAT GOD ONS VERSTAAN
Dawid het gebid: “O Jehovah, u het my deurvors, en u ken my. U het my sit en my opstaan te wete gekom. U het van ver af op my gedagte gelet. Want daar is nog geen woord op my tong nie, maar kyk! o Jehovah, u weet dit reeds alles” (Psalm 139:1, 2, 4). Jehovah is ook bewus van ons innerlike gevoelens en “onderskei elke neiging van die gedagtes” (1 Kronieke 28:9; 1 Samuel 16:6, 7). Wat wys hierdie verse ons oor God?
Alhoewel ons nie met God oor al ons gedagtes en gevoelens in gebed praat nie, sien ons Skepper wat ons doen en verstaan hy ook hoekom ons dit doen. Wat meer is, hy verstaan dat ons graag goeie dinge wil doen, selfs al laat ons beperkings ons nie toe om dit te doen nie. Omdat God in die eerste plek liefde in ons hart gesit het, is hy nie net gewillig nie, maar wil hy ook baie graag ons liefdevolle gedagtes en beweegredes raaksien en verstaan. — 1 Johannes 4:7-10.
God sien absoluut alles raak. Selfs wanneer ander nie weet dat jy swaarkry of verstaan waardeur jy gaan nie, is God hiervan bewus
Die Bybel verseker ons
-
“Die oë van Jehovah is op die regverdiges, en sy ore is tot hulle smeking.” — 1 PETRUS 3:12.
-
God belowe: “Ek sal jou insig gee en jou onderrig in die weg wat jy moet gaan. Ek sal raad gee met my oog op jou.” — PSALM 32:8.
GOD HET BAIE MEEGEVOEL
Kan dit ons help om deur moeilike tye te kom as ons weet dat God ons situasie en gevoelens verstaan? Kyk na wat met Anna van Nigerië gebeur het. Sy verduidelik: “My moeilike omstandighede het gemaak dat ek gewonder het of dit die moeite werd is om aan te gaan met my lewe. Ek was ’n weduwee wat vir my dogter gesorg het. Terwyl sy in die hospitaal was met hidrosefalie (te veel vloeistof op die brein), het ek uitgevind dat ek borskanker het. Ek moes vir ’n operasie, chemoterapie en bestraling gaan. Dit was vir my baie moeilik om op dieselfde tyd as my siek dogter in die hospitaal te wees.”
Wat het Anna gehelp om hierdeur te kom? “Ek het oor tekste soos Filippense 4:6, 7 nagedink, wat sê: ‘Die vrede van God wat alle denke te bowe gaan, sal julle harte en julle verstandelike vermoëns . . . bewaak.’ Elke keer as hierdie teks in my gedagte opgekom het, het dit gevoel asof my verhouding met Jehovah sterker word omdat ek geweet het dat hy my beter verstaan as wat ek myself verstaan. Ek het ook baie aanmoediging gekry van my liefdevolle geestelike broers en susters in die Christengemeente.
“Alhoewel ek nog steeds met my gesondheid sukkel, het ons situasie verbeter. Omdat ons Jehovah aan ons kant het, het ons geleer om nie negatief te wees wanneer ons deur moeilike tye gaan nie. Jakobus 5:11 verseker ons: ‘Ons noem dié wat volhard het gelukkig. Julle het gehoor van die volharding van Job en het gesien hoe Jehovah dit laat afloop het, dat Jehovah baie teer in geneentheid en barmhartig is.’” Jehovah het Job se situasie heeltemal verstaan, en daarom kan ons seker wees dat hy ook verstaan wanneer ons deur moeilike tye gaan.