Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Hoe ons nou al ’n gelukkige lewe kan hê

Hoe ons nou al ’n gelukkige lewe kan hê

DINK aan ’n tyd wanneer niemand meer sal siek word, oud word of sterf nie. So ’n wonderlike toekoms kan joune wees! Maar vandag is die lewe vol probleme. Wat kan jou help om nou al ’n gelukkige lewe te hê? Die Bybel gee raad wat jou kan help. Kom ons bespreek ’n paar van die uitdagings van die lewe en hoe die Bybel ons daarmee kan help.

HOE OM TEVREDENHEID TE VIND

Die Bybel se raad: “Laat julle lewenswyse vry wees van die liefde vir geld, terwyl julle tevrede is met die teenwoordige dinge.” – Hebreërs 13:5.

Die wêreld bombardeer ons met baie produkte en dienste wat volgens hulle noodsaaklik is. Maar die Bybel sê dat ons ‘tevrede moet wees met die teenwoordige dinge’. Hoe?

Vermy “die liefde vir geld”. “Die liefde vir geld” veroorsaak dikwels dat mense hulle gesondheid, familie, vriendskappe, waardes en selfs hulle selfrespek verloor (1 Timoteus 6:10). Wat ’n hoë prys om te betaal! Die Bybel sê dat iemand wat rykdom liefhet, nooit tevrede sal wees nie. – Prediker 5:10.

Wees lief vir mense, nie dinge nie. Materiële dinge kan ons help. Maar net mense kan ons liefhê en waardeer, nie dinge nie. As jy ’n ware vriend het, sal dit jou help om tevredenheid in die lewe te vind. – Spreuke 17:17.

AS ONS DIE BYBEL SE RAAD VOLG, KAN ONS NOU AL ’N GELUKKIGE LEWE HÊ

HOE OM GESONDHEIDSPROBLEME TE HANTEER

Die Bybel se raad: “’n Vreugdevolle hart is ’n goeie geneesmiddel.” – Spreuke 17:22.

Soos goeie medisyne kan vreugde ons help om gesondheidsprobleme te hanteer. Maar hoe kan ons vreugdevol wees wanneer ons met gesondheidsprobleme sukkel?

Waardeer die goeie dinge. As ons net aan ons probleme dink, sal elke dag vir ons sleg lyk (Spreuke 15:15). Maar die Bybel sê vir ons: “Toon dat julle dankbaar is” (Kolossense 3:15). Leer om die goeie dinge in die lewe te waardeer, maak nie saak hoe klein dit is nie. Klein dingetjies soos ’n pragtige sonsondergang, ’n briesie en die glimlag van ’n geliefde kan ons help om die lewe te geniet.

Doen dinge vir ander. Al sukkel ons met gesondheidsprobleme, maak dit ons gelukkiger om te gee as om te ontvang (Handelinge 20:35). Wanneer ander waardeer wat ons doen, gee dit ons ’n gevoel van tevredenheid, en dit help ons om nie aan ons probleme te dink nie. Ons kan ons lewe beter maak deur ander te help om hulle lewe beter te maak.

HOE OM DIE HUWELIK TE VERSTERK

Die Bybel se raad: ‘Maak seker van die belangriker dinge.’ – Filippense 1:10.

Paartjies wat min tyd saam spandeer, kan dalk van mekaar af wegdryf. Dit sal dus wys wees vir huweliksmaats om hulle huwelik ’n prioriteit te maak – een van die belangrikste dinge in hulle lewe.

Doen dinge saam. Hoekom beplan julle nie om dinge saam te doen, eerder as om dinge waarvan jy hou, alleen te doen nie? “Twee is beter as een”, sê die Bybel (Prediker 4:9). Julle kan dalk saam kook, oefen, ontspan of iets anders saam doen wat julle al twee geniet.

Wys dat jy jou maat liefhet. Die Bybel spoor huweliksmaats aan om mekaar lief te hê en te respekteer (Efesiërs 5:28, 33). ’n Liefdevolle glimlag, ’n drukkie of ’n geskenkie maak ’n groot verskil in die huwelik en kan ’n huwelik versterk. Seksuele intimiteit in die huwelik is nog ’n manier waarop huweliksmaats hulle liefde vir mekaar kan bewys. Maar huweliksmaats moet onthou dat seksuele intimiteit net tussen hulle twee moet wees. – Hebreërs 13:4.