Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Hoekom word ons oud en sterf ons?

Hoekom word ons oud en sterf ons?

GOD wou nie hê dat mense moet sterf nie. Ons eerste ouers, Adam en Eva, is met ’n volmaakte verstand en liggaam geskep. Hulle kon vandag nog gelewe het. Hoe weet ons dit? Wel, kom ons kyk na wat Jehovah vir Adam gesê het oor ’n sekere boom in die tuin van Eden.

God het vir Adam gesê: “Die dag as jy [van die boom] eet, sal jy sekerlik sterf” (Genesis 2:17). Wat God hier gesê het, sou nie sin gemaak het as Adam in elk geval sou gesterf het nie. Adam het geweet dat hy nie sou sterf solank hy nie van die boom eet nie.

GOD WOU NIE HÊ DAT MENSE MOET STERF NIE

Dit was nie vir Adam en Eva nodig om van daardie boom te eet om aan die lewe te bly nie, want die tuin was vol vrugtebome (Genesis 2:9). Deur nie van die boom te eet nie, sou hulle vir God gewys het dat hulle aan hom gehoorsaam is. En hy is tog die Een wat vir hulle die lewe gegee het. Hulle sou ook gewys het dat hulle God se reg erken om vir hulle te sê wat hulle moet doen en nie moet doen nie.

WAAROM ADAM EN EVA GESTERF HET

Kom ons kyk na wat in die tuin van Eden gebeur het om uit te vind hoekom Adam en Eva gesterf het. Satan die Duiwel het deur middel van ’n slang ’n verskriklike leuen vertel. Die Bybel sê: “Die slang was die versigtigste van al die wilde diere van die veld wat Jehovah God gemaak het. Toe het hy vir die vrou begin sê: ‘Is dit werklik so dat God gesê het dat julle nie van al die bome van die tuin mag eet nie?’” – Genesis 3:1.

Eva het toe geantwoord: “Van die vrugte van die bome van die tuin mag ons eet. Maar van die vrugte van die boom wat in die middel van die tuin is, het God gesê: ‘Julle mag daarvan nie eet nie, nee, julle mag daaraan nie raak nie, sodat julle nie sterf nie.’” Toe het die slang vir die vrou gesê: “Julle sal sekerlik nie sterf nie. Want God weet dat die dag as julle daarvan eet, julle oë sekerlik geopen sal word en julle sekerlik soos God sal word deur goed en kwaad te ken.” Satan het dus beweer dat Jehovah ’n leuenaar is wat iets goeds van Adam en Eva weghou. – Genesis 3:2-5.

Eva het geglo wat sy gehoor het. Sy het met verlange na die boom gekyk. Dit het vir haar so mooi en lekker gelyk! Sy het van die vrugte gepluk en daarvan begin eet. Dan sê die Bybel: “Daarna het sy ook vir haar man daarvan gegee toe hy by haar was, en hy het dit begin eet.” – Genesis 3:6.

God het vir Adam gesê: “Die dag as jy daarvan eet, sal jy sekerlik sterf.” – GENESIS 2:17

Hoe hartseer moes dit tog vir God gewees het om te sien hoe sy geliefde kinders opsetlik aan hom ongehoorsaam is! Wat het hy gedoen? Jehovah het vir Adam gesê: “Jy [sal] na die grond terugkeer, want daaruit is jy geneem. Want stof is jy en tot stof sal jy terugkeer” (Genesis 3:17-19). Adam het toe uiteindelik gesterf toe hy 930 jaar oud was (Genesis 5:5). Adam het nie hemel toe of na die een of ander geestewêreld gegaan nie. Hy het nie bestaan voordat Jehovah hom uit die stof gemaak het nie. Toe hy gesterf het, het hy dus so leweloos geword soos die stof waaruit hy gemaak is. Hy het opgehou bestaan. Hoe hartseer tog!

WAAROM ONS NIE VOLMAAK IS NIE

Omdat Adam en Eva opsetlik ongehoorsaam was, het hulle hulle volmaaktheid verloor, sowel as die moontlikheid om vir ewig te lewe. Hulle het ’n fisiese verandering ondergaan. Hulle het onvolmaak en sondig geword. Maar hulle ongehoorsaamheid het nie net vir hulle geraak nie. Hulle het hulle sondige toestand aan hulle kinders oorgedra. Romeine 5:12 sê: ‘Deur een mens [Adam] het die sonde in die wêreld ingekom, en die dood deur die sonde, en die dood het só tot alle mense deurgedring omdat hulle almal gesondig het.’

Die Bybel beskryf sonde en die dood as “die omhulling . . . wat al die volke omhul, en die weefsel wat oor al die nasies geweef is” (Jesaja 25:7). Die sonde en die dood omhul, of bedek, die mensdom soos ’n giftige mis waarvan niemand kan ontsnap nie. ‘Almal sterf in Adam’ (1 Korintiërs 15:22). Net soos die apostel Paulus, wonder ons dalk: “Wie sal my red van die liggaam wat hierdie dood ondergaan?” Kan enigiemand dit doen? – Romeine 7:24.