Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Ons is gemaak om vir ewig te lewe

Ons is gemaak om vir ewig te lewe

WIE van ons wil nie ’n lang en gelukkige lewe hê nie? Dink net hoe wonderlik dit sou wees om vir ewig te lewe, gelukkig te wees en goeie gesondheid te geniet! Ons sal meer tyd met ons geliefdes kan spandeer, regoor die wêreld kan reis, nuwe vaardighede kan aanleer en al hoe meer kan leer oor alles waarin ons belangstel.

Is hierdie begeerte onnatuurlik? Glad nie! Die Bybel sê dat God hierdie begeerte in ons hart gesit het (Prediker 3:11). Dit sê ook: “God is liefde” (1 Johannes 4:8). Sou ’n liefdevolle God ons skep met die begeerte om vir ewig te lewe en dit dan onmoontlik maak om hierdie begeerte te bevredig?

Dit is duidelik dat die dood nie ’n vriend is nie. Die Bybel beskryf dit as ’n “vyand” (1 Korintiërs 15:26). Vir party kom dit vroeg, vir ander kom dit later, maar kom sal dit kom. Baie mense voel ongemaklik wanneer hulle daaraan dink. Hulle het selfs ’n vrees daarvoor. Sal hierdie vyand ooit oorwin word? Is dit regtig moontlik?

GOEIE REDE OM HOOP TE HÊ

Het jy geweet dat God nooit wou hê dat mense moet sterf nie? Die Bybelboek Genesis gee bewyse dat God wou hê dat mense vir ewig op die aarde moet lewe. Jehovah God het baie moeite gedoen om seker te maak dat die aarde alles het wat mense nodig het om te lewe en om gelukkig te wees. Toe het hy die eerste mens, Adam, geskep en hom in ’n paradys gesit – ’n tuin in Eden. “Daarna het God alles gesien wat hy gemaak het, en kyk! dit was baie goed.” – Genesis 1:26, 31.

God het Adam na Sy beeld geskep – heeltemal volmaak (Deuteronomium 32:4). Adam se vrou, Eva, was ook perfek in elke opsig. Sy het ’n volmaakte verstand en liggaam gehad. Jehovah het vir hulle gesê: “Wees vrugbaar en word baie en vul die aarde en onderwerp dit, en die visse van die see en die voëls van die hemel en al die diere wat op die aarde kruip, moet aan julle onderworpe wees.” – Genesis 1:28.

Dit sou tyd neem om die aarde met hulle nageslag te vul. Eva sou kinders kry, en daardie kinders sou kinders kry. En uiteindelik sou die aarde vol mense wees, net soos God dit wou hê (Jesaja 45:18). Sou Jehovah vir Adam en Eva gesê het om die aarde te vul as hy wou hê dat hulle net lank genoeg moet lewe om hulle kinders en dalk hulle kleinkinders te sien?

En onthou, God het gesê dat die diere aan hulle onderworpe moet wees. God het vir Adam gesê om vir die diere name te gee, en dit sou tyd geneem het (Genesis 2:19). Maar as die diere aan hom onderworpe moes wees, sou hy eers meer oor hulle moes leer en uitvind hoe om vir hulle te sorg. Dit sou ook baie tyd geneem het.

Die feit dat God gesê het dat hulle die aarde moet vul en dat die diere aan hulle onderworpe moet wees, bewys dat die eerste mensepaar gemaak is om lank te lewe. Om die waarheid te sê, Adam het baie lank gelewe.

GOD WIL HÊ DAT MENSE VIR EWIG IN ’N PARADYS OP AARDE MOET LEWE

HULLE HET BAIE LANK GELEWE

Adam, 930 jaar

Metusalag, 969 jaar

Noag, 950 jaar

Vandag, 70-80 jaar

Die Bybel wys dat mense op ’n stadium baie langer gelewe het as wat ons nou lewe. Dit sê: “Al die dae van Adam wat hy gelewe het, was negehonderd-en-dertig jaar.” Dan noem dit ses ander manne wat meer as 900 jaar gelewe het! Hulle was Set, Enos, Kenan, Jared, Metusalag en Noag. Hulle almal het voor die Vloed van Noag se dag gelewe, en Noag was 600 jaar oud toe die Vloed gekom het (Genesis 5:5-27; 7:6; 9:29). Hoe was dit moontlik om so lank te lewe?

Al hierdie manne het nader aan die tyd gelewe toe mense volmaak was. Dit is waarskynlik hoekom hulle so lank gelewe het. Maar wat is die verband tussen volmaaktheid en ’n lang lewe? En hoe sal die dood oorwin word? Om die antwoorde te vind, moet ons eers verstaan hoekom ons oud word en sterf.