Wat bepaal regtig jou toekoms?
Baie mense glo dat onsigbare dinge hulle toekoms beheer. Omdat hulle dit glo, volg hulle gebruike wat hulle dink hulle toekoms sal verbeter.
WAT BAIE MENSE GLO
ASTROLOGIE: Party mense glo dat die posisie van die sterre by iemand se geboorte, vasstel hoe daardie persoon se toekoms sal wees. Hulle kyk na astrologiese voorspellings, of horoskope, om uit te vind wat met hulle gaan gebeur en om hulle te help om besluite te maak.
FENG SHUI: Ander mense glo dat dit vir hulle sukses sal bring as hulle hulle huis op ’n sekere manier ontwerp. Lo Wing, * wat in Hongkong woon, sê: “’n Kenner in feng shui het vir my gesê dat ek meer geld sal maak as ek ’n spesiale kristal op ’n spesifieke plek in my winkel sit.”
VOOROUERAANBIDDING: Ander mense glo dat hulle hulle dooie voorouers of ander gode moet vereer om deur hulle beskerm en geseën te word. Wan, wat in Viëtnam woon, sê: “Ek het geglo dat as ek my voorouers vereer, ek en my kinders ’n beter lewe nou en in die toekoms sou hê.”
REÏNKARNASIE: Baie mense glo dat wanneer ’n persoon sterf, hy weer gebore word en dat dit oor en oor gebeur. Hulle glo dat die goeie of slegte dinge wat hulle nou ervaar, die gevolg is van dinge wat hulle in ’n vorige lewe gedoen het.
Maar baie mense beskou sulke oortuigings as bygelowigheid. Tog raak hulle nog steeds betrokke by handlesery, horoskope, ouijaborde, tarotkaarte en ander soortgelyke dinge. Hulle dink dat daar dalk ’n kans is dat sulke gebruike hulle kan help om uit te vind wat hulle toekoms inhou.
WAT IS DIE GEVOLGE?
Het mense wat op sulke oortuigings en gebruike vertrou, ’n goeie lewe en ’n beter toekoms gevind?
Kyk na die ondervinding van Hao, wat in Viëtnam woon. Hy het van astrologie, feng shui en vooroueraanbidding gebruik gemaak om hom te help. Was hy toe suksesvol? Hao sê: “My besigheid het misluk, ek was diep in die skuld, ek het gesinsprobleme gehad en ek was ’n emosionele wrak.”
Chomeng, van Taiwan, het ook in astrologie, reïnkarnasie, die noodlot, feng shui en vooroueraanbidding geglo. Nadat hy hierdie oortuigings deeglik ondersoek het, het hy gesê: “Ek het besef dat sulke leringe en gebruike nie met mekaar ooreenstem nie en verwarrend is. Ek het agtergekom dat die astrologiese voorspellings dikwels verkeerd was. En wanneer dit by reïnkarnasie kom, hoe kan jy verander en beter doen in ’n volgende lewe as jy nie eers jou vorige lewe kan onthou nie?”
“Ek het besef dat sulke leringe en gebruike nie met mekaar ooreenstem nie en verwarrend is.” – CHOMENG, TAIWAN
Soos Hao, Chomeng en baie ander besef het, word ons toekoms nie bepaal deur die noodlot, die sterre, dooie voorouers of hergeboorte nie. Beteken dit dat ons nie beheer oor ons toekoms het nie?
Baie mense voel dat hoër onderwys en rykdom ’n beter toekoms waarborg. Wat was die gevolge vir party wat hierdie dinge gekies het?
^ par. 5 Party name is verander in hierdie tydskrif.
^ par. 16 Hierdie woorde word in die Heilige Bybel in Galasiërs 6:7 gevind. Die gedagte word deur bekende Oosterse gesegdes soos volg oorgedra: As jy spanspek plant, sal jy spanspek kry. As jy boontjies plant, sal jy boontjies kry.