Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Aangestelde manne — Leer by Timoteus

Aangestelde manne — Leer by Timoteus

VERLEDE jaar is duisende broers regoor die wêreld as ouer manne en bedieningsknegte aangestel om in gemeentes van Jehovah se Getuies te dien. As jy een van hierdie broers is, is jy sekerlik baie bly oor jou nuwe diensvoorreg.

Maar dalk voel jy ook ’n bietjie angstig. Jason, ’n jong ouer man, sê: “Toe ek aangestel is, het ek nogal oorweldig gevoel deur al my nuwe verantwoordelikhede.” Moses en Jeremia het gevoel dat hulle nie goed genoeg was om die werk te doen wat Jehovah hulle gegee het nie (Eks. 4:10; Jer. 1:6). Is dit ook hoe jy voel? Hoe kan jy hierdie gevoelens oorkom en aanhou om vordering te maak? Kom ons kyk na die voorbeeld van die Christendissipel Timoteus. — Hand. 16:1-3.

VOLG TIMOTEUS SE VOORBEELD NA

Timoteus was moontlik in sy laat tienerjare of vroeë 20’s toe die apostel Paulus hom genooi het om saam met hom op reis te gaan. Timoteus was nog jonk, en daarom het hy in die begin dalk nie so baie selfvertroue gehad nie en was hy dalk skrikkerig om sy nuwe werk te doen (1 Tim. 4:11, 12; 2 Tim. 1:1, 2, 7). Maar tien jaar later kon Paulus vir die gemeente in Filippi sê: ‘Ek hoop in die Here Jesus om Timoteus binnekort na julle toe te stuur, want ek het niemand anders met ’n gesindheid soos syne nie.’ — Fil. 2:19, 20.

Hoekom was Timoteus so ’n goeie ouer man? Kom ons kyk na ses lesse wat ons uit sy voorbeeld kan leer.

1. Hy het werklik vir mense omgegee. Paulus het vir die broers in Filippi gesê: ‘Timoteus sal opreg na die dinge in verband met julle omsien’ (Fil. 2:20). Ja, Timoteus het vir mense omgegee. Hy het regtig in hulle geestelikheid belanggestel en was bereid om alles te doen wat hy kon om hulle te help.

Moenie soos ’n busdrywer wees vir wie dit belangriker is om betyds by elke busstop te wees as om passasiers op te laai nie. William, wat al meer as 20 jaar ’n ouer man is, gee hierdie raad aan broers wat onlangs aangestel is: “Wees lief vir die broers. Fokus op wat hulle nodig het eerder as op die administratiewe kant van sake.”

2. Hy het geestelike dinge eerste gestel. Toe Paulus Timoteus se voorbeeld met ander s’n vergelyk het, het hy gesê: “Al die ander soek hulle eie belange, nie dié van Christus Jesus nie” (Fil. 2:21). Paulus het hierdie brief aan die broers in Filippi geskryf toe hy in Rome was. Terwyl hy daar was, het hy gesien dat die broers in Rome te besig was met hulle persoonlike sake. Wanneer dit by geestelike dinge gekom het, het hulle nie alles gedoen wat hulle kon nie. Maar Timoteus was anders! Wanneer daar ’n geleentheid was om die goeie nuus te bevorder, het hy dieselfde gesindheid as Jesaja gehad, wat gesê het: “Hier is ek! Stuur my.” — Jes. 6:8.

Hoe kan jy ’n balans kry tussen jou persoonlike en geestelike verantwoordelikhede? Eerstens, stel prioriteite. Paulus het ons aangespoor om ‘seker te maak van die belangriker dinge’ (Fil. 1:10). Sorg dat dit wat vir God belangrik is, ook vir jou belangrik is. Tweedens, vereenvoudig jou lewe. Raak ontslae van dinge wat jou tyd en energie mors. Paulus het Timoteus vermaan: “Vlug . . . vir die begeertes wat eie is aan die jeug, maar streef na regverdigheid, geloof, liefde, vrede.” — 2 Tim. 2:22.

3. Hy het hard gewerk in heilige diens. Paulus het die Filippense herinner: “Julle weet watter bewys [Timoteus] van homself gelewer het, dat hy, soos ’n kind saam met ’n vader, saam met my soos ’n slaaf gedien het ter bevordering van die goeie nuus” (Fil. 2:22). Timoteus was nie lui nie. Hy het hard saam met Paulus gewerk, en daarom het hulle baie goeie vriende geword.

Vandag is daar oorgenoeg werk in God se organisasie. Hierdie werk is baie bevredigend en dit kan jou nader aan jou broers en susters bring. Maak dit jou doelwit om altyd baie te hê om “in die werk van die Here te doen”. — 1 Kor. 15:58.

4. Hy het die lesse wat hy geleer het, toegepas. Paulus het aan Timoteus geskryf: “Jy het my leer nougeset gevolg, my lewenswandel, my voorneme, my geloof, my lankmoedigheid, my liefde, my volharding” (2 Tim. 3:10). Timoteus het toegepas wat hy geleer het, en daarom het hy vir groter verantwoordelikhede gekwalifiseer. — 1 Kor. 4:17.

Het jy ’n geestelike mentor, of rolmodel? Dit sal goed wees om ’n rolmodel te kry as jy nog nie een het nie. Tom, wat al jare lank as ’n ouer man dien, sê: “’n Ervare ouer man het my onder sy vlerk geneem en my baie goeie opleiding gegee. Ek het gereeld sy raad gevra en dit dan toegepas. Ek het sommer gou meer selfvertroue gekry.”

5. Hy het op sy eie bly oefen. Paulus het Timoteus vermaan: “Oefen jou . . . met godvrugtige toegewydheid as jou doel” (1 Tim. 4:7). ’n Atleet het dalk ’n afrigter wat hom help, maar hy moet ook op sy eie oefen. Paulus het Timoteus aangespoor: “Jy [moet] voortgaan om jou toe te lê op openbare voorlesing, op vermaning, op onderrigting . . . Peins oor hierdie dinge; wees verdiep daarin, sodat jou vooruitgang vir almal duidelik kan wees.” — 1 Tim. 4:13-15.

Jy moet ook aanhou om jou vaardighede te verbeter. Hou aan om geestelik te vorder, en maak seker dat jy weet wat die nuutste riglyne van die organisasie is. Wees ook versigtig om nie te selfversekerd te word nie. Moet nooit dink dat jy so baie ondervinding het dat jy enige situasie op jou eie kan hanteer sonder om behoorlike navorsing te doen nie. Volg Timoteus se voorbeeld na, en “let voortdurend op jouself en op jou onderrigting”. — 1 Tim. 4:16.

6. Hy het op Jehovah se gees vertrou. Toe Paulus teruggedink het aan Timoteus se bediening, het hy Timoteus herinner: “Bewaar hierdie goeie pand deur die heilige gees wat in ons woon” (2 Tim. 1:14). Timoteus moes op God se gees vertrou om sy bediening te bewaar, of te beskerm.

Donald, wat al dekades lank as ’n ouer man dien, sê: “Aangestelde manne moet hulle verhouding met Jehovah as baie kosbaar beskou. As hulle dit doen, sal hulle van krag tot krag gaan. As hulle vir God se gees bid en die vrug daarvan aankweek, sal hulle ’n ware seën vir hulle broers wees.” — Ps. 84:7; 1 Pet. 4:11.

WAARDEER JOU VOORREG

Dit is regtig aanmoedigend om te sien dat so baie broers wat nuut aangestel is, net soos jy, geestelike vordering maak. Jason, wat aan die begin genoem is, sê: “Vandat ek ’n ouer man geword het, het ek baie geleer en meer selfvertroue gekry. Ek geniet nou regtig my toewysing en beskou dit as ’n wonderlike voorreg!”

Sal jy aanhou om geestelike vordering te maak? Maak dit jou doelwit om by Timoteus te leer. Dan sal jy ook ’n seën vir God se volk wees.