Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Vrae van lesers

Vrae van lesers

In die 2013-hersiene uitgawe van die Engelse “Nuwe Wêreld-vertaling” is Psalm 144:12-15 op God se volk van toepassing. Die vorige uitgawe het hierdie gedeelte toegepas op die goddelose uitlanders wat in vers 11 genoem word. Hoekom is die bewoording verander?

Die Hebreeuse bewoording kan op al twee maniere verstaan word. Die hersiene bewoording is op die volgende faktore gebaseer:

  1. Die bewoording in die hersiene uitgawe word deur woordeboeke en taalreëls ondersteun. Die verband tussen Psalm 144:12-15 en die vorige verse hang af van hoe die eerste woord van vers 12, die Hebreeuse woord asjer, vertaal word. Asjer kan op meer as een manier vertaal word. Byvoorbeeld, dit kan vertaal word as die betreklike voornaamwoord “wie” of “wat”. In die Nuwe Wêreld-vertaling van die Heilige Skrif word dit as “wat” vertaal. Die goeie dinge wat in vers 12 tot 14 genoem word, word dus toegepas op die goddelose uitlanders wat in die vorige verse genoem word. Maar asjer kan ook verwys na ’n resultaat of gevolg en kan vertaal word as “dat”, “sodat” of “dan”. In die 2013-hersiene uitgawe van die Engelse Nuwe Wêreld-vertaling word dit as “dan” vertaal, en party ander Bybels vertaal dit as “sodat”.

  2. Die bewoording in die hersiene uitgawe pas by die res van die psalm. In die hersiene uitgawe word die woord “dan” in vers 12 gebruik, en dit beteken dat die seëninge in vers 12 tot 14 op die regverdiges van toepassing is. Hulle is diegene wat vra om van die goddeloses ‘bevry en verlos’ te word (vers 11). Wanneer die vers so vertaal word, pas dit ook beter by vers 15, want nou is die woord “gelukkig” in albei gevalle van toepassing op dieselfde volk — dié “wie se God Jehovah is!” Ons moet ook in gedagte hou dat die oorspronklike Hebreeuse teks geen leestekens, soos aanhalingstekens, gehad het nie. Daarom moet vertalers seker maak wat die regte betekenis is deur die Hebreeuse digterlike styl, die konteks en die Bybelverse wat daarmee verband hou, in ag te neem.

  3. Die bewoording in die hersiene uitgawe stem ooreen met ander Bybelverse wat belowe dat God sy getroue volk sal seën. Omdat die hersiene uitgawe die woord asjer met “dan” vertaal, stem die psalm nou ooreen met Dawid se hoop dat God die nasie Israel sou seën nadat Hy hulle van hulle vyande gered het. Hulle sou gelukkig wees, en dit sou goed gaan met hulle (Lev. 26:9, 10; Deut. 7:13; Ps. 128:1-6). Deuteronomium 28:4 sê byvoorbeeld: “Geseënd sal die vrug van jou liggaam en die vrugte van jou grond en die vrug van jou mak diere, die kalwers van jou beeste en die aanteel van jou kleinvee wees.” Toe Dawid se seun Salomo as koning regeer het, het die nasie wel vrede geniet, en dit het baie goed met hulle gegaan. En sekere aspekte van Salomo se heerskappy het gewys hoe dit gaan wees wanneer die Messias regeer. — 1 Kon. 4:20, 21; Ps. 72:1-20.

Die aangepaste bewoording van Psalm 144 verander nie ons begrip van Bybelwaarhede nie. Maar wanneer asjer met die woord “dan” vertaal word, kan die hoop van Jehovah se knegte nog duideliker in hierdie psalm gesien word — die hoop dat die goddeloses vernietig gaan word en dat die regverdiges daarna vir altyd gelukkig sal wees en in vrede sal lewe. — Ps. 37:10, 11.