Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Dien Jehovah, die God van vryheid

Dien Jehovah, die God van vryheid

“Waar die gees van Jehovah is, daar is vryheid.” — 2 KOR. 3:17.

LIED: 49, 73

1, 2. (a) Hoekom was slawerny en vryheid belangrike onderwerpe in die apostel Paulus se dag? (b) By wie het Paulus gesê kan mense ware vryheid kry?

MENSE in die Romeinse Ryk, waar die vroeë Christene ook gebly het, was baie trots op die wette, regstelsel en vryheid wat hulle gehad het. Maar een van die redes hoekom die Romeinse Ryk so magtig was, was omdat slawe die meeste van die harde werk gedoen het. Op een stadium was omtrent 30 persent van die bevolking slawe. Slawerny en vryheid was beslis onderwerpe waarin die gewone mense, insluitende Christene, belanggestel het.

2 Die apostel Paulus praat baie oor vryheid in sy briewe. Maar die doel van sy bediening was nie om hierdie wêreld se probleme op te los, soos baie mense in daardie tyd wou doen nie. Paulus en sy mede-Christene het nie op menseheersers of -organisasies staatgemaak om hierdie wêreld te bevry nie. Hulle het eerder hard gewerk om ander oor die goeie nuus van God se Koninkryk te leer en hulle gehelp om te verstaan hoe waardevol die losprysoffer van Christus Jesus is. Paulus het vir sy medegelowiges vertel wie die Bron van ware vryheid is. In sy tweede brief aan die Christene in Korinte het hy byvoorbeeld gesê: “Jehovah is die Gees; en waar die gees van Jehovah is, daar is vryheid.” — 2 Kor. 3:17.

3, 4. (a) Wat het Paulus in die vorige verse bespreek, wat gelei het tot sy woorde in 2 Korintiërs 3:17? (b) Wat moet ons doen om die vryheid te hê wat van Jehovah af kom?

3 In sy tweede brief aan die Korintiërs het Paulus vertel hoe Moses se gesig geblink het toe hy by die berg Sinai afgekom het, nadat hy in die teenwoordigheid van ’n engel van Jehovah was. Die mense het bang geword toe hulle Moses sien, en daarom het hy ’n sluier, of ’n dun lap, oor sy gesig gesit (Eks. 34:29, 30, 33; 2 Kor. 3:7, 13). Paulus het verduidelik: “Maar wanneer mense hulle tot Jehovah wend, word die sluier weggeneem” (2 Kor. 3:16). Wat het Paulus hiermee bedoel?

4 Ons het in die vorige artikel geleer dat Jehovah, die Skepper van alles, die enigste Persoon is wat absolute en onbeperkte vryheid het. Daarom maak dit sin dat daar vryheid is in die teenwoordigheid van Jehovah en “waar die gees van Jehovah is”. Maar om hierdie vryheid te hê en die voordele daarvan te geniet, moet ons ons “tot Jehovah wend”. Met ander woorde, ons moet ’n persoonlike vriendskap met hom opbou. Toe die Israeliete in die wildernis was, het hulle nie ’n geestelike beskouing gehad van die manier waarop Jehovah hulle behandel het nie. Dit was asof daar ’n sluier oor hulle hart en verstand was. Al wat hulle wou doen, noudat hulle nie meer slawe in Egipte was nie, was om hulle nuwe vryheid op ’n fisiese, of vleeslike, manier te gebruik. — Heb. 3:8-10.

5. (a) Watter soort vryheid gee Jehovah se gees ons? (b) Hoe weet ons dat ’n persoon nog steeds die vryheid van Jehovah kan hê, al is hy in die tronk? (c) Watter vrae moet ons beantwoord?

5 Maar die vryheid wat die gees van Jehovah ons gee, is meer as net vryheid van fisiese slawerny. Jehovah se gees gee ons ’n vryheid wat baie beter is as enigiets wat mense ons kan gee. Sy gees maak ons vry sodat ons nie meer slawe van die sonde en die dood, asook slawe van valse aanbidding en die gebruike daarvan is nie (Rom. 6:23; 8:2). Hierdie vryheid is wonderlik! ’n Persoon kan hierdie soort vryheid hê en die voordele daarvan geniet selfs al is hy ’n slaaf of in ’n tronk opgesluit (Gen. 39:20-23). Suster Nancy Yuen en broer Harold King, wat albei as gevolg van hulle geloof jare lank in die tronk was, het hierdie soort vryheid gehad. Jy kan op JW Broadcasting na onderhoude kyk waarin hulle vertel wat met hulle gebeur het. (Kyk onder ONDERHOUDE EN ONDERVINDINGE > VERDUUR MOEILIKE TYE.) Maar daar is twee vrae wat ons moet beantwoord: Hoe kan ons wys dat ons ons vryheid waardeer? En hoe kan ons ons vryheid goed gebruik?

WAARDEER DIE VRYHEID WAT GOD ONS GEE

6. Hoe het die Israeliete gewys dat hulle nie die vryheid waardeer het wat Jehovah hulle gegee het nie?

6 Wanneer ons besef hoe waardevol ’n geskenk is, wil ons graag vir die een wat dit gegee het, wys hoe dankbaar ons is. Die Israeliete het nie die vryheid waardeer wat Jehovah hulle gegee het toe hy hulle uit slawerny in Egipte bevry het nie. ’n Paar maande nadat hulle bevry is, het hulle begin kla oor die manna wat Jehovah hulle gegee het om te eet. Hulle het verlang na die dinge wat hulle in Egipte geëet en gedrink het, en wou selfs teruggaan soontoe. Dink net daaraan, die ware God, Jehovah, het hulle die vryheid gegee om hom te aanbid. Maar ‘vis, komkommers, waatlemoene, preie, uie en knoffel’ was vir hulle belangriker as hierdie vryheid. Dit is geen wonder dat Jehovah so kwaad geword het vir hulle nie (Num. 11:5, 6, 10; 14:3, 4). Dit is beslis ’n belangrike les vir ons!

7. Hoe het Paulus die raad in 2 Korintiërs 6:1 toegepas, en hoe kan ons dit ook doen?

7 Die apostel Paulus het Christene aangemoedig om nie die vryheid wat Jehovah ons liefdevol deur middel van sy Seun, Jesus Christus, gegee het, as vanselfsprekend aan te neem nie. (Lees 2 Korintiërs 6:1.) Paulus het gevoel dat hy ’n slaaf van die sonde en die dood is. Dit is iets wat hom baie ongelukkig gemaak het en sy gewete gepla het. Nogtans het hy gesê: “Aan God die dank deur middel van Jesus Christus, ons Here!” Hoekom het hy dit gesê? Hy het aan sy mede-Christene verduidelik: “Want die wet van daardie gees wat lewe in eenheid met Christus Jesus gee, het jou vrygemaak van die wet van die sonde en van die dood” (Rom. 7:24, 25; 8:2). Net soos Paulus, wil ons nooit die feit dat Jehovah ons van slawerny aan die sonde en die dood vrygemaak het, as vanselfsprekend aanneem nie. Die losprys maak dit vir ons moontlik om God met ’n skoon gewete te dien, iets wat ons werklik gelukkig maak. — Ps. 40:8.

Gebruik jy jou vryheid om keuses te maak om meer vir die Koninkryk te doen of om te doen wat jy wil? (Sien paragraaf 8-10)

8, 9. (a) Watter waarskuwing het die apostel Petrus ons gegee oor die manier waarop ons ons vryheid gebruik? (b) Watter gevare is daar wat kan maak dat ons ons vryheid verkeerd gebruik?

8 Maar ons moenie net wys dat ons dankbaar is nie, ons moet ook versigtig wees dat ons nooit ons kosbare vryheid op die verkeerde manier gebruik nie. Die apostel Petrus het ons gewaarsku om nie ons vryheid as ’n verskoning te gebruik om verkeerde dinge te doen nie. (Lees 1 Petrus 2:16.) Laat hierdie waarskuwing jou nie dink aan wat met die Israeliete in die wildernis gebeur het nie? Hierdie gevaar bestaan nog steeds vandag, en dit is dalk ’n groter gevaar as wat dit toe was. Vandag het ons baie meer keuses wanneer dit kom by klere en persoonsversorging, vermaak en ontspanning, wat ons gaan eet en drink en baie ander dinge. En Satan en sy wêreld laat al hierdie dinge baie aanloklik lyk. In baie advertensies word aantreklike mense gebruik om jou te oorreed dat jy dinge moet koop wat jy eintlik nie nodig het nie. Ons kan baie maklik deur hierdie wêreld beïnvloed word om ons vryheid verkeerd te gebruik.

9 Die raad wat Petrus gegee het, is ook op ernstiger dinge in die lewe van toepassing, soos watter opvoeding, werk of loopbaan ons sal kies. Vandag is jongmense byvoorbeeld onder baie druk om goed te doen op skool sodat hulle na die beste universiteite kan gaan. Daar word vir hulle gesê dat as hulle verder gaan studeer dit hulle sal help om ’n goeie werk te kry, baie geld te verdien en dat mense hulle sal respekteer. Statistieke word baie keer gebruik om vir hulle te wys dat iemand wat ’n graad het, meer geld verdien as iemand wat net matriek het. Wanneer jongmense keuses moet maak wat die res van hulle lewe gaan beïnvloed, lyk dit dalk vir hulle na ’n goeie idee om verder te gaan studeer. Maar wat moet hulle en hulle ouers in gedagte hou?

10. Wat moet ons in gedagte hou wanneer ons ons vryheid gebruik om persoonlike keuses te maak?

10 Omdat hierdie dinge persoonlike keuses is, voel party dalk dat hulle die vryheid moet hê om self te kies wat hulle wil doen, solank dit nie hulle gewete pla nie. Hulle dink miskien aan Paulus se woorde aan die Christene in Korinte toe hy oor kos gepraat het. Hy het gevra: “Waarom moet my vryheid deur ’n ander se gewete geoordeel word?” (1 Kor. 10:29). Dit is waar dat ons die vryheid het om persoonlike keuses te maak wanneer dit kom by ons opvoeding en loopbaan. Maar ons moet onthou dat ons vryheid beperk is en dat al ons besluite gevolge het. Dit is hoekom Paulus eers gesê het: “Alles is geoorloof [of toelaatbaar], maar nie alles is voordelig nie. Alles is geoorloof, maar nie alles bou op nie” (1 Kor. 10:23). Dit help ons om te sien dat daar belangriker dinge is as ons vryheid om self te kies wat ons wil doen. Ons moet dit in gedagte hou wanneer ons in alle aspekte van ons lewe persoonlike keuses maak.

ONS GEBRUIK ONS VRYHEID GOED WANNEER ONS GOD DIEN

11. Hoekom is ons vrygemaak?

11 Toe Petrus ons gewaarsku het om ons vryheid nie verkeerd te gebruik nie, het hy ook verduidelik hoekom ons vrygemaak is. Hy het ons aangespoor om ons vryheid “as slawe van God” te gebruik. Dit wil sê, die rede hoekom Jehovah ons deur Jesus vrygemaak het van die wet van die sonde en van die dood, is sodat ons ons lewe kan gebruik om Hom as toegewyde “slawe” te dien.

12. Watter voorbeeld het Noag en sy familie vir ons gestel?

12 Die beste manier om ons vryheid te gebruik, is deur heeltemal by geestelike bedrywighede betrokke te wees. Dit sal ons beskerm en keer dat ons weer ’n slaaf van wêreldse doelwitte en begeertes word (Gal. 5:16). Kom ons kyk na die voorbeeld van Noag en sy familie. Hulle het in ’n wêreld gebly waar daar baie geweld en onsedelikheid was. Maar hulle het nie toegelaat dat die begeertes en bedrywighede van die mense om hulle hulle aandag aflei nie. Hoe het hulle dit reggekry? Hulle het gekies om besig te bly met die werk wat Jehovah hulle gegee het om te doen — om die ark te bou, kos vir hulleself en die diere bymekaar te maak en ander mense te waarsku. “Noag het gedoen volgens alles wat God hom beveel het. Hy het net so gedoen” (Gen. 6:22). Wat was die gevolg? Noag en sy familie het die einde van daardie wêreld oorleef. — Heb. 11:7.

13. Watter opdrag het Jesus gekry, wat hy toe weer aan sy volgelinge gegee het?

13 Watter opdrag het Jehovah ons gegee? As Jesus se dissipels, weet ons presies watter werk God ons gegee het om te doen. (Lees Lukas 4:18, 19.) Vandag word die meeste mense nog steeds deur die god van hierdie wêreld verblind en is hulle slawe van valse godsdiens, materiële dinge en die politieke stelsel (2 Kor. 4:4). Dit is ons voorreg om Jesus se voorbeeld na te volg deur mense te help om Jehovah, die God van vryheid, te leer ken en Hom te aanbid (Matt. 28:19, 20). Dit is nie ’n maklike werk nie, en daar is baie uitdagings. In party lande stel mense al hoe minder daarin belang om van God te leer, en party word selfs kwaad wanneer ons vir hulle preek. Die vraag wat elkeen van ons ons moet afvra, is: ‘Kan ek my vryheid gebruik om meer vir die Koninkryk te doen?’

14, 15. Hoe reageer Jehovah se volk vandag op die opdrag om te preek? (Sien prent aan begin van artikel.)

14 Dit is baie aanmoedigend om te sien dat baie van Jehovah se knegte besef hoe dringend die tyd is waarin ons lewe en hulle lewe vereenvoudig sodat hulle in die voltydse diens kan wees (1 Kor. 9:19, 23). Party dien in hulle plaaslike gebied, en ander trek na gebiede waar daar hulp nodig is. In die laaste vyf jaar het 250 000 verkondigers begin pionier, en wêreldwyd is daar nou meer as 1,1 miljoen gewone pioniers. Dit is wonderlik om te sien dat so baie broers en susters hulle vryheid goed gebruik en Jehovah op hierdie manier dien! — Ps. 110:3.

15 Wat het hierdie broers en susters gehelp om hulle vryheid goed te gebruik? Kom ons kyk na die voorbeeld van John en Judith, wat die afgelope 30 jaar in verskillende lande gedien het. Hulle onthou toe die Pionierdiensskool in 1977 begin het, dit beklemtoon was dat jy bereid moet wees om te gaan dien waar daar hulp nodig is. Hulle het dit hulle doelwit gemaak. John sê dat hy ’n paar keer van werk moes verander om hulle lewe eenvoudig te hou sodat hulle hierdie doelwit kon bereik. Later, toe hulle in ’n ander land gaan dien het, het hulle uitdagings gehad soos om ’n ander taal te leer en om by ’n nuwe kultuur en klimaat aan te pas. Maar hulle het hierdie uitdagings oorkom deur tot Jehovah te bid en op hom te vertrou. Watter uitwerking het al hierdie jare in voltydse diens op hulle gehad? John sê: “Ek het gevoel dat my lewe gedraai het om die beste werk wat ek ooit geken of ervaar het. Jehovah het vir my so werklik soos ’n liefdevolle pa geword. Ek het Jakobus 4:8 nou beter verstaan, wat sê: ‘Kom nader aan God, en hy sal nader aan julle kom.’ Ek het geweet dat ek gevind het waarna ek gesoek het, ’n bevredigende doel in die lewe.”

16. Hoe het duisende broers en susters met beperkte omstandighede hulle vryheid goed gebruik?

16 Nie almal kan soos John en Judith jare lank pionier nie. Party se omstandighede laat hulle slegs toe om vir ’n kort rukkie in die voltydse diens te wees. Maar nogtans bied baie aan om as vrywilligers op teokratiese bouprojekte regoor die wêreld te werk. Byvoorbeeld, toe die wêreldhoofkwartier by Warwick, New York, gebou is, het omtrent 27 000 broers en susters aangebied om met die werk te help. Party het vir twee weke gehelp, ander vir ’n paar maande of selfs meer as ’n jaar. Baie van hulle het groot opofferings gemaak om daar te werk. Wat ’n wonderlike voorbeeld van mense wat die vryheid wat God hulle gee, gebruik om Jehovah, die God van vryheid, te loof en te prys!

17. Watter wonderlike toekoms wag op diegene wat hulle vryheid goed gebruik?

17 Ons is baie dankbaar dat ons Jehovah leer ken het en dat ons die vryheid wat ware aanbidding ons gee, kan geniet. Mag ons deur die keuses wat ons maak, wys dat ons daardie vryheid waardeer. Laat ons ons vryheid gebruik om Jehovah na die beste van ons vermoë te dien, eerder as om dit te vermors of verkeerd te gebruik. As ons dit doen, kan ons uitsien na die seëninge wat Jehovah in Romeine 8:21 belowe het, wat sê “dat die skepping self ook van die slawerny aan die verderflikheid vrygemaak sal word en die glorieryke vryheid van die kinders van God sal hê”.