Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Jongmense, fokus julle op geestelike doelwitte?

Jongmense, fokus julle op geestelike doelwitte?

“Laat jou werke aan Jehovah oor en jou planne sal stewig bevestig word.” — SPR. 16:3.

LIED: 135, 144

1-3. (a) Watter uitdaging het alle jongmense, en waarmee kan dit vergelyk word? (Sien prent aan begin van artikel.) (b) Wat sal jong Christene help om hierdie uitdaging te oorkom?

STEL jou voor jy beplan om ’n belangrike geleentheid in ’n ander dorp by te woon. Om daar te kom, moet jy baie ver met ’n bus ry. By die busstasie voel jy oorweldig omdat daar so baie mense en busse is. Dit is goed dat jy presies weet waarheen jy op pad is en op watter bus jy moet klim. As jy op die verkeerde bus sou klim, sou jy nie uitkom waar jy wil wees nie.

2 Jongmense kan met hierdie passasiers vergelyk word. Tieners het ’n lang pad voor hulle, nie op ’n bus nie, maar in die lewe. Hulle kan soms oorweldig voel deur die verskillende opsies in die lewe en die besluite wat hulle moet neem. Jongmense, julle kan dit vir julleself makliker maak as julle weet waarheen julle wil gaan. Maar waarheen moet jy op pad wees?

3 Hierdie artikel beantwoord hierdie vraag deur jongmense aan te moedig om op hulle begeerte om Jehovah se hart bly te maak te fokus. Dit beteken dat ons altyd Jehovah se raad sal volg wanneer ons besluite in die lewe moet neem oor dinge soos ons opvoeding, watter tipe werk ons gaan doen en ons gesinsverantwoordelikhede. En dit beteken dat ons geestelike doelwitte probeer bereik. Jongmense wat op hulle diens aan Jehovah gefokus bly, kan seker wees dat hy hulle sal seën en sal help om suksesvol te wees. — Lees Spreuke 16:3.

HOEKOM MOET ONS GEESTELIKE DOELWITTE STEL?

4. Wat sal ons in hierdie artikel bespreek?

4 Dit is goed om teokratiese doelwitte te stel terwyl jy nog jonk is. Hoekom? Ons gaan na drie redes kyk. Die eerste twee redes wys dat wanneer jy daaraan werk om geestelike doelwitte te bereik, dit jou vriendskap met Jehovah sal versterk. Die derde rede beklemtoon die voordele as jy probeer om teokratiese doelwitte te bereik terwyl jy nog jonk is.

5. Wat is die hoofrede waarom ons geestelike doelwitte stel?

5 Die hoofrede waarom ons geestelike doelwitte stel, is om vir Jehovah te wys dat ons dankbaar is vir sy liefde en vir wat hy vir ons gedoen het. Die psalmis het gesê: “Dit is goed om Jehovah te dank . . . Want u het my vreugde gegee, o Jehovah, weens u dade; weens die werke van u hande roep ek met vreugde uit” (Ps. 92:1, 4). Is jy ’n jong persoon? Dink aan alles wat Jehovah jou gegee het: jou lewe, jou geloof, die Bybel, die gemeente en jou wonderlike hoop vir die toekoms. Deur geestelike dinge eerste in jou lewe te stel, wys jy dat jy dankbaar is vir alles wat God jou gegee het, en dit sal jou nader aan hom laat kom.

6. (a) Watter uitwerking het ons geestelike doelwitte op ons vriendskap met Jehovah? (b) Watter doelwitte kan jy stel terwyl jy nog jonk is?

6 Die tweede rede om geestelike doelwitte te stel, is omdat dit jou help om ’n rekord van goeie werke by Jehovah op te bou wanneer jy aan hierdie doelwitte begin werk. Dit bring jou selfs nader aan hom. Die apostel Paulus het belowe: “God is nie onregverdig sodat hy julle werk sal vergeet en die liefde wat julle vir sy naam getoon het . . . nie” (Heb. 6:10). Jy is nooit te jonk om doelwitte te stel nie. Christine was 10 jaar oud toe sy besluit het om gereeld die lewensverhale van getroue Getuies te lees. Toe Toby 12 was, het hy dit sy doelwit gemaak om die hele Bybel deur te lees voordat hy gedoop word. Maxim was 11 en sy suster Noemi was 10 toe hulle gedoop is. Daarna het hulle altwee aan die doelwit begin werk om eendag by Bethel te gaan dien. Om op hulle doelwit gefokus te bly, het hulle ’n Bethel-aansoekvorm teen die muur in hulle huis geplak. Dit sal goed wees as jy ook dink aan watter doelwitte vir jou belangrik is, en dan daaraan begin werk sodat jy dit kan bereik. — Lees Filippense 1:10, 11.

7, 8. (a) Hoe kan doelwitte dit vir jou makliker maak om besluite te neem? (b) Hoekom het een tiener besluit om nie universiteit toe te gaan nie?

7 Die derde rede om doelwitte te stel terwyl jy nog jonk is, is omdat dit jou sal help wanneer jy besluite moet neem. Tieners moet besluite neem oor hulle opvoeding, watter werk hulle gaan doen en nog baie ander dinge. Om besluite te neem is soos om die regte pad te kies wanneer jy by ’n kruispad kom. As jy weet waarheen jy op pad is, sal dit vir jou makliker wees om die regte pad te kies. Net so sal dit makliker wees om goeie besluite te neem as jy weet wat jou doelwitte is. Spreuke 21:5 sê: “Die planne van die vlytige lei gewis tot voordeel.” Hoe vroeër jy planne maak deur goeie doelwitte te stel, hoe gouer sal jy jou doelwitte bereik. Dit is wat met Damaris gebeur het toe sy as ’n tiener ’n belangrike besluit moes neem.

8 Damaris het baie goed gedoen op skool. Sy kon ’n studiebeurs gekry het om universiteit toe te gaan om in die regte te studeer, maar sy het eerder besluit om in ’n bank te gaan werk. Hoekom? Sy sê: “Toe ek nog baie jonk was, het ek besluit dat ek eendag wil pionier. Dit het beteken dat ek deeltyds sou moes werk. Met ’n graad in die regte kon ek baie geld verdien het, maar dit sou moeilik gewees het om ’n deeltydse werk te kry.” Damaris pionier nou al 20 jaar lank. Voel sy dat sy die regte doelwit gestel het en die regte besluit geneem het toe sy ’n tiener was? Sy sê: “In die bank waar ek werk, het ek gereeld met prokureurs te doen. Hulle doen die soort werk wat ek sou gedoen het as ek in die regte studeer het. Maar baie van hulle geniet nie hulle werk nie. My besluit om te pionier het my gehelp om die frustrasies van ’n sekulêre loopbaan te vermy en het dit vir my moontlik gemaak om Jehovah jare lank met vreugde te dien.”

9. Hoekom verdien ons jongmense om geprys te word?

9 Duisende jongmense in gemeentes regoor die wêreld verdien om geprys te word. Hulle wy hulleself aan Jehovah toe en maak teokratiese doelwitte die belangrikste ding in hulle lewe. Hierdie jongmense geniet regtig hulle lewe terwyl hulle leer om Jehovah se leiding in elke aspek van hulle lewe te volg. Dit sluit hulle opvoeding, werk en gesinslewe in. Salomo het gesê: “Vertrou op Jehovah met jou hele hart . . . Slaan ag op hom in al jou weë, en hy sal jou paaie reguit maak” (Spr. 3:5, 6). Jongmense in die gemeente is baie kosbaar in Jehovah se oë. Hy is regtig lief vir hulle en sal hulle beskerm, lei en seën.

BEREI GOED VOOR OM ANDER VAN JEHOVAH TE VERTEL

10. (a) Hoekom moet die predikingswerk een van die belangrikste dinge vir ons wees? (b) Hoe kan ons ons velddiens verbeter?

10 Jongmense wat fokus op hulle begeerte om Jehovah se hart bly te maak, gee spesiale aandag aan hulle bediening. Jesus Christus het gesê dat ‘die goeie nuus eers verkondig moet word’ (Mark. 13:10). Omdat die goeie nuus so dringend is, moet dit een van die belangrikste dinge in ons lewe wees. Kan jy dit jou doelwit maak om meer velddiens te doen? Kan jy dalk pionier? Maar sê nou jy geniet dit nie eintlik om velddiens te doen nie? En hoe kan jy jou velddiens verbeter? Daar is twee dinge wat jou sal help: Berei goed voor, en moenie ophou om ander van Jehovah te vertel nie. Jy sal verbaas wees hoe baie jy dit dan sal geniet om velddiens te doen.

Hoe berei jy voor om vir ander te getuig? (Sien paragraaf 11, 12)

11, 12. (a) Hoe kan jongmense voorberei om ander van Jehovah te vertel? (b) Hoe het ’n jong persoon die geleentheid gebruik om by die skool te getuig?

11 Jy kan begin deur ’n antwoord voor te berei op ’n vraag wat jou klasmaats gereeld vra, byvoorbeeld: “Hoekom glo jy aan God?” Ons webwerf, jw.org, het artikels wat jongmense help om hierdie vraag self te beantwoord. Gaan na BYBELLERINGE > TIENERS. Daar sal jy ’n werkblad kry met die titel: “Waarom glo ek aan God?” Die werkblad sal jou help om jou eie antwoord voor te berei. Dit gee drie tekste wat jy kan gebruik: Hebreërs 3:4, Romeine 1:20 en Psalm 139:14. Daar is ook ander werkblaaie wat jou kan help om verskillende vrae te beantwoord. — Lees 1 Petrus 3:15.

12 Vertel jou skoolmaats van jw.org en sê vir hulle dat hulle self dinge daar kan gaan opsoek. Dit is wat Luca gedoen het. Toe sy klas verskillende godsdienste bespreek het, het Luca gesien dat daar ’n paar verkeerde idees oor Jehovah se Getuies in die handboek is. Al was hy ’n bietjie bang, het hy die juffrou gevra of hy die klas kon vertel hoekom dit wat in die handboek staan nie waar is nie. Luca het nie net aan die klas verduidelik waarin hy glo nie, hy het ook ons webwerf vir hulle gewys. Die juffrou het die klas huiswerk gegee en gesê dat hulle moet kyk na die witbord-tekenprent Sit ’n boelie op sy plek sonder om te baklei. Luca was baie opgewonde dat hy vir sy skoolmaats van Jehovah kon vertel.

13. Hoekom moet ons nie opgee wanneer ons deur moeilike tye gaan nie?

13 Moenie mismoedig word wanneer jy deur moeilike tye gaan nie (2 Tim. 4:2). Hou aan om op jou doelwitte te fokus. Dit is wat Katharina gedoen het. Sy was 17 toe sy dit haar doelwit gemaak het om vir elke persoon by haar werk te getuig. Een persoon het haar ’n hele paar keer beledig, maar sy het nie toegelaat dat dit haar afskrik nie. Haar goeie gedrag het een van haar ander werksmaats, Hans, beïndruk. Hy het begin om ons publikasies te lees, die Bybel te studeer en is later gedoop. Maar omdat Katharina weggetrek het, het sy nie hiervan geweet nie. Dink net hoe bly sy was toe Hans 13 jaar later ’n toespraak kom hou het by die gemeente waar sy en haar gesin was! Katharina het bly fokus op haar doelwit om vir haar werksmaats te getuig, en dit was beslis die moeite werd!

MOENIE JOU FOKUS VERLOOR NIE

14, 15. (a) Wat moet jongmense in gedagte hou wanneer hulle onder druk is? (b) Hoe kan jongmense groepsdruk weerstaan?

14 Sover het hierdie artikel jou aangemoedig om te fokus op jou begeerte om jou lewe in Jehovah se diens te gebruik. Dit beteken dat jy geestelike doelwitte die middelpunt van jou lewe moet maak. Maar baie jongmense van jou ouderdom wil dalk net die hele tyd kuier en ’n lekker tyd hê. En hulle sal jou dalk vra om dinge saam met hulle te doen. Vroeër of later sal jy moet wys hoe belangrik dit vir jou is om jou doelwitte te bereik. Moenie toelaat dat groepsdruk veroorsaak dat jy jou fokus verloor nie. Dink weer aan die illustrasie van die bus aan die begin van die artikel. Jy sal sekerlik nie op ’n bus klim net omdat dit lyk asof die passasiers op die bus ’n lekker tyd het nie.

15 Daar is verskillende maniere om groepsdruk te weerstaan. Byvoorbeeld, vermy situasies wat dit vir jou moeilik kan maak om versoekings te weerstaan (Spr. 22:3). En dink aan die slegte gevolge as jy saam met ander verkeerde dinge sou doen (Gal. 6:7). Dit sal jou ook help as jy erken dat jy raad nodig het. As jy nederig is, sal jy na die raad luister wat jou ouers en ervare broers en susters in die gemeente vir jou gee. — Lees 1 Petrus 5:5, 6.

16. Vertel ’n ondervinding wat wys hoe belangrik dit is om nederig te wees.

16 Christoph het goeie raad aanvaar omdat hy nederig was. Kort nadat hy gedoop is, het hy begin om gereeld gym toe te gaan. Ander jongmense by die gym wou hê dat hy by hulle sportklub moes aansluit. Hy het met ’n ouer man hieroor gepraat. Die ouer man het vir Christoph gesê om aan die gevare te dink voordat hy ’n besluit neem, soos om deur die gees van kompetisie beïnvloed te word. Maar Christoph het in elk geval by die klub aangesluit. Later het hy agtergekom dat die sport gewelddadig en selfs gevaarlik is. Hy het weer met die ouer manne gepraat, en hulle het hom raad uit die Bybel gegee. Christoph sê: “Jehovah het vir my goeie raadgewers gestuur, en ek het na Hom geluister, selfs al het dit my ’n rukkie gevat.” Is jy nederig genoeg om goeie raad te aanvaar?

17, 18. (a) Wat wil Jehovah vir jongmense hê? (b) Watter hartseer situasie kan ontstaan wanneer jy ’n grootmens is, en hoe kan jy dit vermy? Gee ’n voorbeeld.

17 “Verbly jou, jong man [of vrou], in jou jeug, en laat jou hart aan jou goed doen in die dae van jou jonkheid” (Pred. 11:9). Jehovah wil hê dat jongmense gelukkig moet wees. Hierdie artikel het een manier bespreek hoe jy gelukkig kan wees. Bly gefokus op teokratiese doelwitte en volg Jehovah se raad in alles wat jy beplan om te doen. Hoe gouer jy dit doen, hoe gouer sal jy sien hoe Jehovah jou lei, beskerm en seën. Dink aan alles wat jy in God se Woord leer, en pas die volgende raad toe: “Dink dan nou aan jou Grootse Skepper in die dae van jou jonkheid.” — Pred. 12:1.

18 Niemand bly vir ewig jonk nie. Jongmense word vinnig groot. Ongelukkig is baie grootmense spyt dat hulle die verkeerde doelwitte, of selfs geen doelwitte gestel het toe hulle nog jonk was nie. Maar jongmense wat op teokratiese doelwitte fokus, sal baie tevrede wees met hulle besluite wanneer hulle ouer is. Dit is hoe Mirjana voel. Toe sy ’n tiener was, het sy baie goed in sport gedoen. Sy is gevra om aan die Olimpiese Winterspele deel te neem, maar sy het eerder besluit om Jehovah voltyds te dien. Meer as 30 jaar later is Mirjana nog steeds in die voltydse diens, en haar man dien saam met haar. Sy verduidelik: “Roem, eer, mag en rykdom is net tydelik en is nie goeie doelwitte om in die lewe te hê nie. Om God te dien en ander te help om hulle geestelikheid te verbeter, is doelwitte wat werklik eerbaar en blywend is.”

19. Hoekom is dit goed om op geestelike doelwitte te fokus wanneer jy jonk is?

19 Jongmense in die gemeente verdien om geprys te word omdat hulle, ten spyte van uitdagings, vasbeslote is om hulle lewe te gebruik om Jehovah te dien. Jongmense doen dit deur hulle bes te doen om geestelike doelwitte te bereik en deur die predikingswerk een van die belangrikste dinge in hulle lewe te maak. En hulle is vasbeslote om nie toe te laat dat hierdie wêreld hulle aandag aftrek nie. Tieners kan seker wees dat hulle harde werk nie verniet is nie. Hulle het die liefdevolle ondersteuning van hulle broers en susters. En wanneer hulle alles wat hulle doen aan Jehovah oorlaat, sal alles wat hulle in die lewe beplan, suksesvol wees.