Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Moedig mekaar al hoe meer aan

Moedig mekaar al hoe meer aan

“Laat ons . . . mekaar aanmoedig, en dit des te meer namate julle die dag sien nader kom.” — HEB. 10:24, 25.

LIED: 90, 87

1. Hoekom het die apostel Paulus die vroeë Hebreeuse Christene aangespoor om mekaar al hoe meer aan te moedig?

HOEKOM moet ons mekaar al hoe meer aanmoedig? Die apostel Paulus gee vir ons die rede in sy brief aan die Hebreeuse Christene. Hy het vir hulle gesê: “Laat ons op mekaar ag gee om tot liefde en goeie werke aan te spoor en nie ons onderlinge vergadering nalaat soos party die gewoonte het nie, maar mekaar aanmoedig, en dit des te meer [of, “al hoe meer”] namate julle die dag sien nader kom” (Heb. 10:24, 25). Minder as vyf jaar later sou die Joodse Christene in Jerusalem die “dag van Jehovah” sien nader kom en besef dat hulle uit daardie stad moet vlug, net soos Jesus vir hulle gesê het (Hand. 2:19, 20; Luk. 21:20-22). Daardie dag van Jehovah het in 70 HJ gekom toe Jehovah die Romeine gebruik het om Jerusalem te vernietig.

2. Hoekom is dit vir ons vandag so belangrik om mekaar aan te moedig?

2 Ons het vandag oorgenoeg rede om te glo dat die ‘groot en baie vreesinboesemende’ dag van Jehovah naby is (Joël 2:11). Die profeet Sefanja het gesê: “Die groot dag van Jehovah is naby. Dit is naby en kom baie vinnig nader” (Sef. 1:14). Hierdie profetiese waarskuwing is ook op ons dag van toepassing. Omdat Jehovah se dag so naby is, sê Paulus dat ons “op mekaar [moet] ag gee om tot liefde en goeie werke aan te spoor” (Heb. 10:24). Daarom moet ons al hoe meer in ons broers belangstel sodat ons hulle kan aanmoedig wanneer dit nodig is.

WIE HET AANMOEDIGING NODIG?

3. Wat het die apostel Paulus oor aanmoediging gesê? (Sien prent aan begin van artikel.)

3 “Angstige besorgdheid in die hart van ’n man sal dit laat neerbuig, maar die goeie woord maak dit bly” (Spr. 12:25). Dit gebeur met almal van ons. Ons almal het van tyd tot tyd aanmoediging nodig. Paulus het gewys dat selfs iemand wat die verantwoordelikheid het om ander aan te moedig, ook aanmoediging nodig het. Hy het aan die Christene in Rome geskryf: “Ek verlang om julle te sien om julle die een of ander geestelike gawe te kan meedeel sodat julle standvastig gemaak kan word; of liewer, dat daar wedersydse aanmoediging onder julle kan wees, deurdat elkeen aangemoedig word deur middel van die ander een se geloof, julle s’n sowel as myne” (Rom. 1:11, 12). Ja, selfs Paulus, wat uitstekende aanmoediging aan ander gegee het, moes partykeer ook opgebou word. — Lees Romeine 15:30-32.

4, 5. Wie het aanmoediging nodig, en hoekom?

4 Almal wat ’n selfopofferende lewe lei moet geprys word. Byvoorbeeld, baie van ons getroue pioniers het groot opofferings gemaak sodat hulle kan pionier. Sendelinge, Betheliete, kringopsieners en hulle vrouens en diegene wat by vertaalkantore werk, moet ook geprys word. Hulle het almal opofferings gemaak sodat hulle meer tyd kan hê om Jehovah te dien. Daarom behoort ons hulle aan te moedig. En almal wat graag in voltydse diens wou bly, maar as gevolg van hulle omstandighede dit nie meer kan doen nie, waardeer dit ook wanneer hulle aangemoedig word.

5 Broers en susters wat ongetroud bly omdat hulle die opdrag wil gehoorsaam om “net in die Here” te trou, verdien ook aanmoediging (1 Kor. 7:39). Vrouens wat hard werk, waardeer dit ook wanneer hulle mans hulle aanmoedig (Spr. 31:28, 31). Christene wat getrou bly ten spyte van vervolging of siekte moet ook aangemoedig word (2 Tess. 1:3-5). Jehovah en Christus vertroos al hierdie getroue knegte. — Lees 2 Tessalonisense 2:16, 17.

OUER MANNE DOEN HULLE BES OM ONS AAN TE MOEDIG

6. Wat is die ouer manne se werk, soos beskryf word in Jesaja 32:1, 2?

6 Lees Jesaja 32:1, 2Jesus Christus gebruik vandag sy gesalfde broers en die “vorste”, of ouer manne, van die ander skape om aanmoediging en leiding te gee aan diegene wat moedeloos en mismoedig is. Dit is hoe dit moet wees, want ouer manne is nie “meesters” oor die geloof van ander nie, maar “is medewerkers” saam met hulle broers sodat almal gelukkig kan wees. — 2 Kor. 1:24.

7, 8. Op watter ander maniere kan ouer manne die broers aanmoedig?

7 Die apostel Paulus het ’n goeie voorbeeld hierin gestel. Hy het aan die Christene in Tessalonika wat vervolg is, geskryf: “Omdat ons dan ’n tere geneentheid vir julle het, het ons julle met graagte nie net die goeie nuus van God meegedeel nie, maar ook ons eie siele, want julle het by ons gelief geword.” — 1 Tess. 2:8.

8 Die apostel Paulus se raad aan die ouer manne in Efese wys dat aanmoedigende woorde soms nie genoeg is nie. Hy het gesê: “Julle [moet] die swakkes . . . bystaan en die woorde van die Here Jesus in gedagte . . . hou, toe hy self gesê het: ‘Dit verskaf groter geluk om te gee as om te ontvang’” (Hand. 20:35). Paulus was bereid om nie net sy broers aan te moedig nie, maar ook om hom ‘uit te stort en heeltemal uitgestort te word’ vir hulle. Hy het deur sy dade gewys dat hy bereid was om enigiets vir sy broers te doen (2 Kor. 12:15). Net so moet ouer manne nie net woorde gebruik om hulle broers aan te moedig nie, hulle moet hulle broers ook opbou deur te wys dat hulle persoonlik in hulle belangstel. — 1 Kor. 14:3.

9. Hoe kan die ouer manne op ’n aanmoedigende manier raad gee?

9 Partykeer is dit vir ouer manne nodig om vir broers raad te gee om hulle aan te moedig. Maar wanneer hulle dit doen, moet hulle die voorbeelde in die Bybel gebruik om raad op ’n aanmoedigende manier te gee. Jesus het ’n uitstekende voorbeeld hierin gestel. Ná sy dood en opstanding het hy ernstige raad aan party gemeentes in Klein-Asië gegee. Maar kom ons kyk hoe hy dit gedoen het. Voordat hy die raad gegee het, het hy eers die gemeentes in Efese, Pergamum en Tiatira geprys (Op. 2:1-5, 12, 13, 18, 19). Hy het vir die gemeente in Laodisea gesê: “Almal vir wie ek geneentheid het, wys ek tereg en dissiplineer ek. Wees dus ywerig en toon berou” (Op. 3:19). Dit sal goed wees as ouer manne Christus se voorbeeld navolg wanneer hulle ander moet raad gee.

DIT IS NIE NET DIE OUER MANNE SE VERANTWOORDELIKHEID NIE

Ouers, leer julle julle kinders om ander aan te moedig? (Sien paragraaf 10)

10. Hoe kan ons almal mekaar aanmoedig?

10 Ouer manne is nie die enigstes wat die verantwoordelikheid het om ander aan te moedig nie. Paulus het alle Christene aangespoor om dinge te sê “wat goed is vir opbouing waar dit nodig is, sodat dit iets gunstigs . . . kan meedeel” aan ander (Ef. 4:29). Elkeen van ons moet oplettend wees sodat ons kan sien wanneer iemand iets “nodig” het. Paulus het die Hebreeuse Christene die volgende raad gegee: “Rig . . . die hande wat hang en die lam knieë op, en hou aan om reguit paaie vir julle voete te maak, sodat wat kreupel is, nie uit lit raak nie, maar eerder gesond gemaak word” (Heb. 12:12, 13). Ons almal, insluitende jongmense, kan mekaar deur aanmoedigende woorde versterk.

11. Hoe is Marthe gehelp toe sy depressief was?

11 Marthe, * ’n suster wat ’n ruk lank depressief was, skryf: “Eendag toe ek gebid het vir aanmoediging, het ek ’n ouer suster ontmoet wat liefdevol was en meegevoel met my gehad het, iets wat ek op daardie stadium bitter nodig gehad het. Sy het my ook vertel dat sy deur ’n soortgelyke toets as ek gegaan het. Dit het my gehelp om nie so alleen te voel nie.” Dalk het die ouer suster nie eers besef watter goeie uitwerking haar woorde op Marthe sou hê nie.

12, 13. Op watter positiewe maniere kan ons die raad in Filippense 2:1-4 toepas?

12 Paulus het die volgende raad vir almal in die gemeente in Filippi gegee: “Indien daar dan enige aanmoediging in Christus is, indien enige vertroosting van liefde, indien enige deelgenootskap in gees, indien enige tere geneenthede en medelye, maak dan my vreugde volkome deur eendersdenkend te wees en dieselfde liefde te hê, terwyl julle saamgevoeg is in siel en die een ding in gedagte hou en niks uit twisgierigheid of uit egotisme doen nie, maar met ootmoed die ander hoër as julleself ag, terwyl julle nie uit persoonlike belangstelling ’n oog op net julle eie sake hou nie, maar ook uit persoonlike belangstelling op dié van die ander.” — Fil. 2:1-4.

13 Ons almal moet na maniere soek om ander aan te moedig. Ons moet ons broers en susters vertroos, wys dat ons vir hulle omgee, liefdevol teenoor hulle wees en meegevoel met hulle hê.

DINGE WAT ANDER KAN AANMOEDIG

14. Wat kan aanmoedigend wees?

14 Wanneer ons ander in die verlede gehelp het en later hoor dat hulle nog steeds getrou bly, kan dit baie aanmoedigend vir ons wees. Die apostel Johannes het so gevoel en het geskryf: “Ek het geen groter rede tot dankbaarheid as hierdie dinge nie, dat ek hoor dat my kinders voortgaan om in die waarheid te wandel” (3 Joh. 4). Baie pioniers stem saam dat dit aanmoedigend is om te hoor dat party persone met wie hulle jare gelede die Bybel studeer het, nog steeds getrou dien en dalk selfs pionier. Dit kan vir pioniers wat mismoedig voel aanmoedigend wees om herinner te word aan al die goeie dinge wat hulle gedoen het om ander te help.

15. Wat is een manier waarop ons diegene wat getrou dien, kan aanmoedig?

15 Baie kringopsieners het al vertel hoe aanmoedigend dit vir hulle en hulle vrouens is om ná ’n besoek ’n dankie-sê-briefie van ’n gemeente te kry. Ouer manne, sendelinge, pioniers en lede van die Bethelgesin voel ook so wanneer ander vir hulle sê dat hulle getroue diens waardeer word.

HOE ONS ALMAL AANMOEDIGEND KAN WEES

16. Wat kan jy doen om iemand aan te moedig?

16 Ons dink dalk dat ons ander nie kan aanmoedig nie omdat dit vir ons moeilik is om met mense te praat of omdat ons nie altyd weet wat om te sê nie. Maar al wat dalk nodig is om iemand aan te moedig, is ’n vriendelike glimlag. As die persoon nie vir jou terugglimlag nie, is daar miskien ’n probleem en kan jy hom dalk aanmoedig deur net na hom te luister. — Jak. 1:19.

17. Hoe is een jong broer gehelp toe hy deur ’n moeilike tyd gegaan het?

17 ’n Jong broer met die naam Henri was baie ontsteld toe party van sy gesinslede, insluitende sy pa wat ’n gerespekteerde ouer man was, die waarheid verlaat het. Henri is aangemoedig deur ’n kringopsiener wat saam met hom ’n koppie koffie gaan drink het en na hom geluister het terwyl hy sy hart uitpraat. Henri het besef dat die enigste manier waarop hy sy familie kan help om Jehovah weer te dien, is deur te volhard en getrou te bly. Dit was vir hom baie aanmoedigend om die woorde in Psalm 46, Sefanja 3:17 en Markus 10:29, 30 te lees.

Ons almal kan mekaar aanmoedig en opbou (Sien paragraaf 18)

18. (a) Wat het koning Salomo oor aanmoediging gesê? (b) Watter voorstel het die apostel Paulus gemaak?

18 Die voorbeelde van Marthe en Henri wys dat enigeen van ons ’n broer of ’n suster wat vertroosting nodig het, kan aanmoedig. Koning Salomo het geskryf: “Hoe goed is ’n woord op die regte tyd tog! Die glans van die oë maak die hart bly; ’n goeie berig maak die gebeente vet” (Spr. 15:23, 30). Ons kan ook persone wat hartseer of mismoedig is, beter laat voel deur vir hulle artikels te lees wat in Die Wagtoring of op ons webwerf is. Paulus wys dat dit ook aanmoedigend kan wees om saam Koninkryksliedjies te sing. Hy het geskryf: “Hou aan om mekaar te leer en ernstig te vermaan [of “aan te moedig”] met psalms, lofliedere tot God, geestelike liedere met welwillendheid, terwyl julle in julle harte tot Jehovah sing.” — Kol. 3:16; Hand. 16:25.

19. Hoekom sal dit al hoe belangriker word om mekaar aan te moedig in die dae wat voorlê, en wat moet ons doen?

19 Terwyl ons Jehovah se dag sien “nader kom”, sal dit vir ons al hoe belangriker word om mekaar aan te moedig (Heb. 10:25). Kom ons doen wat Paulus vir Christene in sy dag gesê het: “Hou . . . aan om mekaar te vertroos [of, “aan te moedig”] en mekaar op te bou, net soos julle ook reeds doen.” — 1 Tess. 5:11.

^ par. 11 Name is verander.