Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Volg Jehovah na — ’n God wat ander aanmoedig

Volg Jehovah na — ’n God wat ander aanmoedig

“Mag die God . . . geloof word, wat ons in al ons verdrukking vertroos [of, “aanmoedig”, vtn. in NW].” — 2 KOR. 1:3, 4.

LIED: 7, 3

1. Hoe het Jehovah die mensdom aangemoedig toe die opstand in Eden gebeur het?

VANDAT die mens as gevolg van sonde onvolmaak geword het, het Jehovah gewys dat hy ’n God is wat ander aanmoedig. Hy het onmiddellik ná die opstand in Eden vir Adam se toekomstige nageslag ’n rede gegee om moed te skep. Daar was nog hoop vir die mensdom. Die profetiese belofte in Genesis 3:15 sou die mensdom die hoop gee dat “die oorspronklike slang”, Satan die Duiwel, en al sy goddelose werke uiteindelik vernietig sou word. — Op. 12:9; 1 Joh. 3:8.

JEHOVAH HET SY KNEGTE VAN DIE VERLEDE AANGEMOEDIG

2. Hoe het Jehovah Noag aangemoedig?

2 Jehovah se kneg Noag het in ’n goddelose wêreld gelewe waarin net hy en sy familie Jehovah aanbid het. Oral was daar geweld en seksuele onsedelikheid, en dit kon Noag mismoedig gemaak het (Gen. 6:4, 5, 11; Jud. 6). Maar Jehovah het vir Noag inligting gegee wat hom die moed gegee het om aan te hou om ‘met die ware God te wandel’ (Gen. 6:9). Jehovah het vir hom gesê dat Hy daardie goddelose wêreld gaan vernietig. Hy het ook vir Noag instruksies gegee oor wat hy moes doen sodat sy familie gered kon word (Gen. 6:13-18). Jehovah was vir Noag ’n God van aanmoediging.

3. Hoe is Josua aangemoedig? (Sien prent aan begin van artikel.)

3 Later het Josua die moeilike werk gehad om God se volk in die Beloofde Land in te lei en te vestig. Hy moes teen die sterk leërmagte van die nasies wat in daardie land gebly het, veg en hulle oorwin. Josua het beslis rede gehad om bang te wees. Jehovah het dit geweet, en daarom het hy vir Moses gesê om Josua aan te moedig. God het gesê: “Dra die bevel aan Josua oor en moedig hom aan en versterk hom, want hy sal voor hierdie volk uit deurtrek en hy sal hulle die land laat beërf wat jy sal sien” (Deut. 3:28). Voordat Josua met sy werk begin het, het Jehovah hom aangemoedig en gesê: “Het ek jou nie beveel nie? Wees moedig en sterk. Moenie sidder of verskrik wees nie, want Jehovah jou God is met jou waar jy ook al gaan” (Jos. 1:1, 9). Wat ’n gerusstellende aanmoediging!

4, 5. (a) Hoe het Jehovah sy volk van die ou tyd aangemoedig? (b) Hoe het Jehovah sy Seun aangemoedig?

4 Jehovah het nie net individue aangemoedig nie, hy het ook sy volk as ’n groep aangemoedig. Jehovah het ’n profesie laat opteken wat die Jode sou vertroos toe hulle later gevangenes in Babilon was. Hy het gesê: “Moenie bang wees nie, want ek is met jou. Moenie rondkyk nie, want ek is jou God. Ek sal jou versterk. Ek sal jou werklik help. Ek sal jou werklik stewig vashou met my regterhand van regverdigheid” (Jes. 41:10). Die vroeë Christene het ook hierdie versekering gehad, en vandag moedig God sy volk op dieselfde manier aan. — Lees 2 Korintiërs 1:3, 4.

5 Jesus is ook deur sy Vader aangemoedig. Toe hy gedoop is, het Jesus ’n stem uit die hemel hoor sê: “Dit is my Seun, die geliefde, wat ek goedgekeur het” (Matt. 3:17). Hierdie woorde het Jesus sekerlik baie versterk gedurende sy bediening op die aarde!

JESUS HET ANDER AANGEMOEDIG

6. Hoe word ons aangemoedig deur die illustrasie van die talente?

6 Jesus het sy Vader se voorbeeld nagevolg. In sy profesie oor die einde van die wêreld het hy die illustrasie van die talente gebruik om mense aan te moedig om getrou te bly. Die heer het elkeen van sy getroue slawe geprys en gesê: “Mooi so, goeie en getroue slaaf! Jy was oor ’n paar dinge getrou. Ek sal jou oor baie dinge aanstel. Gaan in die vreugde van jou heer in” (Matt. 25:21, 23). Hierdie woorde moedig ons beslis aan om Jehovah getrou te bly dien!

7. Hoe het Jesus sy apostels, en veral vir Petrus, aangemoedig?

7 Jesus se apostels het dikwels met mekaar gestry oor wie van hulle die belangrikste is. Maar Jesus het hulle geduldig aangemoedig om nederig te wees en om ander te dien eerder as om baas te speel (Luk. 22:24-26). Petrus het ’n hele paar keer foute gemaak en Jesus teleurgestel (Matt. 16:21-23; 26:31-35, 75). Maar Jesus het Petrus nie verwerp nie, hy het hom eerder aangemoedig en hom selfs die opdrag gegee om sy broers te versterk. — Joh. 21:16.

AANMOEDIGING WAT IN DIE OU TYD GEGEE IS

8. Hoe het Hiskia die militêre leiers en die volk van Juda aangemoedig?

8 Jehovah se Seun het ’n volmaakte voorbeeld gestel toe hy op die aarde was en gewys hoe om ander aan te moedig. Maar selfs voordat Jesus dit gedoen het, het getroue knegte van Jehovah besef hoe belangrik aanmoediging is. Toe die Assiriërs gereedgemaak het om Jerusalem aan te val, het Hiskia die militêre leiers en die volk van Juda bymekaar laat kom om hulle aan te moedig. En die mense “het begin steun op [sy] woorde”. — Lees 2 Kronieke 32:6-8.

9. Wat leer ons uit die boek Job oor aanmoediging?

9 Hoewel Job self aanmoediging nodig gehad het, was hy die een wat sy drie “ellendige vertroosters” geleer het hoe om ander aan te moedig. Hy het gesê dat as hy in hulle plek was, hy hulle ‘met die woorde van sy mond sou versterk, en dat die vertroosting van sy lippe vir hulle verligting sou bring’ (Job 16:1-5). Op die ou end is Job deur Elihu en deur Jehovah aangemoedig. — Job 33:24, 25; 36:1, 11; 42:7, 10.

10, 11. (a) Hoekom het Jefta se dogter aanmoediging nodig gehad? (b) Wie het vandag dieselfde soort aanmoediging nodig?

10 Nog ’n voorbeeld van iemand in die ou tyd wat aanmoediging nodig gehad het, is Jefta se dogter. Voordat die rigter Jefta teen die Ammoniete gaan veg het, het hy ’n belofte aan Jehovah gemaak. Hy het belowe dat as Jehovah hom sou help om die geveg te wen, hy die eerste persoon wat uit die huis kom om hom te ontmoet, aan Jehovah sou toewy vir diens by die heiligdom. Die eerste persoon wat uitgekom het om sy oorwinning saam met hom te vier, was sy dogter, sy enigste kind. Dit het Jefta se hart gebreek. Maar hy het sy belofte gehou en sy dogter, wat nog ’n maagd was, na Silo gestuur om vir die res van haar lewe by die tabernakel te dien. — Rigt. 11:30-35.

11 Al was dit moeilik vir Jefta, was dit dalk nog moeiliker vir sy dogter, wat haar pa se besluit gewillig ondersteun het (Rigt. 11:36, 37). Sy het baie dinge opgegee, soos die reg om te trou en kinders te hê. En sy sou ook nie haar familie se naam en erfenis kon laat voortbestaan nie. Daarom het sy baie vertroosting en aanmoediging nodig gehad. Die Bybelverslag sê: “Dít het ’n voorskrif in Israel geword: Van jaar tot jaar het die dogters van Israel gegaan om die dogter van Jefta, die Gileadiet, vier dae in die jaar lof toe te swaai” (Rigt. 11:39, 40). Vandag is daar ook Christene wat ongetroud bly om meer aandag aan “die dinge van die Here” te gee. Kan ons hulle dalk prys en aanmoedig? — 1 Kor. 7:32-35.

DIE APOSTELS HET HULLE BROERS AANGEMOEDIG

12, 13. Hoe het Petrus ‘sy broers versterk’?

12 Die aand voor Jesus se dood het hy vir die apostel Petrus gesê: “Simon, Simon, kyk! Satan het julle geëis om julle soos koring te sif. Maar ek het ’n smeekbede vir jou gedoen dat jou geloof jou nie begewe nie; en wanneer jy dan teruggekeer het, moet jy jou broers versterk.” — Luk. 22:31, 32.

Die apostels se briewe het die gemeentes in die eerste eeu baie aangemoedig, en dit moedig ons vandag nog steeds aan (Sien paragraaf 12-17)

13 Petrus het ’n steunpilaar in die vroeë Christengemeente geword (Gal. 2:9). Sy dapper voorbeeld, tydens Pinkster en ook daarna, het sy broers aangemoedig. Nadat hy jare lank gedien het, het hy aan sy mede-Christene geskryf en gesê: “Ek [het] met min woorde aan julle geskryf, om aanmoediging te gee en ’n ernstige getuienis dat dít die ware onverdiende goedhartigheid van God is; staan hierin vas” (1 Pet. 5:12). Petrus se geïnspireerde briewe het Christene in sy dag aangemoedig, en sy briewe moedig ons vandag nog steeds aan. Ons het beslis hierdie aanmoediging nodig terwyl ons wag vir Jehovah se beloftes om waar te word! — 2 Pet. 3:13.

14, 15. Hoe het die geïnspireerde geskrifte van die apostel Johannes Christene deur die eeue aangemoedig?

14 Die apostel Johannes was ook ’n steunpilaar in die vroeë Christengemeente. Sy boeiende Evangelieverslag van Jesus se bediening het Christene deur die eeue aangemoedig, en doen dit nog steeds. Johannes se Evangelie is die enigste een waarin ons lees dat Jesus se ware dissipels aan hulle liefde vir mekaar uitgeken sou word. — Lees Johannes 13:34, 35.

15 Daar is ook kosbare waarhede in Johannes se drie briewe. Wanneer ons sondes ons mismoedig laat voel, is dit vir ons ’n verligting om te lees dat ‘die bloed van Jesus ons van alle sonde reinig’ (1 Joh. 1:7). En as ons hart ons bly veroordeel, kry ons ’n knop in ons keel en trane van dankbaarheid in ons oë wanneer ons lees dat ‘God groter as ons hart is’ (1 Joh. 3:20). Johannes is die enigste een wat geskryf het dat ‘God liefde is’ (1 Joh. 4:8, 16). En in sy tweede en derde brief prys hy Christene wat aanhou om “in die waarheid te wandel”. — 3 Joh. 3, 4; 2 Joh. 4.

16, 17. Hoe het die apostel Paulus die vroeë Christene aangemoedig?

16 In die eerste eeu was die apostel Paulus heel moontlik die apostel wat die meeste gedoen het om sy broers aan te moedig. Die bestuursliggaam het die leiding geneem vanuit Jerusalem, en dit lyk of die meeste van die apostels tydens die vroeë dae van die Christelike geloof daar gebly het (Hand. 8:14; 15:2). Christene in Judea het oor die Christus gepreek vir mense wat, as gevolg van die Joodse geloof, reeds in een God geglo het. Maar die apostel Paulus is deur die heilige gees gestuur om vir Grieke, Romeine en ander nasies, wat baie gode aanbid het, te preek. — Gal. 2:7-9; 1 Tim. 2:7.

17 Paulus het wyd en syd deur die gebied gereis wat vandag Turkye genoem word, sowel as deur Griekeland en Italië. Hy het vir die nie-Jode in hierdie plekke gepreek en Christengemeentes begin. Hierdie nuwe Christene is deur hulle eie landgenote vervolg en het aanmoediging nodig gehad (1 Tess. 2:14). In ongeveer 50 HJ het Paulus aan die jong gemeente in Tessalonika geskryf: “Ons dank God altyd wanneer ons van julle almal melding maak in ons gebede, want ons dink onophoudelik aan julle getroue werk en julle liefdevolle arbeid en julle volharding” (1 Tess. 1:2, 3). Hy het hulle ook aangespoor om mekaar te versterk, en het gesê: “Hou . . . aan om mekaar te vertroos en mekaar op te bou.” — 1 Tess. 5:11.

’N BESTUURSLIGGAAM WAT AANMOEDIGING GEE

18. Hoe het die bestuursliggaam in die eerste eeu Filippus aangemoedig?

18 In die eerste eeu het die bestuursliggaam al die Christene aangemoedig, insluitende die broers wat die leiding geneem het. Die evangeliedienaar Filippus het die volle ondersteuning van die broers op die bestuursliggaam gehad toe hy vir die Samaritane gepreek het en hulle van Christus geleer het. Hulle het twee van hulle lede, Petrus en Johannes, gestuur om te bid dat die nuwe gelowiges heilige gees moet ontvang (Hand. 8:5, 14-17). Die ondersteuning van die bestuursliggaam moes Filippus sowel as hierdie nuwe broers en susters baie aangemoedig het!

19. Watter uitwerking het die brief wat die bestuursliggaam gestuur het op die vroeë Christengemeente gehad?

19 Later moes die bestuursliggaam besluit of nie-Joodse Christene besny moes word, iets wat volgens die Wet van Moses ’n vereiste vir Jode was (Hand. 15:1, 2). Die verantwoordelike broers het onder die leiding van die heilige gees oor die Skrif geredeneer. Hulle het besluit dat dit nie meer nodig is nie. Hulle het toe ’n brief aan die gemeentes geskryf wat hulle besluit verduidelik het. Verteenwoordigers van die bestuursliggaam is gestuur om die brief na die gemeentes te neem. Die gevolg? “Nadat hulle dit gelees het, was hulle bly oor die aanmoediging.” — Hand. 15:27-32.

20. (a) Hoe word die internasionale broederskap vandag deur die Bestuursliggaam aangemoedig? (b) Watter vraag sal ons in die volgende artikel bespreek?

20 Vandag word lede van die Bethelgesin, spesiale voltydse bedienaars en natuurlik ook die hele internasionale broederskap van ware Christene deur die Bestuursliggaam van Jehovah se Getuies aangemoedig. En die gevolg is dieselfde as wat dit in die eerste eeu was — almal is baie bly oor die aanmoediging! Die Bestuursliggaam het ook in 2015 die brosjure Keer terug na Jehovah uitgegee. Hierdie brosjure het baie mense regoor die wêreld aangemoedig. Maar is dit slegs broers wat die leiding neem wat Jehovah moet navolg deur ander aan te moedig? Ons sal die antwoord op hierdie vraag in die volgende artikel kry.