Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Die pad na ware vryheid

Die pad na ware vryheid

“As die Seun julle . . . vrymaak, sal julle werklik vry wees.” — JOH. 8:36.

LIED: 54, 36

1, 2. (a) Watter bewyse is daar dat mense graag vryheid wil hê? (b) Wat het al gebeur omdat mense probeer het om meer vryheid te kry?

VANDAG word daar baie gepraat oor gelyke regte en vryheid. Regoor die wêreld is daar mense wat graag vry wil wees van onderdrukking, diskriminasie en armoede. Ander dring aan op vryheid van spraak, vryheid van keuse en die reg om te besluit oor hoe hulle wil lewe. Waar jy ook al in die wêreld gaan, lyk dit asof mense graag self wil besluit wat hulle wil doen en hoe hulle hulle lewe wil lei.

2 Maar om hierdie vryheid te kry, is natuurlik ’n ander saak. Mense reël protesoptogte en kom selfs in opstand teen regerings. Maar kry hulle regtig wat hulle wil hê? Nee. Dit lei baie keer tot groot hartseer, en party verloor selfs hulle lewe. Dit alles bewys net weer hoe waar die woorde van koning Salomo is dat “die mens oor die mens geheers het tot sy nadeel”. — Pred. 8:9.

3. Wat kan ons doen om ware geluk en tevredenheid te kry?

3 Die Christendissipel Jakobus het gewys hoe ons ware geluk en tevredenheid kan kry. Hy het geskryf: “Hy wat diep kyk in die volmaakte wet wat tot vryheid behoort en daarby bly, hy sal . . . gelukkig wees deurdat hy dit doen” (Jak. 1:25). Jehovah, die een wat hierdie volmaakte wet gegee het, weet presies watter dinge mense nodig het om heeltemal gelukkig en tevrede te wees. Hy het vir die eerste mensepaar alles gegee wat hulle nodig gehad het om gelukkig te wees, insluitende ware vryheid.

TOE DIE MENS WERKLIK VRY WAS

4. Watter vryheid het Adam en Eva gehad? (Sien prent aan begin van artikel.)

4 Wanneer ons die eerste twee hoofstukke van Genesis lees, kan ons sien dat Adam en Eva die soort vryheid gehad het waarvan mense vandag maar net kan droom. Hulle het alles gehad wat hulle nodig gehad het, hulle was nie bang vir enigiets nie en niemand het hulle onregverdig behandel nie. Adam en Eva was glad nie bekommerd oor wat hulle gaan eet, watter werk hulle gaan doen en of hulle sou siek word en sou sterf nie (Gen. 1:27-29; 2:8, 9, 15). Beteken dit dat hulle absolute vryheid gehad het, met ander woorde vryheid sonder enige beperkings? Kom ons kyk.

5. Wat het mense eintlik nodig om vryheid te kan geniet?

5 Baie mense dink vandag dat ware vryheid beteken dat hulle kan doen net wat hulle wil, maak nie saak wat die gevolge is nie. The World Book Encyclopedia sê dat vryheid “die vermoë is om besluite te neem en dit dan uit te voer”. Maar dit sê verder: “Uit ’n wetlike oogpunt is mense vry as die gemeenskap nie van hulle verwag om volgens onregverdige, onnodige of onredelike beperkings te lewe nie.” Dit wys dat sekere beperkings wel nodig is sodat almal in ’n gemeenskap vry kan wees. Maar die vraag is: Wie het die reg om te besluit watter beperkings regverdig, nodig en redelik is?

6. (a) Hoekom is Jehovah die enigste een wat absolute vryheid het? (b) Watter soort vryheid kan mense hê, en hoekom?

6 Wanneer dit by vryheid kom, moet ons in gedagte hou dat Jehovah God die enigste een is wat absolute en onbeperkte vryheid het. Hoekom? Want hy is die Skepper van alles en die almagtige Soewerein van die heelal (1 Tim. 1:17; Op. 4:11). Dink aan die pragtige woorde wat koning Dawid gebruik het om Jehovah se unieke en hoë posisie te beskryf. (Lees 1 Kronieke 29:11, 12.) Maar alle skepsele in die hemel en op die aarde het net relatiewe vryheid, met ander woorde vryheid met beperkings. Hulle moet erken dat Jehovah God die enigste een is wat die reg het om te besluit watter beperkings regverdig, nodig en redelik is. Dit is presies wat Jehovah God reg van die begin af vir sy menseskepping gedoen het.

7. Wat is ’n paar dinge wat ons instinktief doen wat ons help om gelukkig te wees?

7 Hoewel Adam en Eva aan die begin baie vryheid gehad het, het hulle vryheid beperkings gehad. Party van hierdie beperkings was instinktief, met ander woorde hulle het dit gedoen sonder om daaraan te dink. Maar dit was nog steeds beperkings. Hulle het byvoorbeeld geweet dat hulle moes asemhaal, eet en slaap om aan die lewe te bly. Sou hulle dink dat hulle minder vryheid het omdat hulle hierdie dinge moes doen? Nee, want Jehovah het seker gemaak dat selfs wanneer hulle hierdie dinge doen, dit hulle gelukkig en tevrede sou maak (Ps. 104:14, 15; Pred. 3:12, 13). Wie hou nie daarvan om vars lug in te asem, lekker kos te eet of wakker te word ná ’n goeie nagrus nie? Ons almal hou daarvan om hierdie dinge te doen, en niemand voel dat dit ’n las is of dat dit hulle beperk nie. Adam en Eva het sekerlik ook so gevoel.

8. Watter spesifieke opdrag het God vir Adam en Eva gegee, en hoekom?

8 Jehovah het vir Adam en Eva die spesifieke opdrag gegee om kinders te hê en vir die aarde te sorg (Gen. 1:28). Het hierdie opdrag beteken dat hulle vryheid op die een of ander manier van hulle af weggeneem is? Natuurlik nie! Dit is gegee sodat mense deel kon wees van hulle Skepper se voorneme met die aarde. Hulle sou help om die aarde ’n paradys te maak, waar volmaakte mense vir ewig kon bly (Jes. 45:18). Vandag is dit nie teen Jehovah se wil as mense besluit om nie te trou nie of om te trou maar nie kinders te hê nie. Maar al is daar uitdagings, besluit baie mense nog steeds om te trou en ’n gesin te hê (1 Kor. 7:36-38). Hoekom? Want onder normale omstandighede maak dit mense gelukkig en tevrede (Ps. 127:3). Adam en Eva kon saam met hulle gesin vir ewig gelukkig gewees het as hulle Jehovah gehoorsaam het.

HOE DIE MENS WARE VRYHEID VERLOOR HET

9. Hoekom was God se opdrag in Genesis 2:17 nie onregverdig, onnodig of onredelik nie?

9 Jehovah het vir Adam en Eva ook ’n ander opdrag gegee. En hy het duidelik gesê wat sou gebeur as hulle dit nie gehoorsaam nie. Hy het gesê: “Wat die boom van die kennis van goed en kwaad betref, daarvan mag jy nie eet nie, want die dag as jy daarvan eet, sal jy sekerlik sterf” (Gen. 2:17). Was hierdie opdrag onregverdig, onnodig of onredelik? Het dit beteken dat Adam en Eva se vryheid van hulle af weggeneem is? Definitief nie. ’n Paar Bybelgeleerdes het al gesê dat God se opdrag logies is en dat dit sin maak. Een geleerde sê byvoorbeeld: “Uit God se opdrag in [Genesis 2:16, 17] lei ons af dat net God weet wat goed . . . is vir die mens en net God weet wat nie goed . . . is vir hulle nie. Om die voordele van wat ‘goed’ is te geniet, moet die mens op God vertrou en hom gehoorsaam. As hulle ongehoorsaam is, sal hulle self moet besluit wat goed is . . . en wat nie goed is nie.” Dit is iets wat mense nie op hulle eie suksesvol kan doen nie.

Adam en Eva se besluit het baie slegte gevolge gehad! (Sien paragraaf 9-12)

10. Hoekom is wilsvryheid nie dieselfde as die reg om te besluit wat goed is en wat sleg is nie?

10 Vandag dink baie mense dat Jehovah se opdrag aan Adam beteken het dat Adam nie die vryheid gehad het om te doen wat hy wou nie. Maar hulle verwar wilsvryheid met die reg om te besluit wat goed is en wat sleg is. Adam en Eva het die vryheid gehad om te kies of hulle God wil gehoorsaam of nie. Maar net Jehovah het die reg om te besluit wat goed is en wat sleg is, soos voorgestel word deur “die boom van die kennis van goed en kwaad” in die tuin van Eden (Gen. 2:9). Ons moet erken dat ons nie altyd weet wat die gevolge van ons besluite sal wees nie. Ons weet ook nie of dinge altyd goed sal uitdraai nie. Daarom sien ons baie keer dat mense ’n besluit neem wat hulle dink goed is, maar die gevolge daarvan is dat hulle swaarkry en baie hartseer deurmaak (Spr. 14:12). Een van die hoofredes waarom dit gebeur, is omdat mense beperk is in wat hulle kan doen. Jehovah het deur sy opdrag op ’n liefdevolle manier vir Adam en Eva geleer hoe om ware vryheid te geniet. Hoekom sê ons so, en hoe het hulle op hierdie opdrag gereageer?

11, 12. Hoekom het Adam en Eva se besluit slegte gevolge gehad? Gee ’n voorbeeld.

11 Ongelukkig het Adam en Eva besluit om ongehoorsaam te wees. Toe Satan belowe het dat ‘hulle oë sekerlik geopen sal word en hulle sekerlik soos God sal word deur goed en kwaad te ken’, het Eva besluit om na hom te luister (Gen. 3:5). Het Adam en Eva se besluit vir hulle uiteindelik meer vryheid gegee? Ongelukkig nie. Wat Satan gesê het, het nie gebeur nie. Hulle het gou uitgevind dat om Jehovah se leiding te verwerp en hulle eie kop te volg, slegte gevolge het (Gen. 3:16-19). Hoekom? Want Jehovah het nie vir mense die vryheid gegee om vir hulleself te besluit wat goed is en wat sleg is nie. — Lees Spreuke 20:24; Jeremia 10:23.

12 Dit is soos ’n vlieënier wat ’n vliegtuig vlieg. Om veilig aan te kom by die plek waarheen hy wil gaan, moet hy gewoonlik ’n goedgekeurde vlugplan volg. Moderne vliegtuie het toerusting wat die vlieënier help om by sy vlugplan te bly en om in kontak te wees met lugverkeerbeheerders sodat hy sy bestemming veilig kan bereik. Maar as die vlieënier dit nie doen nie en self besluit watter roete hy wil volg, kan dit baie gevaarlik wees. Net soos hierdie vlieënier, wou Adam en Eva dinge op hulle eie manier doen. Hulle was nie gehoorsaam aan God nie. Die gevolg? Wat met hulle gebeur het, was soos ’n ernstige vliegtuigongeluk. Dit het gelei tot sonde en die dood, vir hulle en al hulle kinders (Rom. 5:12). Omdat hulle hulle eie besluite wou maak, het hulle die ware vryheid verloor wat Jehovah hulle gegee het.

HOE OM WARE VRYHEID TE KRY

13, 14. Hoe kan ons ware vryheid kry?

13 Mense dink dat dit vir hulle beter is om meer vryheid te hê. Maar in werklikheid is onbeperkte vryheid ’n tweesnydende swaard. Vryheid het natuurlik baie voordele. Maar kan jy jou voorstel hoe die wêreld sou wees as daar geen beperkings was nie? Daarom sê The World Book Encyclopedia dat ‘die wette van elke georganiseerde gemeenskap ingewikkeld is omdat daar ’n balans moet wees tussen vryhede en beperkings’. “Ingewikkeld” is beslis die regte woord. Dink net aan die ontsaglike hoeveelheid wetboeke wat mense al geskryf het en die duisende regsgeleerdes wat nodig is om hierdie wette te verstaan en toe te pas.

14 Maar Jesus het gewys dat daar ’n eenvoudige manier is om ware vryheid te kry. Hy het gesê: “As julle in my woord bly, is julle werklik my dissipels, en julle sal die waarheid ken, en die waarheid sal julle vrymaak” (Joh. 8:31, 32). Jesus se woorde wys dat daar twee dinge is wat ons moet doen om ware vryheid te kry: Eerstens, ons moet die waarheid aanvaar wat hy geleer het, en tweedens, ons moet een van sy dissipels word. As ons dit doen, sal dit ons ware vryheid gee. Maar waarvan sal ons vry wees? Jesus het verduidelik: “Elkeen wat sonde doen, is ’n slaaf van die sonde . . . As die Seun julle dan vrymaak, sal julle werklik vry wees.” — Joh. 8:34, 36.

15. Waarom kan die vryheid wat Jesus belowe het ons “werklik vry” maak?

15 Dit is duidelik dat die vryheid wat Jesus sy dissipels belowe het, baie beter is as enige soort vryheid wat die meeste mense vandag graag wil hê. Toe Jesus gesê het: “As die Seun julle dan vrymaak, sal julle werklik vry wees”, het hy gepraat van bevryding van die ergste soort slawerny en onderdrukking wat die mens nog ooit geken het — om “’n slaaf van die sonde” te wees. Sonde kan nie net veroorsaak dat ons slegte dinge doen nie. Dit kan ook keer dat ons doen wat ons weet reg is of dat ons dinge na die beste van ons vermoë doen. In hierdie sin is ons slawe van sonde, en dit veroorsaak net frustrasie, pyn, lyding en uiteindelik die dood (Rom. 6:23). Die apostel Paulus het sulke pyn en lyding deurgemaak. (Lees Romeine 7:21-25.) Dit is eers wanneer ons van sonde bevry is dat ons die hoop kan hê om die ware vryheid te kry wat Adam en Eva gehad het.

16. Hoe kan ons werklik vry word?

16 Jesus se stelling “as julle in my woord bly”, wys dat daar sekere vereistes en beperkings is as ons deur hom bevry wil word. As toegewyde Christene lewe ons nie meer vir onsself nie. Ons het besluit om dissipels van Christus te wees en binne die beperkings van sy leringe te bly (Matt. 16:24). Net soos Jesus belowe het, sal ons werklik vry wees wanneer ons al die voordele van sy losprysofferande ontvang.

17. (a) Wat sal ons werklik tevrede maak en ons lewe ware betekenis gee? (b) Wat sal ons in die volgende artikel bespreek?

17 As ons Jesus navolg en sy leringe gehoorsaam, sal dit ons lewe ware betekenis gee en ons sal werklik tevrede wees. En wanneer ons dit doen, kan ons uiteindelik heeltemal van die sonde en die dood bevry word. (Lees Romeine 8:1, 2, 20, 21.) In die volgende artikel sal ons bespreek hoe ons die vryheid wat ons nou het, goed kan gebruik sodat ons Jehovah, die God van ware vryheid, vir ewig kan vereer.