Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

STUDIEARTIKEL 17

Aanvaar Jehovah se hulp om bose geeste te weerstaan

Aanvaar Jehovah se hulp om bose geeste te weerstaan

“Ons het ’n worstelstryd . . . teen die bose geesmagte in die hemelse plekke.” – EF. 6:12.

LIED 55 Vrees hul nie!

IN HIERDIE ARTIKEL *

1. Wat is een van die liefdevolste maniere hoe Jehovah wys dat hy vir ons omgee, volgens Efesiërs 6:10-13? Verduidelik.

EEN van die liefdevolste maniere hoe Jehovah wys dat hy vir ons as sy knegte omgee, is deur ons te help om ons vyande te weerstaan. Ons grootste vyande is Satan en die demone. Jehovah waarsku ons teen hierdie vyande, en hy gee ons wat ons nodig het om hulle te weerstaan. (Lees Efesiërs 6:10-13.) Wanneer ons Jehovah se hulp aanvaar en heeltemal op hom vertrou, kan ons dit regkry om die Duiwel teë te staan. Ons kan dieselfde soort vertroue hê as wat die apostel Paulus gehad het. Hy het geskryf: “As God vir ons is, wie sal teen ons wees?” – Rom. 8:31.

2. Wat sal ons in hierdie artikel bespreek?

2 Ons as ware Christene is nie gefassineerd met Satan en die demone nie. Ons fokus eerder daarop om oor Jehovah te leer en hom te dien (Ps. 25:5). Maar ons moet nog steeds weet watter basiese metodes Satan gebruik. Hoekom? Sodat ons nie deur hom mislei word nie (2 Kor. 2:11). In hierdie artikel gaan ons na een van die hoofmaniere kyk wat Satan en die demone gebruik om mense te probeer mislei. Ons gaan ook kyk hoe ons dit kan regkry om hulle te weerstaan.

HOE BOSE GEESTE MENSE MISLEI

3-4. (a) Wat is spiritisme? (b) Hoe algemeen is spiritisme?

3 Spiritisme is een van die hoofmaniere wat Satan en die demone gebruik om mense te probeer mislei. Dié wat spiritisme beoefen, beweer dat hulle dinge weet of beheer wat mense nie gewoonlik kan weet of beheer nie. Byvoorbeeld, party beweer dat hulle die toekoms kan voorspel deur waarsêery en astrologie te gebruik. Ander maak dalk asof hulle met mense praat wat gesterf het. Party beoefen towery, en hulle probeer dalk om ander mense te toor. *

4 Hoe algemeen is dit dat mense in spiritisme glo? Toe ’n opname in 18 lande in Latyns-Amerika en die Karibiese Eilande gedoen is, het omtrent ’n derde van die mense wat aan die opname deelgeneem het, gesê dat hulle in towery glo, en omtrent net soveel het geglo dat dit moontlik is om met geeste te kommunikeer. Nog ’n opname is in 18 lande in Afrika gedoen. In hierdie opname het gemiddeld meer as die helfte van die mense gesê dat hulle in towery glo. Ons moet natuurlik onsself teen spiritisme beskerm, maak nie saak waar ons bly nie, want Satan wil “die hele bewoonde aarde mislei”. – Op. 12:9.

5. Hoe voel Jehovah oor spiritisme?

5 Jehovah is “die God van waarheid” (Ps. 31:5). Hoe voel hy oor spiritisme? Hy haat dit! Jehovah het vir die Israeliete gesê: “Daar mag niemand onder jou gevind word wat sy seun of sy dogter deur die vuur laat gaan, wat van waarsêery gebruik maak, die toorkuns beoefen of voortekens soek of wat ’n towenaar is nie, of wat ’n towerspreuk oor ander uitspreek of ’n geestemedium of ’n beroepsvoorspeller van gebeure om inligting vra of die dooies raadpleeg nie. Want elkeen wat hierdie dinge doen, is vir Jehovah verfoeilik” (Deut. 18:10-12). Christene is nie onder die Wet wat Jehovah vir die Israeliete gegee het nie. Maar ons weet dat hy nog steeds dieselfde oor spiritisme voel. – Mal. 3:6.

6. (a) Hoe gebruik Satan spiritisme om mense kwaad aan te doen? (b) Wat is die waarheid oor die toestand van die dooies, volgens Prediker 9:5?

6 Jehovah waarsku ons teen spiritisme omdat hy weet dat Satan dit gebruik om mense kwaad aan te doen. Satan gebruik spiritisme om leuens te bevorder – insluitende die leuen dat die dooies iewers anders voortleef. (Lees Prediker 9:5.) Satan gebruik ook spiritisme om mense in vrees te laat lewe en om hulle van Jehovah af weg te hou. Hy wil hê dat mense wat spiritisme beoefen op bose geeste moet vertrou, en nie op Jehovah nie.

HOE ONS BOSE GEESTE WEERSTAAN

7. Wat sê Jehovah vir ons?

7 Soos vroeër genoem is, sê Jehovah vir ons wat ons moet weet sodat ons nie deur Satan en die demone mislei word nie. Kom ons kyk na ’n paar praktiese dinge wat ons kan doen om Satan en die demone te weerstaan.

8. (a) Wat is die hoofmanier hoe ons bose geeste weerstaan? (b) Hoe wys Psalm 146:4 dat dit wat Satan oor die dooies sê ’n leuen is?

8 Lees God se Woord en dink daaroor na. Dit is die hoofmanier hoe ons leuens verwerp wat deur bose geeste bevorder word. God se Woord is soos ’n skerp swaard wat deur Satan se leuens sny (Ef. 6:17). Byvoorbeeld, God se Woord wys dat dit ’n leuen is dat die dooies met die lewendes kan kommunikeer. (Lees Psalm 146:4.) Dit herinner ons ook daaraan dat net Jehovah werklik kan voorspel wat in die toekoms gaan gebeur (Jes. 45:21; 46:10). As ons God se Woord lees en gereeld daaroor nadink, sal dit ons help om die leuens wat bose geeste bevorder te verwerp en te haat.

9. Watter soort spiritistiese gebruike vermy ons?

9 Weier om enigiets te doen wat met spiritisme verband hou. Ons as ware Christene sal nooit enige vorm van spiritisme beoefen nie. Byvoorbeeld, ons sal nooit na ’n geestemedium gaan of op enige ander manier probeer om met die dooies te kommunikeer nie. Soos in die vorige artikel bespreek is, neem ons nie deel aan begrafnisgebruike wat op die lering gebaseer is dat die dooies iewers voortleef nie. En ons maak nie gebruik van astrologie of waarsêery om te probeer uitvind wat in die toekoms gaan gebeur nie (Jes. 8:19). Ons weet dat sulke gebruike baie gevaarlik is en dat dit ons dalk in direkte kontak met Satan en die demone kan bring.

Volg die vroeë Christene na deur ontslae te raak van enigiets wat met die bonatuurlike te doen het en deur spiritistiese vermaak te verwerp (Sien paragraaf 10-12)

10-11. (a) Wat het party in die eerste eeu gedoen toe hulle die waarheid geleer het? (b) Volgens 1 Korintiërs 10:21, hoekom moet ons die voorbeeld van die vroeë Christene navolg, en hoe kan ons dit doen?

10 Raak ontslae van enigiets wat met die bonatuurlike te doen het. Party mense wat in die eerste eeu in Efese gebly het, was by spiritisme betrokke. Toe hulle die waarheid geleer het, het hulle groot veranderinge gemaak. “Heelparty van dié wat toorkunste beoefen het, het hulle boeke bymekaargebring en voor almal verbrand” (Hand. 19:19). Hierdie persone het alles gedoen wat hulle kon om bose geeste te weerstaan. Hulle boeke oor towery was baie duur. Maar in plaas daarvan om dit weg te gee of te verkoop, het hulle dit vernietig. Om Jehovah se hart bly te maak was vir hulle belangriker as die waarde van daardie boeke.

11 Hoe kan ons die voorbeeld van daardie eerste-eeuse Christene navolg? Dit sal wys wees om van enigiets ontslae te raak wat met die bonatuurlike te doen het. Dit sluit gelukbringers of enigiets anders in wat mense dra of besit om hulle teen bose geeste te beskerm. – Lees 1 Korintiërs 10:21.

12. Watter vrae moet ons ons afvra oor ons vermaak?

12 Dink mooi na oor jou vermaak. Vra jou af: ‘Lees ek boeke, tydskrifte of artikels op die Internet oor die bonatuurlike? Wat van die musiek waarna ek luister, die films en TV-programme waarna ek kyk of die videospeletjies wat ek speel? Sluit enige van my vermaak spiritisme in? Bevat dit dinge soos vampiere, zombies of die bonatuurlike? Gee dit die indruk dat towery, towerspreuke of vloeke net onskuldige pret is?’ Maar natuurlik het nie alle vermaak wat sprokiesverhale of fantasieë uitbeeld met spiritisme te doen nie. Wanneer jy oor jou vermaak nadink, wees vasbeslote om keuses te maak wat jou sal help om ver weg te bly van enigiets wat Jehovah haat. Ons wil aanhou om ons bes te doen om “geen oortreding teen God [te] begaan nie”. – Hand. 24:16. *

13. Wat moet ons nie doen nie?

13 Moenie stories oor die demone vertel nie. Ons wil Jesus se voorbeeld navolg (1 Pet. 2:21). Voordat Jesus aarde toe gekom het, het hy in die hemel gebly en het hy baie oor Satan en die demone geweet. Maar hy het nie stories vertel oor wat daardie bose geeste gedoen het nie. Jesus wou mense oor Jehovah leer, nie oor Satan nie. Ons kan Jesus navolg deur nie stories oor die demone te versprei nie. Ons wil eerder deur ons woorde wys dat ons “hart . . . geroer [is] deur ’n aangename saak”, dit wil sê die waarheid. – Ps. 45:1.

Ons hoef nie bose geeste te vrees nie. Jehovah, Jesus en die engele is baie kragtiger as hulle (Sien paragraaf 14-15) *

14-15. (a) Hoekom moet ons nie bose geeste vrees nie? (b) Watter bewyse is daar dat Jehovah vandag sy knegte beskerm?

14 Moenie bose geeste vrees nie. In hierdie onvolmaakte wêreld kan slegte dinge met ons gebeur. ’n Mens kan skielik siek word, in ’n ongeluk betrokke wees of selfs sterf. Maar ons moenie dink dat onsigbare geeste daarvoor verantwoordelik is nie. Die Bybel verduidelik dat “tyd en onvoorsiene gebeurtenisse” almal tref (Pred. 9:11). En wat die demone betref, Jehovah het gewys dat hy baie kragtiger as hulle is. Byvoorbeeld, Jehovah het nie toegelaat dat Satan Job doodmaak nie (Job 2:6). In die dae van Moses het Jehovah gewys dat hy kragtiger is as die priesters van Egipte wat towery beoefen het (Eks. 8:18; 9:11). Later in die hemel het Jehovah vir Jesus die gesag oor Satan en die demone gegee, en toe het Jesus hulle uit die hemel gegooi. En in die nabye toekoms sal hulle in die afgrond gegooi word, waar hulle niemand kwaad sal kan aandoen nie. – Op. 12:9; 20:2, 3.

15 Ons sien baie bewyse dat Jehovah sy knegte vandag beskerm. Dink hieraan: Regoor die wêreld preek ons vir mense en leer ons hulle die waarheid (Matt. 28:19, 20). Op hierdie manier maak ons hulle bewus van die Duiwel se goddelose werke. Satan sou sekerlik ons werk stopsit as hy kon, maar hy kan nie. Daarom hoef ons nie bose geeste te vrees nie. Ons weet “Jehovah se oë deurloop die hele aarde om sy krag te toon ten behoewe van dié wie se hart volkome teenoor hom is” (2 Kron. 16:9). As ons getrou is aan Jehovah, kan die demone nie enige permanente skade aan ons doen nie.

DIÉ WAT JEHOVAH SE HULP AANVAAR, WORD GESEËN

16-17. Gee ’n voorbeeld van hoe moedig ons moet wees om bose geeste te weerstaan.

16 Ons moet moedig wees om bose geeste te weerstaan, veral as vriende en familie wat goed bedoel ons teëstaan. Maar Jehovah seën dié wat sulke moed het. Kyk na die voorbeeld van ’n suster met die naam Erica, wat in Ghana bly. Erica was 21 toe sy die Bybel begin studeer het. Omdat haar pa ’n toordokter was, is daar van haar verwag om aan ’n spiritistiese gebruik deel te neem wat behels het dat sy vleis moes eet wat aan haar pa se gode geoffer is. Toe Erica geweier het om dit te doen, was dit vir die familie asof sy die gode beledig het. Die familie het geglo dat die gode hulle met verstandelike en fisiese siektes sou straf.

17 Erica se familie het haar probeer forseer om aan die gebruik deel te neem, maar sy het geweier om dit te doen, selfs al het dit beteken dat sy die huis moes verlaat. Getuies het haar genooi om by hulle te bly. Op hierdie manier het Jehovah Erica met ’n nuwe familie geseën – mede-gelowiges wat soos haar broers en susters geword het (Mark. 10:29, 30). Alhoewel Erica se familie haar afgeskryf het en selfs haar besittings verbrand het, het sy getrou aan Jehovah gebly, haar laat doop en dien sy nou as ’n gewone pionier. Sy vrees nie die demone nie. En Erica sê die volgende oor haar familie: “Ek bid elke dag dat my familie die vreugde sal ervaar om Jehovah te ken en die vryheid sal geniet wat ’n mens kry wanneer jy ons liefdevolle God dien.”

18. Hoe word ons geseën wanneer ons op Jehovah vertrou?

18 Nie elkeen van ons se geloof sal op hierdie manier getoets word nie. Maar ons almal moet bose geeste weerstaan en op Jehovah vertrou. As ons dit doen, sal ons baie seëninge kry, en ons sal nie deur Satan se leuens mislei word nie. Ons sal ook nie toelaat dat vrees vir die demone veroorsaak dat ons Jehovah ophou dien nie. En nog belangriker, ons sal ons vriendskap met Jehovah versterk. Die dissipel Jakobus het geskryf: “Onderwerp julle dan aan God; maar staan die Duiwel teë, en hy sal van julle af wegvlug. Kom nader aan God, en hy sal nader aan julle kom.” – Jak. 4:7, 8.

LIED 150 Soek God, van wie jou redding kom

^ par. 5 Jehovah het ons liefdevol gewaarsku teen bose geeste en teen die skade wat hulle kan veroorsaak. Hoe probeer bose geeste mense mislei? Wat kan ons doen om bose geeste te weerstaan? Hierdie artikel bespreek hoe Jehovah ons help om nie deur hulle mislei te word nie.

^ par. 3 WAT DIT BETEKEN: Spiritisme verwys na opvattings en gebruike wat met die demone te doen het. Dit sluit die lering in dat die geeste van dooie mense ná die dood van die liggaam voortleef en dat hierdie geeste met die lewendes kan kommunikeer, veral deur ’n persoon (’n medium). Spiritisme sluit ook gebruike in soos towery en waarsêery. In hierdie artikel verwys towery na gebruike wat te doen het met die okkulte, of die bonatuurlike. Dit kan insluit dat ’n persoon ’n vloek of towerspreuk oor iemand anders uitspreek of dit verbreek. Dit verwys nie na kulkunsies waar dit lyk of iemand iets laat verdwyn of verskyn net om mense te vermaak nie.

^ par. 12 Ouer manne het nie die reg om reëls te maak wanneer dit by vermaak kom nie. Elke Christen moet eerder hulle Bybelopgeleide gewete gebruik wanneer hulle kies wat hulle gaan lees, kyk of speel. Wyse gesinshoofde maak seker dat hulle gesin se vermaak met Bybelbeginsels ooreenstem. – Sien die artikel op jw.org® Verbied Jehovah se Getuies sekere rolprente, boeke of liedjies?” onder OMTRENT ONS > ALGEMENE VRAE.

^ par. 54 BESKRYWING VAN PRENT: ’n Uitbeelding van Jesus as ons magtige hemelse Koning wat ’n leërmag van engele lei. Jehovah se troon is bo hulle.