Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

STUDIEARTIKEL 16

Verdedig die waarheid oor die dood

Verdedig die waarheid oor die dood

“Dit is hoe ons kennis neem van [of onderskei tussen] die geïnspireerde uiting van die waarheid en die geïnspireerde uiting van die dwaling.” – 1 JOH. 4:6.

LIED 73 Gee ons vrymoedigheid, Heer

IN HIERDIE ARTIKEL *

Wanneer daar ’n dood in die familie is, kan jy jou familie vertroos eerder as om aan gebruike deel te neem wat God nie goedkeur nie (Sien paragraaf 1-2) *

1-2. (a) Op watter maniere het Satan mense mislei? (b) Wat sal ons in hierdie artikel bespreek?

SATAN, “die vader van die leuen”, mislei mense al vanaf die begin van die mens se geskiedenis (Joh. 8:44). Party van sy leuens sluit valse leringe in oor die dood en oor lewe ná die dood. Baie gewilde gebruike en bygelowe is op hierdie leringe gebaseer. As gevolg hiervan moes ’n hele paar van ons broers en susters “hard . . . stry vir die geloof” wanneer iemand in hulle familie of gemeenskap gesterf het. – Jud. 3.

2 Wat kan jou help om dit wat die Bybel oor die dood leer te verdedig wanneer daar van jou verwag word om aan hierdie gebruike deel te neem? (Ef. 6:11). Hoe kan jy ’n mede-Christen vertroos en versterk wat dalk druk ondervind om aan gebruike deel te neem wat God nie goedkeur nie? In hierdie artikel gaan ons bespreek hoe Jehovah ons help om dit te doen. Maar kom ons kyk eers wat die Bybel oor die dood sê.

DIE WAARHEID OOR DIE TOESTAND VAN DIE DOOIES

3. Wat was die gevolg van die eerste leuen?

3 God wou nooit hê dat mense moes sterf nie. Maar as Adam en Eva vir ewig wou lewe, moes hulle gehoorsaam wees aan Jehovah, wat hulle hierdie eenvoudige bevel gegee het: “Wat die boom van die kennis van goed en kwaad betref, daarvan mag jy nie eet nie, want die dag as jy daarvan eet, sal jy sekerlik sterf” (Gen. 2:16, 17). Toe het Satan in die prentjie gekom. Satan het deur middel van ’n slang gepraat en vir Eva gesê: “Julle sal sekerlik nie sterf nie.” Ongelukkig het sy die leuen geglo en die vrug geëet. Later het haar man ook die vrug geëet (Gen. 3:4, 6). Op hierdie manier het sonde en die dood in die wêreld ingekom. – Rom. 5:12.

4-5. Hoe word mense nog steeds deur Satan mislei?

4 Adam en Eva het gesterf, net soos God gesê het. Maar Satan het nie opgehou om leuens oor die dood te versprei nie. Later het hy ander leuens begin vertel. Een van daardie leuens is die lering dat die fisiese liggaam doodgaan, maar dat ’n deel van ’n persoon voortleef, miskien as ’n gees. Verskillende weergawes van hierdie leuen het baie mense tot in ons dag mislei. – 1 Tim. 4:1.

5 Hoekom glo so baie mense Satan se leuens? Satan weet hoe mense oor die dood voel en hy gebruik hierdie inligting om hulle te mislei. Ons is geskep om vir ewig te lewe, en daarom wil ons nie sterf nie (Pred. 3:11). Ons sien die dood as ’n vyand. – 1 Kor. 15:26.

6-7. (a) Het Satan dit reggekry om die waarheid oor die dood ’n geheim te hou? Verduidelik. (b) Hoe help Bybelwaarheid ons om nie vir die dood bang te wees nie?

6 Satan kon nie die waarheid oor die dood ’n geheim hou nie, ten spyte van sy pogings. Om die waarheid te sê, vandag weet en verkondig meer mense as ooit tevore wat die Bybel leer oor die toestand van die dooies en die hoop vir die dooies (Pred. 9:5, 10; Hand. 24:15). Hierdie waarhede vertroos ons en help ons om nie bang te wees en te wonder oor wat gebeur wanneer ’n persoon sterf nie. Ons is byvoorbeeld nie bang vir die dooies nie, en ons is nie bang dat iets slegs sal gebeur met ons geliefdes wat gesterf het nie. Ons weet dat hulle nie meer lewe nie en dat hulle niemand kan seermaak nie. Dit is asof hulle in ’n diep slaap is (Joh. 11:11-14). Ons weet ook dat die dooies nie bewus is dat tyd verbygaan nie. Daarom sal dit vir dié wat ’n opstanding gaan kry, selfs vir dié wat honderde jare lank dood was, wees asof net ’n paar sekondes verbygegaan het.

7 Stem jy nie saam dat die waarheid oor die toestand van die dooies duidelik, eenvoudig en logies is nie? Dit verskil heeltemal van Satan se leuens, wat mense net deurmekaar maak! Maar hierdie leuens mislei nie net mense nie, dit belaster ook ons Skepper. Om die slegte gevolge van Satan se leuens beter te verstaan, sal ons die volgende vrae bespreek: Hoe het Satan se leuens Jehovah belaster? Hoe het hierdie leuens mense laat dink dat dit onnodig is om aan Christus se losprysoffer te glo? Hoe het dit meer pyn en hartseer vir mense veroorsaak?

DIE SLEGTE GEVOLGE VAN SATAN SE LEUENS

8. Hoe word Jehovah deur Satan se leuens belaster, volgens Jeremia 19:5?

8 Satan se leuens oor die dood belaster Jehovah. Hierdie leuens sluit die valse lering in dat die dooies ly omdat hulle in ’n vuur brand. Sulke leringe belaster God! Hoe so? Dit laat mense glo dat die God van liefde dieselfde wrede persoonlikheid as die Duiwel het (1 Joh. 4:8). Hoe laat dit jou voel? En nog belangriker, hoe laat dit Jehovah voel, wat alle vorme van wreedheid haat? – Lees Jeremia 19:5.

9. Watter uitwerking het Satan se leuens op mense se beskouing van Christus se losprysoffer, wat in Johannes 3:16 en 15:13 beskryf word?

9 Satan se leuens oor die dood laat mense dink dat geloof in Christus se losprysoffer onnodig is (Matt. 20:28). Nog ’n sataniese leuen is dat mense ’n onsterflike siel het. As dit waar was, sou almal vir ewig lewe. Dit sou dan nie vir Christus nodig gewees het om sy lewe vir ons as ’n losprys te gee sodat ons vir ewig kan lewe nie. Onthou, Christus se offerande is die grootste bewys van liefde aan die mensdom. (Lees Johannes 3:16; 15:13.) Dink net hoe Jehovah en sy Seun voel oor leringe wat mense laat dink dat hierdie kosbare geskenk onnodig is!

10. Hoe het Satan se leuens oor die dood meer pyn en hartseer vir mense veroorsaak?

10 Satan se leuens veroorsaak pyn en hartseer vir mense. Daar word dalk vir ouers gesê wat treur oor die dood van hulle kind, dat God hulle kind weggeneem het, miskien om ’n engel in die hemel te wees. Vertroos hierdie sataniese leuen hulle of laat dit hulle erger voel? Die valse lering van die helse vuur is al gebruik om vervolging te regverdig, insluitende die verbranding van mense op die brandstapel omdat hulle die kerk se leerstellings teëgestaan het. Volgens ’n boek oor die Spaanse Inkwisisie het party wat verantwoordelik was vir hierdie wreedheid dalk geglo dat hulle eintlik net vir ketters, of vyande van die kerk, “’n voorsmakie gee van hoe dit sou wees om vir ewig in ’n helse vuur te brand” sodat hulle berou sou toon voordat hulle sterf en nie in die helse vuur brand nie. In baie lande voel mense verplig om hulle dooie voorouers te aanbid, hulle te vereer of om ’n seëning van hulle te vra. Ander wil hulle voorouers tevrede stel om straf te vermy. Ongelukkig word mense nie werklik vertroos wanneer hulle in dinge glo wat op sataniese leuens gebaseer is nie. Dit veroorsaak eerder onnodige angs of selfs vrees.

HOE ONS BYBELWAARHEID KAN VERDEDIG

11. Hoe sal familielede of vriende wat dalk goed bedoel ons probeer kry om dinge te doen wat nie deur God se Woord goedgekeur word nie?

11 Liefde vir God en sy Woord versterk ons om Jehovah te gehoorsaam selfs wanneer familielede of vriende wat goed bedoel ons probeer kry om deel te neem aan onskriftuurlike gebruike wat met die dooies te doen het. Hulle sal ons miskien sleg laat voel deur te sê dat ons nie lief was of respek gehad het vir die persoon wat gesterf het nie. Of hulle sê dalk dat ons gedrag sal veroorsaak dat die dooie persoon mense op die een of ander manier sal seermaak. Hoe kan ons Bybelwaarheid verdedig? Kyk hoe jy die volgende Bybelbeginsels kan toepas.

12. Watter gebruike wat met die dooies te doen het, is sonder twyfel onskriftuurlik?

12 Wees vasbeslote om jouself ‘af te sonder’ van onskriftuurlike opvattings en gebruike (2 Kor. 6:17). Op ’n eiland in die Karibiese See glo baie mense dat ’n persoon se “spook” agterbly nadat hy gesterf het om mense te straf wat hom mishandel het. Die “spook” kan selfs “baie probleme vir die gemeenskap veroorsaak”, sê een verwysing. In Afrika is dit ’n gebruik om spieëls in die huis van die persoon wat gesterf het te bedek en om enige foto’s na die muur te draai. Wat is die rede hiervoor? Party beweer dat die dooies hulleself nie mag sien nie! As Jehovah se knegte glo ons beslis nie enige mites of raak ons nie betrokke by enige gebruike wat Satan se leuens bevorder nie! – 1 Kor. 10:21, 22.

Goeie navorsing en goeie kommunikasie met familielede wat nie Getuies is nie, kan jou help om probleme te vermy (Sien paragraaf 13-14) *

13. Wat moet jy doen as jy onseker is oor ’n sekere gebruik, volgens Jakobus 1:5?

13 As jy onseker is oor ’n sekere gebruik, bid tot Jehovah en vra vir sy wysheid. (Lees Jakobus 1:5.) Doen dan navorsing in ons publikasies. As dit nodig is, praat met die ouer manne in jou gemeente. Hulle sal nie vir jou sê wat om te doen nie, maar hulle kan jou help om Bybelbeginsels te vind, soos die beginsels wat hier bespreek word. Wanneer jy hierdie dinge doen, oefen jy jou “waarnemingsvermoëns”, en hierdie vermoëns sal jou help om te “onderskei wat reg sowel as verkeerd is”. – Heb. 5:14.

14. Hoe kan ons dit vermy om ander te laat struikel?

14 “Doen alles tot heerlikheid van God. Sorg dat julle nie oorsake van struikeling . . . word nie” (1 Kor. 10:31, 32). Wanneer ons besluit of ons aan ’n gebruik of tradisie gaan deelneem, moet ons ook dink aan hoe ons besluit ander se gewete, veral ons mede-Christene s’n, kan affekteer. Ons sal nooit iemand wil laat struikel nie! (Mark. 9:42). Ons wil dit ook vermy om mense wat nie Getuies is nie onnodig aanstoot te gee. Liefde sal ons beweeg om op ’n respekvolle manier met hulle te praat, wat Jehovah verheerlik. Ons sal beslis nie met mense stry of hulle tradisies bespot nie. Onthou, liefde is kragtig! Wanneer ons liefde op ’n bedagsame en respekvolle manier betoon, kan ons selfs die harte van ons teenstanders versag.

15-16. (a) Hoekom is dit wys om vir ander te vertel wat jy glo? Gee ’n voorbeeld. (b) Hoe is Paulus se woorde in Romeine 1:16 op ons van toepassing?

15 Sê vir mense in jou gemeenskap dat jy een van Jehovah se Getuies is (Jes. 43:10). As familielede of bure ontsteld word omdat jy nie aan ’n gebruik wil deelneem nie, sal dit dalk vir jou makliker wees om die situasie te hanteer as hulle weet dat jy Jehovah God aanbid. Francisco, wat in Mosambiek bly, skryf: “Toe ek en my vrou, Carolina, die waarheid geleer het, het ons vir ons familie gesê dat ons nie meer die dooies sou aanbid nie. Ons besluit is getoets toe Carolina se suster gesterf het. Die plaaslike gebruik is dat die liggaam tydens ’n godsdiensritueel gewas word. Dan moet die naaste familielid vir drie dae slaap by die plek waar die badwater uitgegooi is. Hierdie gebruike is veronderstel om die gees van die persoon wat gesterf het te paai. Carolina se familie het van haar verwag om te gaan slaap waar die badwater uitgegooi is.”

16 Hoe het Francisco en sy vrou gereageer? Francisco verduidelik: “Omdat ons Jehovah liefhet en hom gelukkig wil maak, het ons geweier om aan die gebruik deel te neem. Carolina se familie het baie kwaad geword. Hulle het ons daarvan beskuldig dat ons die dooies nie respekteer nie en gesê dat die familie nie meer by ons sal kuier of ons sal help nie. Aangesien ons alreeds ons oortuigings aan hulle verduidelik het, het ons nie die saak met hulle bespreek terwyl hulle kwaad was nie. Party familielede het ons selfs verdedig deur te sê dat ons alreeds ons standpunt verduidelik het. Later het Carolina se familielede afgekoel, en ons kon toe vrede maak. Party het selfs na ons huis gekom om vir Bybellektuur te vra.” Laat ons nooit skaam wees om die waarheid oor die dood te verdedig nie. – Lees Romeine 1:16.

VERTROOS EN ONDERSTEUN DIÉ WAT TREUR

Ware vriende vertroos en ondersteun dié wat geliefdes in die dood verloor het (Sien paragraaf 17-19) *

17. Wat kan ons help om ’n ware vriend te wees vir ’n mede-Christen wat treur?

17 Wanneer ’n mede-Christen ’n geliefde in die dood verloor, moet ons hard probeer om “’n ware metgesel” te wees, “’n broer wat gebore word vir die tyd wanneer daar benoudheid is” (Spr. 17:17). Hoe kan ons ’n ware vriend wees, veral as ’n broer of suster wat treur onder druk geplaas word om aan onskriftuurlike gebruike deel te neem? Kom ons kyk na twee Bybelbeginsels wat ons kan help om dié wat treur te vertroos.

18. Hoekom het Jesus gehuil, en wat kan ons uit sy voorbeeld leer?

18 “Huil saam met mense wat huil” (Rom. 12:15). Ons weet dalk nie wat om vir iemand te sê wat baie hartseer is en treur nie. Maar selfs al weet ons nie wat om te sê nie, kan ons trane vir hulle wys dat ons werklik vir hulle omgee. Toe Jesus se vriend Lasarus gesterf het, het Maria, Marta en ander gehuil oor hulle geliefde broer en vriend. Toe Jesus vier dae later daar aangekom het, het hy ook “trane gestort”, selfs al het hy geweet dat hy Lasarus binnekort sou opwek (Joh. 11:17, 33-35). Jesus se trane het gewys hoe Jehovah gevoel het oor Lasarus se dood. Jesus se trane het ook gewys hoe lief hy die familie gehad het, en dit het sekerlik vir Maria en Marta vertroos. Net so, wanneer ons broers ons liefde en besorgdheid aanvoel, weet hulle dat hulle nie alleen is nie en dat hulle omring is deur vriende wat hulle ondersteun en vir hulle omgee.

19. Op watter maniere kan ons Prediker 3:7 toepas wanneer ons ’n mede-Christen vertroos wat treur?

19 “’n Tyd om stil te bly en ’n tyd om te praat” (Pred. 3:7). Nog ’n manier hoe ons ’n mede-Christen kan vertroos wat treur, is om ’n goeie luisteraar te wees. Laat jou broer toe om te sê hoe hy regtig voel, en moenie deur “wilde praatjies” ontstel word nie (Job 6:2, 3). Hy ondervind dalk baie emosionele stres omdat familielede wat nie Getuies is nie baie druk op hom sit. Bid saam met hom. Smeek die “Hoorder van . . . gebed” om hom krag te gee en om hom te help om helder te dink (Ps. 65:2). Lees die Bybel saam met hom as omstandighede dit toelaat. Of lees ’n gepaste artikel uit ons publikasies, soos ’n aanmoedigende lewensverhaal.

20. Wat sal ons in die volgende artikel bespreek?

20 Ons is baie dankbaar dat ons die waarheid oor die dooies weet en oor die wonderlike toekoms wat wag op dié wat in die gedenkgrafte is! (Joh. 5:28, 29). Laat ons, deur wat ons sê en doen, Bybelwaarheid moedig verdedig en dit vir ander vertel by elke geleentheid wat ons kry. In die volgende artikel sal ons na nog ’n manier kyk hoe Satan probeer om mense in geestelike duisternis te hou – spiritisme. Ons sal sien hoekom ons gebruike en vermaak moet vermy wat met spiritisme te doen het.

LIED 24 Kom na die berg van Jehovah

^ par. 5 Satan en sy demone het mense mislei deur leuens te versprei oor die toestand van die dooies. Hierdie leuens het tot baie onskriftuurlike gebruike gelei. Hierdie artikel sal jou help om aan Jehovah getrou te bly wanneer ander jou probeer kry om aan sulke gebruike deel te neem.

^ par. 55 BESKRYWING VAN PRENT: Terwyl ’n familielid treur oor die dood van haar geliefde, word sy vertroos deur familielede wat Getuies is.

^ par. 57 BESKRYWING VAN PRENT: Nadat ’n broer navorsing gedoen het oor begrafnisgebruike, verduidelik hy op ’n liefdevolle manier sy oortuigings aan sy familielede wat nie Getuies is nie.

^ par. 59 BESKRYWING VAN PRENT: Ouer manne in die Christengemeente vertroos en ondersteun ’n Getuie wat ’n geliefde in die dood verloor het.