Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

STUDIEARTIKEL 14

Voer jy jou bediening ten volle uit?

Voer jy jou bediening ten volle uit?

“Doen die werk van ’n evangeliedienaar, voer jou bediening ten volle uit.” – 2 TIM. 4:5.

LIED 57 Preek vir alle soorte mense

IN HIERDIE ARTIKEL *

Nadat Jesus opgewek is, het hy saam met sy dissipels bymekaargekom en vir hulle gesê om te ‘gaan en dissipels te maak’ (Sien paragraaf 1)

1. Wat wil al God se knegte doen, en hoekom? (Sien prent op voorblad.)

CHRISTUS JESUS het sy volgelinge die opdrag gegee om te ‘gaan en dissipels te maak van mense van al die nasies’ (Matt. 28:19). Al God se getroue knegte wil leer hoe hulle hierdie bediening wat aan hulle gegee is, ‘ten volle kan uitvoer’ (2 Tim. 4:5). Hierdie werk is belangriker, betekenisvoller en dringender as enige ander beroep in die lewe. Maar al wil ons graag meer tyd in die bediening spandeer, kan dit ’n uitdaging wees.

2. Watter uitdagings maak dit vir ons moeilik om ons bediening uit te voer?

2 Daar is ander belangrike dinge in ons lewe wat ons tyd en energie vereis. Ons moet dalk lang ure werk om vir onsself en ons gesin te sorg. Miskien sukkel ons om na al ons gesinsverantwoordelikhede om te sien. Dalk is ons siek, depressief of miskien het ons baie pyne en kwale omdat ons ouer word. Hoe kan ons ons bediening ten volle uitvoer terwyl ons hierdie uitdagings het?

3. Wat kan ons aflei uit Jesus se woorde in Matteus 13:23?

3 Ons moenie mismoedig voel as ons omstandighede dit vir ons moeilik maak om meer tyd in die bediening te spandeer nie. Jesus het geweet dat party meer in die bediening sal kan doen as ander. (Lees Matteus 13:23.) Jehovah waardeer alles wat ons in sy diens doen, solank ons ons bes doen (Heb. 6:10-12). Maar ons voel dalk dat ons omstandighede ons toelaat om meer te doen. In hierdie artikel gaan ons bespreek hoe ons die bediening eerste in ons lewe kan stel, hoe ons ons lewe eenvoudig kan hou en hoe ons kan verbeter in ons predikings- en onderrigtingswerk. Maar kom ons kyk eers wat dit beteken om ons bediening ten volle uit te voer.

4. Wat beteken dit om ons bediening ten volle uit te voer?

4 Om ons bediening ten volle uit te voer, moet ons soveel as moontlik in die predikings- en onderrigtingswerk doen. Maar dit verwys nie net na die hoeveelheid tyd wat ons in die bediening spandeer nie. Die rede hoekom ons preek, is vir Jehovah belangrik. Ons neem heelhartig deel aan ons Christelike bediening omdat ons Jehovah en ons naaste liefhet (Mark. 12:30, 31; Kol. 3:23). * Om God heelhartig te dien beteken dat ons ons krag en energie tot die beste van ons vermoë in sy diens gebruik. Wanneer ons die voorreg waardeer om die predikingswerk te doen, sal ons probeer om met soveel mense moontlik oor die goeie nuus te praat.

5-6. Gee ’n voorbeeld om te verduidelik hoe ’n persoon die bediening eerste in sy lewe kan stel, al is sy tyd beperk.

5 Dink aan ’n jong man wat dit geniet om kitaar te speel. Hy hou daarvan om musiek te maak wanneer hy ook al kan. Uiteindelik kry hy ’n werk om oor naweke kitaar te speel by ’n koffiewinkel. Maar hy word nie genoeg betaal om al sy uitgawes te dek nie, en daarom werk hy van Maandag tot Vrydag as ’n kassier in ’n winkel. Alhoewel hy die meeste van die tyd in die winkel werk, wil hy eintlik net musiek maak. Hy wil baie graag beter kitaar speel en eendag ’n voltydse musikant word. Maar hy geniet dit nog steeds om musiek te maak wanneer hy ook al die kans kry, al is dit net vir ’n kort rukkie.

6 Net so is jou tyd dalk beperk en kan jy nie so baie in die predikingswerk doen nie, al is dit wat jy graag wil doen. Jy probeer om jou vermoë te verbeter om mense se harte met die goeie nuus te bereik. Maar omdat jy so baie verantwoordelikhede het, wonder jy dalk hoe jy die predikingswerk eerste in jou lewe kan stel.

HOE OM DIE BEDIENING EERSTE IN JOU LEWE TE STEL

7-8. Hoe kan ons Jesus se gesindheid teenoor die bediening navolg?

7 Jesus het ’n uitstekende gesindheid teenoor die bediening gehad. Die belangrikste ding in sy lewe was om oor God se Koninkryk te praat (Joh. 4:34, 35). Hy het honderde kilometers ver geloop om vir soveel mense moontlik te preek. Hy het elke geleentheid gebruik om met mense in die openbaar en in hulle huise te praat. Jesus het die bediening eerste in sy lewe gestel.

8 Ons kan Christus navolg deur na geleenthede te soek om met mense oor die goeie nuus te praat, waar en wanneer dit ook al moontlik is. Ons is bereid om persoonlike opofferings te maak om aan die predikingswerk deel te neem (Mark. 6:31-34; 1 Pet. 2:21). Party in die gemeente kan as spesiale pioniers, gewone pioniers of as hulppioniers dien. Ander het geleer om ’n nuwe taal te praat of het na ’n plek toe getrek waar daar meer verkondigers nodig is. Maar die meeste van die predikingswerk word deur gewone Koninkryksverkondigers gedoen, wat doen wat hulle kan. Wat ook al die geval is, Jehovah vra nie meer van ons as wat ons kan gee nie. Hy wil hê dat ons almal ons diens aan hom moet geniet terwyl ons “die glorieryke goeie nuus van die gelukkige God” verkondig. – 1 Tim. 1:11; Deut. 30:11.

9. (a) Hoe het die apostel Paulus die predikingswerk eerste in sy lewe gestel, al moes hy ’n tyd lank sekulêr werk? (b) Wat leer Handelinge 28:16, 30, 31 ons oor Paulus se gesindheid teenoor sy bediening?

9 Die apostel Paulus is ’n goeie voorbeeld van iemand wat die bediening eerste in sy lewe gestel het. Toe hy gedurende sy tweede sendingreis in Korinte was, het hy min geld gehad en moes hy ’n tyd lank tente maak. Maar om tente te maak, was nie vir Paulus die belangrikste ding in sy lewe nie. Hy het hierdie werk gedoen om hom in die bediening te onderhou sodat hy die goeie nuus aan die Korintiërs kon verkondig sonder dat hulle vir sy uitgawes hoef te betaal (2 Kor. 11:7). Al moes Paulus ’n tyd lank werk om geld te verdien, het hy aangehou om die bediening eerste te stel en het hy elke sabbat gepreek. Nadat Paulus se omstandighede verbeter het, was dit vir hom moontlik om meer aandag aan die predikingswerk te gee. Hy het hom “intensief met die woord begin besig hou en aan die Jode getuig om te bewys dat Jesus die Christus is” (Hand. 18:3-5; 2 Kor. 11:9). Later toe Paulus twee jaar lank onder huisarres in Rome was, het hy vir besoekers getuig en briewe geskryf. (Lees Handelinge 28:16, 30, 31.) Paulus was vasbeslote om nie toe te laat dat enigiets sy aandag van sy bediening aflei nie. Hy het geskryf: “Aangesien ons hierdie bediening het . . . , gee ons nie moed op nie” (2 Kor. 4:1). Net soos Paulus kan ons nog steeds die Koninkrykswerk eerste in ons lewe stel, al moet ons sekulêr werk.

Daar is baie maniere hoe ons ons bediening ten volle kan uitvoer (Sien paragraaf 10-11)

10-11. Hoe kan ons ons bediening ten volle uitvoer as ons gesondheidsprobleme het?

10 As ons nie gereeld van huis tot huis kan preek as gevolg van ons ouderdom of ernstige gesondheidsprobleme nie, kan ons aan ander vorme van die bediening deelneem. Eerste-eeuse Christene het vir mense gepreek waar hulle ook al was. Hulle het elke geleentheid gebruik om oor die waarheid te praat – van huis tot huis, in die openbaar en informeel – oral waar mense gevind kon word (Hand. 17:17; 20:20). As dit nie vir ons moontlik is om baie te loop nie, kan ons dalk op ’n plek sit waar daar baie mense is en vir dié preek wat verbyloop. Of ons kan dalk informeel getuig, briewe skryf of telefoongetuieniswerk doen. Baie verkondigers wat nie gereeld van huis tot huis kan preek weens hulle gesondheid of ander probleme nie, geniet dit om aan hierdie vorme van die bediening deel te neem.

11 Jy kan jou bediening ten volle uitvoer ten spyte van gesondheidsprobleme. Dink weer aan die voorbeeld van die apostel Paulus. Hy het gesê: “Vir alles is ek sterk genoeg deur hom wat my krag gee” (Fil. 4:13). Paulus het hierdie krag nodig gehad toe hy op een van sy sendingreise siek geword het. Hy het aan die Galasiërs verduidelik: “Dit [was] as gevolg van ’n siekte van my vlees . . . dat ek die goeie nuus die eerste keer aan julle bekend gemaak het” (Gal. 4:13). Net so kan jou gesondheidsprobleme jou dalk die geleentheid gee om die goeie nuus aan ander te verkondig, soos dokters, verpleegsters en persone wat vir jou sorg. Baie van hierdie mense is by die werk wanneer verkondigers aan hulle deur klop.

HOE OM JOU LEWE EENVOUDIG TE HOU

12. Wat beteken dit om jou oog “eenvoudig” te hou?

12 Jesus het gesê: “Die lamp van die liggaam is die oog. As jou oog dan eenvoudig is, sal jou hele liggaam lig wees” (Matt. 6:22). Wat het hy bedoel? Hy het bedoel dat ons ons lewe eenvoudig moet hou of gefokus moet wees op ’n spesifieke doelwit sonder om afgelei te word. Jesus het self die voorbeeld gestel deur op die bediening te fokus, en hy het vir sy dissipels geleer om gefokus te bly op hulle diens aan Jehovah en op Sy Koninkryk. Ons volg Jesus na deur die Christelike bediening eerste in ons lewe te stel, met ander woorde deur “eers die koninkryk en [God se] regverdigheid te soek”. – Matt. 6:33.

13. Wat kan ons help om op ons Christelike bediening te fokus?

13 Een manier hoe ons op ons bediening kan fokus, is deur ons lewe te vereenvoudig sodat ons meer tyd kan hê om ander te help om Jehovah te leer ken en lief te kry. * Byvoorbeeld, kan ons ons werksure aanpas sodat ons meer tyd kan hê om gedurende die week velddiens te doen? Kan ons dalk minder tyd spandeer aan ontspanningsaktiwiteite wat baie van ons tyd opneem?

14. Watter aanpassings het ’n paartjie gemaak sodat hulle meer tyd in die bediening kan spandeer?

14 Dit is wat ’n ouer man, Elias, en sy vrou gedoen het. Hy verduidelik: “Ons kon nie op daardie stadium pionier nie, maar ons moes iewers begin. Daarom het ons klein veranderinge begin maak om meer tyd in die bediening te spandeer. Byvoorbeeld, ons het ons uitgawes verminder, ontspanningsaktiwiteite uitgeskakel wat baie van ons tyd opgeneem het en ons werkgewers gevra om ons werksure aan te pas. Ons kon toe aandgetuieniswerk doen, meer Bybelstudies hou en selfs twee keer ’n maand gedurende die week velddiens doen. Ons het dit regtig geniet!”

HOE OM ONS VAARDIGHEDE IN DIE BEDIENING TE VERBETER

As ons toepas wat ons by die Lewe en Bediening-vergadering leer, sal ons aanhou om vordering in ons bediening te maak (Sien paragraaf 15-16) *

15-16. Hoe kan ons aanhou om ons vaardighede in die bediening te verbeter, volgens 1 Timoteus 4:13, 15? (Sien ook die venster “ Doelwitte om my te help om my bediening ten volle uit te voer”.)

15 Nog ’n manier om ons bediening ten volle uit te voer, is deur ons vaardighede in die predikingswerk te verbeter. In party beroepe word daar vereis dat mense gereeld opleiding kry om hulle kennis en vaardighede te verbeter. Dit is ook die geval met Koninkrykspredikers. Ons moet aanhou leer om ons vaardighede in die bediening te verbeter. – Spr. 1:5; lees 1 Timoteus 4:13, 15.

16 Maar hoe kan ons aanhou om vordering in ons bediening te maak? Ons moet ons volle aandag gee wanneer ons instruksies by die weeklikse Lewe en Bediening-vergadering ontvang. Hierdie vergadering gee vir ons praktiese opleiding om ons te help om ons vaardighede in die predikingswerk te verbeter. Byvoorbeeld, wanneer die voorsitter vir die studente raad gee, kan ons kyk watter punte ons kan gebruik om ons vaardighede in die bediening te verbeter. Wanneer ons dan die volgende keer met iemand oor die goeie nuus praat, kan ons hierdie punte toepas. Ons kan ons velddiensgroepopsiener vir hulp vra of saam met hom in die bediening werk. Of ons kan saam met ’n ervare verkondiger, ’n pionier of met die kringopsiener werk. Namate ons leer hoe om elke gereedskapstuk in die Gereedskapskissie vir Onderrigting beter te gebruik, sal ons ons predikings- en onderrigtingswerk meer geniet.

17. Wat sal jy ervaar wanneer jy jou bediening ten volle uitvoer?

17 Ons is so bevoorreg dat Jehovah ons toelaat om sy “medewerkers” te wees! (1 Kor. 3:9). Wanneer jy “seker . . . maak van die belangriker dinge” en op die Christelike bediening fokus, sal jy “Jehovah met blydskap” dien (Fil. 1:10; Ps. 100:2). As een van God se bedienaars, kan jy daarvan seker wees dat hy jou die krag sal gee om jou bediening uit te voer maak nie saak watter uitdagings of probleme jy dalk het nie (2 Kor. 4:1, 7; 6:4). Of jy nou min of baie in die predikingswerk kan doen, jy kan “rede tot vreugde hê” wanneer jy jou bediening heelhartig uitvoer (Gal. 6:4). Wanneer jy jou bediening ten volle uitvoer, wys jy dat jy Jehovah en jou naaste liefhet. “Deur dit te doen, sal jy jouself red sowel as dié wat na jou luister.” – 1 Tim. 4:16.

LIED 58 Op soek na vriende van vrede

^ par. 5 Jesus het ons die opdrag gegee om die goeie nuus van die Koninkryk te verkondig en om dissipels te maak. In hierdie artikel gaan ons kyk hoe ons ons bediening ten volle kan uitvoer, selfs al het ons baie uitdagings. Ons gaan ook leer hoe ons meer doeltreffend in ons predikingswerk kan wees en hoe ons dit meer kan geniet.

^ par. 4 WAT DIT BETEKEN: Ons Christelike bediening sluit die predikings- en onderrigtingswerk, die bou en herstel van teokratiese fasiliteite en noodlenigingswerk in. – 2 Kor. 5:18, 19; 8:4.

^ par. 13 Kyk na die sewe stappe in die venster “Hoe om jou lewe te vereenvoudig” in Die Wagtoring van Julie 2016, bl. 10.

^ par. 62 BESKRYWING VAN PRENTE: ’n Suster demonstreer ’n herbesoek gedurende die Lewe en Bediening-vergadering. Daarna, terwyl die voorsitter raad gee, maak sy notas in haar Onderrig-brosjure. Later, terwyl sy oor die naweek velddiens doen, pas sy die punte toe wat sy by die vergadering geleer het.