Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

STUDIEARTIKEL 15

Volg Jesus na en behou jou vrede

Volg Jesus na en behou jou vrede

“Die vrede van God wat alle denke te bowe gaan, sal julle harte . . . bewaak.” – FIL. 4:7.

LIED 113 Die vrede wat ons besit

IN HIERDIE ARTIKEL *

1-2. Hoekom was Jesus angstig?

OP JESUS se laaste dag as ’n mens was hy baie angstig. Hy sou binnekort gemartel en doodgemaak word deur goddelose manne. Maar Jesus was nie net bekommerd omdat hy doodgemaak sou word nie. Hy was baie lief vir sy Vader en wou sy hart bly maak. Jesus het geweet dat as hy gedurende hierdie moeilike toets getrou bly, hy sou help om Jehovah se naam te regverdig. Jesus was ook lief vir mense, en hy het geweet dat ons hoop om vir ewig te lewe daarvan sou afhang dat hy tot die dood toe getrou aan Jehovah bly.

2 Alhoewel Jesus onder geweldige druk was, het hy sy vrede behou. Hy het vir sy apostels gesê: “Ek gee julle my vrede” (Joh. 14:27). Hy het “die vrede van God” gehad, dit wil sê die kalmte en rustigheid wat ’n mens kry as gevolg van ’n kosbare verhouding met Jehovah. Daardie vrede het Jesus gehelp om nie bekommerd te wees nie. – Fil. 4:6, 7.

3. Wat sal ons in hierdie artikel bespreek?

3 Nie een van ons sal ooit die soort druk ervaar wat Jesus ervaar het nie. Maar almal wat hom volg, sal uitdagings hê (Matt. 16:24, 25; Joh. 15:20). En net soos Jesus sal ons soms angstig voel. Wat kan ons doen sodat ons nie te angstig word en ons vrede verloor nie? Kom ons kyk na drie dinge wat Jesus gedoen het gedurende sy bediening op die aarde en hoe ons hom kan navolg wanneer ons uitdagings ondervind.

JESUS HET GEREELD GEBID

Ons kan ons vrede behou deur te bid (Sien paragraaf 4-7)

4. Met 1 Tessalonisense 5:17 in gedagte, gee ’n paar voorbeelde wat wys dat Jesus gereeld gebid het gedurende die laaste dag van sy lewe op die aarde.

4 Lees 1 Tessalonisense 5:17. Jesus het gereeld gebid gedurende sy laaste dag op die aarde. Toe Jesus vir sy dissipels gewys het hoe om sy dood te herdenk, het hy vir die brood en wyn gebid (1 Kor. 11:23-25). Voordat hulle die plek verlaat het waar hulle die Pasga gehou het, het Jesus saam met sy dissipels gebid (Joh. 17:1-26). Toe hy en sy dissipels daardie aand by die Olyfberg aangekom het, het hy herhaaldelik gebid (Matt. 26:36-39, 42, 44). En die laaste woorde wat Jesus voor sy dood gesê het, was ’n gebed (Luk. 23:46). Jesus het tot Jehovah gebid oor alles wat op daardie belangrike dag gebeur het.

5. Hoekom het die apostels se moed verswak?

5 Een rede hoekom Jesus sy beproewing kon verduur, was omdat hy gereeld tot sy Vader gebid het om hom te help. Maar die apostels het daardie aand aan die slaap geraak en het nie aanhou bid nie. Daarom het hulle moed verswak toe hulle beproef is (Matt. 26:40, 41, 43, 45, 56). Wanneer ons beproewinge ervaar, sal ons getrou bly slegs as ons Jesus se voorbeeld navolg en ‘aanhou bid’. Waarvoor kan ons bid?

6. Hoe sal geloof ons help om ons vrede te behou?

6 Ons kan bid dat Jehovah ‘ons meer geloof gee’ (Luk. 17:5; Joh. 14:1). Ons het geloof nodig omdat Satan almal sal toets wat navolgers van Jesus is (Luk. 22:31). Hoe sal geloof ons help om ons vrede te behou, selfs al moet ons die een uitdaging na die ander oorkom? Wanneer ons alles gedoen het wat ons kan om ’n uitdaging te oorkom, sal geloof ons beweeg om die saak in Jehovah se hande te los. Ons sal innerlike vrede hê omdat ons vertrou dat hy sake beter kan hanteer as wat ons ooit kan. – 1 Pet. 5:6, 7.

7. Wat het jy uit Robert se kommentare geleer?

7 Gebed help ons om ons innerlike vrede te behou, maak nie saak watter beproewinge ons ervaar nie. Kyk na die voorbeeld van Robert, ’n getroue ouer man wat nou in sy 80’s is. Hy sê: “Die raad in Filippense 4:6, 7 het my gehelp om baie beproewinge in my lewe te verduur. Ek het finansiële probleme gehad. En ek het ’n tyd lank my voorreg verloor om as ’n ouer man te dien.” Wat het Robert gehelp om sy vrede te behou? Hy sê: “Ek bid sodra ek angstig begin voel. Ek glo dat wanneer ek meer gereeld en harder bid, dit my help om kalmer te word.”

JESUS HET YWERIG GEPREEK

Ons kan ons vrede behou deur die predikingswerk te doen (Sien paragraaf 8-10)

8. Wat is nog ’n rede hoekom Jesus innerlike vrede gehad het, volgens Johannes 8:29?

8 Lees Johannes 8:29. Selfs terwyl Jesus vervolg is, het hy innerlike vrede gehad omdat hy geweet het dat hy sy Vader se hart bly maak. Hy het gehoorsaam gebly wanneer dit vir hom moeilik was om dit te doen. Hy was lief vir sy Vader en het sy diens aan Jehovah die belangrikste ding in sy lewe gemaak. Voordat hy na die aarde gekom het, was hy God se “meesterwerker” (Spr. 8:30). En terwyl hy op die aarde was, het hy ander ywerig oor sy Vader geleer (Matt. 6:9; Joh. 5:17). Daardie werk het Jesus baie gelukkig gemaak. – Joh. 4:34-36.

9. Hoe kan dit ons help om ons vrede te behou as ons besig is in die predikingswerk?

9 Ons kan Jesus navolg deur Jehovah te gehoorsaam en deur “altyd baie [te hê] om in die werk van die Here te doen” (1 Kor. 15:58). Wanneer ons “intensief . . . besig” is in die predikingswerk, help dit ons om ’n positiewe gesindheid teenoor ons probleme te hê (Hand. 18:5). Byvoorbeeld, dié wat ons in die bediening ontmoet se probleme is dikwels erger as ons s’n. Maar wanneer hulle leer om Jehovah lief te hê en sy raad toe te pas, verbeter dit hulle lewe en word hulle gelukkiger. Elke keer wanneer ons dit sien gebeur, gee dit ons meer vertroue dat Jehovah vir ons sal sorg, en dit help ons om ons innerlike vrede te behou. ’n Suster wat haar hele lewe lank sukkel met depressie en gevoelens van waardeloosheid, het gevind dat dit waar is. Sy sê: “Wanneer ek in die bediening besig bly, kan ek my emosies beter beheer en voel ek gelukkiger. Ek dink die rede hiervoor is omdat ek die naaste aan Jehovah voel wanneer ek velddiens doen.”

10. Wat het jy uit Brenda se kommentare geleer?

10 Kyk ook na die voorbeeld van ’n suster met die naam Brenda. Sy en haar dogter ly albei aan ’n ernstige siekte. Brenda is in ’n rolstoel en het min energie. Sy preek van deur tot deur wanneer sy kan, maar die meeste van die tyd preek sy deur briewe te skryf. Sy sê: “Nadat ek verstandelik en emosioneel aanvaar het dat ek nie in hierdie stelsel gesond gaan word nie, kon ek meer op my bediening fokus. Om die waarheid te sê, wanneer ek preek, help dit my om nie aan my bekommernisse te dink nie. Dit dwing my om daarop te fokus om dié te help met wie ek in kontak kom in ons gemeente se gebied. En dit herinner my gedurig aan die hoop wat ek vir die toekoms het.”

JESUS HET HULP VAN SY VRIENDE AANVAAR

Ons kan ons vrede behou deur met goeie vriende te assosieer (Sien paragraaf 11-15)

11-13. (a) Hoe het die apostels en ander gewys dat hulle Jesus se ware vriende is? (b) Watter uitwerking het Jesus se vriende op hom gehad?

11 Gedurende Jesus se hele bediening het sy getroue apostels gewys dat hulle Jesus se ware vriende is. Hulle was die soort vriende wat die Bybel beskryf as “’n vriend wat sterker aanhang as ’n broer” (Spr. 18:24). Jesus het sulke vriende waardeer. Gedurende sy bediening het nie een van sy vleeslike broers geloof in hom gestel nie (Joh. 7:3-5). Op een stadium het sy familielede selfs gedink dat hy mal geword het (Mark. 3:21). Maar Jesus kon op die aand voor sy dood vir sy getroue apostels sê: “Julle is . . . dié wat in my beproewinge altyddeur by my gebly het.” – Luk. 22:28.

12 Die apostels het Jesus partykeer teleurgestel, maar hy het nie op hulle foute gefokus nie. Hy het eerder gesien dat hulle geloof in hom het (Matt. 26:40; Mark. 10:13, 14; Joh. 6:66-69). Op die aand voordat Jesus doodgemaak is, het hy vir hierdie lojale manne gesê: “Ek het julle vriende genoem, omdat ek alles wat ek by my Vader gehoor het, aan julle bekend gemaak het” (Joh. 15:15). Jesus se vriende was sonder twyfel ’n groot bron van aanmoediging vir hom. Hulle het hom in sy bediening gehelp, en dit het hom baie bly gemaak. – Luk. 10:17, 21.

13 Behalwe die apostels het Jesus ander vriende gehad, manne en vroue, wat hom in die predikingswerk en op ander praktiese maniere gehelp het. Party het hom na hulle huis oorgenooi om iets te eet (Luk. 10:38-42; Joh. 12:1, 2). Ander het saam met hom gereis en hulle besittings met hom gedeel (Luk. 8:3). Jesus het goeie vriende gehad, want hy was self ’n goeie vriend. Hy het goeie dinge vir hulle gedoen en het nie verwag dat hulle meer moes doen as wat hulle kon nie. Jesus was volmaak, maar hy het die ondersteuning van sy onvolmaakte vriende waardeer. En ons kan daarvan seker wees dat hulle hom gehelp het om sy innerlike vrede te behou.

14-15. Hoe kan ons goeie vriende maak, en hoe kan hulle ons help?

14 Goeie vriende sal ons help om lojaal aan Jehovah te bly. En die beste manier om goeie vriende te maak, is deur self ’n goeie vriend te wees (Matt. 7:12). Die Bybel moedig ons byvoorbeeld aan om ons tyd en energie te gebruik om ander te help, veral dié wat “gebrek het” (Ef. 4:28). Kan jy aan iemand in jou gemeente dink wat jy kan help? Kan jy inkopies doen vir ’n verkondiger wat nie die huis kan verlaat as gevolg van ouderdom of siekte nie? Kan jy vir ’n gesin wat finansieel sukkel ’n maaltyd gee? Kan jy dalk ander in jou gemeente help om die webwerf jw.org® en die JW Library®-app te gebruik? Wanneer ons besig is om ander te help, sal dit ons heel moontlik help om gelukkig te wees. – Hand. 20:35.

15 Die vriende wat ons maak, sal ons ondersteun wanneer ons deur moeilike tye gaan en ons help om ons innerlike vrede te behou. Net soos Elihu na Job geluister het toe hy oor sy beproewinge gepraat het, help ons vriende ons deur geduldig te luister wanneer ons vir hulle sê hoe ons voel (Job 32:4). Ons moenie verwag dat ons vriende vir ons moet sê wat ons moet doen nie, maar dit sal wys wees om na hulle Bybelse raad te luister (Spr. 15:22). En net soos koning Dawid nederig hulp van sy vriende aanvaar het, moet ons nie te trots wees om hulp van ons vriende te aanvaar wanneer ons dit nodig het nie (2 Sam. 17:27-29). Sulke goeie vriende is beslis ’n gawe van Jehovah. – Jak. 1:17.

HOE OM JOU VREDE TE BEHOU

16. Wat is die enigste manier hoe ons vrede kan ontvang, volgens Filippense 4:6, 7? Verduidelik.

16 Lees Filippense 4:6, 7Hoekom sê Jehovah vir ons dat ons die vrede wat hy gee, kan ontvang “deur middel van Christus Jesus”? Omdat ons slegs vrede in ons hart en verstand kan hê en behou as ons die rol wat Jesus vervul, verstaan en geloof daarin het. Byvoorbeeld, deur middel van Jesus se losprysoffer kan al ons sondes vergewe word (1 Joh. 2:12). Hierdie gedagte is beslis vertroostend! As Koning van God se Koninkryk sal Jesus ’n einde maak aan enige pyn en lyding wat ons ondervind as gevolg van Satan en sy wêreld (Jes. 65:17; 1 Joh. 3:8; Op. 21:3, 4). Wat ’n wonderlike hoop vir die toekoms! En alhoewel Jesus vir ons ’n moeilike toewysing gegee het, is hy met ons en ondersteun hy ons in die laaste dae van hierdie wêreld (Matt. 28:19, 20). Dit gee ons beslis meer moed! Vertroosting, hoop en moed is baie belangrik as ons ons vrede wil behou.

17. (a) Hoe kan ’n Christen sy innerlike vrede behou? (b) Wat sal ons kan doen, volgens die belofte in Johannes 16:33?

17 Hoe kan jy dan jou vrede behou wanneer jy deur moeilike tye gaan? Jy kan jou vrede behou deur te doen wat Jesus gedoen het. Eerstens, bid en hou aan om te bid. Tweedens, wees gehoorsaam aan Jehovah en preek ywerig, selfs wanneer dit moeilik is. En derdens, aanvaar hulp van jou vriende wanneer jy probleme het. Dan sal die vrede van God jou verstand en hart bewaak. En net soos Jesus sal jy enige beproewing kan oorkom. – Lees Johannes 16:33.

LIED 41 Hoor my gebed

^ par. 5 Ons almal het probleme wat dit vir ons moeilik kan maak om ons vrede te behou. Hierdie artikel bespreek drie dinge wat Jesus gedoen het om sy vrede te behou en wat ons kan doen om ons vrede te behou, selfs wanneer ons deur moeilike tye gaan.