Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

STUDIEARTIKEL 15

Hoe voel jy oor die mense in jou gebied?

Hoe voel jy oor die mense in jou gebied?

“Kyk na die landerye en sien dat hulle wit is vir die oes.” – JOH. 4:35.

LIED 64 Neem vreugdevol deel aan die oeswerk

IN HIERDIE ARTIKEL *

1-2. Hoekom het Jesus dalk die woorde in Johannes 4:35, 36 gesê?

 JESUS het deur landerye gereis, waarskynlik landerye met groen gars (Joh. 4:3-6). Hierdie gars sou omtrent in vier maande gereed wees om geoes te word. Jesus het iets gesê wat dalk vreemd moes geklink het: “Kyk na die landerye en sien dat hulle wit is vir die oes.” (Lees Johannes 4:35, 36.) Wat het hy bedoel?

2 Jesus het blykbaar gepraat van mense wat bymekaargemaak moet word, en nie graan nie. Dink aan wat nou net gebeur het. Alhoewel Jode gewoonlik niks met Samaritane te doen het nie, het Jesus vir ’n Samaritaanse vrou gepreek – en sy het geluister! Om die waarheid te sê, terwyl Jesus van die landerye gepraat het wat “wit is vir die oes”, was ’n groep Samaritane wat van Jesus gehoor het by die vrou, op pad na hom toe om meer by hom te leer (Joh. 4:9, 39-42). ’n Bybelkommentator sê die volgende oor hierdie verslag: “Die feit dat mense so gou na Jesus gekom het om na hom te luister . . . wys dat hulle soos graan was wat reg was om geoes te word.”

Wat moet ons doen as ons voel dat ons landerye “wit is vir die oes”? (Sien paragraaf 3)

3. Hoe sal dit jou ’n beter prediker maak as jy oor mense voel soos Jesus oor hulle gevoel het?

3 Hoe voel jy oor die mense met wie jy die goeie nuus deel? Beskou jy hulle as graan wat reg is om geoes te word? As jy so voel, sal drie dinge gebeur. Eerstens, jy sal dringend besig wees met die predikingswerk. ’n Oestyd is beperk; daar is nie tyd om te mors nie. Tweedens, jy sal gelukkig wees wanneer jy sien dat mense na die goeie nuus luister. Die Bybel sê: ‘Mense is vreugdevol in die oestyd’ (Jes. 9:3). En derdens, jy sal elke persoon as ’n moontlike dissipel sien, so jy sal jou aanbieding aanpas en oor iets praat waarin hulle belangstel.

4. Wat sal ons in hierdie artikel uit die apostel Paulus se voorbeeld leer?

4 Jesus het nie die Samaritane afgeskryf soos sy volgelinge dalk sou gedoen het nie. Hy het hulle eerder as moontlike dissipels gesien. Ons moet ook die mense in ons gebied as moontlike dissipels van Christus sien. Die apostel Paulus het ’n baie goeie voorbeeld vir ons gestel wat ons kan navolg. Wat kan ons uit sy voorbeeld leer? In hierdie artikel gaan ons drie dinge bespreek: (1) Paulus het geweet waarin sy luisteraars glo, (2) hy het geweet waarin hulle belangstel en (3) hy het hulle as moontlike dissipels van Jesus gesien.

WAARIN GLO HULLE?

5. Hoekom kon Paulus sy gehoor in die sinagoge goed verstaan?

5 Paulus het gereeld in Joodse sinagoges gepreek. Hy het byvoorbeeld in die sinagoge in Tessalonika “drie sabbatte lank uit die Skrif met [die Jode] geredeneer” (Hand. 17:1, 2). Paulus het waarskynlik op sy gemak gevoel in die sinagoge. Hy is as ’n Jood grootgemaak (Hand. 26:4, 5). Paulus het die Jode goed verstaan, en daarom kon hy vol vertroue vir hulle preek. – Fil. 3:4, 5.

6. Hoe was die mense by die markplein in Atene anders as die mense vir wie Paulus in die sinagoge gepreek het?

6 Nadat Paulus deur vervolgers geforseer is om uit Tessalonika en toe uit Berea te vlug, het hy in Atene aangekom. Weer eens “het hy in die sinagoge begin redeneer met die Jode en die ander mense wat God aanbid het” (Hand. 17:17). Maar toe Paulus in die markplein gepreek het, het hy ’n ander gehoor gehad. Van die mense wat na Paulus geluister het, was filosowe en ander was nie-Jode, en vir hulle was sy boodskap soos “nuwe leringe”. Hulle het vir hom gesê: “Jy praat van dinge wat vreemd klink in ons ore.” – Hand. 17:18-20.

7. Hoe het Paulus volgens Handelinge 17:22, 23 sy aanbieding aangepas?

7 Lees Handelinge 17:22, 23. Paulus het nie op dieselfde manier vir die nie-Jode in Atene gepreek as wat hy vir die Jode in die sinagoge gepreek het nie. Paulus het waarskynlik homself afgevra: ‘Wat glo hierdie mense in Atene?’ Hy het mooi gekyk na wat om hom aangaan en opgelet wat die mense se godsdiensgebruike is. Daarna het Paulus na dinge gesoek waarin hulle geglo het wat ooreenstem met die waarheid in die Skrif. ’n Bybelkommentator sê: “As ’n Joodse Christen besef hy dat heidense Grieke nie die ‘ware’ God van die Jode en Christene dien nie, maar hy probeer om vir die mense van Atene te wys dat die God waarvan hy praat, eintlik nie ’n vreemde God vir die Ateners is nie.” So Paulus was bereid om sy aanbieding aan te pas. Hy het vir die mense van Atene gesê dat sy boodskap van die “Onbekende God” kom, wat hulle probeer het om te aanbid. Alhoewel die nie-Jode nie die Skrif geken het nie, het Paulus nie gedink dat hulle nooit Christene sal word nie. Hy het hulle eerder as graan beskou wat reg is om geoes te word en hy het sy aanbieding van die goeie nuus aangepas.

Volg die apostel Paulus se voorbeeld na: wees oplettend, pas jou aanbieding aan en sien mense as moontlike dissipels (Sien paragraaf 8, 12, 18) *

8. (a) Hoe kan jy uitvind waarin die mense in jou gebied glo? (b) Wat kan jy vir iemand sê wat sê dat hy sy eie godsdiens het?

8 Wees oplettend soos Paulus. Kyk vir dinge wat wys waarin mense in jou gebied glo. Hoe lyk die persoon se huis of kar? Wys sy naam, sy kleredrag of selfs sy woordeskat aan watter godsdiens hy behoort? Dalk het hy vir jou gesê dat hy sy eie godsdiens het. Wanneer dit met ’n spesiale pionier met die naam Flutura gebeur, sê sy: “Ek is hier, nie om jou te forseer om te glo wat ek glo nie, maar om met jou te praat oor . . . ”

9. Waaroor kan jy miskien met ’n godsdienstige persoon praat?

9 Waaroor kan jy miskien met ’n godsdienstige persoon praat? Probeer om oor dinge te praat waaroor julle saamstem. Hy aanbid dalk net een God, hy aanvaar Jesus dalk as die Redder van die mensdom of hy glo dalk dat ons in ’n tyd van goddeloosheid lewe wat binnekort tot ’n einde sal kom. Gebruik die dinge waaroor julle saamstem om die Bybel se boodskap met hom te deel op ’n manier wat vir hom interessant sal wees.

10. Wat moet ons probeer om te doen, en hoekom?

10 Hou in gedagte dat mense dalk nie alles glo wat hulle godsdiens hulle leer nie. So selfs nadat jy uitgevind het aan watter godsdiens ’n persoon behoort, moet jy probeer om uit te vind wat hy persoonlik glo. David, ’n spesiale pionier in Australië, sê: “Baie mense meng nou filosofie met hulle godsdiens.” Donalta, in Albanië, sê: “Party mense wat ons ontmoet, sê dat hulle aan ’n godsdiens behoort, maar later erken hulle dat hulle nie regtig in God glo nie.” En ’n broer wat ’n sendeling in Argentinië is, het agtergekom dat party mense sê dat hulle in die Drie-eenheid glo, maar dalk glo hulle nie eintlik dat die Vader, die Seun en die heilige gees een God is nie. Hy sê: “Wanneer ek in gedagte hou dat die persoon met wie ek praat dalk nie alles glo wat sy godsdiens leer nie, is dit makliker om iets te kry waaroor ons saamstem.” So probeer uitvind waarin mense regtig glo. Dan kan jy, net soos Paulus, “alles vir alle soorte mense” word. – 1 Kor. 9:19-23.

WAARIN STEL HULLE BELANG?

11. Hoe het Paulus volgens Handelinge 14:14-17 sy boodskap op ’n manier aangebied sodat die mense in Listra daarin belang sou stel?

11 Lees Handelinge 14:14-17. Paulus het gesien waarin die mense wat na hom geluister het, belangstel en dan het hy sy aanbieding aangepas. Die mense met wie hy byvoorbeeld in Listra gepraat het, het min of geen kennis van die Skrif gehad nie. Daarom het Paulus oor dinge gepraat waarmee hulle bekend was. Hy het gepraat van vrugbare seisoene en die vermoë om die lewe te geniet. Hy het woorde en voorbeelde gebruik wat die mense maklik kon verstaan.

12. Hoe kan jy uitvind waarin ’n persoon belangstel en dan jou aanbieding aanpas?

12 Probeer om te verstaan waarin die mense in jou gebied belangstel en pas jou aanbieding aan. Terwyl jy na ’n persoon of na sy huis toe stap, hoe kan jy uitvind waarin die persoon belangstel? Weer eens moet jy oplettend wees. Miskien is hy besig om in die tuin te werk, ’n boek te lees, ’n kar reg te maak of om iets anders te doen. Miskien kan jy die gesprek begin deur met hom te praat oor dit waarmee hy besig is (Joh. 4:7). Selfs die klere wat ’n persoon dra, kan iets omtrent hom sê. Miskien wys dit wat sy nasionaliteit is, watter werk hy doen of watter sportspan hy van hou. Gustavo sê: “Ek het ’n gesprek begin met ’n 19-jarige man wat ’n T-hemp gedra het met ’n bekende sanger daarop. Ek het hom oor sy T-hemp gevra, en hy het gesê hoekom hy van die sanger hou. Daardie gesprek het tot ’n Bybelstudie gelei, en nou is hy een van ons broers.”

13. Hoe kan jy ’n Bybelstudie vir iemand aanbied sodat hy graag wil studeer?

13 Wanneer jy ’n Bybelstudie vir iemand aanbied, wys vir hom hoe die studie hom sal help (Joh. 4:13-15). ’n Suster met die naam Poppy is byvoorbeeld ingenooi deur ’n vrou wat gewys het dat sy belangstel. Poppy het ’n sertifikaat op die muur gesien wat gewys het dat die vrou ’n professor is wat in die onderwys gestudeer het. Toe het sy beklemtoon dat ons ook mense leer deur middel van ons Bybelstudieprogram en ons vergaderinge. Die vrou het ’n studie aanvaar, die volgende dag ’n vergadering bygewoon en kort daarna ’n kringbyeenkoms bygewoon. ’n Jaar later is sy gedoop. Vra jou af: ‘Waarin stel my herbesoeke belang? Kan ek ons Bybelstudieprogram op so ’n manier beskryf wat sal maak dat hulle graag wil studeer?’

14. Hoe kan jy ’n Bybelstudie vir elke student aanpas?

14 Nadat jy ’n Bybelstudie begin het, moet jy vir elke studie voorberei en in gedagte hou waarin die student belangstel en wat sy agtergrond is. Terwyl jy voorberei, moet jy besluit watter tekste jy gaan lees, watter video’s jy gaan wys en watter illustrasies jy gaan gebruik om Bybelwaarhede te verduidelik. Vra jou af: ‘Waarin sal die student veral belangstel en wat sal sy hart bereik?’ (Spr. 16:23). In Albanië het ’n vrou wat die Bybel met ’n pionier met die naam Flora studeer het, reguit gesê: “Ek kan nie die lering oor die opstanding aanvaar nie.” Flora het haar nie geforseer om hierdie lering te aanvaar nie. Sy sê: “Ek het gedink dat sy eers die God moet leer ken wat belowe dat daar ’n opstanding sal wees.” Van toe af het Flora by elke studie Jehovah se liefde, wysheid en krag beklemtoon. Later het haar student in die opstanding geglo. Sy is nou ’n ywerige Getuie van Jehovah.

SIEN HULLE AS MENSE WAT DISSIPELS KAN WORD

15. Watter dinge volgens Handelinge 17:16-18 het die mense in eertydse Griekeland gedoen wat Paulus gepla het, maar hoekom het hy nog steeds vir die Ateners gepreek?

15 Lees Handelinge 17:16-18. Paulus het nog steeds vir die Ateners gepreek, al was hulle stad vol afgodediens, seksuele sondes en heidense filosofieë. Hy het ook nie toegelaat dat hulle beledigings hom mismoedig maak nie. Paulus self het ’n Christen geword, al was hy “’n lasteraar en ’n vervolger en ’n trotse man” (1 Tim. 1:13). Net soos Jesus geglo het dat Paulus ’n dissipel kan word, het Paulus geglo dat die Ateners dissipels kan word. En hy was nie teleurgestel nie. – Hand. 9:13-15; 17:34.

16-17. Wat wys dat alle soorte mense dissipels van Christus kan word? Gee ’n voorbeeld.

16 In die eerste eeu het alle soorte mense dissipels van Jesus geword. Toe Paulus vir die Christene in die Griekse stad Korinte geskryf het, het hy gesê dat party van die broers en susters in daardie gemeente eers misdadigers was of ’n onsedelike lewe gelei het. En toe het hy gesê: “Tog is dit wat party van julle was. Maar julle is skoon gewas” (1 Kor. 6:9-11). Sou jy gedink het dat daardie mense kon verander en dissipels kon word?

17 Vandag is baie mense bereid om veranderinge te maak om dissipels van Jesus te word. In Australië het ’n spesiale pionier met die naam Yukina byvoorbeeld geleer dat alle soorte mense op die Bybel se boodskap kan reageer. Sy het eenkeer ’n jong vrou met tatoeëermerke by ’n besigheid gesien. Yukina sê: “Ek het vir ’n oomblik gehuiwer, maar toe het ek met haar begin praat. Ek het uitgevind dat sy baie in die Bybel belangstel en dat party van haar tatoeëermerke verse uit die Psalms is!” Die vrou het begin om die Bybel te studeer en die vergaderinge by te woon. *

18. Hoekom moet ons nie voor die tyd besluit hoe mense sal reageer nie?

18 Het Jesus gedink dat die landerye reg is om geoes te word omdat hy verwag het dat die meeste mense hom sal volg? Glad nie. Die Skrif het voorspel dat min mense geloof in hom sou stel (Joh. 12:37, 38). En Jesus kon harte lees (Matt. 9:4). Alhoewel hy gefokus het op die paar wat in hom sou glo, het hy ywerig vir almal gepreek. Ons kan nie harte lees nie, daarom moet ons nie voor die tyd besluit hoe die mense in ’n gebied of hoe ’n persoon sal reageer nie! Ons moet mense as moontlike dissipels sien. Marc, ’n sendeling in Burkina Faso, stel dit so: “Die mense wat ek dink vordering sal maak, hou gewoonlik op studeer. Maar die mense wat ek dink nie vordering sal maak nie, maak baie goeie vordering. So ek het geleer dat dit beter is om toe te laat dat Jehovah se gees ons lei.”

19. Hoe moet ons oor die mense in ons gebied voel?

19 In die begin lyk dit dalk asof daar nie baie mense in die gebied is wat soos graan is wat reg is om geoes te word nie. Maar onthou wat Jesus vir sy dissipels gesê het. Die landerye is wit, met ander woorde dit is reg om geoes te word. Mense kan verander en dissipels van Christus word. Jehovah sien hierdie moontlike dissipels as “kosbare dinge” (Hag. 2:7). As ons mense sien soos Jehovah en Jesus hulle sien, sal ons meer uitvind oor hulle agtergrond en waarin hulle belangstel. Ons sal hulle nie as vreemdelinge sien nie, maar as mense wat ons broers en susters kan word.

LIED 57 Preek vir alle soorte mense

^ par. 5 Hoe affekteer ons beskouing van die mense in ons gebied die manier hoe ons preek en onderrig? Hierdie artikel bespreek hoe Jesus en die apostel Paulus gevoel het oor die mense wat na hulle geluister het. En dit bespreek ook hoe ons hulle kan navolg deur in gedagte te hou waarin ons luisteraars glo, waarin hulle belangstel en deur in gedagte te hou dat hulle dissipels van Christus kan word.

^ par. 17 Die reeks “Die Bybel verander lewens” gee meer voorbeelde van hoe mense kan verander. Hierdie reeks het tot 2017 in Die Wagtoring verskyn. Dit is nou op jw.org® beskikbaar. Kyk onder OMTRENT ONS > ONDERVINDINGE.

^ par. 57 BESKRYWING VAN PRENT: Terwyl ’n paartjie van deur tot deur preek, sien hulle (1) ’n huis wat in ’n goeie toestand is met blommetjies voor die deur; (2) ’n huis waar ’n gesin met jong kinders bly; (3) ’n huis wat binne en buite baie vuil is en (4) ’n huis met mense wat in God glo. Waar sal jy die persoon kry wat heel moontlik ’n dissipel kan word?