Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

STUDIEARTIKEL 16

Hou aan om die losprys te waardeer

Hou aan om die losprys te waardeer

“Die Seun van die mens het gekom . . . om sy lewe te gee as ’n losprys in ruil vir baie.” – MARK. 10:45.

LIED 18 Dankbaar vir die losprys

IN HIERDIE ARTIKEL *

1-2. Wat is die losprys, en hoekom het ons dit nodig?

TOE die volmaakte man Adam gesondig het, het hy die geleentheid verloor om vir ewig te lewe – nie net vir homself nie, maar ook vir sy kinders. Daar is geen verskoning vir wat Adam gedoen het nie. Hy het aspris gesondig. Maar wat van sy kinders? Hulle het geen rol in Adam se sonde gespeel nie (Rom. 5:12, 14). Adam het verdien om dood te gaan vir wat hy gedoen het, maar is daar enige iets wat Jehovah kon doen om Adam se kinders te red? Ja! Kort nadat Adam gesondig het, het Jehovah begin sê hoe hy miljoene van Adam se kinders van sonde en die dood sou red (Gen. 3:15). Op Jehovah se vasgestelde tyd sou hy sy Seun stuur “om sy lewe te gee as ’n losprys in ruil vir baie”. – Mark. 10:45; Joh. 6:51.

2 Wat is die losprys? Die losprys is die prys wat Jesus betaal het om terug te koop wat Adam verloor het (1 Kor. 15:22). Hoekom het ons die losprys nodig? Want volgens Jehovah se standaard van geregtigheid moet lewe vir lewe gegee word, soos daar in die Wet opgeteken is (Eks. 21:23, 24). Adam het sy volmaakte lewe verloor. Daarom moes Jesus sy volmaakte lewe opoffer (Rom. 5:17). En hy het ’n “Ewige Vader” geword vir almal wat geloof in die losprys het. – Jes. 9:6; Rom. 3:23, 24.

3. Hoekom was Jesus bereid om sy volmaakte lewe op te offer, volgens Johannes 14:31 en 15:13?

3 Jesus was bereid om sy lewe op te offer omdat hy baie lief is vir sy hemelse Vader en vir ons. (Lees Johannes 14:31; 15:13.) Daardie liefde het hom gemotiveer om tot die dood toe lojaal te bly en om sy Vader se wil uit te voer. Omdat Jesus dit gedoen het, sal Jehovah se oorspronklike doel vir die mens en vir die aarde vervul word. In hierdie artikel gaan ons bespreek hoekom God toegelaat het dat Jesus so wreed mishandel word voordat hy gesterf het. Ons gaan ook kortliks kyk na ’n Bybelskrywer wat groot waardering vir die losprys gehad het. En dan sal ons bespreek hoe ons kan wys dat ons dankbaar is vir die losprys en hoe ons ons waardering kan versterk vir die offerande wat Jehovah en Jesus voorsien het.

HOEKOM HET GOD TOEGELAAT DAT JESUS WREED MISHANDEL WORD?

Dink aan al die pyn wat Jesus verduur het om die losprys aan ons te voorsien! (Sien paragraaf 4)

4. Beskryf hoe Jesus gesterf het.

4 Dink aan wat gedurende die laaste dag gebeur het voordat Jesus doodgemaak was. Alhoewel hy legioene engele kan roep om hom te beskerm, laat hy toe dat die Romeinse soldate hom arresteer en hom wreed slaan (Matt. 26:52-54; Joh. 18:3; 19:1). Hulle gebruik ’n sweep wat in sy vel insny en stukkies vlees uitruk. Later moet hy ’n swaar paal op sy stukkendgeskeurde rug dra. Jesus probeer om die paal na die plek te dra waar hulle hom gaan hang. Maar die Romeinse soldate beveel ’n ander man om dit vir hom te dra (Matt. 27:32). Wanneer Jesus daar aankom, slaan die soldate spykers in sy hande en in sy voete in om hom aan die paal vas te nael. Die gewig van Jesus se liggaam veroorsaak dat die spykerwonde skeur. Sy vriende is diep hartseer en sy ma huil verskriklik, maar die Joodse heersers lag hom uit (Luk. 23:32-38; Joh. 19:25). Die ure gaan stadig verby terwyl Jesus verskriklike pyn verduur. Sy hart en longe kan dit nie meer hou nie en dit word vir hom al hoe moeiliker om asem te haal. Met sy laaste asem bid hy vir die laaste keer. Dan buig hy sy kop en gee hy sy lewe aan God oor (Mark. 15:37; Luk. 23:46; Joh. 10:17, 18; 19:30). Dit was regtig ’n stadige, pynlike, vernederende manier om te sterf!

5. Wat was vir Jesus erger as die pyn wat hy moes verduur?

5 Die pyn wat Jesus moes verduur, was nie vir hom die ergste nie. Die rede hoekom hy doodgemaak sou word, was vir hom erger. Hy is valslik beskuldig as ’n godslasteraar – iemand wat geen respek vir God of vir God se naam het nie (Matt. 26:64-66). Net die gedagte daaraan was vir Jesus so erg dat hy gehoop het dat sy Vader hom hierdie vernedering sou spaar (Matt. 26:38, 39, 42). Hoekom het Jehovah toegelaat dat sy geliefde Seun so wreed mishandel word en sterf? Kom ons kyk na drie redes.

6. Hoekom moes Jesus aan ’n folterpaal gehang word?

6 Eerstens, Jesus moes aan ’n paal sterf om die Jode van ’n spesiale vloek te bevry (Gal. 3:10, 13). Hulle het belowe om God se Wet te gehoorsaam, maar hulle was nie gehoorsaam daaraan nie. So behalwe vir die feit dat hulle moes doodgaan omdat hulle Adam se kinders was, was hulle ook onder hierdie vloek (Rom. 5:12). God se Wet aan Israel het gesê dat ’n man doodgemaak moes word as hy ’n sonde pleeg wat die doodstraf verdien. En in party gevalle is die liggaam aan ’n paal gehang. * Die Wet het ook gesê dat die een wat aan ’n paal gehang is, deur God vervloek is (Deut. 21:22, 23; 27:26). So toe Jesus aan ’n paal gehang word, het hy die vloek namens die Jode aanvaar sodat hulle van hierdie vloek bevry kon word, en sy offerande kon hulle help, al het hulle hom verwerp.

7. Wat is ’n tweede rede hoekom God toegelaat het dat sy Seun so wreed mishandel word?

7 Kyk na ’n tweede rede hoekom God toegelaat het dat sy Seun so wreed mishandel word. Hy was besig om Jesus op te lei vir sy toekomstige rol as ons Hoëpriester. Jesus het gesien hoe moeilik dit is om aan God gehoorsaam te wees wanneer ’n mens erg getoets word. Hy was onder soveel druk dat hy “met sterk uitroepe en trane” gebid het. Omdat Jesus soveel emosionele pyn verduur het, weet hy wat ons nodig het en “kan hy [ons] help” wanneer ons “getoets word”. Ons is so dankbaar dat Jehovah vir ons ’n genadige Hoëpriester gegee het wat “met ons swakhede kan simpatiseer”! – Heb. 2:17, 18; 4:14-16; 5:7-10.

8. Wat is ’n derde rede hoekom God toegelaat het dat Jesus so erg getoets word?

8 Derdens, Jehovah het toegelaat dat Jesus so erg mishandel word om ’n belangrike vraag te beantwoord: Kan mense getrou aan God bly selfs al word hulle erg getoets? Satan sê nee! Hy sê dat mense God vir selfsugtige redes dien. En hy glo dat hulle nie vir Jehovah lief is nie – net soos hulle voorvader, Adam (Job 1:9-11; 2:4, 5). Jehovah het die vertroue gehad dat sy Seun lojaal aan hom sou bly, en daarom het hy toegelaat dat Jesus tot die uiterste getoets word. Jesus het lojaal gebly en het bewys dat Satan ’n leuenaar is.

’N BYBELSKRYWER WAT DIEP WAARDERING GEHAD HET VIR DIE LOSPRYS

9. Watter voorbeeld het die apostel Johannes vir ons gestel?

9 Die lering van die losprys het die geloof van baie Christene versterk en het hulle gehelp om lewenslank te preek, al was hulle vervolg en al het hulle allerhande probleme ondervind. Kyk na die voorbeeld van die apostel Johannes. Hy het heel moontlik meer as 60 jaar lank die waarheid oor Christus en die losprys lojaal verkondig. Toe hy in sy laat 90’s was, het die Romeinse ryk gedink dat hy so ’n groot bedreiging was dat hulle hom op die eiland Patmos opgesluit het. Hoekom? Omdat hy “oor God gepraat en van Jesus getuig het” (Op. 1:9). Wat ’n uitstekende voorbeeld van geloof en volharding!

10. Hoe wys die Bybelboeke wat Johannes geskryf het dat hy die losprys waardeer het?

10 Die Bybelboeke wat Johannes geskryf het, wys dat hy diep liefde vir Jesus en groot waardering vir die losprys gehad het. Hy praat meer as 100 keer oor die losprys of oor die voordele wat die losprys moontlik maak. Johannes het byvoorbeeld geskryf: “As iemand wel ’n sonde pleeg, het ons ’n helper by die Vader, naamlik Jesus Christus, wat regverdig is” (1 Joh. 2:1, 2). Die Bybelboeke wat Johannes geskryf het, beklemtoon ook hoe belangrik dit is “om oor Jesus te getuig” (Op. 19:10). Dit is duidelik dat Johannes groot waardering vir die losprys gehad het. Hoe kan ons wys dat ons ook die losprys waardeer?

HOE KAN ONS WYS DAT ONS DIE LOSPRYS WAARDEER?

As ons die losprys regtig waardeer, sal ons die versoeking weerstaan om te sondig (Sien paragraaf 11) *

11. Wat kan ons help om versoeking te weerstaan?

11 Weerstaan die versoeking om te sondig. As ons die losprys regtig waardeer, sal ons nie dink: ‘Ek hoef nie hard te probeer om nie te sondig nie. As ek sondig, kan ek net vir vergifnis vra.’ As ons in die versoeking kom om iets verkeerds te doen wil ons eerder sê: ‘Nee! Hoe kan ek so iets doen ná alles wat Jehovah en Jesus vir my gedoen het?’ En ons kan Jehovah vir krag vra en hom smeek: ‘Help my om nie in te gee nie.’ – Matt. 6:13.

12. Hoe kan ons die raad in 1 Johannes 3:16-18 toepas?

12 Wees lief vir jou broers en susters. Wanneer ons dit doen, wys ons dat ons die losprys waardeer. Hoekom? Omdat Jesus nie net sy lewe vir ons gegee het nie, maar ook vir ons broers en susters. As hy bereid was om vir hulle te sterf, is dit duidelik dat hulle baie waarde in sy oë het. (Lees 1 Johannes 3:16-18.) Ons wys dat ons ons broers en susters liefhet deur die manier waarop ons hulle behandel (Ef. 4:29, 31–5:2). Byvoorbeeld, ons help hulle wanneer hulle siek is of wanneer hulle deur moeilike tye gaan, insluitende natuurrampe. Maar wat moet ons doen wanneer ’n broer of ’n suster in die gemeente iets doen of sê wat ons seermaak?

13. Hoekom moet ons ander vergewe?

13 Is dit vir jou soms moeilik om ’n broer of ’n suster te vergewe? (Lev. 19:18). Probeer dan om hierdie raad te volg: “Hou aan om mekaar te verdra en mekaar vryelik te vergewe, selfs al het iemand ’n rede om oor iemand anders te kla. Net soos Jehovah julle vryelik vergewe het, so moet julle ook vergewe” (Kol. 3:13). Elke keer wanneer ons ons broers en susters vergewe, wys ons vir ons hemelse Vader dat ons die losprys regtig waardeer. Hoe kan ons aanhou om ons waardering vir hierdie geskenk van God te versterk?

HOE KAN JY JOU WAARDERING VIR DIE LOSPRYS VERSTERK?

14. Wat is een manier hoe ons ons waardering vir die losprys kan versterk?

14 Sê vir Jehovah dankie vir die losprys. Kyk na wat Joanna, ’n 83-jarige suster in Indië, sê: “Ek dink dit is belangrik om die losprys elke dag in my gebede te noem en om vir Jehovah dankie te sê daarvoor.” Dink aan spesifieke foute wat jy deur die dag gemaak het en vra Jehovah om jou daarvoor te vergewe. As jy ernstig gesondig het, moet jy natuurlik ook vir die ouermanne vra om jou te help. Hulle sal na jou luister en vir jou liefdevolle raad uit God se Woord gee. Hulle sal saam met jou bid en Jehovah vra om jou te vergewe sodat jy weer ’n goeie verhouding met hom kan hê. – Jak. 5:14-16.

15. Hoekom moet ons tyd maak om oor die losprys te lees en daaroor na te dink?

15 Dink na oor die losprys. Rajamani, ’n 73-jarige suster, sê: “Ek kry trane in my oë wanneer ek lees oor die pyn wat Jesus verduur het.” Jy raak miskien ook emosioneel wanneer jy dink aan hoeveel pyn God se Seun moes verduur het. Maar hoe meer jy oor Jesus se offerande nadink, hoe sterker sal jou liefde vir hom en sy Vader word. Miskien kan jy ’n spesiale studieprojek oor die losprys doen om jou te help om daaroor na te dink.

Jesus het deur middel van ’n eenvoudige ete vir sy dissipels gewys hoe om sy offerande te herdenk (Sien paragraaf 16)

16. Hoe kan dit ons help wanneer ons ander oor die losprys leer? (Sien prent op voorblad.)

16 Leer ander oor die losprys. Elke keer wanneer ons ander van die losprys vertel, word ons waardering sterker. Ons het uitstekende hulpmiddele wat ons kan gebruik om ander te leer hoekom Jesus vir ons gesterf het. Byvoorbeeld, ons kan les 4 van die brosjure Goeie nuus wat van God kom! gebruik. Daardie les het die titel “Wie is Jesus Christus?” Of ons kan hoofstuk 5 van die boek Wat kan die Bybel ons leer? gebruik. Die titel van daardie hoofstuk is “Die losprys – God se grootste geskenk”. En elke jaar word ons waardering vir die losprys sterker wanneer ons die Herdenking van Jesus se dood bywoon en ander ywerig nooi om dit saam met ons by te woon. Jehovah het ons ’n wonderlike voorreg gegee om ander van sy Seun te leer!

17. Hoekom is die losprys God se grootste geskenk aan die mensdom?

17 Ons het beslis goeie rede om groot waardering vir die losprys op te bou en te behou. As gevolg van die losprys kan ons ’n sterk vriendskap met Jehovah hê, al is ons onvolmaak. As gevolg van die losprys sal die Duiwel se werke heeltemal vernietig word (1 Joh. 3:8). En as gevolg van die losprys sal Jehovah se oorspronklike doel vir die aarde ’n werklikheid word. Die hele planeet sal ’n paradys word. Almal wat jy ontmoet, sal Jehovah liefhê en hom dien. Laat ons elke dag na maniere soek om te wys dat ons waardering het vir die losprys – God se grootste geskenk aan die mensdom!

LIED 20 Die gawe van u Seun

^ par. 5 Hoekom was Jesus wreed mishandel en doodgemaak? Hierdie artikel sal hierdie vraag bespreek. Dit sal ons ook help om ons waardering vir die losprys te versterk.

^ par. 6 Die Romeine het misdadigers aan ’n paal gehang terwyl hulle nog gelewe het, en Jehovah het toegelaat dat sy Seun op hierdie manier doodgemaak word.

^ par. 55 BESKRYWING VAN PRENT: Drie verskillende broers weerstaan versoekings. Die een broer weier om na ongepaste prente te kyk, die ander broer weier om te rook en die derde een weier om omkoopgeld te aanvaar.