Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

STUDIEARTIKEL 17

Jehovah is verskriklik lief vir jou!

Jehovah is verskriklik lief vir jou!

“Jehovah vind vreugde in sy volk.” – PS. 149:4.

LIED 108 God se lojale liefde

IN HIERDIE ARTIKEL *

Ons hemelse Vader “vind vreugde” in elkeen van ons (Sien paragraaf 1)

1. Wat sien Jehovah in elkeen van ons raak?

JEHOVAH GOD “vind vreugde in sy volk” (Ps. 149:4). Wat ’n wonderlike gedagte! Jehovah sien ons goeie eienskappe raak, hy sien ons potensiaal en trek ons na hom toe. As ons getrou bly aan hom, sal hy vir ewig na aan ons bly! – Joh. 6:44.

2. Hoekom vind party dit moeilik om te glo dat Jehovah hulle liefhet?

2 Party sê dalk: ‘Ek weet dat Jehovah sy volk as ’n groep liefhet, maar hoe kan ek seker wees dat Jehovah my persoonlik liefhet?’ Wat kan miskien veroorsaak dat iemand daardie vraag vra? Oksana, * wat ’n tragiese kinderlewe gehad het, sê: “Ek was baie gelukkig toe ek gedoop is en begin pionier het. Maar 15 jaar later het ek die verskriklike dinge begin onthou wat met my gebeur het toe ek ’n kind was. Ek het gedink dat ek Jehovah se goedkeuring verloor het en dat ek nie sy liefde verdien het nie.” Yua, ’n pioniersuster wat ook ’n moeilike kinderlewe gehad het, sê: “Ek het my lewe aan Jehovah toegewy omdat ek hom gelukkig wou maak. Maar ek was oortuig dat hy nooit vir my lief kon wees nie.”

3. Wat sal ons in hierdie artikel bespreek?

3 Net soos die getroue Christene wat in die vorige paragraaf genoem is, is jy baie lief vir Jehovah, maar miskien twyfel jy dat hy jou liefhet. Maar hoekom moet jy oortuig wees dat hy regtig vir jou omgee? En wat kan jou help as jy in die kloue van negatiewe gedagtes vasgevang is? Kom ons kyk na die antwoorde op hierdie vrae.

TWYFELGEDAGTES IS GEVAARLIK

4. Hoekom is dit gevaarlik om te twyfel dat Jehovah ons liefhet?

4 Liefde is ’n kragtige motivering. As ons oortuig is dat Jehovah ons liefhet en ondersteun, sal dit ons motiveer om hom met ons hele hart te dien, selfs wanneer die lewe moeilik raak. Maar as ons twyfel dat God vir ons omgee, sal ons “min krag hê” (Spr. 24:10). En as ons mismoedig raak en begin twyfel dat God ons liefhet, sal ons onsself nie teen Satan se aanvalle kan verdedig nie. – Ef. 6:16.

5. Wat het gebeur toe party getwyfel het dat God hulle liefhet?

5 Die geloof van party getroue Christene het swak geword toe hulle getwyfel het dat Jehovah vir hulle lief is en vir hulle omgee. ’n Ouerman met die naam James sê: “Al het ek by Bethel gedien en al het ek my bediening in ’n anderstalige gemeente geniet, het ek gewonder of Jehovah regtig my offerandes aanvaar. Op een stadium het ek selfs gewonder of Jehovah na my gebede luister.” Eva, wat ook in die voltydse diens is, sê: “Ek het gesien dat dit gevaarlik is om te dink dat Jehovah nie lief is vir jou nie, want dit raak alles wat jy doen in jou diens aan Jehovah. Dit veroorsaak dat jy nie meer lus het vir geestelike dinge nie en dit maak dat jy jou vreugde in Jehovah se diens verloor.” Michael, wat as ’n gewone pionier en ’n ouerman dien, sê: “As jy nie glo dat God vir jou omgee nie, sal jy van hom af wegdryf.”

6. Wat moet ons doen as ons begin twyfel dat God vir ons lief is?

6 Hierdie ondervindinge wys hoe gevaarlik dit is om te dink dat God nie vir jou lief is nie. Dit kan jou geloof in hom afbreek. Maar wat moet ons doen as ons begin twyfel dat God vir ons lief is? Ons moet dadelik van daardie twyfelgedagtes ontslae raak! Vra Jehovah om daardie “angstige gedagtes” te vervang met ‘die vrede van God, wat jou hart en verstand sal beskerm’ (Ps. 139:23; Fil. 4:6, 7). En onthou, jy is nie alleen nie. Ander getroue broers en susters sukkel ook met negatiewe gevoelens. Selfs knegte van Jehovah van die verlede moes teen sulke gevoelens stry. Kyk wat ons kan leer uit die voorbeeld van die apostel Paulus.

WAT ONS UIT PAULUS SE ONDERVINDING KAN LEER

7. Watter probleme het Paulus gehad?

7 Voel jy soms oorlaai met verantwoordelikhede en dat jy nie alles kan hanteer nie? As jy so voel, dan sal jy verstaan hoe Paulus gevoel het. Hy was nie net angstig oor een gemeente nie, maar “oor al die gemeentes” (2 Kor. 11:23-28). Veroorsaak ernstige gesondheidsprobleme baie keer dat jy jou vreugde verloor? Paulus het gesukkel met “’n doring in die vlees”, wat moontlik ’n gesondheidsprobleem was, en hy was desperaat om ontslae te raak daarvan (2 Kor. 12:7-10). Voel jy mismoedig as gevolg van jou eie onvolmaaktheid? Paulus het ook soms so gevoel. Hy het homself ’n “patetiese mens” genoem omdat hy heeltyd moes stry teen sy eie onvolmaaktheid. – Rom. 7:21-24.

8. Wat het Paulus gehelp om sy probleme te hanteer?

8 Al het Paulus baie toetse en baie moeilike omstandighede deurgemaak, het hy aangehou om Jehovah te dien. Wat het hom die krag gegee om dit te doen? Al was hy deeglik bewus van sy onvolmaakthede, het hy onbreekbare geloof in die losprys gehad. Hy het ook geweet van Jesus se belofte dat “elkeen wat geloof in [Jesus] beoefen, nie vernietig sal word nie, maar die ewige lewe kan hê” (Joh. 3:16; Rom. 6:23). Paulus het beslis geloof in die losprys beoefen. Hy was oortuig dat Jehovah selfs mense wat ernstig gesondig het, baie graag wil vergewe as hulle berouvol is. – Ps. 86:5.

9. Wat kan ons uit Paulus se woorde in Galasiërs 2:20 leer?

9 Nog ’n rede hoekom Paulus geglo het dat God vir hom lief is, is omdat hy geweet het dat God Jesus gestuur het om vir hom te sterf. (Lees Galasiërs 2:20.) Kyk na die versekering wat ons kry aan die einde van daardie vers. Paulus sê: “Die Seun van God, [het] my liefgehad . . . en homself vir my oorgegee.” Paulus het nie God se liefde beperk nie. Hy het nie gedink: ‘Ek kan sien hoekom Jehovah vir my broers lief is, maar hy sal nooit vir my kan lief wees nie.’ Paulus het die Romeine herinner: “Christus [het] vir ons gesterf . . . terwyl ons nog sondaars was” (Rom. 5:8). God se liefde het geen perke nie!

10. Wat leer ons uit Romeine 8:38, 39?

10 Lees Romeine 8:38, 39. Paulus was heeltemal oortuig van die krag van God se liefde. Hy het geskryf dat niks ons “sal kan skei van God se liefde” nie. Paulus het geweet hoe geduldig Jehovah met die Israeliete was. Hy het ook geweet hoe genadig Jehovah teenoor hom was. So Paulus het basies gesê: ‘Het ek enige rede om te twyfel dat Jehovah lief is vir my, as hy sy enigste seun gestuur het om vir my te sterf?’ – Rom. 8:32.

Wat vir God belangrik is, is wat ons nou en in die toekoms doen, nie die foute wat ons in die verlede gemaak het nie (Sien paragraaf 11) *

11. Hoekom was Paulus seker dat God vir hom lief was, al het hy die sondes gepleeg wat in 1 Timoteus 1:12-15 genoem word?

11 Lees 1 Timoteus 1:12-15. Daar was seker tye toe Paulus baie sleg gevoel het oor dinge wat hy gedoen het voordat hy ’n Christen geword het. Hy het gesê dat hy “die ergste” sondaar is, en geen wonder nie! Voordat Paulus die waarheid geleer het, het hy Christene in een stad na die ander wreed vervolg. Hy het party van hulle in die tronk gegooi en hofbevele ondersteun om ander Christene dood te maak (Hand. 26:10, 11). Kan jy dink hoe Paulus sou gevoel het as hy ’n jong Christen ontmoet het wie se ouers doodgemaak is as gevolg van hom? Paulus was baie spyt oor die foute wat hy in die verlede gemaak het, maar hy het geweet dat hy nie die verlede kon verander nie. Hy het geglo dat Jesus vir hom gesterf het, en hy het geskryf: “Deur God se onverdiende goedheid is ek wat ek is” (1 Kor. 15:3, 10). Wat is die les vir ons? Aanvaar dat Jesus vir jou gesterf het en dit vir jou moontlik gemaak het om ’n sterk, persoonlike vriendskap met Jehovah te hê (Hand. 3:19). Wat vir God belangrik is, is wat ons nou en in die toekoms doen, nie die foute wat ons in die verlede gemaak het nie, of ons nou op daardie stadium een van Jehovah se Getuies was of nie. – Jes. 1:18.

12. Hoe kan die woorde in 1 Johannes 3:19, 20 ons help as ons voel dat ons nie liefde verdien nie of dat ons waardeloos is?

12 Wanneer ons dink aan hoe Jesus vir ons sondes gesterf het, dink ons miskien: ‘Ek voel nie waardig om hierdie kosbare geskenk te ontvang nie.’ Hoekom sal jy moontlik so voel? Ons onvolmaakte hart sal ons dalk bedrieg en ons laat voel asof ons nie liefde verdien nie of dat ons waardeloos is. (Lees 1 Johannes 3:19, 20.) As ons so begin voel, moet ons onthou: “God is groter as ons hart.” Ons hemelse Vader se liefde en vergifnis is baie sterker as enige negatiewe gevoelens wat dalk in ons hart skuil. Ons moet onsself oortuig dat Jehovah vir ons lief is. Om dit te doen, moet ons sy Woord gereeld studeer, gereeld bid en gereeld met sy lojale knegte assosieer. Hoekom is dit belangrik om hierdie dinge te doen?

HOE DIE BYBEL, GEBED EN LOJALE VRIENDE KAN HELP

13. Hoe kan dit ons help as ons God se Woord studeer? (Sien ook die venster “ Hoe God se Woord hulle help”.)

13 Studeer God se Woord elke dag. As jy dit doen, sal jy Jehovah se liefdevolle persoonlikheid duideliker sien. Jy sal besef hoe baie hy jou liefhet. As jy elke dag oor ’n gedeelte van God se Woord nadink, kan dit jou help om helderder te dink – om dinge in jou verstand en hart “reg te stel” (2 Tim. 3:16). ’n Ouerman met die naam Kevin, wat gesukkel het met ’n lae selfbeeld, sê: “Toe ek Psalm 103 gelees het en daaroor nagedink het, het dit my gehelp om my denke reg te stel, en ek het begin besef hoe Jehovah my regtig sien.” Eva, wat vroeër genoem is, sê: “Ek maak tyd aan die einde van die dag om rustig te sit en dink aan dinge wat vir Jehovah belangrik is. Dit gee my innerlike vrede en versterk my geloof.”

14. Hoe kan gebed ons help?

14 Bid gereeld. (1 Tess. 5:17). As jy ’n goeie vriend van iemand wil word, moet jy gereeld met hom gesels en vir hom sê hoe jy voel. Dit is ook die geval as ons ’n goeie vriend van Jehovah wil wees. Wanneer ons vir Jehovah sê hoe ons voel, wat ons dink en waaroor ons bekommerd is, wys ons dat ons vertroue in hom het en dat ons weet dat hy vir ons lief is (Ps. 94:17-19; 1 Joh. 5:14, 15). Yua, wat vroeër aangehaal is, sê: “Wanneer ek bid, sê ek nie net vir Jehovah wat daardie dag met my gebeur het nie. Ek sê vir hom wat ek regtig dink en hoe ek regtig voel. Geleidelik het ek Jehovah begin sien, nie as ’n bestuurder van ’n groot maatskappy nie, maar as ’n Vader wat sy kinders regtig liefhet.” – Sien die venster “ Het jy dit al gelees?

15. Hoe wys Jehovah dat hy persoonlik in ons belangstel?

15 Assosieer met lojale vriende. Hulle is ’n geskenk van Jehovah (Jak. 1:17). Ons hemelse Vader wys dat hy persoonlik in ons belangstel deur vir ons broers en susters in die gemeente te gee wat ‘altyd liefde betoon’ (Spr. 17:17). In Paulus se brief aan die Kolossense, het hy gesê dat sekere Christene hom ondersteun het en dat hulle “’n bron van groot vertroosting” was (Kol. 4:10, 11). Selfs Jesus het die ondersteuning van sy vriende – mense sowel as engele – nodig gehad, en hy het hulle ondersteuning baie waardeer. – Luk. 22:28, 43.

16. Hoe kan lojale vriende ons help om nader aan Jehovah te kom?

16 Vra jy jou lojale vriende vir hulp en aanvaar jy hulle hulp? As ons vir ’n vriend wat sterk in die waarheid is, sê waaroor ons bekommerd is, is dit nie ’n teken van swakheid nie. Dit kan ons eintlik beskerm. Kyk na wat James, wat vroeër aangehaal is, sê: “Goeie vriendskappe met Christene wat sterk in die waarheid is, was vir my soos ’n reddingstou. Toe negatiewe gedagtes my oorweldig het, het my wonderlike vriende geduldig na my geluister en my herinner hoeveel hulle my liefhet. Deur middel van hulle kan ek voel hoe lief Jehovah vir my is en hoeveel hy vir my omgee.” Hoe belangrik is dit tog om sterk vriendskappe met ons geestelike broers en susters op te bou en te behou!

BLY IN JEHOVAH SE LIEFDE

17-18. Na wie moet ons luister, en hoekom?

17 Satan wil hê dat ons moet ophou stry om te doen wat reg is. Hy wil hê dat ons moet glo dat Jehovah nie lief is vir ons nie en dat ons nie goed genoeg is om deur Jehovah gered te word nie. Maar dit is ’n groot leuen!

18 Jehovah is lief vir jou. Jy is baie kosbaar in sy oë. As jy gehoorsaam is aan hom, sal jy, net soos Jesus, vir altyd “in sy liefde bly” (Joh. 15:10). So moenie na Satan of na jou bedrieglike hart luister nie. Luister eerder na Jehovah, wat die goeie in elkeen van ons sien. Wees oortuig dat Jehovah ‘vreugde vind in sy volk’, en dit sluit jou in!

LIED 141 Die lewenswonderwerk

^ par. 5 Party van ons broers en susters vind dit moeilik om te glo dat Jehovah hulle ooit kan liefhê. In hierdie artikel gaan ons bespreek hoekom ons seker kan wees dat Jehovah elkeen van ons liefhet. Ons gaan ook kyk na wat ons kan doen as ons twyfel dat hy ons liefhet.

^ par. 2 Party name is verander.

^ par. 67 BESKRYWING VAN PRENT: In die verlede het Paulus baie Christene in die tronk laat gooi. Toe hy aanvaar het wat Jesus vir hom gedoen het, het hy verander en sy Christenbroers aangemoedig. Party van hulle was dalk familielede van die persone wat hy vervolg het.