Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Vrae van lesers

Vrae van lesers

Hoekom het Jesus Dawid se woorde in Psalm 22:1 net voor sy dood aangehaal?

Een van die laaste dinge wat Jesus gesê het net voordat hy gesterf het, was die woorde in Matteus 27:46: “My God, my God, waarom het u my verlaat?” Toe Jesus dit gesê het, het hy die psalmis Dawid se woorde in Psalm 22:1 vervul (Mark. 15:34). Dit sou verkeerd wees om te dink dat Jesus hierdie woorde aangehaal het omdat hy teleurgesteld was of omdat hy op daardie oomblik nie genoeg geloof gehad het nie. Jesus het presies geweet hoekom hy moes sterf, en hy was bereid om dit te doen (Matt. 16:21; 20:28). Hy het ook geweet dat Jehovah by sy dood enige “beskermende muur” om hom moes wegvat (Job 1:10). Jehovah het Jesus die geleentheid gegee om te bewys dat hy tot die dood getrou sou bly, maak nie saak hoe moeilik dinge raak nie. – Mark. 14:35, 36.

So hoekom het Jesus hierdie woorde van psalm 22 gesê? Ons kan nie met sekerheid sê nie, maar kom ons kyk na ’n paar moontlike redes. *

Wou Jesus beklemtoon dat Jehovah hom nie by sy dood sou help nie? Jesus moes die losprys betaal sonder Jehovah se hulp. Hy was ’n mens, en hy moes doodgaan sodat hy “die dood vir elke mens [kon] ervaar”. – Heb. 2:9.

Het Jesus ’n paar woorde uit daardie psalm aangehaal om mense se aandag op die hele psalm te vestig? Destyds was dit iets algemeens vir die Jode om baie van die psalms te memoriseer. As hulle een vers van die psalm gehoor het, sou hulle natuurlik aan die hele psalm gedink het. As dit is wat Jesus wou doen, dan sou hy sy Joodse volgelinge gehelp het om te dink aan al die profesieë in daardie psalm wat met sy dood te doen gehad het (Ps. 22:7, 8, 15, 16, 18, 24). En in die laaste verse van die psalm word Jehovah as Koning oor die hele aarde geloof. – Ps. 22:27-31.

Wou Jesus beklemtoon dat hy onskuldig was? Voor Jesus se dood het die Sanhedrin ’n onwettige verhoor gehou, en hulle het hom skuldig bevind van godslastering (Matt. 26:65, 66). Die Sanhedrin het laat die aand vinnig bymekaargekom, en hulle het glad nie die wetlike standaarde van daardie tyd gevolg nie (Matt. 26:59; Mark. 14:56-59). Toe Jesus hierdie retoriese vraag gevra het, wou hy mense dalk laat besef dat hy niks gedoen het om hierdie soort straf te verdien nie.

Wou Jesus ander ook herinner dat Dawid, die skrywer van hierdie psalm, gely het, al het hy nie Jehovah se goedkeuring verloor nie? Toe Dawid daardie vraag gevra het, het dit nie beteken dat hy nie geloof het nie. Dawid se woorde ná daardie vraag het gewys dat hy die vertroue het dat Jehovah sy volk kon red, en Jehovah het aangehou om hom te seën (Ps. 22:23, 24, 27). So alhoewel Jesus, “die Seun van Dawid”, aan die folterpaal gehang het, het dit nie beteken dat hy nie meer Jehovah se goedkeuring het nie. – Matt. 21:9.

Wou Jesus wys hoe verskriklik hartseer hy was dat Jehovah Sy beskerming moes wegneem sodat hy kon wys dat hy tot die dood toe getrou sou bly? Jehovah wou nie gehad het dat sy Seun moes ly en sterf nie. Dit het eers nodig geword toe Adam en Eva ongehoorsaam aan Jehovah was. Jesus het niks verkeerds gedoen nie, maar hy moes baie pyn verduur en doodgaan om te wys dat Satan verkeerd was en om die losprys te voorsien sodat hy kon terugkoop wat mense verloor het (Mark. 8:31; 1 Pet. 2:21-24). Dit kon net plaasvind as Jehovah tydelik opgehou het om Jesus te beskerm vir die eerste keer in sy lewe.

Wou Jesus sy volgelinge help om te fokus op die rede hoekom Jehovah toegelaat het dat hy op hierdie manier doodgaan? * Jesus het geweet dat die feit dat hy as ’n misdadiger aan ’n folterpaal sterf, baie mense sou laat struikel (1 Kor. 1:23). So Jesus wou hê dat sy volgelinge moes fokus op die eintlike rede hoekom hy moes sterf (Gal. 3:13, 14). Dan sou hulle besef dat hy ’n Redder is en nie ’n misdadiger nie.

Wat ook al die rede was hoekom Jesus hierdie woorde aangehaal het, hy het geweet dat alles wat hy ondervind het, Jehovah se wil was. Kort nadat Jesus hierdie psalm aangehaal het, het hy gesê: “Dit is afgehandel!” (Joh. 19:30; Luk. 22:37). Ja, die feit dat Jehovah tydelik sy beskerming weggevat het, het Jesus die geleentheid gegee om alles op die aarde te doen waarvoor hy gestuur is. Dit het hom ook die geleentheid gegee om alles te vervul wat oor hom “in die Wet van Moses en in die boeke van die profete en die Psalms” geskryf is. – Luk. 24:44.

^ par. 2 Sien ook paragraaf 9 en 10 in die artikel “Lesse uit Jesus se laaste woorde” in hierdie nommer.

^ par. 4 Toe Jesus op die aarde was, het hy soms dinge gesê en vrae gevra wat nie in ooreenstemming was met hoe hy regtig gevoel het nie. Hy het dit gedoen om sy volgelinge die geleentheid te gee om te sê wat hulle dink. – Mark. 7:24-27; Joh. 6:1-5; sien Die Wagtoring van 15 Oktober 2010, bl.4-5.