Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

STUDIEARTIKEL 19

Hoe kan ons ons geloof in Jehovah se belofte van ’n nuwe wêreld versterk?

Hoe kan ons ons geloof in Jehovah se belofte van ’n nuwe wêreld versterk?

“As [Jehovah] iets sê, sal hy dit nie doen nie?” – NUM. 23:19.

LIED 142 Ons hoop is ’n anker

IN HIERDIE ARTIKEL a

1-2. Wat moet ons doen terwyl ons vir die nuwe wêreld wag?

 ONS is dankbaar vir Jehovah se belofte om hierdie wêreld met ’n regverdige nuwe wêreld te vervang (2 Pet. 3:13). Al weet ons nie presies wanneer daardie nuwe wêreld sal kom nie, wys die dinge wat ons in die wêreld sien dat ons nie meer baie langer sal hoef te wag nie. – Matt. 24:32-34, 36; Hand. 1:7.

2 Maar ons almal moet ons geloof in daardie belofte versterk, maak nie saak hoe lank ons al in die waarheid is nie. Hoekom? Omdat selfs sterk geloof swak kan word. Om die waarheid te sê, die apostel Paulus het ’n gebrek aan geloof “die sonde wat ons maklik verstrik” genoem (Heb. 12:1). Om te keer dat ons geloof swak word, moet ons gereeld diep nadink oor die dinge wat bewys dat die nuwe wêreld binnekort sal kom. – Heb. 11:1.

3. Wat sal ons in hierdie artikel bespreek?

3 In hierdie artikel sal ons drie maniere bespreek hoe ons ons geloof kan versterk in Jehovah se belofte van die nuwe wêreld: (1) deur diep na te dink oor die losprys, (2) deur na te dink oor Jehovah se krag en (3) deur besig te bly met geestelike aktiwiteite. Dan sal ons bespreek hoe Jehovah se boodskap aan Habakuk ons geloof vandag versterk. Maar kom ons kyk eers na party situasies waarin ons dalk nou is wat sterk geloof in die belofte van ’n komende nuwe wêreld vereis.

SITUASIES WAT STERK GELOOF VEREIS

4. Watter besluite vereis sterk geloof?

4 Ons maak elke dag besluite wat sterk geloof vereis. Byvoorbeeld, ons maak besluite wanneer dit kom by ons assosiasie, vermaak, opvoeding, huwelik, kinders en sekulêre werk. Dit sal goed wees as ons onsself afvra: ‘Wys my besluite dat ek oortuig is dat hierdie wêreld tydelik is en binnekort deur God se nuwe wêreld vervang sal word? Of word my besluite beïnvloed deur mense wat lewe asof die dood die einde van alles is?’ (Matt. 6:19, 20; Luk. 12:16-21). Ons sal die beste besluite maak as ons ons geloof versterk dat die nuwe wêreld binnekort sal kom.

5-6. Hoekom het ons sterk geloof nodig wanneer ons deur moeilike tye gaan? Gee ’n voorbeeld.

5 Ons gaan ook deur moeilike tye wat sterk geloof vereis. Ons moet dalk vervolging, chroniese siekte of ander dinge verduur wat kan veroorsaak dat ons mismoedig word. Aan die begin voel ons dalk dat ons ons probleem kan verduur. Maar sulke probleme hou dikwels vir ’n lang tyd aan, en daarom het ons sterk geloof nodig om dit te verduur en om aan te hou om Jehovah met vreugde te dien. – Rom. 12:12; 1 Pet. 1:6, 7.

6 Wanneer ons deur ’n moeilike tyd gaan, voel ons dalk dat Jehovah se nuwe wêreld nooit sal kom nie. Beteken dit dat ons geloof swak is? Nie noodwendig nie. Dink aan ’n illustrasie. In die middel van ’n verskriklike koue winter voel ons dalk dat die somer nooit sal kom nie. En tog kom die somer. Net so voel ons dalk dat die nuwe wêreld nooit sal kom wanneer ons baie mismoedig is nie. Maar as ons geloof sterk is, weet ons dat God se beloftes sal waar word (Ps. 94:3, 14, 15; Heb. 6:17-19). Met daardie vertroue kan ons aanhou om ons aanbidding van Jehovah eerste in ons lewe te stel.

7. Watter gesindheid moet ons vermy?

7 Ons het ook sterk geloof nodig om die predikingswerk te doen. Baie mense vir wie ons preek, voel dat die “goeie nuus” oor God se komende nuwe wêreld te goed is om waar te wees (Matt. 24:14; Eseg. 33:32). Ons wil nooit toelaat dat hulle gesindheid ons beïnvloed nie. Om te keer dat dit gebeur, moet ons aanhou om ons geloof te versterk. Kom ons kyk na drie maniere hoe ons dit kan doen.

DINK DIEP NA OOR DIE LOSPRYS

8-9. Hoe kan dit ons geloof versterk wanneer ons diep nadink oor die losprys?

8 Een manier hoe ons ons geloof kan versterk, is deur diep na te dink oor die losprys. Die losprys verseker ons dat God se beloftes sal waar word. Wanneer ons mooi nadink oor hoekom die losprys voorsien was en wat dit behels het, versterk ons ons geloof dat God se belofte van ewige lewe in ’n beter wêreld beslis sal waar word. Hoekom kan ons dit sê?

9 Wel, wat het die losprys behels? Jehovah het sy geliefde eersgebore Seun, die persoon wat die naaste aan hom was, uit die hemel gestuur om as ’n volmaakte mens gebore te word. Terwyl Jesus op die aarde was, het hy verskillende moeilike tye deurgemaak. Toe het hy gely en is hy op ’n wrede manier doodgemaak. Jehovah het beslis ’n baie hoë prys betaal! Ons liefdevolle God sou nooit toegelaat het dat sy Seun ly en sterf net sodat ons vir ’n kort rukkie ’n beter lewe kon hê nie (Joh. 3:16; 1 Pet. 1:18, 19). Omdat Jehovah so ’n hoë prys betaal het, sal hy seker maak dat ons vir ewig in die nuwe wêreld kan lewe.

DINK NA OOR JEHOVAH SE KRAG

10. Wat kan Jehovah doen volgens Efesiërs 3:20?

10 ’n Tweede manier om ons geloof te versterk, is deur na te dink oor Jehovah se krag. Hy het die krag om al sy beloftes te laat waar word. Baie mense van vandag voel dat die ewige lewe in die nuwe wêreld net nie vir ons moontlik is nie. Maar Jehovah belowe baie keer dinge wat mense nooit sal kan regkry nie. Hy kan dit doen omdat hy God die Almagtige is (Job 42:2; Mark. 10:27). So dit verbaas ons nie wanneer hy wonderlike beloftes maak nie. – Lees Efesiërs 3:20.

11. Gee ’n voorbeeld van een van God se wonderlike beloftes. (Sien die venster “ Party wonderlike beloftes wat waar geword het”.)

11 Kyk na party van die dinge wat onmoontlik gelyk het wat Jehovah in die verlede aan sy volk belowe het. Hy het vir Abraham en Sara gesê dat hulle op hulle oudag ’n seun sou hê (Gen. 17:15-17). Hy het ook vir Abraham gesê dat die land Kanaän aan sy nakomelinge gegee sou word. Gedurende die baie jare dat Abraham se nakomelinge, die Israeliete, slawe in Egipte was, moes dit seker gelyk het asof daardie belofte nooit sou waar word nie. Maar dit het. Later het Jehovah aangekondig dat Elisabet ’n kind sou hê, al was sy oud. Hy het ook vir Maria, ’n maagd, gesê dat sy geboorte sal gee aan sy eie Seun. Dit sou ’n belofte vervul wat Jehovah duisende jare vroeër in die tuin van Eden gemaak het! – Gen. 3:15.

12. Watter versekering kry ons in Josua 23:14 en Jesaja 55:10, 11 oor Jehovah se krag?

12 Ons geloof in Jehovah se krag om sy belofte van die nuwe wêreld te laat waar word, sal sterker word wanneer ons dink aan al die beloftes wat Jehovah gemaak het en hoe hy dit laat waar word het. (Lees Josua 23:14; Jesaja 55:10, 11.) Dit help ons om ander te help om te verstaan dat die beloofde nuwe wêreld glad nie ’n droom is nie. Jehovah het self oor die nuwe hemel en die nuwe aarde gesê: “Hierdie woorde is betroubaar en waar.” – Op. 21:1, 5.

BLY BESIG MET GEESTELIKE AKTIWITEITE

GEMEENTELIKE VERGADERINGE

Hoe kan hierdie geestelike aktiwiteit jou geloof versterk? (Sien paragraaf 13)

13. Hoe kan gemeentelike vergaderinge ons geloof versterk? Verduidelik.

13 ’n Derde manier hoe ons ons geloof kan versterk, is deur besig te bly met geestelike aktiwiteite. Dink byvoorbeeld aan hoe ons gemeentelike vergaderinge ons help. Anna, wat dekades lank in verskillende vorme van die voltydse bediening was, sê: “Vergaderinge help my om my geloof sterk te hou. Al is die spreker nie ’n baie goeie onderrigter nie of al sê hy niks nuuts nie, hoor ek baie keer iets wat my help om ’n Bybelwaarheid beter te verstaan, en dit versterk my geloof.” b Ons geloof kan ook sterker word wanneer ons na die opbouende antwoorde van ons broers en susters by die vergaderinge luister. – Rom. 1:11, 12; 10:17.

VELDBEDIENING

Hoe kan hierdie geestelike aktiwiteit jou geloof versterk? (Sien paragraaf 14)

14. Hoe versterk die bediening ons geloof?

14 Ons versterk ook ons geloof wanneer ons aan die veldbediening deelneem (Heb. 10:23). Barbara, wat Jehovah al meer as 70 jaar lank dien, sê: “Die predikingswerk het nog altyd my geloof versterk. Hoe meer ek met ander oor Jehovah se wonderlike beloftes praat, hoe sterker word my geloof.”

PERSOONLIKE STUDIE

Hoe kan hierdie geestelike aktiwiteit jou geloof versterk? (Sien paragraaf 15)

15. Hoe versterk persoonlike studie ons geloof? (Sien ook prente.)

15 Kyk na nog ’n geestelike aktiwiteit wat ons geloof versterk: persoonlike studie. Susan sê dat dit haar help om ’n rooster vir haar persoonlike studiesessies te hê. Sy sê: “Op ’n Sondag berei ek die Wagtoring-studie vir die volgende week voor. Maandae en Dinsdae berei ek voor vir die vergadering in die week. Op die ander dae werk ek aan ’n persoonlike studieprojek.” Omdat sy altyd by haar rooster vir studie bly, versterk Susan aanhoudend haar geloof. Irene, wat nou al dekades lank by die wêreldhoofkwartier dien, sê dat dit haar geloof versterk om Bybelprofesieë te studeer. Sy sê: “Dit is vir my wonderlik om te sien dat selfs die kleinste details van Jehovah se profesieë waar word.” c

“DIT SAL VIR SEKER WAAR WORD”

16. Hoekom is Jehovah se versekering aan Habakuk vandag vir ons betekenisvol? (Hebreërs 10:36, 37)

16 Party van Jehovah se knegte wag al lank vir die einde van hierdie wêreld om te kom. Sommige mense dink dat die einde te lank vat om te kom. Maar Jehovah weet hoe sy knegte voel en het die profeet Habakuk verseker: “Die visioen is nog vir sy vasgestelde tyd, en dit beweeg vinnig na sy vervulling, en dit sal nie lieg nie. Al sou dit lank neem, bly gretig wag daarvoor! Want dit sal vir seker waar word. Dit sal nie laat wees nie!” (Hab. 2:3). Het God daardie versekering net vir Habakuk gegee? Of is Sy woorde vandag ook vir ons betekenisvol? Onder inspirasie het die apostel Paulus daardie woorde toegepas op Christene wat gretig vir die nuwe wêreld wag. (Lees Hebreërs 10:36, 37.) So al lyk dit of Jehovah se belofte om ons te red, lank vat om waar te word, kan ons hiervan seker wees: “Dit sal vir seker waar word. Dit sal nie laat wees nie!”

17. Hoe het een suster die raad toegepas wat Jehovah aan Habakuk gegee het?

17 Baie knegte van Jehovah het sy raad om “gretig [te bly] wag”, toegepas – selfs vir dekades. Byvoorbeeld, Louise het Jehovah in 1939 begin dien. Sy sê: “Op daardie stadium het ek gedink dat Armageddon sou kom voordat ek klaar was met hoërskool. Dit het nie gebeur nie. Oor die jare het dit my gehelp om Bybelverslae te lees oor mense soos Noag, Abraham, Josef en ander wat lank op Jehovah moes wag om sy beloftes te laat waar word. Om altyd te glo dat die beloftes sal waar word, het my en ander gehelp om oortuig te wees dat die nuwe wêreld baie naby is.” Baie ander wat Jehovah al jare lank dien, stem hiermee saam!

18. Hoe kan dit ons geloof in die nuwe wêreld versterk wanneer ons na die skepping kyk?

18 Dit is so dat die nuwe wêreld nog nie hier is nie. Maar dink aan party van die dinge wat wel hier is – die sterre, die bome, die diere en ander mense. Niemand twyfel dat al hierdie dinge regtig bestaan nie, al was daar ’n tyd toe dit nie bestaan het nie. Dit is nou hier net omdat Jehovah dit gemaak het (Gen. 1:1, 26, 27). Ons God het ook belowe dat hy ’n nuwe wêreld sal maak. Hy sal daardie belofte laat waar word. In die nuwe wêreld sal mense die lewe vir ewig met volmaakte gesondheid geniet. Ons kan seker wees dat die nuwe wêreld sal kom op God se vasgestelde tyd. – Jes. 65:17; Op. 21:3, 4.

19. Hoe kan jy jou geloof versterk?

19 Intussen moet jy elke geleentheid gebruik om jou geloof te versterk. Bou waardering op vir die losprys. Dink na oor Jehovah se krag. Bly besig met geestelike aktiwiteite. Deur dit te doen, kan jy onder dié wees “wat deur geloof en geduld die beloftes sal ontvang”. – Heb. 6:11, 12; Rom. 5:5.

LIED 139 Sien jouself wanneer alles nuut is

a Baie mense glo nie vandag in die Bybel se belofte van ’n nuwe wêreld nie. Hulle dink dat dit net ’n droom is, ’n sprokiesverhaal, te goed om waar te wees. Aan die ander kant is ons seker dat al Jehovah se beloftes vervul sal word. Maar ons moet aanhou om hard te werk om ons geloof sterk te hou. Hoe? Hierdie artikel sal dit verduidelik.

b Party name is verander.

c Baie artikels oor Bybelprofesieë kan gevind word onder die onderwerp “Profesie” in die Navorsingsgids vir Jehovah se Getuies. Sien byvoorbeeld die artikel “Wat Jehovah voorspel, word bewaarheid” in Die Wagtoring van 1 Januarie 2008.