Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

STUDIEARTIKEL 17

Jehovah sal jou ondersteun wanneer jy onverwagse probleme het

Jehovah sal jou ondersteun wanneer jy onverwagse probleme het

“Die regverdige het baie probleme, maar Jehovah red hom van dit alles.” – PS. 34:19.

LIED 44 Gebed van die bedrukte

IN HIERDIE ARTIKEL a

1. Waarvan is ons oortuig?

 AS JEHOVAH se volk weet ons dat hy ons liefhet en dat hy wil hê dat ons die beste lewe moontlik moet geniet (Rom. 8:35-39). Ons is ook oortuig dat Bybelbeginsels ons altyd sal help wanneer ons dit toepas (Jes. 48:17, 18). Maar hoe moet ons reageer as ons probleme ondervind wat ons nie verwag het nie?

2. Watter probleme sal ons dalk ondervind, en waaroor kan sulke probleme ons laat wonder?

2 Al Jehovah se knegte het probleme. Byvoorbeeld, ’n familielid stel ons dalk op die een of ander manier teleur. Ons het dalk ernstige gesondheidsprobleme wat beperk wat ons in Jehovah se diens kan doen. Ons ondervind dalk die verskriklike gevolge van ’n natuurramp. Of ons word dalk vervolg vir ons geloof. Wanneer ons deur sulke moeilike tye gaan, wonder ons dalk: ‘Hoekom gebeur dit met my? Het ek iets verkeerds gedoen? Beteken dit dat Jehovah my nie seën nie?’ Het jy al ooit so gevoel? As dit die geval is, moenie mismoedig voel nie. Baie van Jehovah se lojale knegte het ook met soortgelyke gevoelens gesukkel. – Ps. 22:1, 2; Hab. 1:2, 3.

3. Wat kan ons leer uit Psalm 34:19?

3 Lees Psalm 34:19. Let op twee belangrike punte in hierdie psalm: (1) Regverdige mense het probleme. (2) Jehovah red ons van ons probleme. Hoe red Jehovah ons? Een manier hoe hy dit doen, is deur ons te help om ’n realistiese beskouing van die lewe in hierdie wêreld te hê. Jehovah belowe dat ons ons diens aan hom sal geniet, maar hy belowe nie dat ons nou ’n lewe sonder probleme sal hê nie (Jes. 66:14). Hy moedig ons aan om te fokus op ons toekoms – die tyd wanneer ons die lewe sal hê wat hy wil hê ons vir ewig moet geniet (2 Kor. 4:16-18). Intussen help hy ons om aan te hou om hom elke dag te dien. – Klaagl. 3:22-24.

4. Wat sal ons in hierdie artikel bespreek?

4 Kom ons bespreek wat ons kan leer uit die voorbeelde van getroue aanbidders van Jehovah in Bybeltye en in ons dag. Soos ons sal sien, sal ons dalk onverwagse probleme ondervind. Maar wanneer ons op Jehovah vertrou, sal hy ons altyd ondersteun (Ps. 55:22). Terwyl ons na hierdie voorbeelde kyk, vra jou af: ‘Hoe sou ek in ’n soortgelyke situasie gereageer het? Hoe versterk hierdie voorbeelde my vertroue in Jehovah? Watter lesse kan ek in my eie lewe toepas?’

IN BYBELTYE

Jehovah het Jakob 20 jaar lank geseën terwyl hy hard vir sy bedrieglike oom, Laban, gewerk het (Sien paragraaf 5)

5. Watter probleme het Jakob gehad as gevolg van Laban? (Sien prent op voorblad.)

5 Knegte van Jehovah in Bybeltye het probleme gehad wat hulle nie verwag het nie. Dink aan Jakob. Sy pa het hom beveel om ’n vrou te neem uit die dogters van Laban, ’n familielid wat God aanbid het, en sy pa het hom verseker dat Jehovah hom ryklik sou seën (Gen. 28:1-4). So Jakob het die regte ding gedoen. Hy het die land Kanaän verlaat en gereis na Laban, wat twee dogters gehad het – Lea en Ragel. Jakob het verlief geraak op Laban se jongste dogter, Ragel, en het ingestem om sewe jaar lank vir haar pa te werk voordat hy met haar trou (Gen. 29:18). Maar dinge het nie uitgewerk soos wat Jakob verwag het nie. Laban het hom bedrieg, wat veroorsaak het dat Jakob met sy oudste dogter, Lea, trou. Laban het toegelaat dat Jakob ’n week later met Ragel trou, maar net as hy vir nog sewe jaar vir hom gewerk het (Gen. 29:25-27). Laban was ook oneerlik wanneer hy besigheid met Jakob gedoen het. Laban het Jakob altesaam 20 jaar lank uitgebuit! – Gen. 31:41, 42.

6. Watter ander probleme het Jakob verduur?

6 Jakob het ander probleme verduur. Hy het ’n groot familie gehad, maar sy seuns het nie altyd met mekaar oor die weg gekom nie. Hulle het selfs hulle eie broer Josef as ’n slaaf verkoop. Twee van Jakob se seuns, Simeon en Levi, het die familie in die skande gesteek en oneer op Jehovah se naam gebring. Jakob se geliefde vrou, Ragel, het ook gesterf terwyl sy aan hulle tweede kind geboorte gegee het. En as gevolg van ’n groot hongersnood was Jakob op sy oudag gedwing om na die land Egipte te trek. – Gen. 34:30; 35:16-19; 37:28; 45:9-11, 28.

7. Hoe het Jehovah vir Jakob gewys dat hy Sy goedkeuring het?

7 Ten spyte van al hierdie probleme het Jakob nooit geloof verloor in Jehovah en in Sy beloftes nie. En Jehovah het vir Jakob gewys dat hy Sy goedkeuring het. Byvoorbeeld, al het Laban Jakob onregverdig behandel, het Jehovah vir Jakob baie besittings gegee. En dink net hoe dankbaar Jakob teenoor Jehovah moes gewees het toe hy Josef weer gesien het – die seun wat hy gedink het lank gelede gesterf het! Jakob se sterk vriendskap met Jehovah het hom gehelp om sy probleme suksesvol te hanteer (Gen. 30:43; 32:9, 10; 46:28-30). Ons kan ook onverwagse probleme suksesvol hanteer wanneer ons ons vriendskap met Jehovah sterk hou.

8. Wat wou koning Dawid doen?

8 Koning Dawid kon nie alles doen wat hy in Jehovah se diens wou doen nie. Byvoorbeeld, Dawid wou baie graag ’n tempel vir sy God bou. Hy het vir die profeet Natan gesê dat hy dit wou doen. Natan het toe vir hom gesê: “Doen wat u hart u beweeg om te doen, want die ware God is met u” (1 Kron. 17:1, 2). Ons kan ons net voorstel hoe daardie woorde Dawid moes aangemoedig het. Dalk het hy onmiddellik planne begin maak vir hierdie groot projek.

9. Hoe het Dawid gereageer toe hy teleurstellende nuus gekry het?

9 Maar kort daarna het Jehovah se profeet Dawid weer gaan sien en vir hom teleurstellende nuus gegee. Op “daardie selfde nag” het Jehovah vir Natan gesê dat Dawid nie die een sou wees wat die tempel sou bou nie, maar dat een van sy seuns dit sou doen (1 Kron. 17:3, 4, 11, 12). Hoe het Dawid gereageer toe hy hierdie boodskap gekry het? Hy het sy doelwit aangepas. Hy het daarop gefokus om die geld en die materiaal in te samel wat sy seun Salomo vir die projek nodig sou hê. – 1 Kron. 29:1-5.

10. Hoe het Jehovah Dawid geseën?

10 Onmiddellik nadat Dawid gehoor het dat hy nie die een sou wees wat die tempel sou bou nie, het Jehovah ’n verbond met hom gemaak. Jehovah het Dawid belowe dat een van sy nakomelinge vir ewig sou regeer (2 Sam. 7:16). In die nuwe wêreld, gedurende die duisend jaar, sal Dawid baie bly wees wanneer hy uitvind dat die Koning, Jesus, een van sy nakomelinge is! Hierdie verslag help ons om te sien dat selfs al kan ons nie alles vir Jehovah doen wat ons graag wil doen nie, ons God ons dalk ander goeie dinge sal gee wat ons nooit verwag het nie.

11. Hoe was die eerste-eeuse Christene geseën, al het die Koninkryk nie gekom toe hulle dit verwag het nie? (Handelinge 6:7)

11 Eerste-eeuse Christene het ’n paar onverwagse uitdagings gehad. Byvoorbeeld, hulle wou baie graag hê dat God se Koninkryk moes kom, maar hulle het nie geweet wanneer dit sou gebeur nie (Hand. 1:6, 7). So, wat het hulle gedoen? Hulle het besig gebly in die predikingswerk. Terwyl die goeie nuus versprei het, het hulle gesien hoe Jehovah hulle help. – Lees Handelinge 6:7.

12. Wat het die eerste-eeuse Christene gedoen toe daar ’n hongersnood was?

12 Op een stadium het ’n groot hongersnood “oor die hele aarde” gekom (Hand. 11:28). Eerste-eeuse Christene was ook daardeur geraak. Kan jy jou voorstel hoe swaar hulle moes gekry het as gevolg van daardie groot hongersnood? Gesinshoofde was beslis bekommerd oor hoe hulle vir hulle gesin sou sorg. En wat van jongmense wat beplan het om meer in hulle bediening te doen? Het hulle dalk gevoel dat hulle moes wag totdat die hongersnood verby is voordat hulle dit kon doen? Maak nie saak wat hulle omstandighede was nie, die Christene het aangepas. Hulle het hulle bes gedoen en aangehou preek, en hulle het dit wat hulle gehad het, graag met hulle broers en susters in Judea gedeel. – Hand. 11:29, 30.

13. Watter seëninge het die Christene ondervind gedurende die hongersnood?

13 Watter seëninge het die Christene ondervind gedurende die hongersnood? Dié wat noodvoorraad ontvang het, het gesien dat Jehovah hulle help (Matt. 6:31-33). Hulle het beslis nader gevoel aan hulle broers en susters wat hulle gehelp het. En dié wat donasies gemaak het of wat op ander maniere aan die noodlenigingswerk deelgeneem het, was gelukkig omdat hulle vir ander gegee het (Hand. 20:35). Jehovah het hulle almal geseën omdat hulle aangepas het by die omstandighede.

14. Wat het met Barnabas en die apostel Paulus gebeur, en wat was die gevolg? (Handelinge 14:21, 22)

14 Eerste-eeuse Christene was dikwels vervolg, soms wanneer hulle dit dalk die minste verwag het. Dink aan wat gebeur het met Barnabas en die apostel Paulus terwyl hulle in Listra gepreek het. Eers was hulle verwelkom deur dié wat na hulle geluister het. Maar later het teenstanders “die skare omgepraat,” en party van daardie selfde mense het Paulus met klippe gegooi en hom agtergelaat om te sterf (Hand. 14:19). Maar Barnabas en Paulus het iewers anders aangehou preek. Wat was die gevolg? Hulle het “’n hele paar dissipels” gemaak, en hulle woorde en voorbeeld het hulle broers en susters versterk. (Lees Handelinge 14:21, 22.) Baie het daarby baat gevind omdat Barnabas en Paulus, selfs toe hulle vervolg was, nie ophou preek het nie. As ons aanhou om die werk te doen wat Jehovah ons gevra het om te doen, sal ons geseën word.

IN ONS DAG

15. Wat leer jy uit die voorbeeld van broer A. H. Macmillan?

15 Voor 1914 het Jehovah se volk verwag dat sekere dinge moes gebeur. Dink byvoorbeeld aan broer A. H. Macmillan. Soos baie mense in daardie tyd, het broer Macmillan gedink dat hy binnekort hemel toe sou gaan. In ’n toespraak wat hy in September 1914 gegee het, het hy gesê: “Dit is heel moontlik die laaste openbare toespraak wat ek ooit sal gee.” Dit was natuurlik nie sy laaste toespraak nie. Broer Macmillan het later geskryf: “Party van ons was dalk ’n bietjie oorhaastig toe ons gedink het dat ons dadelik hemel toe sal gaan.” Hy het verder gesê: “Ons moes besig bly in die Here se diens.” Broer Macmillan het dit gedoen. Hy was ywerig in die bediening. Hy het die voorreg gehad om baie broers aan te moedig wat in die tronk was omdat hulle geweier het om by die weermag aan te sluit. En hy het gemeentelike vergaderinge getrou bygewoon selfs toe hy oud was. Hoe het dit broer Macmillan gehelp omdat hy besig gebly het in sy diens aan Jehovah terwyl hy vir sy beloning gewag het? Kort voor sy dood in 1966 het hy geskryf: “My geloof is vandag sterker as wat dit ooit was.” Dit is ’n uitstekende voorbeeld wat ons almal kan navolg – veral as ons probleme verduur wat langer aanhou as wat ons verwag het! – Heb. 13:7.

16. Watter onverwagse probleem het Herbert Jennings en sy vrou ondervind? (Jakobus 4:14)

16 Baie van Jehovah se knegte sukkel met onverwagse gesondheidsprobleme. Byvoorbeeld, in sy lewensverhaal het broer Herbert Jennings b beskryf hoe hy en sy vrou hulle toewysing as sendelinge in Ghana geniet het. Maar later was hy gediagnoseer met ’n ernstige gemoedsversteuring. Broer Jennings het aangehaal uit Jakobus 4:14 en het sy nuwe situasie beskryf as “’n ‘môre’ wat ons nie verwag het nie”. (Lees.) Hy het geskryf: “Ons het . . . die werklikheid onder die oë gesien en gereël om Ghana en al ons intieme vriende te verlaat en . . . na Kanada terug te keer [vir mediese behandeling].” Jehovah het broer Jennings en sy vrou gehelp om aan te hou om hom getrou te dien ten spyte van die uitdaging wat hulle gehad het.

17. Hoe het broer Jennings se voorbeeld ander broers en susters gehelp?

17 Broer Jennings se eerlike kommentare in sy lewensverhaal het ’n groot impak op ander gehad. Een suster het geskryf: “Ek [was] nog nooit so diep geraak soos toe ek hierdie artikel gelees het nie. . . . Toe ek lees hoe broer Jennings ’n toewysing as gevolg van sy siekte moes verlaat, het dit my gehelp om ’n gebalanseerde beskouing van my situasie te kry.” ’n Broer het iets soortgelyks geskryf: “Nadat ek tien jaar lank as ’n gemeentelike ouerman gedien het, moes ek ophou om as ’n ouerman te dien as gevolg van ’n verstandelike siekte. Die gevoel dat ek ’n mislukking is, was so erg dat ek dikwels te depressief was om die lewensverhale te lees. . . . Maar broer Jennings se volharding het my versterk.” Dit herinner ons daaraan dat ons ander kan aanmoedig wanneer ons onverwagse probleme verduur. Selfs wanneer dinge nie uitwerk soos wat ons verwag het nie, kan ons nog steeds ’n voorbeeld van geloof en volharding vir ander wees. – 1 Pet. 5:9.

Wanneer ons op Jehovah vertrou, kan die onverwagse probleme wat ons in die lewe ondervind ons eintlik nader aan hom bring (Sien paragraaf 18)

18. Wat leer jy uit die voorbeeld van ’n weduwee in Nigerië, soos ons in die prente kan sien?

18 Rampe soos die COVID-19-pandemie het baie van Jehovah se knegte geaffekteer. Byvoorbeeld, ’n weduwee in Nigerië het baie min kos en geld oorgehad. Een oggend het haar dogter haar gevra wat hulle gaan eet nadat hulle hulle laaste koppie rys gekook het. Ons suster het vir haar dogter gesê dat hulle nie enige geld of kos oorgehad het nie, maar dat hulle die weduwee van Sarfat moet navolg deur hulle laaste maaltyd voor te berei en ten volle op Jehovah te vertrou (1 Kon. 17:8-16). Voordat hulle eers begin dink het aan wat hulle daardie dag vir middagete sou eet, het hulle ’n pakkie met noodvoorraad van broers en susters gekry. Daar was soveel kos in die pakkie dat dit vir meer as twee weke sou hou. Die suster het gesê dat sy nie besef het hoe mooi Jehovah geluister het na wat sy vir haar dogter gesê het nie. Ja, wanneer ons op Jehovah vertrou, kan die onverwagse probleme wat ons in die lewe ondervind ons eintlik nader aan hom bring. – 1 Pet. 5:6, 7.

19. Watter vervolging het Aleksei Jersjof verduur?

19 In onlangse jare het baie van ons broers en susters vervolging verduur wat hulle dalk nie verwag het nie. Dink aan broer Aleksei Jersjof, wat in Rusland bly. Jehovah se volk in daardie gebied het ’n mate van vryheid geniet toe broer Jersjof in 1994 gedoop is. Maar later het die situasie in Rusland verander. In 2020 was broer Jersjof se huis binnegeval en deursoek en was baie van sy besittings afgevat. ’n Hele paar maande later het die regering ’n kriminele saak teen hom gemaak. Om dinge erger te maak, was die aanklagte gebaseer op video-opnames deur ’n persoon wat vir meer as ’n jaar voorgegee het dat hy daarin belangstel om die Bybel te studeer. Dit was ’n verskriklike ding om te doen!

20. Hoe het broer Jersjof sy verhouding met Jehovah versterk?

20 Het die vervolging wat broer Jersjof verduur het, enige goeie resultate gehad? Ja. Sy verhouding met Jehovah het sterker geword. Hy sê: “Ek en my vrou bid meer gereeld saam. Ek besef dat ek nie hierdie situasie sonder Jehovah se hulp kan hanteer nie.” Hy sê verder: “Persoonlike studie help my om teen mismoedigheid te veg. Ek dink na oor die voorbeelde van getroue knegte van die verlede. Daar is baie verslae in die Bybel wat beklemtoon hoe belangrik dit is om kalm te bly en om op Jehovah te vertrou.”

21. Wat het ons in hierdie artikel geleer?

21 Wat het ons in hierdie artikel geleer? Soms ondervind ons onverwagse probleme in hierdie wêreld. Al is dit die geval, sal Jehovah altyd sy knegte help wanneer hulle op hom vertrou. Ons temateks sê: “Die regverdige het baie probleme, maar Jehovah red hom van dit alles” (Ps. 34:19). Laat ons aanhou om te fokus, nie op ons probleme nie, maar op die feit dat Jehovah die krag het om ons te help. Dan kan ons net soos die apostel Paulus sê: “Vir alles is ek sterk genoeg deur hom wat my krag gee.” – Fil. 4:13.

LIED 38 Hy maak jou sterk

a Al het ons nou soms onverwagse probleme, kan ons seker wees dat Jehovah sy getroue aanbidders sal ondersteun. Hoe het Jehovah sy knegte in die verlede gehelp? Hoe help hy ons vandag? Wanneer ons kyk na voorbeelde uit die Bybel en in ons dag sal dit ons help om seker te wees dat Jehovah ons ook sal ondersteun as ons op hom vertrou.

b Sien Die Wagtoring van 1 Desember 2000, bl. 24-28.