Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

STUDIEARTIKEL 16

“Jou broer sal opstaan”!

“Jou broer sal opstaan”!

“Jesus het vir [Marta] gesê: ‘Jou broer sal opstaan.’” – JOH. 11:23.

LIED 151 Hy sal roep

IN HIERDIE ARTIKEL a

1. Wat het ’n seuntjie gesê oor sy opstandingshoop?

 ’N SEUNTJIE met die naam Matthew het ’n ernstige siekte, en daarom moes hy baie operasies kry. Toe hy sewe jaar oud was, het hy en sy gesin na ’n maandelikse program op JW Broadcasting® gekyk. Teen die einde van die program het hulle ’n musiekvideo gesien oor geliefdes wat in die opstanding terugverwelkom word. b Ná die program het Matthew na sy ouers toe gegaan, hulle hande vasgehou en gesê: “Sien Ma en Pa? Selfs al sterf ek, sal ek in die opstanding wakker word. Julle kan vir my wag; dit sal oukei wees.” Dink net hoe gelukkig daardie ouers was toe hulle sien hoe sterk hulle seun se geloof in die opstanding is.

2-3. Hoekom is dit goed vir ons om oor die opstandingsbelofte na te dink?

2 Dit is goed vir ons om oor die Bybel se belofte van ’n toekomstige opstanding na te dink (Joh. 5:28, 29). Hoekom? Omdat ons nie weet of ons dalk ’n lewensgevaarlike siekte sal kry en of iemand vir wie ons lief is, dalk skielik sal sterf nie (Pred. 9:11; Jak. 4:13, 14). Ons opstandingshoop kan ons help om sulke uitdagings te verduur (1 Tess. 4:13). Die Bybel verseker ons dat ons hemelse Vader ons goed ken en ons baie liefhet (Luk. 12:7). Dink net hoe goed Jehovah God ons moet ken om ons op te wek met dieselfde persoonlikheid en herinneringe. Jehovah is baie lief vir ons en het dit vir ons moontlik gemaak om vir ewig te lewe. Selfs al sterf ons, sal hy ons opwek!

3 In hierdie artikel sal ons eers bespreek hoekom ons in die opstandingsbelofte kan glo. Dan sal ons die geloofversterkende Bybelverslag ondersoek wat die woorde van ons temateks bevat: “Jou broer sal opstaan” (Joh. 11:23). Laastens sal ons leer hoe ons ons geloof in die opstandingshoop kan versterk.

HOEKOM ONS IN DIE OPSTANDINGSBELOFTE KAN GLO

4. Waarvan moet ons oortuig wees om in ’n belofte te glo? Gee ’n voorbeeld.

4 Om in ’n belofte te glo, moet ons oortuig wees dat die persoon wat die belofte maak die begeerte sowel as die krag, of vermoë, het om dit na te kom. Byvoorbeeld: Stel jou voor dat jou huis baie erg deur ’n storm beskadig is. ’n Vriend kom na jou toe en belowe: ‘Ek gaan jou help om jou huis reg te maak.’ Hy is opreg, en jy is oortuig dat hy die begeerte het om jou te help. As hy ’n ervare bouer is en die nodige gereedskap het, weet jy dat hy ook die vermoë het om jou te help. So jy glo dat hy sy belofte sal nakom. Wat dan van God se belofte van ’n opstanding? Het hy regtig die begeerte en die krag om dit na te kom?

5-6. Hoekom kan ons seker wees dat Jehovah die begeerte het om die dooies op te wek?

5 Het Jehovah die begeerte om die dooies op te wek? Hy het beslis. Hy het ’n hele paar Bybelskrywers geïnspireer om sy belofte van ’n toekomstige opstanding neer te skryf (Jes. 26:19; Hos. 13:14; Op. 20:11-13). En wanneer Jehovah ’n belofte maak, kom hy dit altyd na (Jos. 23:14). Om die waarheid te sê, Jehovah is gretig om dié wat gesterf het, op te wek. Hoekom kan ons dit sê?

6 Dink aan wat Job gesê het. Hy was seker dat Jehovah sou verlang om hom weer lewend te sien, al sou hy sterf (Job 14:14, 15). Jehovah voel dieselfde oor al sy aanbidders wat gesterf het. Hy is gretig om hulle weer lewend te maak sodat hulle gesond en gelukkig kan wees. Wat van die miljarde mense wat gesterf het sonder dat hulle ’n kans gehad het om die waarheid oor Jehovah te leer? Ons liefdevolle God wil hulle ook opwek (Hand. 24:15). Hy wil hê dat hulle die geleentheid moet hê om sy vriende te word en dat hulle vir ewig op die aarde moet bly (Joh. 3:16). Dit is duidelik dat Jehovah die begeerte het om die dooies op te wek.

7-8. Hoekom kan ons seker wees dat Jehovah die krag het om die dooies op te wek?

7 Het Jehovah die krag om die dooies op te wek? Absoluut! Hy is “die Almagtige” (Op. 1:8). So hy is kragtig genoeg om enige vyand te vernietig, selfs die dood (1 Kor. 15:26). Dit versterk en vertroos ons om dit te weet. Kyk na die ondervinding van suster Emma Arnold. Sy en haar familie het verskriklike toetse van geloof gedurende die Tweede Wêreldoorlog ondervind. Om haar dogter te vertroos ná die dood van geliefdes in die Nazi-konsentrasiekampe, het Emma gesê: “As mense wat gesterf het, nooit weer kon lewe nie, dan beteken dit dat ons vyand die dood sterker is as God. Maar dit kan nie waar wees nie.” Ja, niks is sterker as Jehovah nie! Die almagtige God wat lewe geskep het, kan beslis dié wat gesterf het, opwek.

8 Nog ’n rede hoekom ons weet dat God die vermoë het om die dooies op te wek, is omdat hy ’n onbeperkte geheue het. Hy noem elke ster op sy naam (Jes. 40:26). Hy onthou ook dié wat gesterf het (Job 14:13; Luk. 20:37, 38). Hy kan maklik die kleinste detail onthou oor dié wat hy gaan opwek, insluitende hoe hulle gelyk het en hulle persoonlikheid, hulle ondervindinge in die lewe en hulle herinneringe.

9. Hoekom glo jy in Jehovah se belofte van ’n toekomstige opstanding?

9 Dit is duidelik dat ons in Jehovah se belofte van ’n toekomstige opstanding kan glo omdat ons weet dat hy die begeerte en die krag het om dit na te kom. Kyk na nog ’n rede hoekom ons in God se belofte van ’n opstanding kan glo: Jehovah het al mense opgewek. In Bybeltye het hy ’n paar getroue mans, insluitende Jesus, die krag gegee om die dooies op te wek. Kom ons ondersoek die verslag van een van die opstandings wat Jesus gedoen het, wat opgeteken is in Johannes hoofstuk 11.

JESUS VERLOOR ’N DIERBARE VRIEND

10. Wat gebeur terwyl Jesus besig is om oorkant Betanië aan die anderkant van die Jordaanrivier te preek, en wat doen hy? (Johannes 11:1-3)

10 Lees Johannes 11:1-3. Dink aan wat in Betanië gebeur het teen die einde van 32 HJ. Jesus het goeie vriende in hierdie dorpie – Lasarus en sy twee susters, Maria en Marta (Luk. 10:38-42). Maar Lasarus het siek geword, en sy susters is bekommerd. Hulle stuur ’n boodskap aan Jesus, wat oorkant die Jordaanrivier is, omtrent twee dagreise van Betanië af (Joh. 10:40). Ongelukkig sterf Lasarus om en by die tyd toe die boodskapper Jesus bereik. Al weet Jesus dat sy vriend nou net gesterf het, bly hy vir nog twee dae waar hy is en dan gaan hy na Betanië. So teen die tyd dat Jesus daar aankom, is Lasarus al vier dae lank dood. Jesus beplan om iets te doen wat sy vriende sal help en God sal verheerlik. – Joh. 11:4, 6, 11, 17.

11. Watter les oor vriendskap kan ons uit hierdie verslag leer?

11 Ons leer ’n les oor vriendskap uit hierdie verslag. Dink hieraan: Toe Maria en Marta die boodskap aan Jesus gestuur het, het hulle hom nie gevra om na Betanië te kom nie. Hulle het net gesê dat sy dierbare vriend siek was (Joh. 11:3). Toe Lasarus gesterf het, kon Jesus hom opgewek het, al was hy ver van hom af. Nogtans het Jesus gekies om na Betanië te gaan om by sy vriende Maria en Marta te wees. Het jy ’n vriend wat jou sal help sonder dat jy hom vra? Dan weet jy dat jy op hom kan staatmaak om jou in “moeilike tye” te help (Spr. 17:17). Laat ons, net soos Jesus, so ’n vriend vir ander wees! Kom ons gaan nou terug na die verslag en kyk wat volgende gebeur.

12. Wat belowe Jesus Marta, en hoekom is dit nie ’n leë belofte nie? (Johannes 11:23-26)

12 Lees Johannes 11:23-26. Marta vind uit dat Jesus naby Betanië is. Sy gaan onmiddellik na hom toe en sê: “Here, as u hier was, sou my broer nie gesterf het nie” (Joh. 11:21). Ja, hy kon Lasarus genees het. Maar Jesus wil iets doen wat selfs wonderliker is. Hy belowe: “Jou broer sal opstaan.” Hy gee ook vir Marta nog ’n rede om in hierdie belofte te glo en sê: “Ek is die opstanding en die lewe.” Ja, God het Jesus die krag gegee om die dooies op te wek. Vroeër het Jesus ’n jong meisie kort ná haar dood opgewek, en hy het ook ’n jong man opgewek, heel moontlik op dieselfde dag dat hy gesterf het (Luk. 7:11-15; 8:49-55). Maar kan Jesus iemand opwek wat al vier dae lank dood is en wie se liggaam al begin ontbind het?

“LASARUS, KOM UIT!”

Jesus het baie jammer gevoel vir sy hartseer vriende (Sien paragraaf 13-14)

13. Hoe reageer Jesus wanneer hy Maria en ander sien huil volgens Johannes 11:32-35? (Sien ook prent.)

13 Lees Johannes 11:32-35. Dink aan wat volgende gebeur. Maria, Lasarus se ander suster, gaan na Jesus. Sy herhaal wat haar suster gesê het: “Here, as u hier was, sou my broer nie gesterf het nie.” Maria en dié wat saam met haar is, se hart is gebreek. Toe Jesus sien en hoor hoe hulle huil, maak dit hom baie hartseer. Omdat hy sy vriende so jammer kry, huil hy. Hy verstaan hoe hartseer dit is wanneer ’n geliefde sterf. Hy is beslis gretig om die oorsaak van hulle trane weg te neem!

14. Wat kan ons oor Jehovah leer uit Jesus se reaksie toe Maria gehuil het?

14 Jesus se reaksie toe Maria gehuil het, leer ons dat Jehovah ’n God is wat baie meegevoel het. Hoekom kan ons dit sê? Soos ons in die vorige artikel gesien het, volg Jesus sy Vader se denke en gevoelens volmaak na (Joh. 12:45). Jesus het gehuil omdat hy baie jammer vir sy vriende gevoel het wat hartseer was. So ons weet dat Jehovah ook baie jammer vir ons voel wanneer hy ons sien huil (Ps. 56:8). Beweeg dit jou nie om nader aan ons liefdevolle God te kom nie?

Jesus het gewys dat hy die krag het om mense op te wek (Sien paragraaf 15-16)

15. Wat gebeur by Lasarus se graf volgens Johannes 11:41-44? (Sien ook prent.)

15 Lees Johannes 11:41-44. Jesus kom by Lasarus se graf aan en vra dat die klip weggeneem moet word. Marta wil nie hê hulle moet dit doen nie en sê dat die liggaam seker nou al moet ruik. Jesus sê vir haar: “Het ek nie vir jou gesê dat jy die heerlikheid van God sal sien as jy glo nie?” (Joh. 11:39, 40). Jesus kyk dan op en bid. Hy wil Jehovah al die eer gee vir wat volgende gebeur. Dan roep Jesus uit: “Lasarus, kom uit!” En Lasarus kom uit die graf uit! Jesus het nou net iets gedoen wat party gedink het onmoontlik sou wees. – Sien studienota vir Johannes 11:17 in die Engelse Studiebybel.

16. Hoe versterk die verslag in Johannes hoofstuk 11 ons geloof in die opstandingshoop?

16 Die verslag in Johannes hoofstuk 11 versterk ons geloof in die opstandingshoop. Hoe so? Onthou Jesus se belofte aan Marta: “Jou broer sal opstaan” (Joh. 11:23). Net soos sy Vader het Jesus die begeerte en die krag om daardie belofte na te kom. Sy trane het gewys dat hy ’n sterk begeerte het om mense uit die dood op te wek en om die hartseer wat die dood veroorsaak, te verwyder. En die oomblik toe Lasarus uit die graf uit kom, het Jesus weer bewys dat hy die krag het om die dooies op te wek. Dink ook aan Jesus se herinnering aan Marta: “Het ek nie vir jou gesê dat jy die heerlikheid van God sal sien as jy glo nie?” (Joh. 11:40). Ons het goeie redes om te glo dat God se belofte van ’n opstanding sal waar word. Maar wat kan ons doen om ons geloof in hierdie hoop te versterk?

HOE ONS ONS GELOOF KAN VERSTERK IN DIE OPSTANDINGSHOOP

17. Wat moet ons in gedagte hou wanneer ons Bybelverslae oor die opstanding lees?

17 Lees en dink na oor opstandings wat in die verlede plaasgevind het. In die Bybel is daar agt verslae van mense wat opgewek was tot lewe op die aarde. c Maak ’n goeie studie van hierdie verslae. Terwyl jy dit doen, onthou dat hierdie mense – mans, vrouens en kinders – werklik bestaan het. Soek na lesse wat jy kan leer. Dink aan hoe elke voorbeeld wys dat God die begeerte en krag het om die dooies op te wek. En dink veral aan die belangrikste opstanding – dié van Jesus. Onthou dat sy opstanding deur honderde ooggetuies bevestig was en ons ’n goeie grondslag vir ons geloof gee. – 1 Kor. 15:3-6, 20-22.

18. Hoe kan jy ons liedjies oor die opstandingshoop goed gebruik? (Sien ook voetnoot.)

18 Maak goed gebruik van “liedere vir aanbidding” wat die opstandingshoop noem (Ef. 5:19). d Hierdie liedjies oor die opstanding versterk ons geloof in hierdie kosbare hoop. Luister daarna, oefen dit en bespreek die betekenis van die woorde gedurende julle gesinsaanbidding. Memoriseer die woorde en dink diep daaroor na sodat dit jou geloof kan versterk en jou hart kan raak. Dan as jy ’n lewensgevaarlike uitdaging ondervind of as een van jou geliefdes sterf, sal Jehovah se gees jou help om hierdie liedjies te onthou sodat dit jou kan vertroos en kan versterk.

19. Hoe kan ons ons verbeelding gebruik wanneer dit by die opstanding kom? (Sien die venster “ Wat sal jy hulle vra?”)

19 Gebruik jou verbeelding. Jehovah het ons die vermoë gegee om onsself in die nuwe wêreld te sien. Een suster verduidelik: “Omdat ek so baie tyd daaraan spandeer het om myself in die nuwe wêreld te sien, was dit asof ek die rose in die Paradys kon ruik.” Dink aan hoe dit sal wees om manne en vroue van geloof uit Bybeltye te ontmoet. Wie sal jy graag wil ontmoet? Watter vrae gaan jy daardie persoon vra? Stel jou ook voor hoe dit sal wees om weer saam met jou geliefdes te wees wat gesterf het. Dink aan die eerste dinge wat jy vir hulle wil sê, hoe jy hulle ’n stywe drukkie gaan gee en hoe gelukkig jy gaan wees om hulle te sien.

20. Wat moet ons vasbeslote wees om te doen?

20 Ons is baie dankbaar teenoor Jehovah vir sy belofte van die opstanding! Ons kan seker wees dat hierdie belofte sal waar word, want Jehovah het die begeerte en die krag om dit na te kom. Laat ons vasbeslote wees om ons geloof in hierdie kosbare hoop te versterk. Deur dit te doen, sal ons al hoe nader kom aan die God wat in werklikheid vir elkeen van ons belowe: ‘Jou geliefdes sal opstaan!’

LIED 147 Die belofte van ewige lewe

a As iemand vir wie jy lief is, gesterf het, is die opstandingsbelofte beslis vir jou baie vertroostend. Maar hoe sou jy vir ander verduidelik hoekom jy in daardie belofte glo? En hoe kan jy jou geloof in die opstanding versterk? Die doel van hierdie artikel is om almal van ons te help om ons geloof in die opstandingshoop te versterk.

b Die musiekvideo se titel is Net om die draai en het in die Broadcasting-program vir November 2016 verskyn.

c Sien die venster “Agt opstandings wat in die Bybel beskryf word” in Die Wagtoring van 1 Augustus 2015, bl. 4.

d Sien die volgende liedjies in ‘Sing met vreugde’ vir Jehovah:Sien jouself wanneer alles nuut is” (Lied 139), “Hou jou oë op die prys!” (Lied 144) en “Hy sal roep” (Lied 151). Sien ook op jw.org die Broadcasting-liedjies “Net om die draai”, “In die nuwe wêreld” en “Jy sal sien”.